Medium as Boodskap: Susie Wiles in Vanity Fair
Span die MAGA Withuis strategies 'n gesiene vrouetydskrif in?
Ek gaan met intrapslag eerlik wees: Ek het my nie verveel met die politiek-georiënteerde inhoud in die artikel nie.
Ek is immers nie 'n politieke ontleder nie, ek vloek eenvoudig te veel daarvoor. My belangstelling en vaardigheid lê by die media self, oor hoe dit inligting aanbied, wat dit kies om te vertel, en hoe dit bewus (of onbewus) grense oorsteek, dikwels ook die van politiek. Ek ondersoek hoe stories opgebou word in woorde en beelde, en hoe dit die manier beïnvloed waarop ons wêreld verstaan en ervaar.
Vanity Fair is vir my die toonbeeld van wat 'n moderne vrouetydskrif behoort te wees. Dit is 'n publikasie wat fokus op wat vroue doen, wie hulle is, en wat hulle maak dink eerder as net waar hulle stereotipiese belangstellings lê. Oorspronklik gestig in 1913, het die tydskrif geldelik geknak onder die Groot Depressie, maar met die 1983‑herstigting het Vanity Fair haarself ingesement as 'n invloedryke platform vir stories wat om vroue en vrouwees wentel. Vanity Fair het nie van ongemaklike onderwerpe weggeskram nie, van die bewerings oor Mohamed Al‑Fayed se seksuele aanrandings in 1997, tot Demi Moore se ikoniese swanger naakfoto’s in 1995, en selfs die berig van Roman Polanski wat met 'n model flankeer op pad na Sharon Tate se begrafnis. Vandag sluit dit byvoorbeeld Susie Wiles, die eerste vrou wat in die rol Chief of Staff - stafhoof - aangestel is, en 'n sleutelfiguur in Donald Trump se presidensiële strategie.
Ek het op die artikel afgekom via 'n TikTok-video, 'n nabye foto van Karoline Leavitt met sigbare lipfiller-merke wat opvallend genoeg is om jou aandag ten volle te trek. Hierdie fotokeuse voel doelbewus, dit verteenwoordig hierdie invloedryke politieke figuur vasgevang in die visuele haakplek van “mooi” wees. Ek lees toe die Vanity Fair artikel en vind uit dat Susie Wiles, 'n 68‑jarige vrou wat in middewestelike state Amerika gebore is. Sy erken openlik dat haar kinderjare haar gevorm het vir moeilike, groot‑persoonlikheid mans. Sy vang spesifiek die nostalgie van 1970’s Manhattan vas, van Copacabana tot Sammy Davis junior. Wiles gaan aan om en vertel van haar ontmoeting met Trump by Trump Towers in 2015, waar hy vir haar gesê het dat hy nie kan glo hy praat met die legendariese NFL-voetbalspeler Pat Summerall se dogter nie. Trump sê vir haar hy oordeel mense op hul gene.
Chris Whipple, die joernalis wat die artikel geskryf het, gee vir Wiles krediet dat sy elke vraag wat aan haar gestel is beantwoord het, oor die talle maande se onderhoude. Wat vir my besonders treffend is, is hoe persoonlik sy praat oor haar lewe en die mense rondom haar politieke loopbaan. Sy beskryf Trump se persoonlikheid as dié van 'n alkoholis, ekstremisties en onvoorspelbaar. Sy deel ook dat sy soms verwyder voel van tradisionele Republikeinse waardes, 'n toegewing wat opsigself reeds subtiel omstrede is, gegewe haar posisie in Trump se binnekring.
Wat egter nie oor die hoof gesien moet word nie, is die platform waarop Wiles kies om hierdie stelling te maak: Vanity Fair. Die tydskrif is bekend vir sy uitgesproke liberale ingesteldheid, nie net in politieke toonaard nie, maar ook in die tipe kultuur en mense wat dit verteenwoordig. Dis die soort ruimte waar daar nie net stories vertel word nie, maar ook gesinspeel op magsdinamieke, magsverskuiwings, en uitdaging van die gevestigde orde. 'n Tydskrif met vrouens as die hoofteikenmark, wat inligting deel oor die belangrikste vrou in die Withuis. In hierdie opsig is Vanity Fair nie net 'n neutrale draer van 'n storie nie, dit vorm deel van die boodskap self. Dit is dus waarskynlik nie toevallig dat Wiles juis ingestem het dat Vanity Fair hierdie onderhoud publiseer nie. Miskien was dit 'n strategie, om haarself as kompleks, nuanseringsryk, en polities-menslik te posisioneer voor 'n gehoor wat haar normaalweg sou afmaak as net nog 'n Trump-getroue pop. Deur met 'n linkse publikasie te praat, en nie bloot in konserwatiewe of regsgesentreerde media nie, stel sy haarself op as 'n politieke rolspeler, eerder as iemand wat bloot binne die stelsel werk.
Die artikel beskryf talle voorvalle uit Trump se eerste termyn, maar een wat vir my uitstaan is toe Trump haar byna onder die bus wou gooi voor 'n groep binnekring‑verteenwoordigers, tot so 'n punt dat sy net wou huil. Haar reaksie? Sy het eenvoudig gesê sy gaan nie haar hare aan die brand steek vir hom nie, en dat hulle weer kan praat wanneer hy gereed is om Florida te wen. Ironies genoeg het Trump haar elke dag daarna gebel. Haar adjunkstafhoof, James Blair, 'n jong MAGA‑man, beskryf Wiles as 'n gereelde kerkganger wat nooit haar stem verhef nie, maar tog omring is deur rommelwerfhonde wat haar beskerm, ondersteun, en wat sy vertrou om los te laat. Persoonlik is ek mal oor die idee dat wanneer ek nie my hande wil vuil maak nie, stuur ek jong regse mans om dit vir my te doen en die gevolge te dra.
Die eerste deel van Whipple se Vanity Fair-artikel raak ook aan ander fasette van Wiles se lewe: haar opsetlike keuse om min op kamera te verskyn, haar egskeiding in 2017, haar opinie oor die 6de Januarie kwytskeldings, hoe sy haar span versterk en sonder ego laat funksioneer. Selfs 'n verwysing na Elon Musk se ketamiengebruik kry 'n plek, amper asof die artikel doelbewus grensverskuiwende elemente insluip om die storie te dramatiseer.
Wat egter my bybly, is hoe Wiles haar pokerface deurentyd behou, selfs wanneer sy openlik en sonder skroom hierdie inligting deel. Daar is 'n vorm van beheer in haar teenwoordigheid, 'n stille bewussyn van beeld en impak. Die foto’s van haar, JD Vance, en Karoline Leavitt, getint in 'n sagte 80’s-estetika, is wat ek glo die kern van die grap is. Die foto’s skep 'n beeld wat moeilik is om nie met 'n ligte oogknip te lees nie. Dit voel of dit op die rand van ironie sit. Dit is glad nie dat die foto’s afbrekend is nie, maar hulle voeg 'n byna speelse visuele laag by, wat die satiriese ondertoon van die artikel verder uitlig.
Effens oorgestileer, amper soos 'n toneel uit regse nostalgie wat per ongeluk 'n politieke profiel geword het. En presies dít het Vanity Fair reggekry, want kort op publikasie het Leavitt dit gestel dat die artikel 'n voorbeeld is van onopregtelike verslaggewing. Hierdie visuele aanbieding ruik figuurlik na Marlboro Reds en kruit, met “Born in the USA” van Bruce Springsteen wat in die verte sou kon speel. Daar is iets ironies aan hoe hierdie beelde die Trump binnekring posisioneer: asof die estetiese raamwerk self die politiese stelsel onderspeel of op 'n subtiele manier bespot. Die stilistiese keuses van Vanity Fair werk dus nie net as agtergrond nie, maar beïnvloed hoe ons Wiles moet lees: nie net as politieke strateeg nie, maar as karakter in 'n groter Amerikaanse narratief van magsvertoon, beeldbou, en media‑teater.
Wat hierdie Vanity Fair-artikel vir my uitlig, is hoe Trump (ten minste) slim genoeg is om homself te omring met onbevreesde, onbevraagdgelate karakters, mense wat nie bang is vir sy right hook nie, en eerder die drama aan die gang hou in die naam van “interessante politiek”. Dit bring 'n belangrike vraag na vore: sal Wiles optree as Trump ooit dreig om die demokratiese stelsel se spoor te verlaat?
Ek glo die vraag is nie of sy kan nie, maar eerder of sy wil. En dalk belangriker nog, watter platform kies sy om daardie besluit te kenne te gee?
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










