Debat as buitemuurse aktiwiteit het vir my volwasse lewe en loopbaan besonders baie beteken.
Ek het van skool af regdeur tot universiteit aan debat deelgeneem. In my finale jaar as voorgraadse student het ek saam met 'n groep vriende besluit dat Tukkies 'n Afrikaanse debatsvereniging nodig het. Dit was in die tyd toe die #AfrikaansMustFall-beweging so wou-wou vlam vat en Afrikaans op Suid-Afrikaanse kampusse toenemend onderdruk gekom het. Die Engelse UP Debating Union het vir jare bestaan maar was vir 'n geruime tyd slegs Engels. Ons wou graag debat in ons moedertaal bewaar en bevorder. So het ons met pizzas geborg deur Romans Pizza Hatfield en 100 handtekeninge 'n eerste debatsaamtrek in die skynhoflokaal van die Tuks Regsfakulteit die UP Debatsvereniging gestig. Dié studentevereniging bestaan vandag nog.
Kort daarna besluit die ATKV dat hulle nie meer die ATKV Universiteitsdebat gaan aanbied nie, nadat hulle in 2007 daarmee begin het. Ontevrede met die situasie en soos tipiese studente met hopeloos teveel tyd op ons hande, het ons die leemte gevul en vir drie jaar self 'n kompetisie aangebied met ses deelnemende universiteite. Die eerste jaar het ons dit sommer in klaskamers van Afrikaanse Hoër Meisieskool aangebied, met prysgeld wat ons bakhand by skenkers en weldoenende organisasies moes gaan vra.
Later het AfriForum die kompetisie oorgeneem, en vandag bestaan dit steeds as die enigste Afrikaanse universiteitsdebatskompetisie in die land.
Debat was 'n deurlopende konstante in my lewe. Ek het vir tien jaar lank skolespanne afgerig, twee jaar by my eie alma mater, en daarna by die meisies in blou rokkies oorkant Lynnwoodweg. Verskeie weeksaande na werk en Saterdae is deurgebring in warm klaskamers met kinders wat die wêreld se probleme in sewe minute wou oplos. Soos soveel dinge in die lewe het dit paaie oopgemaak wat ek nooit voorsien het nie. Ek het byvoorbeeld juis by AfriForum vir hulp met befondsing aangeklop. Daardie toevallige gesprekke het daartoe gelei dat ek later by Hurter Spies, AfriForum se prokureurs, begin klerk het. Sonder daardie draaie sou ek waarskynlik nooit in die werk beland het waar ek vandag is nie.
Selfs my vriendskappe en verhoudings is deur debat gevorm. Ek het as matriekseun by die ATKV Skoledebat se landseindronde vir my vrou gevra om my meisie te wees onder een van ATKV Buffelspoort se witstinkhoutbome. Sewe jaar later het ons getrou. Ek en Paul Maritz, my mede-stigtersredakteur hier by OntLaer, het mekaar eers as opponente in die ATKV-finaal ontmoet, hy vir die PUK en ek vir Tukkies. Ons het mooi netjies elkeen een keer gewen (Paul het wel as bejaarde student en in my afwesigheid later weer as nasionale wenner weggestap). OntLaer se derde stigtersredakteur, Frederik van Dyk, het ek in dieselfde kringe leer ken. As ek terugkyk, sien ek hoe sterk die draad van debat deur my lewe geweef is.
Wat debat jou leer
En met daardie kort outobiografiese inleiding voltooi, bring dit my by die eintlike punt van hierdie stuk. Kinders oor die hele wêreld behoort aan debat deel te neem. Die soort debat waaraan ek deelgeneem en afgerig het, waar jy 'n onderwerp kry en gesê word aan watter kant jy moet deelneem, ongeag jou persoonlike oortuigings. Alle kinders moet grootword met die besef dat kwessies kompleks kan wees, dat daar nuanse is en dat daar harde feite bestaan wat verskillend opgeweeg moet word. Debat leer jou om te luister, te dink en 'n geldige argument op te bou sonder om persoonlik aanstoot te gee of te neem, wat nog te sê geweld te gebruik.
Met debat as buitemuurse aktiwiteit het jy geen keuse oor watter kant jy moet verdedig nie. Vandag is jy vir, môre is jy teen. Dit dwing jou om jouself los te maak van jou onmiddellike instinkte. Jy moet leer hoe jou opponent dink, selfs as jy daarvan verskil. Kinders wat aan debat deelneem leer baie regstreeks dat die wêreld uit meer as een storie bestaan.
Maar dit is belangrik hoe jy kinders aan debat blootstel. Om hulle net te dwing om 'n kant te kies verander niks. Dit kan ook tot 'n soort fatalisme lei. Wat wel werk, is om hulle te leer dat die sterkste manier om 'n oortuiging of intellektuele raamwerk aan te pak is nie om dit strooipop-styl te verdraai nie, maar om dit eers so sterk as moontlik te formuleer (in debatterme word daar van steelmanning gepraat). Sun Tzu het geskryf dat jy jou vyand sowel as jouself moet verstaan om betroubaar oorloë te wen. Deur 'n ander se argument so sterk moontlik te skets is presies daardie beginsel, toegepas in die wêreld van idees en gesprek. Deur die “staalman” te bou kry jy 'n werklike motivering om die sogenaamde opponerende posisie te verstaan. Jy word blootgestel aan die logika en feite wat jy voorheen nie van bewus was nie. 'n Mens besef dalk dat jou “opponent” in sekere opsigte reg is, en bowenal, dat hulle mense is soos jy. Mense wat bloot by 'n ander stel gevolgtrekkings uitgekom het, gebaseer op ander ervarings en ander inligting.
Om jou opponent se argument te versterk voor jy dit afbreek leer jou dus die eerbare benadering om jou opponent so getrou as moontlik voor te stel. Die oefening leer en ontwikkel intellektuele nederigheid en selfbeheersing. Dit is na aan die Sokratiese tradisie van dialoog, al is dit mededingend.
Debat vandag
Alles hiervan behoort redelik basies en amper vanselfsprekend te klink. Tog leef ons vandag in 'n tyd waar dit skaars is. Die internetkultuur het 'n kortpad na identiteitsbevestiging geskep: jy gooi jou standpunt op X (of watter platform ookal nou mode is), jy kry onmiddellike bevestiging vanuit jou eie kring, en jy word nooit gedwing om jou oortuigings teenoor 'n denkende opponent te toets nie.
Ons het in Suid-Afrika genoeg voorbeelde gesien van hoe gevaarlik dit kan raak. Ons politiek leef op die rantsoen van slagspreuke en eenvoudige waarhede. Die slagspreuke maak sin binne jou eie groep of op 'n plakkaat, maar dit dra nie water teen 'n ordentlike kruisverhoor nie. En omdat niemand meer bereid is om aan kruisverhore deel te neem nie, sit ons vas in 'n kultuur waar mense eerder teenoor mekaar skree as om mekaar te probeer verstaan.
Debat het my geleer dat jou opponent jou eintlik 'n guns doen. Sonder 'n sterk opponent is jy net besig om jouself te oortuig. Dit bou geen intellektuele spiere nie. 'n Samelewing kan dit ook nie bekostig nie. Ons samelewing het juis nodig dat mense van mekaar verskil sonder om mekaar te haat.
Maar ons leef ongelukkig in 'n tyd waar gesprek self vlambaar geword het. Die hele verwronge idee dat woorde gelykstaande aan geweld is. Die ander kant word nie net gesien as verkeerd nie, maar as gevaarlik. 'n Teenstander is nie bloot 'n mens met wie jy verskil nie, hy word uitgekryt as iemand wat jou bestaan bedreig. In hierdie digotiese post-progressiewe wêreld is jy óf aan die regte kant van die geskiedenis óf jy is die vyand. So 'n atmosfeer laat geen ruimte vir nuanse of vir die eerlike toetsing van argumente nie.
Dieper as dit lê die rol van sosiale media en die groter werklikheid van 'n kroniese aanlyn-generasie. Jongmense leef vandag nie net met skerms nie, hulle leef in skerms. My einste debatkinders wat ek afgerig het, het vir my gewys hoe hulle iPads en Samsung Pads hul skermtyd op net daardie toestelle aandui, dit sluit nie hulle selfone of ander skerms in nie, as meer as agt ure per dag. Sommige in hierdie generasie se menings word gevorm in eggokamers wat nie toelaat dat jy jou opponent hoor nie, maar slegs die spotbeeld-weergawe van jou opponent. Binne so 'n omgewing is radikalisering amper onvermydelik.
Dit gebeur links en regs. Jong mense voel beleër en magteloos voel en dit kan maklik skuif na demonisering en selfs geweld. 'n Mens sien dieselfde patroon oor die hele politieke spektrum heen, in die afgelope week met Charlie Kirk se moord, maar ook met Dylan Roof, wat in 2016 'n swart Christengemeente in Charleston afgemaai het en 'n voorbeeld is van 'n jong man wat sy wêreldbeskouing byna geheel en al aanlyn opgesuig het. In albei gevalle is dit dieselfde dinamiek: wanneer jy nie glo jy kan jou saak retories en feitelik verdedig nie, begin jy jou opponent as 'n vyand wat uitgewis moet word te sien.
Sosiale media is die suurstof in hierdie proses. Dit bied onmiddellike erkenning, maar ook 'n konstante vloei van haat, wantroue en vereenvoudigde waarhede. Dis waarom ons hierdie week nie net 'n handjievol nie, maar duisende gewone mense sien wat nou openlik feesvier oor Charlie Kirk se dood. Selfs in Suid-Afrika. Dit behoort ons diep te bekommer. Want die eintlike kollektiewe beskuldigde is nie een persoon nie, maar die kultuur wat oor dekades heen gegroei het. Universiteite wat gesprekke vervang met ideologiese suiwering, platforms wat verdeeldheid beloon, en 'n generasie wat meer tyd spandeer aan beelde op 'n skerm as aan werklike gesprek.
Wanneer jou hele wêreld daarbinne opgesluit lê, raak letterlike geweld net 'n verlenging van die digitale oorlog.
Minder verknog aan eie oortuigings
En dit is juis hier waar die waarde van debat weer vir my helder uitstaan. Teenoor 'n wêreld van eggokamers en digitale oorloë bied dit 'n oefening in stadiger dink, in luister en in die besef dat jou opponent nie jou vyand hoef te wees nie. Debat is nie net vir die leerders en studente wat beplan en droom oor regsgeleerdes of politici te word nie. Debat leer 'n vaardigheid wat Facebook en TikTok nie leer nie: om stadig te dink, en om te erken dat daar altyd meer as een moontlike verduideliking of kant aan 'n saak is.
Ek skuld baie aan debat. Dit het vir my vir talle verhoudings, my werk en ander projekte gesorg. Dit het ook vir my geleer om minder verlief te wees op my eie oortuigings. As ek terugdink oor hoe maklik ek as jong student net kon terugval op slagspreuke, besef ek hoe waardevol daardie na-ure in warm klaskamers en lomerige lesinglokale was.
Ons praat dikwels oor die krisis van geletterdheid, of die verval van onderwys. Maar miskien moet ons ook begin praat oor die krisis van argumentering. Sonder dit het ons geen beskawing nie.
Nog artikels deur Daniël Eloff:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.
Hoor, hoor! Viva, oratoria!