Moorde op die regstaat
Die moord op Bouwer van Niekerk plaas die kollig op 'n samelewing waar misdaad die reëls voorskryf.
As prokureur het ek honderde kliënte vir die eerste keer in my ou firma se raadsaal gesien.
Die werk is van so 'n aard dat 'n mens kliënte in jou werksplek verwelkom en met hulle konsulteer. Trouens, talle beroepe sien kliënte, pasiënte en gebruikers vir die eerste keer in hul kantore en spreekkamers. Selde verwag 'n mens dat iemand die vermetelheid sal hê om in te stap en helder oor dag vir jou koelbloedig in jou raadsaal te vermoor.
Die moord op Bouwer van Niekerk in die raadsaal van sy firma het dus my maag behoorlik laat draai. Dit het my onmiddellik laat terugdink aan toe my skool- en universiteitsvriend Thomas Murray en sy pa in 2023 wreedaardig vermoor is. Thomas en Cloete Murray is op die N1 in hul motor vermoor, omdat hulle hul werk as likwidateurs en ondersoekers gedoen het. So ook is Van Niekerk verlede week Vrydag vermoor omdat hy geweier het om sy rug te draai op 'n saak wat korrupsie en bedrog sou ontbloot, en omdat hy volhard het om die reg te dien al het dit sy lewe in gevaar gestel.
Ek het die hele naweek gesit en dink aan die korrupte politici en skelm sakemanne teen wie ek as prokureur namens kliënte opgetree het, en hoe maklik wat met Van Niekerk gebeur het ook met my of enige kollega kon gebeur. Die realiteit van Suid-Afrika se mafiastaat is dat diens in Suid-Afrika die regstaat, lewensgevaarlik geword het.
'n Handjievol mense probeer om die Suid-Afrikaanse regstaat daagliks te beskerm en te bou, dikwels met te min beskerming en te min ondersteuning. Dit is ontstellend as elite-polisiemagte tyd vind om 'n komediant soos Anton Taylor te ondersoek oor 'n satiriese video, maar skynbaar nie 'n moorddossier van die Murrays in twee jaar vir vervolging gereed kan kry nie. Dit bevestig die wye persepsie van 'n stelsel wat stadig en verward is, en van moordenaars wat genoeg selfvertroue het om met kalmte te beplan, op te daag, en te keer dat geregtigheid ooit geskied.
Reeks moorde
Die lys van slagoffers van Suid-Afrika se gekaapte samelewing word al langer. In die afgelope vyf jaar alleen het die gevalle opgehoop:
Op 23 Augustus 2021 is Babita Deokaran, 'n senior Gauteng-gesondheidsbeampte en sleutelgetuie in die tenderbedrog by Tembisa Hospitaal, buite haar huis in Johannesburg doodgeskiet.
Op 18 Maart 2023 is die likwidateurs Cloete en Thomas Murray op die N1 naby Johannesburg doodgeskiet.
Op 29 Maart 2023 is die Rustenburgse prokureur Zanele Precious Nkosi, wat in munisipale litigasie gespesialiseer het, buite haar kantoor doodgeskiet.
Op 6 Augustus 2023 is Frans Mathipa, 'n SAPD-kolonel en Valke-ondersoeker deur sluipmoordenaars gedood terwyl hy 'n motor bestuur het. Dit was 'n elitevlak sluipmoord wat kenners meen net deur militêre of gespesialiseerde opleiding moontlik is. Sewe SANW-lede is later in verband met die moord gearresteer.
Op 8 Desember 2023 is Simnikiwe Mapini, 'n ouditeur van Ekurhuleni, in sy motor in Germiston doodgeskiet terwyl hy 'n tender vir chemiese toilette ondersoek het.
Op 11 Julie 2024 is Zenzele Sithole, 'n forensiese ondersoeker vir die Stad Johannesburg, in 'n aanval in die middestad doodgeskiet terwyl hy beweerde wapens-vir-huur klagtes by die Johannesburge Metropolisie se wapenpakhuis ondersoek het.
Op 7 Maart 2025 is Pamela Mabini, 'n gemeenskapsaktivis en fluitjieblaser onder meer in die Timothy Omotoso-saak, buite haar huis in Gqeberha doodgeskiet.
Op 29 April 2025 is Elona Sombulula, 'n streekhof-aanklaer in die Oos-Kaap, doodgeskiet.
Op 30 Junie 2025 is Mpho Mafole, hoof van forensiese ouditkunde vir die Stad Ekurhuleni, in Kempton Park in 'n lokval doodgemaak. Hy was onder andere besig met 'n ondersoek oor 'n beweerde R2 miljard se bedrog.
Op 2 Augustus 2025 is Tracy Brown, 'n streekhof-aanklaer in Gqeberha, in haar oprit doodgeskiet in 'n klaarblyklik geteikende sluipmoord.
Likwidateurs, sake-reddingslui, ouditeure, ondersoekers, staatsdienswerknemers en joernaliste. Mense wat in die donker ingaan met 'n koplig en 'n lêer om korrupsie te ondersoek. Ons sê graag die oppergesag van die reg is heilig. Dit is mos wat studente in ons handboeke geleer word. Maar soos talle ander dinge beteken beloftes op skrif nie praktiese werklikheid nie. Net soos wat die belofte van menseregte hol is wanneer daar nie 'n geleefde kultuur van respek vir menseregte in die samelewing is nie, is die oppergesag van die reg hol wanneer misdadigers sonder gevolge kan optree, wanneer sake jare lank in die howe sloer, wanneer korrupte politici steeds poste beklee, en wanneer diegene wat die reg probeer beskerm met hul lewens daarvoor betaal.
Ons moet dus kwaad wees. Kwaad vir die land wat die ANC oor drie dekades gekweek het, waar kaderbelange en patronaatskap die staat uitgehol het. Kwaad vir die misdadigheid wat in daardie holtes ingegroei het. Kwaad vir die regering dat ons vriende en familie, hul tasse pak omdat veiligheid in Suid-Afrika 'n luukse geword het. Kwaad dat Suid-Afrikaners armer word terwyl misdaadnetwerke ryk word. Kwaad oor die ongeveer 27 000 mense wat elke jaar in hierdie wilde weste hul lewens verloor. Kwaad dat ons met elke nuwe “skok” bietjie meer afgestomp raak.
Maar kwaad wees is net een van die eerste stappe. Die Switserse sielkundige Elisabeth Kübler-Ross het jare gelede verduidelik hoe mense deur vyf fases van rou beweeg: ontkenning, woede, onderhandeling, neerslagtigheid en uiteindelik aanvaarding. As land sit ons vas by woede, soms skiet ons oor na neerslagtigheid, en te gereeld spring ons te vroeg na aanvaarding. Daardie moedelose dog bekende “dis maar so”. Ons land kan dit nie bekostig nie. Ons moet deur die volle rouwerk gaan, en dan terugkom na 'n aanvaarding wat nie oorgawe aan die boses is nie, maar vasbyt en voort veg.
Kwaad bly gaan niks vir ons doen nie. Ons moet moue oprol. In nagedagtenis van Van Niekerk en die Murrays, en al die ander wie se werk 'n sterfwerk geword het.
Ons sal nie sharrap nie
Daar is toegewyde beamptes en offisiere wat nagte om werk. Ek ken ondersoekers wat hul kinders se sport mis om selfs ten spyte van groot uitdagings te help kweek aan 'n regstaat vir Suid-Afrika. Hulle bestaan, te midde van hierdie stukkende stelsel en veg 'n moedige stryd teen die rampokkerstaat. Ons skuld hulle en ons skuld die oorledenes die politieke wil, die institusionele steun en die volgehoue druk om te sorg dat geregtigheid nie net beloof word nie, maar uiteindelik geskied.
In die woorde van my vriend Ian Cameron, wat self onlangs die slagoffer van misdaad was maar nie as slagoffer optree nie: ons sal nie sharrap nie.
Die redaksie van OntLaer betuig ons innige meegevoel aan die familie, vriende en kollegas van Bouwer van Niekerk. Sy dood is nie net 'n persoonlike verlies vir die wat hom liefgehad het nie, maar ook 'n skok vir die regsgemeenskap en vir almal wat glo in die oppergesag van die reg. Ons dink aan sy geliefdes in hierdie tyd van rou en eer sy nalatenskap van moed en beginselvastheid.
Nog artikels deur Daniël Eloff:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.