Die Kommunikasie-wapen in Oorloë
Mobilisering word nou vinniger as ooit visueel aangehelp.
Deur die geskiedenis het visuele kommunikasie 'n sentrale rol in oorloë en maatskaplike konflik gespeel. Van die ikoniese plakkate van die Eerste- en Tweede Wêreldoorloë tot vandag se digitale beelde, wat binne sekondes wêreldwyd versprei, funksioneer visuele boodskappe as instrumente van mobilisering, propaganda en weerstand.
Gedurende die Eerste Wêreldoorlog het regerings van plakkate gebruik gemaak om soldate te werf, oorlogsverbande oftewel war bonds te verkoop en patriotisme aan te wakker. 'n Bekende voorbeeld hiervan is die Britse plakkaat, wat deur Alfred Leete in 1914 ontwerp is, met die beeld van Lord Kitchener saam met die woorde: “Your Country Needs You”. Hierdie regstreekse en visuele aanspreekvorm het 'n gevoel van persoonlike verantwoordelikheid geskep.
Die Amerikaanse weergawe, ontwerp deur James Montgomery Flagg, met die ikoniese “I Want You for U.S. Army”, het 'n nasionale simbool geword. Met behulp van eenvoudige komposisie, sterk tipografie en emosionele oortuiging, het hierdie plakkate skuld, eer en plig uitgebeeld en daarin geslaag om massa-ondersteuning vir die oorlogspoging te mobiliseer.
Die Tweede Wêreldoorlog: Dis 'n kop-ding
Soos gewere, tenks en bomme die sigbare wapens van die Tweede Wêreldoorlog was, so kon woorde, plakkate en rolprente as subtiele wapens gesien word.
Militêre mag het teen die vyand op die slagveld geveg, maar propaganda het 'n voortdurende stryd gevoer om die harte van burgers te wen. Om die Amerikaanse publiek van 'n wêreldbeskouing te oortuig, het bykans 'n oorlog op sigself geword en was dit amper so belangrik soos die vervaardiging van ammunisie en vliegtuie. Die Amerikaanse regering het 'n aggressiewe propagandaveldtog van stapel gestuur met duidelik geformuleerde doelwitte en strategieë om openbare steun vir die oorlog te versterk. Vooraanstaande kunstenaars en rolprentmakers is ook gewerf om op hierdie front oorlog te voer. Plakkate was een van die kerninstrumente in hierdie veldtog.
'n Voorbeeld hiervan is die bekende “We Can Do It!”-plakkaat deur J. Howard Miller, wat vroue aangemoedig het om in fabrieke te werk ter ondersteuning van die oorlogsekonomie. Aan die ander kant het Nazi-Duitsland, onder leiding van Adolf Hitler, grafiese ontwerp strategies gebruik om nasionalisme en ideologiese lojaliteit te bevorder.
Plakkate uit die Tweede Wêreldoorlog openbaar duidelike strategieë van oorreding in beide vorm en inhoud: dramatiese komposisies, simboliese beelde, sterk kontras en emosionele taal. Amptelike handleidings en toesprake van openbare leiers het presies uiteengesit hoe openbare mening gemobiliseer moes word. Selfs gewilde liedjies en alledaagse slagspreuke het getuig van die sukses van hierdie veldtog wat die oorlogspoging deur wêreldskuddende gebeure volgehou het.
Van plakkate tot memes
In moderne stakings, protesbewegings en kontemporêre konflikte speel visuele kommunikasie 'n sentrale rol in die vorming van persepsies en mobilisering van ondersteuning.
Waar plakkate en grafiese ontwerp tydens die wêreldoorloë hoofsaaklik deur regerings geskep is, word visuele materiaal vandag deur bewegings self vervaardig sodat eise en boodskappe verwoord kan word. Grafiese ontwerp het dus gedesentraliseer geraak, maar die kernbeginsel bly dieselfde: visuele eenvoud en emosionele krag skep impak.
In hedendaagse oorloë speel visuele materiaal 'n sleutelrol in die vorming van internasionale persepsies. Infografika, foto’s, kort video’s en selfs memes word gebruik om narratiewe te bou en steun te werf. Die digitale era het propaganda versnel en versterk. Waar plakkate tydens die wêreldoorloë fisies versprei moes word, kan digitale beelde nou onmiddellik wêreldwyd gedeel word. Dit verhoog nie net die spoed van mobilisering nie, maar ook die risiko van gemanipuleerde beelde en vervalste inligting.
Die geskiedenis toon duidelik dat visuele kommunikasie altyd meer as net dekoratiewe grafika was; kuns het 'n unieke mag om samelewings te vorm en opinies te beïnvloed. Selfs Koning Leopold van België het in 1845 gewaarsku dat kunstenaars, omdat hulle met alle sosiale klasse meng, besonder “gevaarlik” is – 'n aanhaling wat later Koningin Victoria toegeskryf is.
Of dit nou ikoniese plakkate was wat soldate na die front gelei het, of digitale beelde wat vandag openbare persepsies vorm, bly visuele media 'n kragtige en onmisbare instrument in die mobilisering van steun en die stryd om harte te wen.
Hilde Kruger is 'n grafiese en multimedia-ontwerper, skrywer en bemarker met 'n sterk fokus op strategiese konseptualisering en handelsmerkontwikkeling.
Nog artikels deur Hilde Kruger:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.
Bronne
• Powers of Persuasion – Poster Art of World War II, National Archives. https://www.archives.gov/exhibits/powers-of-persuasion
• Cull, N., Culbert, D., & Welch, D. (2003). Propaganda and mass persuasion: A historical encyclopedia, 1500 to the present. ABC-CLIO.
• Taylor, P. M. (2003). Munitions of the mind: A history of propaganda. Manchester University Press.
• Welch, D. (2013). Propaganda: Power and persuasion. British Library.









