Waarom Mense Podcasts eerder as Professors glo
Podcastistan het epistemologiese immuniteit opgebou.
Daar was 'n tyd, nie lank gelede nie, toe die opkoms van nuwe media vir my soos die aanbreek van 'n nuwe renaissance gevoel het.
Na jare waarin 'n handjievol redaksies, universiteite en staatsinstellings die monopolie oor openbare diskoers gehou het, het die demokratiese rewolusie van die internet ons belowe om die ou poorte oop te breek. Podcasts, Substack, YouTube-kanale, selfs Twitter het alles gelyk soos instrumente van bevryding. Die demokratisering van inligting, as't ware. Uiteindelik kon gewone mense weer hoor, sê en bevraagteken sonder die filter van die elite-konsensus van die dag. Soos Konstantin Kisin dit beskryf, daar was die gevoel van die herstel van rede en realiteit na dekades van ideologiese maskerade.
Ek het dit ook as 'n beginselsaak gesien. Vryheid van spraak is immers nie net 'n reg nie, maar 'n noodsaaklikheid vir die ontdekking van waarheid. Die nuwe media was die belofte van daardie ou liberalisme wat klassiek, onverskrokke, en oopkop is.
Maar soos met soveel rewolusies, het die vryheid wat aanbreek nie net die waarheid verlos nie, dit het dit ook begin verdof. In plaas van 'n groter eerbied vir feite en toetsbare kennis, het ons 'n markplein gekry waar die waarheid wat vir elkeen die beste pas geglo word. Vandag staan ons voor 'n vreemde spanning, naamlik dat die grootste mate van vryheid van uitdrukking in die menslike geskiedenis gepaard gaan met 'n skrikwekkende verval in epistemologiese standaarde. Die vraag is nie meer net of jy mag praat nie, maar of wat jy sê en glo nog op enige manier gekoppel is aan die werklikheid.
Soos Scott Adams sê, mense kyk na dieselfde skerm maar kyk twee verskillende flieks.
Die Belofte en Probleem van Nuwe Media
Podcasts, YouTube-kanale en onafhanklike skrywers op platforms soos Substack het die toegang tot ‘n verskeidenheid van menings ongelooflik verbreed. Vir die eerste keer kon 'n jong student in Bloemfontein luister na ‘n professor in Cambridge of 'n boer in Nebraska sonder dat 'n redakteur eers besluit of dit nuuswaardig is. Hierdie ontploffing van toegang het, ten minste aanvanklik, gevoel soos 'n herstel van die oorspronklike ideaal van die internet om kennis en gesprek te demokratiseer. Terselfdertyd het die ou wagte van inligting en gesag naamlik koerante, TV-nuusnetwerke, selfs akademiese instellings begin kwyn in hul invloed.
Die pandemie van 2020 was 'n keerpunt. In plaas daarvan om as bakens van geloofwaardige inligting op te tree, het baie tradisionele media hulself diskrediteer met selfversekerde stellings wat later as foutief of misleidend onthul is. “Die wetenskap is duidelik,” het kenners oor Covid-19 gesê. Totdat dit nie meer was nie. En in reaksie op daardie vakuum het die alternatiewe stemme toenemend gegroei. Voor die pandemie was baie van hierdie alternatiewe stemme slegs gehoor deur diegene wat reeds skepties was oor gevestigde instellings, maar nou het baie van hulle hoofstroom geword.
Maar in die plek van die misplaaste gesag het 'n nuwe vorm van dogmatiek ontstaan. Wat aanvanklik soos 'n bevrydende verskeidenheid van oogpunte gevoel het ('n regverdige stormloop van idees buite die ou hoofstroom) het met verloop van tyd begin stol in sy eie ortodoksie. Podcastistan, soos Kisin dit noem, is nie net 'n plek van oop debat nie. Dit is 'n wêreld met sy eie gesagstrukture, sy eie helde, sy eie ketters, en sy eie vorme van uitsluiting.
Die eksperimentele pluralisme waarmee nuwe media begin het, gee nou plek aan 'n soort moreel-ideologiese relativisme, waarin waarheid nie beoordeel word aan die hand van empiriese feite of logiese koherensie nie, maar op grond van of jy die “regte” instinkte het: of jy outentiek klink, of jy die regte vyande het, en of jy reg was oor Covid, Oekraïne, of enige ander lakmoestoets van die nuwe dissidente kanon.
Waar die ou media die poortwagters van konsensus was, is die nuwe media dikwels die poortwagters van kontra-konsensus. En dit, ironies genoeg, met ewe veel uitsluiting. So begin die sirkel draai: van bevryding na vervanging, van geslote instellings tot geslote gemeenskappe, van poortwagters tot populistiese profete wat, nes hul voorgangers, hul eie weergawe van waarheid beskerm teen toetsing en teenstrydigheid.
Wat is Podcastistan?
Podcastistan is Konstantin Kisin se nuwerwetse term vir die nuwerwetse media-heelal waarin gesprekke oor politiek, kultuur en geskiedenis nie meer binne formele instellings plaasvind nie, maar in die gemaklike ruimtes van langformaat-podcasts en YouTube-onderhoude. In Podcastistan is geloofwaardigheid nie meer iets wat uit kwalifikasies of ervaring voortspruit nie, maar uit hoe gemaklik, selfversekerd en “regverdig” iemand klink.
In hierdie wêreld kies luisteraars hul “kenners” op grond van wie vir hulle reg voel, nie noodwendig wie die meeste weet nie. Die stem wat hulle kalmeer, bevestig, of opgewonde maak, word as gesaghebbend aanvaar. Kundigheid het dus nie verdwyn nie, dit is net herdefinieer. Die nuwe gesag kom nie van 'n titel of 'n amp nie, maar van hoe oortuigend jy klink in 'n ruimte wat gesentreer is rondom gesprek, eerder as debat.
Persoonlik geniet ek die skuif van debat as diskoers na gesprek as diskoers. Dit is 'n goeie uitvloeisel van Podcastistan.
Die tradisionele poortwagters van kennis, akademiese joernale, universiteite en staatsinstellings het hulself dikwels gediskrediteer deur vas te klou aan ideologiese vooroordele, of deur arrogante uitsluiting van alternatiewe stemme. In so 'n klimaat is die demokratisering van idees 'n broodnodige ontwikkeling. Dit gee stem aan die wat voorheen uitgesluit is, en laat argumente buite die tradisionele ortodoksie toe om te floreer.
Maar ironies genoeg, in 'n era waar toegang tot inligting meer vry en verreikend as ooit tevore is, het die verifieerbaarheid van feite tegelyk moeiliker geword. Nie omdat daar te min inligting is nie, maar omdat daar nou verskillende feitestelle bestaan, elk met hul eie bronne, hul eie “kenners”, hul eie verklarings van wat werklik aan die gang is.
Wat erger is, selfs die sogenaamde kundiges aan alle kante van die spektrum blyk dikwels nie betroubaar te wees nie. Wetenskaplikes verander hul standpunte, ekonome verskil oor fundamentele beginsels, geskiedkundiges herinterpreteer die verlede op grond van huidige waardes. Die gevolg is dat die gewone persoon, selfs met toegang tot duisende bronne, nie meer weet wie of wat om te glo nie.
In so ’n landskap raak die aanloklikheid van Podcastistan verstaanbaar.
Epistemologiese Immuniteit
In die wêreld van Podcastistan is daar 'n interessante verskynsel aan die werk, iets wat Konstantin Kisin, en ander skrywers, raakvat. Ek beskryf dit as 'n vorm van epistemologiese immuniteit. Wat bedoel ek hiermee?
Dis die verskynsel waar invloedryke figure in die nuwe media-omgewing, danksy hul groot platforms en lojale aanhangers, feitlik onaantasbaar raak. Hulle is immuun teen korreksie, immuun teen weerlegging, en immuun teen die normale standaarde van intellektuele deugde wat ons tradisioneel van openbare figure verwag het. Dit is nie omdat hulle nooit foute maak nie, inteendeel. Maar die reëls van die spel het verander.
In Podcastistan word foute nie noodwendig teen jou gehou nie, mits jy as outentiek oorkom, die “establishment” bevraagteken, en dalk die belangrikste van alles of jy reg was oor Covid. Geloofwaardigheid is nie meer afhanklik van akkuraatheid op elke punt nie, maar van 'n breër indruk van integriteit en onafhanklikheid. As jy vroeër gewaarsku het teen maskermandate, skoolsluitings of “Big Pharma” se invloed, en die wêreld later iets in daardie rigting begin erken het, dan verdien jy in baie se oë 'n soort epistemologiese krediet wat jou beskerm teen latere teenstrydighede of oppervlakkige ontleding. In so 'n landskap is dit nie jou foute wat jou bepaal nie, maar jou vroeë insig en jou bereidheid om teen die stroom in te swem.
Die ironie is dat hierdie dinamiek presies die patroon herhaal wat nuwe media veronderstel was om te verbreek. Die ou media is tereg gekritiseer omdat dit kennis binne 'n selfversekerde elite opgesluit het. 'n “Deskundige klas” wat dikwels blind was vir hulle eie vooroordele. Maar in plaas daarvan om gesag te herverdeel volgens die meriete van inhoud, het nuwe media dit herverdeel op grond van populariteit. Wat ons nou sien, is nie soseer die dood van kundigheid nie, maar die vervanging daarvan met 'n ander soort gesag: die gesag van invloed.
Die publiek sien hierdie figure nie net as kenners nie, maar as kampvegters. Hulle is mense wat die waarheid “durf sê”, wat “teen die stroom swem”, wat hulself bevry het van die kettings van politieke korrektheid en institusionele dogma. En as hulle foute maak? Wel, dis maar deel van hul menslikheid, en boonop net 'n bewys dat hulle nie deel is van die institusionele kastes nie. Die gevolg is 'n soort populistiese heiligmaking en 'n vrystelling van kritiek omdat hulle aan die “regte kant” van die debat en diskoers staan.
So het 'n nuwe hiërargie ontstaan. Nie een gegrond in studie, navorsing of ervaring nie, maar een gegrond in affektiewe resonansie. Hoe jy praat, hoe jy klink, hoe eg jy oorkom, dis die nuwe geldige bronne van epistemologiese gesag.
Want wanneer ons begin aanvaar dat gesag nie uit bewese kennis spruit nie, maar uit hoe goed iets aanvoel of by 'n morele intuïsie pas, dan skuif die grondslag van openbare diskoers van waarheid na performatiwiteit, oftewel opvoerigheid. Dis nie meer 'n gesamentlike soektog na insig nie, maar 'n kompetisie van morele resonansie. Argumente word nie beoordeel op grond van hul meriete nie, maar op grond van of hulle klink asof hulle aan die “regte kant van die geskiedenis” staan.
In so 'n morele markplein oorleef nie die mees goed beredeneerde idees nie, maar die wat die deugsaamste klink. Die politieke en kulturele gesprek word 'n verhoog, en elke deelnemer 'n akteur in 'n etiese drama waarin nuansering as agterdogwekkend beskou word en kompleksiteit geag word as 'n poging tot misleiding. Die harde werk van dink maak plek vir die gemak van sentiment.
Die Misverstand oor Kundigheid en Gesag
In die hedendaagse wantroue teenoor alles wat soos 'n kenner lyk of klink, het 'n hardnekkige misverstand wortel geskiet: dat enige beroep op gesag per definisie 'n drogredenasie is. Die idee, wat in die ruimtes van Podcastistan met ywer versprei word, is nie net oppervlakkig nie, maar in baie opsigte ook gevaarlik. Ja, daar is so iets soos ’n valse beroep op gesag (die klassieke argumentum ad verecundiam) soos wanneer 'n Hollywood-akteur se siening oor virologie as 'n finale uitspraak voorgehou word, of wanneer 'n populêre musikant as geopolitieke ontleder optree.
Maar om te sê dat alle gesag verdag is omdat sommige gesag verkeerd toegepas word, is net so onlogies as om te sê dat alle wyn sleg is omdat jy een goedkoop bottel geproe het.
In werklikheid rus die oorgrote meerderheid van ons daaglikse besluite op 'n stil, maar diep afhanklikheid van kundigheid. Jy klim in jou motor en ry werk toe sonder om die enjin se binnewerking te verstaan. Jy skakel 'n lig aan sonder kennis van elektromagnetisme. Jy gebruik antibiotika sonder enige insig in molekulêre biologie. Jy vertrou op ander se kennis, nie uit naïwiteit nie, maar uit 'n praktiese aanvaarding van menslike beperkings. Niemand het die tyd, kapasiteit of opleiding om alles self uit te werk nie, daarom het ons spesialisering, en daarmee saam gesag, ontwikkel.
Wat egter tans plaasvind, veral in alternatiewe mediakringe (toegegee, waarvan ek deel is), is die skepping van 'n valse morele ekwivalensie tussen akademiese selfvoldaanheid en populistiese onkunde. Die arrogansie van sekere professore word gebruik as bewys dat alle kundiges korrup of nutteloos is, terwyl iemand wat glad nie opgelei is nie, maar reg voel, skielik as geloofwaardig beskou word. So word die probleem van swak kommunikasie of politieke bevooroordeeldheid in die akademie gebruik as 'n verskoning om die hele idee van kundigheid saam met die baba uit te gooi.
Maar die oplossing vir elite-vervreemding is nie om mediese raad by 'n komediant te kry, of jou geopolitieke ontleding by iemand wat sy navorsing uit Wikipedia en Telegram-groepe haal nie. Kundigheid groei nie uit Google nie. Dit spruit uit volgehoue studie, uit herhaalde nadenke en toetse, uit deelname aan 'n dissipline waar foute reggestel en kennis opgebou word. Dit vra geduld, selfkorreksie, en die bereidwilligheid om verkeerd te wees, presies die dinge wat baie van Podcastistan se invloedryke stemme of nie verstaan nie, of openlik verag.
Nie minder vrye spraak nie, maar beter onderskeidingsvermoë
Ons moet versigtig wees om nie die baba saam met die badwater uit te gooi nie al is daar baie badwater en die baba klein. Die vryheid van spraak wat nuwe media meegebring het, is kosbaar. Dis die suurstof van 'n gesonde samelewing. Maar sonder intellektuele standaarde is selfs die mees vrye debat net geraas. Oop gesprek beteken nie dat alle opinies ewe geldig is nie. Dit beteken dat alle opinies oop is vir toetsing.
Wat ons nou nodig het, is nie minder spraak nie, maar meer onderskeidingsvermoë. Ja, luister breedvoerig, maar vra altyd: Waar kom hierdie persoon se kennis vandaan? Wat weet hulle, en hoe weet hulle dit? Nie elke warm stem met 'n mikrofoon is 'n gids tot waarheid nie.
Waarheid is nie 'n demokratiese uitslag nie. Dis nie iets wat ons voel nie, maar iets wat ons vind deur ondersoek, bewyse, debat, en, soms, erkenning van ons eie onkunde.
In die stryd teen arrogante gesag, moet ons sorg dat ons nie ook kundigheid verbrand nie.
Nog artikels deur Daniël Eloff:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in: