Jy is 'n Aanlyn Proefkonyn: Kreatiwiteit as Verhandelbare Data
KI-opleiding het regsuitdagings en etiese implikasies.
Ons leef nou in 'n wêreld waar algoritmes kan teiken, bereken en optimaliseer, daarom word die vraag na intellektuele eiendom, kreatiewe outonomie en digitale etiek al hoe dringender.
'n Onlangse hofsaak in 2025 teen Adobe oor die gebruik van kreatiewe inhoud vir die opleiding van kunsmatige intelligensie, laat 'n mens wonder of ons nie net gevorderde tegnologie se proefkonyne is nie. Die saak beklemtoon nie net die spanning tussen tegnologiese vooruitgang en menslike skeppingsreg nie, maar ook die groter paradigmaskuif van kreatiewe beheer vanaf die individu na die algoritme wat alles ontvang.
Adobe staan beskuldig
In Desember 2025 is 'n voorgestelde klasaksie-hofsaak namens Elizabeth Lyon, 'n skrywer van Oregon, ingestel waarin daar beweer word dat Adobe kopiereg-beskermde boeke sonder toestemming gebruik het om die KI-model SlimLM op te lei.
SlimLM is 'n reeks klein taalmodelle wat geoptimaliseer is vir dokument- en mobiele toepassings, en wat vooraf opgelei is met die inligtingstel SlimPajama-627B, 'n oopbron-inligtingstel van verskeie versamelings, sonder dubbelinskrywings wat in 2023 deur Cerebras vrygestel is. Volgens die eisers is sommige van Lyon se handleidings oor nie-fiksie skepping ingesluit in 'n verwerkte dataversameling, wat oorspronklik uit die RedPajama- en Books3-inligtingstelle ontleen is. Hierdie dataversamelings het reeds 'n geskiedenis van regsaksies, aangesien dit omvangryke boeke sonder enige toestemming vir KI-opleiding bevat.
Soortgelyke hofsake het ook teen ander tegnologiemaatskappye soos Apple en Salesforce ontstaan, wat beweer dat hul KI‑modelle opgelei is op massa‑dataversamelings wat kopiereg‑materiaal bevat, wat weer die breër regsuitdagings rondom KI‑data‑opleiding beklemtoon. In sommige gevalle het sulke regsprosesse tot groot skadevergoeding gelei, soos Anthropic wat sy chatbot, Claude, met kopieregwerk opgelei het, en toe in September 2025 sowat 1.5 miljard dollar aan outeurs moes betaal.
Die regsaksie het gevolg op 'n vroeëre omstredenheid rondom Adobe se diensvoorwaardes, nadat gebruikers bekommerd geraak het oor die moontlikheid dat hul werk gebruik kon word om generatiewe KI-stelsels te ontwikkel. Ontwerpers, fotograwe en skrywers het aangevoer dat die bepalings in die opgedateerde diensvoorwaardes te breed geformuleer is en die indruk geskep het dat die maatskappy toegang tot gebruikersinhoud kan verkry vir die verbetering van KI-produkte.
Adobe het later verduidelik dat kliënte-inligting nie sonder enige toestemming vir KI-opleiding gebruik sou word nie. Ten spyte hiervan het die wantroue uit die kreatiewe gemeenskap reeds versterk en moet Adobe nou wéér kliënte se vertroue probeer terugwen.
KI as Afgeleide Kreatiwiteit
Die Adobe-saak is nie 'n uitsonderlike voorval nie en bevestig net weer hoe generatiewe kunsmatige intelligensie kan funksioneer indien dit nie reg bestuur word nie.
Moderne KI-stelsels word opgelei deur enorme hoeveelhede bestaande inhoud te ontleed en verwerk. In praktiese terme beteken dit dat die vermoë van 'n algoritme om nuwe beelde, tekste of ontwerpe te genereer afhanklik is van die werk wat reeds deur mense geskep is. Wanneer hierdie opleidingsdata sonder duidelike toestemming verkry word, kan skeppings vanuit 'n etiese oogpunt bevraagteken word. 'n Algoritme skep nie in die tradisionele sin van die woord nie, maar optimaliseer patrone wat reeds bestaan. Die menslike outeur word dus nie meer die oorsprong van die skepping nie, maar die bron van data waaruit die algoritme leer.
Die implikasies hiervan strek selfs verder as die regsvraagstuk van kopiereg en raak die ekonomie waarin kunsmatige intelligensie ontwikkel word volgens die beginsels van maksimum data en maksimum spoed teenoor minimum koste. Groot tegnologiemaatskappye beskik oor die infrastruktuur om enorme datastelle te versamel en te verwerk, terwyl individuele skeppers afhanklik bly van die platforms wat hulle gebruik om hul werk te produseer en te versprei. In so 'n stelsel kan die verhouding tussen die ontwerper en die sagtewareverskaffer maklik verander.
Die ontwerper is nie meer net 'n gebruiker van die program nie, maar word onregstreeks 'n verskaffer van opleidingsmateriaal vir die volgende generasie algoritmes.
Etiese Implikasies vir die Skeppende Bedrywe
Vir die kreatiewe industrie raak hierdie ontwikkeling die kern van professionele identiteit. Kunstenaars, skrywers en ontwerpers leef van hul vermoë om iets oorspronkliks te skep, iets wat nie voorspelbaar of maklik weer presies herskep kan word nie.
Generatiewe KI maak dit egter moontlik om style, komposisies en selfs individuele estetiese handtekeninge statisties na te boots. Wanneer 'n algoritme dieselfde visuele styl of skryfstem kan produseer as die kunstenaar deur wie dit opgelei is, ontstaan die vraag of die oorspronklike skepping nog enige ekonomiese waarde inhou. Die probleem is nie dat tegnologie ontwikkel nie, maar dat die ontwikkeling binne 'n model plaasvind waar die bronmateriaal dikwels sonder toestemming ingesamel word.
Ons leef toenemend in 'n wêreld waar algoritmes gedrag kan voorspel, inhoud kan genereer, verbruikers kan teiken en markte kan optimaliseer. In so 'n wêreld word die menslike faktor onvoorspelbaar en dus vanuit 'n tegnologiese oogpunt ondoeltreffend. Die gevaar van hierdie benadering is dat kreatiwiteit, wat juis afhanklik is van individualiteit, gestandaardiseer word. Wanneer kreatiewe werk as opleidingsdata, sonder enige toestemming, behandel word, verloor dit die konteks van ervaring, kultuur en persoonlike betekenis wat dit oorspronklik waardevol gemaak het.
Uiteindelik sal ons moet vra wie die menslike verbeelding besit wanneer kreatiwiteit in data omskep word; ons of die emosielose algoritme wat nooit verder as net patrone kan kyk nie.
Hilde Kruger is 'n grafiese en multimedia-ontwerper, skrywer en bemarker met 'n sterk fokus op strategiese konseptualisering en handelsmerkontwikkeling.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.
Bronnelys
TechCrunch. (2025, Desember 17). Adobe hit with proposed class‑action, accused of misusing authors’ work in AI training. https://techcrunch.com/2025/12/17/adobe-hit-with-proposed-class-action-accused-of-misusing-authors-work-in-ai-training
MoneyControl. (2025). Adobe faces class‑action lawsuit over alleged AI training on pirated works. https://www.moneycontrol.com/technology/adobe-faces-class-action-lawsuit-over-alleged-ai-training-on-pirated-works-article-13732828.html
Medianama. (2025). Adobe Faces US class‑action lawsuit alleging misuse of pirated books for AI training. https://www.medianama.com/2025/12/223-adobe-us-class-action-lawsuit-misuse-pirated-books-ai-training
Reuters. (2026, Maart 12). Adobe sued for trademark infringement over “Foundry” AI tool. https://www.reuters.com/legal/litigation/adobe-sued-trademark-infringement-over-foundry-ai-tool-2026-03-12
Notebookcheck. (2025). Adobe responds to terms‑of‑use controversy, denies unauthorized AI training. https://www.notebookcheck.net/Adobe-responds-to-terms-of-use-fiasco-insists-no-unauthorised-AI-training-user-scepticism-ensues.845328.0.html









