Vir eeue lank was die kurator die bewaarder van kuns. Sy of haar taak was om kunswerke te versamel, bewaar, interpreteer en uiteindelik die eindelike besluit te neem oor watter werke goedgekeur is om aan die publiek vertoon te word. Met die nuwe KI-Kunsmuseum, Dataland, wat nou oop is word die tradisionele rol van 'n kurator herskryf. Ons vra nie meer net “Wat is kuns?” is nie, maar ook: “Wie bepaal wat kuns is?”
Dataland is die wêreld se eerste museum wat uitsluitlik aan kunsmatige intelligensie (KI)-kuns toegewy is. Die museum is in Los Angeles geleë en word as 'n plek beskryf waar kuns, wetenskap, tegnologie en data saamvloei om 'n interaktiewe-ervaring te skep. In teenstelling met tradisionele museums, waar besoekers na statiese skilderye of beeldhouwerke kyk, bied Dataland veranderende, digitale installasies wat deur KI gegenereer word. Die museum is dus 'n interaktiewe kunsmuseum, waar besoekers se ervaring as kuns gesien moet word.
Die museum se openingsuitstalling, Machine Dreams: Rainforest, gebruik 'n gevorderde KI-model wat opgelei is met enorme hoeveelhede natuurdata, insluitend foto’s, klankopnames, weerpatrone en wetenskaplike data oor woude en biodiversiteit. Baie slim, na my mening, want die negatiewe impak van KI-modelle se energieverbruik word reeds aangespreek.
Die KI-model ontleed hierdie inligting en skep onophoudelik nuwe visuele komposisies wat nooit presies dieselfde is nie. Die gevolg is dat elke besoek aan die museum uniek kan wees, aangesien die kunswerke voortdurend ontwikkel en verander – dis natuurlik enige Instagram-boffin se droom.
Interessant genoeg onderskei Dataland hom ook deur ander sintuie by die ervaring te betrek, dink aan die 4-D bioskoop by Gold Reef City, maar net heelwat groter en lewendiger. Benewens groot projeksies en dinamiese beeldmateriaal sluit sommige installasies ruimtelike klank, beligting en selfs ontwikkelde geure in. Hierdie benadering verander die museum in 'n lewende omgewing waar tegnologie voortdurend nuwe artistieke moontlikhede ondersoek.
Voordat jy vra … Jip, Dataland is wettig!
Vir die KI-kunsmuseum se openingsuitstalling, Machine Dreams: Rainforest, is data uit versamelings van instellings soos die Smithsonian Institution, die Natural History Museum en die Cornell Lab of Ornithology gebruik. Behalwe vir die gedagte dat hulle omgewingsbewus is, het Dataland dit ook baie duidelik gemaak dat daar 'n doelbewuste etiese benadering in die proses was waarin slegs gelisensieerde of toestemminggebaseerde natuurdata vir die uitstalling benut is.
Dis alles goed en wel, maar wat van oningeligte verbruikers wat oneties optree en nie omgewingsbewus is of selfs toestemming vir gelisensieerde inhoud vra nie? Ek gaan die vraag net hier los, sodat jy 'n bietjie daaroor kan nadink.
Vanuit 'n kunshistoriese perspektief verteenwoordig Dataland nou 'n belangrike paradigmaskuif. Die kurator beweeg weg van die rol as versamelaar en bewaarder van kunswerke oor na dié van ontwerper van moontlikhede. Kurators kan dus nou as ontwerpers of kunstenaars gesien word, want by Dataland begin die kurator se werk egter lank voordat enige beeld geskep is. Waar tradisionele museums bestaande werke selekteer, kies Dataland data, algoritmes, etiese beginsels en ervarings. Die vraag verskuif dus van “Watter kunswerk gaan ons wys?” na “Watter kreatiewe ekosisteem wil ons skep?” Kurators kies en keur dus nie net 'n eindproduk nie, maar eerder die konsep en kreatiewe proses, baie soos dié van ontwerpers, skrywers, musikante en illustreerders. Die KI-model funksioneer dus binne parameters wat deur mense ontwerp en beheer word. Die kreatiewe agentskap lê dus nie nét in die algoritmes nie, maar ook die algoritmes, installasies en die besoeker se ervaring daarvan. In hierdie opsig word die kunswerk nie meer as 'n vaste objek beskou nie, maar as 'n proses wat voortdurend ontwikkel. Dit lééf.
Wat lê voor?
Gaan kurators hulle werk verloor? Nee, ek dink nie so nie. Hulle gaan net anders moet dink en by die tye moet bybly. Want sien, voortdurende ontwikkeling lei tot voortdurende kwaliteitsbeheer. Al beskik die KI-model die vermoë om onbeperkte variasies te genereer, moet kurators die stelsel monitor. Indien die uitsette tegniese probleme vertoon, van die artistieke visie afwyk of ongewenste resultate oplewer, word die riglyne aangepas sodat besoekers weer met die kuratoriale doel ooreenstem. Die kurator bly dus aktief betrokke by die ontwikkeling van die kunswerk, selfs nadat die uitstalling geopen is.
Die vraag “Wie bepaal wat kuns is?” is steeds relevant. In Dataland se geval word dit net anders beantwoord: kuns word nie deur die keuse van 'n enkele kunswerk bepaal nie, maar deur die ontwerp van die KI-model waaruit kuns voortdurend gegenereer kan word. Die kritiese beoordeling lê dus in die kodering, programering en stelsels van die KI-model en nie noodwendig in die visuele uitbeelding nie.
Dis 'n ander manier van dink en ontwikkel, en ja, ek dink daar is 'n plek daarvoor. Waarom nie wetenskaplikes, navorsers, meganiese ingenieurs en programmeerders as kunstenaars sien nie? Die groot uitdaging lê in die etiese- en mensgemaakte aspek tussen KI en kuns. Dit lê in die vermoë om te skep, verder vir jouself te dink en uiteindelik 'n storie in een kunswerk vas te vang deur dit jou eie te maak. Ons leef in interessante tye. As grafiese ontwerper en multimedia ontwerper bly ek tog by mensgemaakte kuns wat deur mensgemaakte besluite rangskik is.
Hilde Kruger is 'n grafiese en multimedia-ontwerper, skrywer en bemarker met 'n sterk fokus op strategiese konseptualisering en handelsmerkontwikkeling.
Nog artikels deur Hilde Kruger:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.









