As jy in 1936 jou radio iewers op die Hoëveld of dalk in 'n Kaapse voorstad aangeskakel het, sou jy die eerste geluide van die nuutgestigte Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) gehoor het. Die instelling, op daardie stadium nog sterk geskoei op die BBC se openbare diensmodel, is geskep om 'n nasie te bind deur middel van klank. 'n Ambisieuse ideaal, maar een wat van meet af aan deur die politiek van die dag geskommel was.
In die dekades daarna sou die SAUK op allerlei maniere die stem van die staat word – dikwels letterlik. Onder apartheid was dit 'n propagandamasjien, ingestel op segregasie en sensuur. Na 1994 was daar hoop op hergeboorte. Die nuwe demokrasie het die SAUK nie net as moontlike baken van openbare integriteit beskou nie, maar as 'n instelling wat die veelstemmigheid van Suid-Afrika sou weerspieël. Dit was 'n eerbare droom. En tog, dertig jaar later, staan ons met 'n uitsaai-instelling wat al drie keer finansieel gered moes word met miljarde rand se belastinggeld.
'n Nalatenskap van misbruik en reddingsboeie
In die jare na 1994 het die SAUK homself probeer hervorm. Daar was nuwe leiers, nuwe kanale, nuwe tale op die lug. Die instelling het homself toegespits op transformasie in terme van struktuur, personeel en in terme van inhoud. Maar dit het gou duidelik geword dat party ou gewoontes nie sommer verdwyn nie. Tussen 2009 en 2019 moes die regering ingryp met nie minder nie as drie groot finansiële reddingsboeie: 'n leningswaarborg van R1.47 miljard in 2009, nog R1.2 miljard in waarborge in 2018, en toe 'n regstreekse kontant “bailout” van R3.2 miljard in 2019. Altesaam, in vandag se waarde aangepas vir inflasie, sowat R8.9 miljard. Dit terwyl die SAUK steeds nie op sy voete kon kom nie.
Wat het verkeerd gegaan? Korrupsie, vir seker. Politieke inmenging, beslis. Maar ook iets fundamenteel naamlik die idee dat 'n staatsbeheerde uitsaaier, met 'n oorwegend sentralistiese struktuur, relevant en volhoubaar kan bly in 'n moderne mediaklimaat. En dit is eenvoudig nie die geval nie. Selfs met die beste bedoelings, het die SAUK 'n instelling geword wat nie by die tyd kon bly nie. Die SAUK is tegnologies agter, finansieel broos, en redaksioneel dikwels onbetroubaar.
Onder Hlaudi Motsoeneng se bestuur het die SAUK verval tot 'n absurde parodie van openbare diens. Hy het joernaliste afgedank, musiekbeleid op sy eie ingestel, en met sy selfverklaarde “visionêre” optrede die finale doodskoot aan die SAUK toegedien. Die SAUK 8-sage in 2016 waar joernaliste afgedank is omdat hulle sensuur weerstaan het was die laaste strooi vir baie Suid-Afrikaners. Die uitsaaier wat eens Nelson Mandela se inhuldiging uitgesaai het, het weer die stem van magsmisbruik geword.
Die romantiek van 'n openbare uitsaaier het verval
Voorstanders van 'n staatsbeheerde SAUK hou steeds vol dat 'n openbare uitsaaier noodsaaklik is vir demokrasie, veral in 'n land met ongelykhede en beperkte toegang tot betroubare inligting. Maar hierdie argument hou al minder water in 'n wêreld waar 95% van Suid-Afrikaners toegang het tot selfone, waar data al hoe meer bekostigbaar raak, en waar gemeenskapsmedia en aanlynnuus vinnig die inligtingsgaping vul.
Waar openbare uitsaaidienste eens die enigste toegang tot nuus en opvoedkundige inhoud gebied het, is daar nou honderde ander opsies. Private entiteite verrig ondersoekende joernalistiek sonder 'n sent staatsubsidie. Die idee dat slegs 'n staatsentiteit geloofwaardige nuus kan bring, is dus nie net verouderd nie maar eenvoudig onwaar.
Boonop is die SAUK se finansieringsmodel geheel en al disfunksioneel. Die TV-lisensie, wat jarelank die finansiële ruggraat van die instelling moes wees, het verander in 'n simbool van wantroue. Miljoene huishoudings weier om te betaal. Nie uit onverskilligheid nie, maar omdat die SAUK nie meer as geloofwaardig of nuttig beskou word nie. Protes teen sensuur, partydigheid en swak inhoud het omskep in passiewe burgerlike verset, soortgelyk maar groter as wat ons met die eToll stelsel gesien het.
Privatisering as die enigste realistiese opsie
Die SAUK, soos dit tans bestaan, is nie 'n waghond vir die publiek nie dit is 'n siek hond op die drumpel van sy vierde “bailout”. Ons kan nie aanhou voorgee dat hervorming van binne moontlik is nie. Die struktuur is stukkend en sy interne aansporings is verkeerd. Wat nodig is, is volledige privatisering nie halfhartige privatisering of semi-staatsvennootskappe nie.
Kyk na Frankryk se TF1 of Argentinië se Telefe. Toe die uitsaaidienste geprivatiseer is, het hulle vinnig aangepas by kommersiële realiteite, hul gehore verstaan, en finansiële volhoubaarheid bereik. Hulle het nie net oorleef nie, hulle het gefloreer. En anders as wat kritici vrees, het hulle steeds inhoud gebied wat gemeenskapsgerig en kultureel relevant is.
'n Geprivatiseerde SAUK sal dus nie noodwendig beteken dat al die inhoud kommersieel of oppervlakkig is nie. Dit beteken net dat dit vry sal wees van staatsbeheer, finansieel selfstandig, en gedwing om sy kykers en luisteraars as kliënte te sien, nie as onderdane nie en nog meer belangrik nie as spaarvarkies vir die volgende reddignsboei nie. Dit sal kreatiwiteit aanmoedig, en nie staatsdiensmentaliteit nie. En dit sal meeding in 'n mark waar die kykers, nie die minister van kommunikasie of die SAUK se raad, besluit wat gesien en gehoor word.
Wat van toegang en taal?
'n Mens hoor dikwels: maar wat van isiXhosa-inhoud? Wat van Radio Lotus of SABC 2 se opvoedkundige programme? Die vrees is dat privatisering sal lei tot die verlies van minderwinsgewende, maar sosiaal belangrike inhoud. Dit is nie 'n onredelike bekommernis nie, maar dit is ook nie 'n rede om die hele SAUK aan die lewe te hou met belastinggeld nie.
'n Geprivatiseerde SAUK kan natuurlik ook deur teikensubsidies en oop kompetisie sorg vir bepaalde inhoud wat nie noodwendig 'n groot markvraag het nie maar tog vanuit 'n maatskaplike oogpunt belangrik is. Hierdie soort inhoud hoef nie deur 'n enkele, sentralistiese uitsaaier nie voorsien te word nie, veral nie wanneer dit in der waarheid nie enigsins voorsien word nie. 'n Medialandskap met 'n geprivatiseerde SAUK en meervoudige uitsaaiers (privaat, gemeenskaplik, aanlyn, ens.) sal kompetisie behels en hierdie kompetisie kan dan ook plaasvind vir vir subsidies gebaseer op inhoudskwaliteit en gemeenskapsimpak.
Slotgedagtes
Die SAUK het 'n onuitwisbare plek in ons geskiedenis. Van die radio-uitsendings tydens die Tweede Wêreldoorlog tot die televisiedekking van die 1994-verkiesing. Dit het werklik oomblikke van nasionale eenheid geskep. Maar die verlede behoort nie beleid in klip gekerf te hou nie. Die Suid-Afrikaanse belastingbetaler skuld nie die instelling 'n leeftyd se reddingsboeie bloot omdat dit eens op 'n tyd belangrik was nie.
Vandag se Suid-Afrika het meer stemme, meer keuses en meer kanale as ooit. Dis tyd om die SAUK te hervorm. Laat dit meeding, verdien, faal of floreer soos enige ander onderneming. Dit is uiteindelik die enigste manier waarop uitsaaidienste weer geloofwaardig kan word.
Nog artikels deur Daniël Eloff:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in: