"Jammer ouens, vryheid van spraak was nog altyd net 'n luukse"
Totalistiese elite-beheer oor heersende narratiewe het weggeglip.
Ek moet bieg dat ek ietwat geamuseer is deur die onlangse vlaag middelregse geweeklaag oor die kwessie van vrye spraak en aanlynsensuur.
Elke paar weke verskyn daar ’n snikkend-ernstige meningstuk wat die nuwe outoritêre vergrype van Brussel, Whitehall of die Silicon Valley-waarheidskommissarisse betreur. ’n Mens kan jou maklik vergewe as jy hierdie rubriekskrywers sou verwar met Sowjet-dissidente wat onder die haak van ’n ystervuis-despoot vertrap word, eerder as gemaklike manne in smaakvol ingerigte huise, mismoedig omdat die naoorlogse liberale orde nie meer so toegeeflik teenoor verset is as wat dit voorgegee het om te wees nie.
Hulle skok is nie die produk van tirannie nie, maar van naïwiteit.
Hierdie goedhartige klassieke liberales het die noodlottige fout begaan om hul eie propaganda te glo. Hulle verbeel hulle dat die liberale vryhede wat hulle in die lang skemer van die Amerikaanse imperium geniet het, die natuurlike toestand van politieke lewe is.
Wanneer die regime sterk is, kan hy dit bekostig om jou te laat kla. Die regime sal jou pamflette, jou blogs, jou kwaadwillige twiets verdra. Want jy maak nie saak nie. Die oomblik wat jy wél saak maak, of, die oomblik wanneer die regime aanvoel dat dit nie meer volkome beheer oor die narratief het nie, dan verdwyn daardie verdraagsaamheid.
Dit is nie ’n afwyking nie, maar die normale verloop van die geskiedenis. En dit is slegs amusant omdat dit, meer ongekunsteld as ooit tevore, onthul hoe broos en uitgedien die moderne postliberale orde intussen geword het.
Wat volg, is nie ’n treurlied oor die verbygaan van liberale openheid nie, maar ’n besinning oor sy onvermydelike ondergang, en oor waarom ons dit dalk behoort te verwelkom, al is dit net om ontslae te raak van die voorwendsels en gepynigdheid wat gepaardgaan met die versorging van dié terminaal sieke tydsgewrig.
Die laat-moderne liberale orde stort nie ineen as gevolg van ’n eksterne verowering nie. Daar is geen Mongoolse invalleërs wat oor die steppe aanstorm nie, geen Panzer-divisies wat deur die Ardennes dreun nie, geen vreemde vlootmagte wat sy hawens blokkeer nie. En dit word ook nie verpletter deur die gevreesde spookbeeld van binnelandse populisme nie, die plomp rooi bofbalpette, die growwe slagspreuke, die onwelvoeglike vrae oor wie presies regeer, en in watter belang. Hierdie is alles simptome, nie oorsake nie.
Nee, dit stort ineen omdat dit beheer oor sy eie verhaal verloor het.
’n Regime oorleef nie deur die formaliteite van sy grondwette nie, ook nie deur die ingewikkeldhede of belowendheid van sy wette nie. Ook nie deur die aantal divisies wat dit kan ontplooi nie, al het hierdie dinge hul plek. ’n Regime oorleef omdat dit die narratief beheer. Omdat dit kan sê: dit is hoe die wêreld is, en dan dat dit geglo word. Die legitimiteit van enige orde rus op sy vermoë om die werklikheid te beskryf en dat daardie beskrywing as “evangelie” te aanvaar en ander daarvan te oortuig.
Wanneer daardie mag wankel, wanneer mededingende wêreldbeskouings na vore tree en buite beheer versprei, is die regime se dae getel. Want ’n staat wat nie sy narratief kan beheer nie, kan nie sy lot beheer nie. Dit word soos ’n skip sonder ’n roer: dalk nog drywend, dalk selfs nog gewapen, maar rigtingloos en dobberend op die see.
Martin Luther as voorbeeld
Die geskiedenis het dit nog altyd geweet. Dink vir ’n oomblik aan die geval van Martin Luther. Dit word dikwels vertel as die verhaal van ’n eensame, moedige hervormer wat teen die dekadente masjinerie van kwasi-Middeleeuse teokrasie standpunt inneem. Die man wat, gedryf deur gewete en geregtigheid, sy stellings aan die kerkdeur vasgespyker het en die fondament van Christendom laat kraak het. Dit is, in ’n sekere sin, waar. Maar wat minder dikwels erken word, alhoewel dit vir enigiemand met ’n werkende kennis van mag en geskiedenis ooglopend is, is dat Martin Luther nie die eerste man was wat opgemerk het dat die pousdom se geestelike gesag begin muf ruik het nie.
Daar was ander. Baie ander. Maar jy het nog nooit van hulle gehoor nie. Die verskil tussen húlle en Martin Luther was eenvoudig: Luther se pamflette het in ’n wêreld beland waar die pous nie meer die mag gehad het om elke ketter betyds te verbrand nie. Die tegnologie het verander. Die drukpers het dit onmoontlik gemaak om opposisie in die wieg te smoor, en die politieke werklikheid van die tyd — ’n gefragmenteerde Heilige Romeinse Ryk en ambisieuse Duitse prinse wat gretig was om die pous se vlerke te knip — het beteken dat, vir die eerste keer in eeue, ’n dissident se woorde vinniger as die vlamme van die Inkwisisie kon versprei.
Dit was nie Luther se insig wat nuut was nie. Dit was die regime se onvermoë om hom in toom te hou.
Napoleon het dit verstaan. Op die hoogtepunt van sy mag, toe die kaart van Europa sy ryk uitgebeeld het en sy leërs soos klokwerke van Lissabon tot Moskou beweeg het, kon hy bekostig om die gatvlieë van die Paryse pers te verdra. Hul gekrabbel, hul besprekingskafees, en hul slim epigrame het niks beteken toe geen weermag op aarde hom op die slagveld kon verslaan nie. Weerstand kon verdra word, presies omdat dit irrelevant was.
Maar die oomblik toe daardie posisie begin wankel — toe die Spanjaarde in guerrillaoorlog oprys, toe die Russiese winter die Groot Leër verorber, toe Britse goud en Pruisiese staal teen hom draai — het sy verdraagsaamheid verdwyn. Die drukpers was toe, die kritici opgesluit. Die post-revolusionêre liberale verdraagsaamhede het plek gemaak vir die ysterbehoeftes van politieke oorlewing.
Metternich, die argitek van die post-Napoleontiese orde, het dit ook verstaan. Die Oostenrykse Ryk waaroor hy beskik het, was ’n brose, kunsmatige konstruksie. ’n Lappie aarde vol woelige nasionaliteite wat saamgehou is deur dinastiese erfenis en geskiedkundige momentum. Daar was geen diep lojaliteite nie, geen organiese eenheid nie. In so ’n brose orde moes selfs die dunste fluistering van verraad gesmoor word. Die idee van vrye uitdrukking was nie ’n edele reg wat beskerm moes word nie, maar ’n eksistensiële bedreiging wat uitgedelg moes word, en so het die Oostenrykse Ryk nog ’n eeu voortgesukkel, weens Metternich se wyse versigtigheid.
Ons moderne heersers, wat soos jakkals vir sy eie stert hulself vir dekades lank geprys het oor hul deugdelike verdraagsaamheid, bevind hul nou in presies hierdie eeue-oue dilemma. Hulle beheer oor die narratief, wat eens totaal was, het deur hul vingers geglip. Mededingende werklikhede vermenigvuldig aanlyn, ketterye versprei teen die spoed van lig, en die ou media-priesterklas behou nie meer die geloof van die massas nie. Wat eens duidelik waar was, word nou openlik betwyfel.
En soos alle regimes wat wil oorleef sal doen, het hulle begin om die vrye krane toe te draai.
Die histeriese roepings oor "waninligting", die paniekerige uitwis van dissidente sosiale media rekeninge, die toenemend verwarde pogings om aanvaarbare spraak wetlik te reguleer en wrongthink uit te wis: hierdie is nie tekens van krag nie. Dit is tekens van swakheid. Die liberale imperium is nie meer veilig genoeg om sy kritici te verdra nie. Dit kan nie debat toelaat nie, omdat dit nie debat kan wen nie. Dit moet stilmaak omdat dit nie kan oortuig nie.
Ons sien gewoon die ysterlogika van die geskiedenis wat homself uitspeel. Wanneer die heersersklas sterk voel, laat dit dwarstrekkers toe, om hul grootmoedige heerserskap te vertoon. Wanneer dit swak voel, verbied dit grappe.
En moenie ‘n fout maak nie: ons het die grappie-verbod fase van die imperium betree.
Moderne liberaliste (klassiekes, libertyne of die progressiewe soort) het vir 'n ruk lank hierdie antieke politieke waarheid vergeet, omdat hulle die anomalie van die post-1945 Amerikaanse imperium vir die standaardtoestand van geskiedenis verwar het. Nadat hulle grootgeword het in die lang somer van Amerikaanse unipolariteit — daardie vreemde, ahistoriese tussentyd wanneer 'n enkele oorwinnende supermoondheid oor 'n gebroke wêreld geheers het — verbeel hulle hul dat "vryheid van spraak" 'n geboortereg is, 'n onveranderlike beginsel van beskawing, eerder as wat dit nog altyd was: 'n strategiese toegewing, toegestaan deur heersers wat selfversekerd genoeg in hul posisie is om 'n bietjie skadelose murmurering toe te laat.
Die verhewe Eerste Wysiging tot die Amerikaanse Grondwet, wat eindeloos opgehemel is, is nie 'n natuurwet nie, en ook nie 'n universele reg wat op die hemelruim ingeskryf is nie. Dit is 'n politieke artefak, 'n toevallige reëling, wat net gehandhaaf word solank dit die belange van diegene in mag dien. Wanneer dit ophou om dit te doen, verdwyn dit.
Selfs die sogenaamde liberale demokrasieë van die verlede het dit instinktief verstaan in tye van krisis. Abraham Lincoln, daardie apostel van demokratiese vryheid, het habeas corpus opgeskort, hofbevele geïgnoreer en teenstanders tydens die Amerikaanse Burgeroorlog gearresteer, omdat daar 'n opstand was wat onderdruk moes word. Die Britse regering — daardie selfingenome “moeder van parlemente” — het teenstanders toegesluit en spraak gesensureer tydens beide Wêreldoorloë, nie omdat dit vryheid gehaat het nie, maar omdat regimes in oorlog nie kan bekostig om sedisie te verdra nie.
Dink aan Sir Oswald Mosley, leier van die Britse Unie van Fasciste, wat tydens die Tweede Wêreldoorlog, 'n gevangene was; nie weens die beplanning van staatsgrepe of spioenasie nie, maar vir die uitspreek van die verkeerde idees op 'n oomblik toe daardie idees sélf inherent gevaarlik was. 'n Sterk regime kan eksentrieke intellektuele bekostig; 'n beleërde regime kan nie. Die mite van absolute liberale openheid was nog altyd net dit — 'n mite, nuttig in vrede, verwerplik in oorlog.
En die koste daarvan om nie die mees onliberale historiese noodsaaklikheid te volg nie?
Oorweeg die Viëtnam-oorlog, miskien die mees onderrigte voorbeeld van hierdie kenmerkend moderne illusie. Op die slagveld is die Amerikaanse imperium nooit ernstig bedreig nie. Die Tet-offensief van 1968, wat wyd onthou word as 'n draaipunt in die rigting van 'n Amerikaanse nederlaag, was in werklikheid 'n militêre katastrofe vir die Viet Cong en die Noord-Viëtnamese leër. Die kommuniste het verskriklike verliese gely, hul infrastruktuur is vernietig, en hul strategiese posisie is ernstig verswak.
Maar dit het nie saak gemaak nie, want die enigste ding wat die Amerikaanse publiek gesien het, was die televisie-beelde: bang Amerikaanse Mariniers wat dekking slaan in 'n gebombardeerde ambassade-kompleks, bloed op die mure van Saigon, vuisvoos en moeë soldate wat huistoe verlang. Die Amerikaanse nederlaag het nie op die hande van oerwoudguerrillas aangekom nie, maar deur sy eie verdraagsaamheid vir vyandige interne narratiewe. In 'n sterker era sou 'n wyser regime die noodsaaklikheid van narratiefbeheer in oorlogstye verstaan het. Die moderne liberale staat het dit nie besef nie, en enige Damaskus-insigte is nou te laat.
Of oorweeg glasnost, Mikhail Gorbatsjof se goedbedoelde misrekening. Gekonfronteer met die sklerose van die sterwende Sowjetunie, het hy probeer om die stelsel te vernuwe deur beperkings op openbare uitdrukking te verlig, in die hoop dat 'n bietjie beheerde teenkanting die regime se legitimiteit sou vernuwe. Dit was 'n fatale fout, soortgelyk aan die toediening van bloedverdunners aan 'n bloeiende hemofiel. Wanneer jy nie meer die lojaliteit van die massas beheer nie, en dan boonop die mense toe te laat om te sê wat hulle regtig van hul heersers dink, is regime selfmoord.
Die Sowjetunie, deur eksterne magte onoorwonne, het in minder as 'n dekade ineengestort omdat dit toegelaat het om van binne bespot te word, en dit het die leegheid van sy oorblywende gesag blootgestel.
Dit is die antieke patroon: mag verdra kritiek net wanneer daardie kritiek irrelevant is, en mag is spyt oor sodanige toegeeflikheid wanneer dit swak is. Moderne liberalisme, in sy veroudering, leer hierdie brutale les weer. Die huidige histerie oor “waninligting”, “haatspraak,” en “skadelike narratiewe” is nie 'n teken van gesonde bestuur nie, maar die paniekerige gesukkel van 'n regime wat sy verhaal verloor het.
En so, namate die ou narratief in duie stort, begin die moderne Weste doen wat elke regime moet doen wanneer sy beheer verminder: dit stof sensuur af.
Moderne post-liberalisme is nie sterk nie. Dit is broos, en nêrens is hierdie broosheid meer sigbaar nie as in die openlike vyandige verhouding met sy eie geskiedkundig militêre klas: die luidrugtige, ondernemende, potensieel gevaarlike jong mans wat, vir beter of slegter, die beskawing gebou het waarop die bestuurders hul troon geplaas het. Die moderne liberale regime soek nie hul lojaliteit nie. Dit streef nie eens daarna nie. Die propaganda is nie op hulle gemik nie, en bied hulle geen rol behalwe uitgediendheid nie, 'n voetnoot in 'n progressiewe toekoms waarin hulle oortollig is.
In 'n tragiese ironie is die presiese demografie waarop die Westerse regimes geskiedkundig in tye van krisis staatgemaak het, sistematies vervreem, verneder en uitgesluit uit die dominante kulturele narratief.
Liberale moderniteit het sy tradisionele militêre kastes vervang met 'n koalisie van die marges, 'n beskermingsnetwerk wat bestaan uit diegene wat die minste in staat is om onafhanklik van die regime se welwillendheid te bestaan. Vrouens, ideologies bevry van alle biologiese imperatiewe, en gedruk om steriele ekonomiese eenhede en simulasies van mans te wees, seksuele minderhede wat as amptelike ideologieë se tokens en gelukbringers misbruik word, vrye immigrante wat die effek van demografiese skoktroepe het, en psigososiale toestande, wat as vernaamste moreel navolgenswaardighede opgemel word.
Dit is nie toevallige beleid nie, dit is strategiese afhanklikheidskepping. Elke groep is vir Westerse regimes waardevol, nie weens inherente menslike waardigheid nie, maar weens hul afhanklikheid van die stelsel vir afgedeelde invloedrykheid en status. Dus is hul lojaliteit, vir die regime se doeleindes, sonder twyfel.
Hierdie plan kan egter net werk onder toestande van absolute narratiewe beheer. Dit is, in sy aard, onstabiel — 'n selfverterende beskermingsnetwerk wat nie 'n ernstige eksterne of interne uitdaging kan oorleef nie, omdat dit heeltemal 'n demografie ontbreek wat bereid en in staat is om vir dit te veg.
En tog, verbasend, volhard die eietydse Weste daarin om hul anders te verbeel. Die groteske teater van die Starmeriaanse elite, daardie galery van plastiekagtige bestuurders, wat Brittanje se bereidwilligheid verklaar om "Oekraïne te verdedig" of "Europese veiligheid te handhaaf," sou komies wees as dit nie so hartverskeurend betreurenswaardig was nie, soos ‘n oupa wat jou uitdaag tot 'n vuisgeveg. Met watter leërs? Met watter gewere? Brittanje se militêre mag is 'n oulike vredesmag, 'n seremoniële wag met ‘n paar kruisermissiele. Die EU se militêre kapasiteit bestaan grootliks in teorie, en Amerika, moeg en ontrafel, het sigbaar belangstelling verloor.
Europa gedra hulself soos die Romano-Britte van die vyfde eeu — desperaat stuur hulle briewe aan die afwesige legioene, pleit vir hulp teen die Pikte en Saksers, terwyl hulle weier om die waarheid te begryp: die legioene kom nie terug nie.
En net soos in daardie laaste keiserlike dae, is nuwe manmoedige en kragtige stamme reeds onderweg, nie met swaarde nie, maar met burner-rekeninge, interportuur-betalingsprogramme, en geslote boodskapgroepe. Die Angele en die Saksers van hierdie era praat in memes, organiseer in Telegram-groepe, en speel ’n oneindig meer subversiewe speletjie as wat die ou wêreld-elite kan begryp.
Trump se opkoms het die eerste openlike erkenning van die regime se uitputting gemerk wat al lank onder die oppervlak van die post-1945 wêreldorde geborrel het. Dis nie dat Trump ’n tiran is nie, hy is veels te oneffektief vir so ’n titel. Wat die elite vreesbevange laat, is nie eens Trump se bombastiese of onvoorspelbare gedrag nie, maar iets baie meer gevaarlik in hul oë: hy het die verbode vraag gevra, synde waarom Amerika die post-1945 orde moet help voortbestaan wanneer dit nie meer hul belange dien nie?
Vir dekades het die Amerikaanse imperium — nou ’n uitgestrekte burokrasie wat as ’n republiek vermom is — sy gesag nie net deur militêre mag nie, maar deur sagte mag, diplomasie en die latente morele gesag van sy ideologie, uitgebrei. Vir dekades het die wêreld se Westerse elites, veral in Europa, geglo dat die versekerings van Amerikaanse sekuriteit hulle sou ondersteun, hul ekonomiese stelsels en hul politieke ideologieë teen die magte van chaos sou beskerm. Maar teen 2016 het die krake begin wys. Amerika was moeg. Dit was uitgeput deur eindelose oorloë in die Midde-Ooste, deur die wêreldpolisie te speel terwyl sy eie stede verrot het, deur die finansiering van ’n wêreldorde wat skynbaar al hoe meer die belange van almal behalwe sy eie inheemse bevolking, dien.
Trump se “America First”-retoriek is nie 'n samehangende regeringsdoktrine nie, helaas, ook nie 'n herlewing van enige ou groot politieke teorie nie. Dit was 'n onbedwonge, onhandige reaksie op die besef dat die post-1945 orde sy weg volbring het. Die oorwinnings van 1945 en 1989 — die verspreiding van liberale demokrasie, die Pax Americana, die Amerikaans-geleide ekonomiese stelsel — is nie verlaat weens strategie of as ‘n berekende onttrekking nie, maar bloot omdat Amerika nie meer die energie of wil het om dit te handhaaf nie.
En die elite, met hul gepoleerde CV's en kosmopolitiese sensitiwiteite, het geen antwoord hierop gehad nie.
Hoe kon hulle? Die masjien wat die naoorlogse wêreldorde ondersteun het, het nou tot 'n halt gekom, en die enigste reaksie wat hulle kon uiter, was om paniekerig te raak, nie oor die ineenstorting van hul imperium nie, maar oor die bedreiging van hul posisie. Europa, die laaste groot kliënt van die Amerikaanse imperium, is verwag om "vir homself op te staan", om verantwoordelikheid vir sy eie verdediging te neem, om uiteindelik weer die las op hulself te neem wat Amerika so lank gedra het. Maar hier is die werklikheid: Europa, as 'n beskawingskrag, is dood. Die ou gode is weg, hul stemme stil. Die vuur wat eens die Kruistogte, die Renaissance, Kolonialisme, die Verligting, die groot stryde van wêreldoorloë aan die gang gesit het, het vervaag, geknetter en gesterf, en daar is niemand wat onthou hoe om dit weer aan die gang te kry nie, en sou bang wees om dit te doen, selfs as hulle onthou het.
Wat nou oorbly is 'n brose, burokratiese simulakrum van 'n imperium: 'n post-Amerikaanse Europa, bestuur is deur 'n bestuurderselite wie se enigste instink, wanneer dit gekonfronteer word met ineenstorting, is om sensuur te verskerp. Europa is nie meer in staat om sigself te verdedig nie — dit het nie die militêre krag nie, ook nie die kulturele samehang om betekenisvolle weerstand te bied nie. Trouens, die laaste spel van sy elite is om enige dwarstrekkery te probeer wurg, ongemaklike geselskap te sensureer, die memes wat hulle bespot en die narratiewe wat hul gesag ondermyn, te probeer uitwis.
Dit is die tragiese grap van ons tyd. Die eens trotse liberale orde, wat homself beskou het as die voorbode van 'n vreedsame en regverdige wêreld, het 'n krimpende imperium geword, sy finale gebare nie heldhaftig of dapper nie, maar absurd.
En tog, so absurd soos dit is, moet ons die tragiese skoonheid van die vertoning erken. Die imperium se laaste asemteug, die finale afbuigings, die desperate soeke na betekenis en legitimiteit in 'n wêreld wat lankal aan die aanbeweeg is — dit is die dood van die post-liberale droom. En terwyl die ineenstorting van so 'n imperium op baie maniere tragies is, is dit ook 'n oomblik om te geniet.
Want die einde van hierdie ou wêreld is nie net die dood van 'n ideologie nie, maar die geboorte van iets nuut — iets onbelemmerd, iets rou, iets werklik. Laat die imperium sterf soos alle imperiums sekerlik moet. Ons sal steeds hier wees, kykend, en wagtend op wat daarna kom.
Sulla Felix is ‘n regsgeleerde van Johannesburg.
Nog ‘n artikel deur Sulla Felix:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in: