Die aard van die sloernalistiek is om te bepeins oor sake wat nie sommer net oorwaai nie, oor dinge wat langer draal as wat dit moet. Dit bring my die aangeleentheid van Fartcoin, die digitale munt wat deur baie beskou word as die beste belegging in die onstuimige tye, gegewe ook die onlangse verdubbeling in waarde.
Trump se eie Trumpcoin vaar toevallig ook nie sleg nie, klaarblyklik aan die ‘onsigbare hand’ van die mark te danke, of is dit dalk sy eie hand? Die verband tussen digitale munte en die dollar, gedagtig aan Trump se plegtige belofte om Amerika eerste te plaas, is vir baie nog onduidelik. Moontlik is die logika daaragter dat wat goed is vir Trump, goed sal wees vir Amerika. Klink soortgelyk aan Zuma se uitspraak dat wat goed is vir die ANC, outomaties goed is vir Suid-Afrika, hoewel Zuma waarskynlik daardie uitspraak vandag sal betwyfel.
Hoe gebeur dit dat die samelewing by so ’n punt beland het? Ek gaan probeer aantoon dat dit nie toevallig is nie, maar eintlik heel gepas dat Fartcoin die simbool van ons tyd geword het. Reeds in die vroeë 90’s beskryf Gilles Deleuze in sy bekende essay Postscript on the societies of control die post-industriële maatskappy as volg: “the corporation has replaced the factory, and the corporation is a spirit, a gas.” Die fabriek van die industriële samelewing word gekenmerk deur die opsoek van interne ekwilibriums en dissipline, terwyl die korporasie “works more deeply to impose a modulation of each salary, in states of perpetual metastability that operate through challenges, contests and highly comic group sessions.”
Die korporasie het voorts moreel geword, en deur bemarking, deur die handelsmerk word werknemers en verbruikers as blote Nachbild aan die beeld daarvan gekoppel. Mense is effektiewelik nie meer individue nie, skryf Deleuze, maar dividue, dit wil sê opgedeelde ‘deeltjies’ van ’n geheel as draers van handelsmerke en logo’s, en in die proses hef ons ons eie woord, ons logos op in die logo van die maatskappy, en word niks meer as napraters van dit wat die meeste geraas produseer om die handelsmerk te bemark nie. Wat word van diskoers in ‘n tyd van bemarking en prikkels? In ‘n tyd van versnippering van denke in grepies en soundbites? Wat word van politiek, van parlementêre debat, wanneer heethoofde mantras op Twitter uitbulder? Die ridderlikheid (oftewel chivalry, en hier romantiseer ek nie, dit het ook sy donker kante) met sy hoflikheidskultuur, word vervang deur die digitale cowboy politikus. Onlangs bekla Žižek tereg die ‘skaamteloosheid’ van Trump, maar stel in dieselfde asem voor dat die linkses hulle eie skaamtelose leiers moet voorsit as alternatief.
Hierdie toedrag van sake het nie eensklaps gebeur nie. Reeds in die 1950’s, in sy boek Organization man, beskryf William H. Whyte hoe die korporasie besig is om die samelewing uit te hol deur effektiewelik die plek van ander instellings in te neem. Hoe dikwels word daar nie deesdae deur menslike hulpbronbestuurers oor die werksplek gepraat as “familie” nie, en verwys maatskappye na hulself as redders van die planeet. Met die opkoms van die post-industriële "kennis ekonomie vanaf die 1980’s het hierdie proses versnel, en verder met die “eksponensiële maatskappy” vanaf die 2010’s. Die staat, gedagtig aan Thatcher se “there is no alternative”-mantra, het gedienstig saamgespeel en porieuse verlengstukke vir transnasionale maatskappy belange geword, soos Ad Verbrugge dit ook beskryf in sy onlangse boek De Gezagskrisis (2023). In ‘n sekulêre tyd word die korporasie verkerklik, wat volgens Deleuze nie in ‘n positiewe lig beskou moet word nie:
“We are taught that corporations have a soul, which is the most terrifying news in the world.”
Ironies genoeg was dit niemand minder nie as Milton Friedman, die vader van neo-liberale kapitalisme, wat al hierteen gewaarsku het.
Oënskynlik bied Trump hierop ‘n alternatief. Komende uit die eiendomsektor, wat reeds in 2008 in ‘n groot krisis gedompel was, kon hy waarneem hoe gemiddelde mense minder toegang tot eiendom verkry en veral hoe skuldvlakke toeneem. David C. Korten beskryf in sy boek When corporations rule the world (2015) dat die middelklas in die Weste oor die laaste 40 jaar relatief gestagneer het, met eiendomspryse wat die hoogte ingeskiet en maatskappybase wat relatief tot die bevolkings aansienlik ryker geword het. Hierdie groeiende gaping tussen maatskappy belange en die van gewone burgers was een van die vernaamste prikkelings vir die Occupy Wall Street beweging in 2010. David Graeber, ‘n antropoloog, het in daardie tyd die term ‘the one percent’ gemunt om die aandag te vestig op die verhouding van die rykste 1 persent tot die res van die samelewing. Hy het dit later uitgebrei tot wat hy ‘n kultuur van ‘bestuursfeudalisme’ genoem het, waarin die boonste laag van maatskappye toenemend belaai word met witboordjiewerkers wat onnodige take verrig en in die proses die salariskerf van mense wat die produkte vervaardig afdruk.
Onder die toenemende invloed van tegnologiereuse en eksponensiële maatskappye kan ons sê dat Trump se tweede termyn skerp sal verskil van sy eerste. Die gepaardgaande oorgang in houding van president na besigheidsbestuurder sal vir hom natuurlik nie moeilik wees nie. Hy was immers die versinnebeelding van die korporasie in sy pre-presidensiële tydperk op die stel van The Apprentice vanaf 2004. Sy gedrag op televisie herinner mens aan daardie tyd, aangesien onbevoegdheid een van sy gunsteling temas is en ook wanneer hy regstreeks met joernaliste praat. Deleuze het reeds voorspel dat die verskynsel van The Apprentice kenmerkend sal word vir die korporasie, wat gekenmerk word deur meer tydelike aanstellings en konstante “selfverbeteringskursusse” van werknemers sal vereis. Die sogenaamde gig economy is die uitvloeisel hiervan, die feit dat mense meer as een werk doen (werk is hier gig), maar so ook quiet quiting, die verskynsel dat mense bloot die minimum vereistes van hulle kontrakte nakom en nie belangstel om die beeld van die maatskappy te help poets om ‘n dertiende tjek te kry nie.
Die verskil in Trump se publieke verskynings in sy tweede termyn is merkbaar. Die gereeldheid daarvan toon sterk ooreenkomste met Hugo Chavez van Venezuela se Álo Presidente program, waar hy op ‘n nar-agtige wyse verskyn en in tirades teen sy opponente uitgevaar het. Die onsmaaklike vernederings wat hy joernaliste toesnou is natuurlik ’n vorm van magsvertoon. Met sagte mag word teenstand dikwels geduld vir sover dit openbaar verkleineer kan word (selfs Lenin het satiriese tydskrifte toegelaat).
Die vraag is natuurlik wat Trump beoog om te “herstel”, gegewe sy skaamtelose gedrag, regstreekse inmengery en vertroebeling van die onderskeid tussen besigheid en die staat. Dit lyk toenemend soos ‘n verdere konsolidering tussen geld en mag, en die uitwissing van onderskeid wat so ‘n belangrike komponent van die moderne staat vorm. Meer as enige figuur wat hom voorafgaan, dra Trump by tot onstuimigheid en onvoorspelbaarheid en gebruik hy dit tot sy voordeel.
Maar hoeveel mense, ook die wat hulle hoop op Trump geplaas het, word nie deur hierdie onstuimigheid benadeel nie? In die lig hiervan en in teenstelling met Žižek, glo ek dat dit nie ‘n verdere skaamtelose, Trump-agtige vent sal neem om hom te onttroon nie.
Nog ‘n “poor kid from Scranton” sal, as die onstuimigheid voortduur, dit deur Trump se eie toedoen kan vermag.
Dr. Hercules Boshoff is buitengewone navorser aan die Skool vir Filosofie aan die Noordwes-Universiteit.
Nog artikels op OntLaer: