Totsiens aan twee groot bome: Portchie en Hockney se nalatenskap
Om waar te neem is om deel te neem.
My paaie het jare terug met Portchie by die Aardklop Kunstefees op die bult in Potchefstroom gekruis. Dis hoe ek my storie eendag aan my kinders sal oorvertel. 'n Ware verhaal. Nee, regtig! Ek was toe nog op skool. Dit was lank terug. Iewers in my argiewe lê daar nog 'n foto van ons twee wat agter sy esel staan. Ons het nie saam geverf nie. Hy was die kunstenaar. Ek was bloot net die bewonderaar wat hom vir 'n rukkie onderbreek het. Op 12 Junie ontvang Suid-Afrika die swaar nuus dat twee gesogte kunstenaars oorlede is. Skielik het die wêreld en Suid-Afrika 'n bietjie armer aan kuns geword; Portchie, die Suid-Afrikaanse kunstenaar wat bekend is vir sy kleurvolle landskappe en David Hockney wat internasionaal bekend was vir sy swembadskilderye, portrette en landskappe. Ek weet nie of hierdie kunstenaars van mekaar geweet het nie, maar daar is 'n subtiele ooreenkoms tussen die twee kunstenaars se werke wat waargeneem kan word. Hockney se aanhaling beskryf dit vir my eintlik baie mooi en dien as 'n goeie vertrekpunt om Portchie se nalatenskap binne die breër konteks van moderne Suid-Afrikaanse kuns te verstaan:
‘Art is about sharing. You wouldn’t be an artist unless you wanted to share an experience.’
David Hockney se standpunt
David Hockney was een van die invloedrykste kunstenaars van die twintigste en vroeë een-en-twintigste eeu. Interessant genoeg was sy belangrikste bydrae in die kunste nie noodwendig sy tegniese vernuf nie, maar eerder om mense te leer om anders na die wêreld te kyk.
Want sien, Hockney was van mening dat die toenemende tempo van die moderne lewe die mens se vermoë om die wêreld met verwondering en diepte waar te neem, onder druk plaas. Gevolglik het hy 'n groot deel van sy artistieke loopbaan aan die ondersoek van visuele persepsie en die wyse waarop mense die wêreld om hulle ervaar en interpreteer, toegewy. Vir Hockney was waarneming nie 'n passiewe proses nie, maar 'n vorm van aktiewe betrokkenheid in dit wat die wêreld vir ons kan aanbied. Ons kan dus sê dat om waar te neem, was om deel te neem.
Hierdie filosofie het deur sy hele oeuvre geloop: van sy beroemde swembadskilderye in Kalifornië tot sy groot landskappe van Yorkshire en later sy eksperimente met iPad-tekeninge.
Portchie se waarneming
Portchie, ook bekend as Jan Hendrik Viljoen, het 'n unieke plek in die Suid-Afrikaanse kunsgeskiedenis verwerf. Sy kenmerkende blou bome, kleurvolle dorpstonele en spelende figure het oor dekades heen 'n herkenbare visuele taal geskep. Sy werk is dikwels beskryf as 'n viering van die lewe, vreugde en menslike verbondenheid.
Portchie se skilderye het hoofsaaklik nie oor plekke of liggings gegaan nie, maar eerder oor die mense binne daardie plekke. Gemeenskappe. Kinders wat speel, families wat saamleef, fietsryers op 'n straat of mense wat hul daaglikse lewe leef. Sy eie filosofie was gegrond op die viering van skoonheid, geluk en saamhorigheid.
Luister vir Tolstoy
Die Russiese skrywer Leo Tolstoy het reeds in die negentiende eeu geargumenteer dat kuns die oordrag van gevoelens van een mens na 'n ander is. Hockney se beroemde uitspraak sluit direk by Tolstoy se teorie aan – raak die goue lyn tussen Hockney en Portchie nou vir jou ook duideliker, liewe waarnemer?
Wanneer ons Portchie se werk deur Tolstoy en Hockney se lense beskou, word dit duidelik waarom sy kuns soveel mense bereik het. Hy het nie net geverf nie, hy het mense se ervarings gedeel.
Ooreenkomste tussen Hockney en Portchie
Interessant genoeg laat Hockney se Bigger Trees Near Warter my baie aan Portchie se landskappe dink. Ter herdenking van Hockney het sy kunswerk, Bigger Trees Near Warter, weer internasionale aandag geniet. Deur die gebruik van veelvuldige panele word 'n oënskynlik eenvoudige natuurtoneel in die Yorkshire-platteland tot 'n visuele studie van waarneming, ruimte en die subjektiewe ervaring omskep. In beide Hockney en Portchie se werk funksioneer bome nie as dekoratiewe elemente nie, maar as draers van betekenis wat plek, herinnering en die gevoel van behoort opgeroep, terwyl die alledaagse natuurmotief tot 'n kernvisuele anker verhef is. Albei kunstenaars deel verder 'n estetiese ingesteldheid wat die alledaagse waardeer en plaaslike omgewings as universele betekenisvol beskou, hoewel Portchie 'n sterker fokus op gemeenskap en menslike interaksie het en Hockney eerder die proses van visuele waarneming self beklemtoon.
Een van Portchie se grootste bydraes lê moontlik nie net in sy styl, tegniek of selfs sy kommersiële sukses nie. Dit lê in sy vermoë om gemeenskap visueel uit te beeld. Net soos Hockney, het Portchie die lewe met 'n bietjie meer diepte waargeneem en waardeer.
Waar baie kunstenaars die neiging het om op een individu te fokus, het Portchie dikwels die verhouding tussen mense uitgebeeld. Gemeenskapsbinding. Dis waaroor dit gaan.
'n Nalatenskap wat voortleef
David Hockney het kuns verstaan as 'n medium waardeur ervarings gedeel en gekommunikeer word, 'n soortgelyke beginsel wat Portchie in 'n Suid-Afrikaanse konteks beliggaam het. Albei kunstenaars se praktyke dui daarop dat die waarde van kuns nie noodwendig geleë is in kompleksiteit of konseptuele ingewikkeldheid nie, maar eerder in die vermoë om 'n gevoel van herkenning, verbondenheid en behoort te genereer. In 'n toenemende gefragmenteerde globale konteks bied hul werk 'n belangrike perspektief deur dat kuns nie net 'n objek van visuele waarneming is nie, maar 'n intersubjektiewe ruimte van gedeelde ervarings. Wanneer kuns hierdie funksie vervul, benader dit sy mees fundamentele doel. Dis waaroor kuns eintlik gaan deur dit juis nie vir jouself moet hou nie, maar deur die ervaring met ander te deel.
Hilde Kruger is 'n grafiese en multimedia-ontwerper, skrywer en bemarker met ‘n sterk fokus op strategiese konseptualisering en handelsmerkontwikkeling.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.









