Huletts se Bitter Stryd
Wat die val van Tongaat Hulett oor die stand van SA se landbou-ekonomie verklap.
As kind het ek gereeld kort skoolvakansies in KwaZulu-Natal spandeer. Die suikerrietplantasies en Uvongo se strand sal my altyd bybly.
Soms het my ouers 'n hemelhoë stuk suikerriet gekoop en ons dan geleer om stukkie vir stukkie aan die rietstingel te kou, sodat ons die soetigheid kon proe. Wanneer die riet sy smaak verloor het, het ons die vesels uitgespoeg en aan 'n nuwe stukkie begin kou totdat ons kakebene seer was. Vir my was dit pret. Vir my ouers was dit 'n opvoedkundige aktiwiteit om ons te leer waar suiker vandaan kom en hoe landbouprodukte deel vorm van alledaagse verbruik.
In my studente- en jongwerkende dae het ek gereeld deur die Hulett-suikerpakkies in plaaslike koffiewinkels geblaai. Hulett se bemarkingstrategie om wyshede en motiverende aanhalings op klein suikerpakkies te druk, was besonder effektief en slim. Indien 'n mens sentimenteel ingestel was, sou jy maklik een van dié aanhalings, met Hulett se embleem daarop gedruk, huis toe neem om daardie soet koffie-oomblik met iemand te onthou en toe te laat dat die woorde jou vir 'n rukkie dra. Hierdie sogenaamde “everyday branding” versterk verbruikersbetrokkenheid deur emosionele assosiasies en narratief, eerder as produkfunksionaliteit.
Daardie klein wit en bruin sakkies suiker het daarin geslaag om oomblikke van selfrefleksie te skep. In koffiewinkels, kantore en kombuise het die aanhalings as stil gespreksgenote gefunksioneer. Die boodskappe was herkenbaar en relevant, wat beteken het dat verbruikers hulself daarin kon vind. Dit was dus nie slegs goeie bemarking nie, dit het emosionele waarde gehad en handelsmerklojaliteit versterk.
Juis as gevolg hiervan tref die moontlike likwidasie van Tongaat Hulett die publiek nie net op 'n ekonomiese vlak nie, maar ook op 'n emosionele vlak. Die handelsmerk was vir veel meer as 'n eeu verweef met Suid-Afrikaanse huishoudings, werksplekke en plaaslike winkels; die huidige krisis dui daarom nie slegs op die ineenstorting van 'n enkele onderneming nie, maar op die kwesbaarheid van 'n volledige plaaslike waardeketting wat oor dekades as stabiel en vanselfsprekend beskou is.
Die Groter Impak
Die suikerbedryf vorm 'n kritieke bron van tienduisende regstreekse en onregstreekse werksgeleenthede, veral in die landelike gebiede van KwaZulu-Natal, waar duisende klein- en opkomende suikerrietboere struktureel afhanklik is van Tongaat Hulett se meulens vir die verwerking van hul oeste en die volhoubaarheid van hul inkomste.
Sonder betroubare toegang tot hierdie infrastruktuur word oeste, kontantvloei en bestaansvolhoubaarheid ernstig bedreig, met potensiële langtermyngevolge vir landelike ontwikkeling. Vir plaaslike ondernemings, soos vervoermaatskappye, landboukontrakteurs, klein handelaars en koffiewinkels, kan die huidige onsekerheid lei tot 'n onmiddellike afname in besteding en sakevertroue. Klein- en mediumgrootte ondernemings, reeds verswak deur stygende insetkoste en lae ekonomiese groei, dra dikwels eerste die impak wanneer die ineenstorting van 'n sleutelrolspeler 'n domino-effek veroorsaak wat plaaslike ekonomiese aktiwiteit vinnig laat krimp.
'n Afname in plaaslike suikerproduksie verhoog Suid-Afrika se afhanklikheid van ingevoerde suiker, wat stygende pryse verseker, ontwrigtings in die voorsieningsketting veroorsaak en toenemende druk op beide verbruikers en vervaardigers sal plaas.
Ironies genoeg kontrasteer hierdie strukturele krisis met die boodskappe wat eens op die suikerpakkies gedruk is: hoop, volharding en menslikheid.
Waar daardie aanhalings mense herinner het aan die waarde van klein oomblikke, herinner die huidige situasie ons aan hoe maklik gevestigde ekonomiese ekosisteme kan verbrokkel wanneer beleid, bestuur en markrealiteite nie in balans is nie. Die vraag is dus nie of 'n enkele maatskappy gered kan word nie, maar of Suid-Afrika bereid is om strategies op te tree om plaaslike waardekettings, landelike ontwikkeling en ekonomiese insluiting te beskerm.
Sonder doelgerigte en gekoördineerde ingryping kan die soetheid van daardie klein suikerpakkies plek maak vir 'n bitter nalatenskap. Ek sal graag wil weet watter suiker-aanhaling uiteindelik vir Huletts gaan deurdra.
Hilde Kruger is 'n grafiese en multimedia-ontwerper, skrywer en bemarker met 'n sterk fokus op strategiese konseptualisering en handelsmerkontwikkeling.
Nog artikels deur Hilde Kruger:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.
Bronnelys:
Belk, R. W. (1988). Extended self in consumer behavior. Journal of Consumer Research, 15(2), 139–168. https://doi.org/10.1086/209154
Business Day. (2026). Tongaat Hulett liquidation threat shakes sugar industry.
Kotler, P., & Keller, K. L. (2016). Marketing management (15th ed.). Pearson Education.
OECD. (2023). SME and entrepreneurship outlook 2023. OECD Publishing.
South African Sugar Association. (2024). Sugar industry directory and annual review. Durban: SASA.









