Munisipaliteite: Minder is nie noodwendig beter nie
Daar is risiko's verbonde aan die hervorming van plaaslike regering.
Die minister van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Velenkosini Hlabisa, het onlangs tydens die bekendstelling van die hersiening van die Witskrif oor Plaaslike Regering gevra of die huidige munisipale model inderdaad werk.
In die besonder het hy die feit bekla dat daar so baie munisipaliteite bestaan.
“Tans is daar 257 munisipaliteite. Van hulle is nie lewensvatbaar nie en het nie enige inkomstebasis om enige gelde in te vorder nie. Soos ons weer opnuut munisipaliteite herverbeel, moet ons onsself afvra of ons met daardie munisipaliteite moet aanhou wat geen dienste lewer nie,” het hy luidens Netwerk24 gesê.
Hy voeg wel dan 'n kwalifikasie by:
“Samesmelting ter wille van samesmelting is nie 'n oplossing nie. Ons moet egter nie bang wees om 'n gewaagde en beslissende besluit te neem om die plaaslikeregeringstelsel met 'n behoorlike finansieringsmodel te hervorm nie.”
Hy vra weliswaar die regte vrae en opper geldige punte. Ofskoon hierdie debatte nie nuut is nie, is dit bemoedigend om te hoor dat die verantwoordelike minister openlik vir grootskaalse hervorming agiteer. Dat plaaslike regering die belangrikste regeringsfeer in mense se lewens is, is iets wat al holrug gery is. Maar hierdie regeringsvlak se erbarmlike toestand is tog wat grondliggend verkeerd is met hierdie land, desondanks dat die provinsiale en nasionale vlakke ook die blaam moet deel vir plaaslike mislukkings. Hervorming is nodig, maar nie noodwendig dit wat Hlabisa voorstel nie. Bowenal kry hierdie kwessie nie naastenby die aandag en ontleding wat dit benodig nie.
Deur eenvoudig hul getal te verminder terwyl hul grootte en pligte groei, is seker in sommige gevalle 'n opsie. Ek is al male sonder tal deur joernaliste hieroor uitgevra oor die jare en my antwoorde bly genuanseerd. Daar is beide voor- en nadele, maar in die algemeen is dit nie 'n wonderkuur vir al die euwels wat plaaslike regering teister nie. In heelwat gevalle kan dit selfs die situasie vererger.
Die voordele
Kom ons begin met die voordele van minder munisipaliteite. 'n Voor die hand liggende maar omstrede een is dat dit die aantal amptenare en politieke verteenwoordigers sal sny. Baie burgemeesters in Suid-Afrika is bloot simboliese oftewel skynhoofde, wat ten duurste deur die ANC ontplooi word. Insgelyks kan dit 'n voordeel wees om die getal rade (en hul lede) – wat dikwels heelwat meer as hul inwoners verdien in weerwil van hul pligsversuim en korrupsie – te verminder. Hierbenewens kan die getal finansiële en munisipale bestuurders, sowel as 'n see van ander bestuurspersoneel en amptenare wat oor administratiewe ampte sonder werkspligte beskik, gelykmatig mee weggedoen word. Ek moet eerlik wees: Dit maak my opgewonde.
Gedagtig hieraan is sekere munisipaliteite geografies en demografies so klein dat dit mag sin maak om hulle met buurmunisipaliteite saam te smelt. Dit geld veral vir dié wat klaaglik misluk en waar kostebesnoeiing reeds 'n aansienlike verskil sal maak. Byvoorbeeld, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap het elkeen meer as 30 plaaslike rade, metro’s en heelparty distriksmunisipaliteite. Die Dr. AB Xuma-plaaslike munisipaliteit in die Oos-Kaap dek slegs 2 484 km² met 'n bevolking van slegs 155,513, vermoedelik 'n weglaatbare belastingbasis en geen klinkklare (maar waarskynlik hoë) werkloosheidsyfers nie. Hul laaste ouditmening van die ouditeur-generaal (OG) is uitstaande. Minder as 30% van die bevolking geniet weeklikse vullisverwydering en kraanwater in hul wonings.
Dit is dus 'n klein munisipaliteit met 0.25% van die land se bevolking, maar met al die uitgawes en kenmerke van ander plaaslike munisipaliteite. Dit beskik oor 'n goed besoldigde burgemeester en 39 raadslede, asook nagenoeg 250 werknemers. Logika en eenvoudige somme dikteer dat hier uitgawes besnoei kan word, aangesien die bestuur en dienslewering ver benede peil is. Deur dit met 'n (weliswaar sukkelende) aanliggende munisipaliteit saam te smelt sal waarskynlik nie dienslewering na enige kant toe veel beïnvloed nie. Dit sal wel kostes bespaar wat op dienste uitgegee kan word. Dit is beslis nie die enigste geval nie, maar dit is 'n goeie voorbeeld van hoe 'n samesmelting soms suksesvol kan wees.
Die nadele
Ek is effens bevooroordeeld hier omdat ek meen dat in die meerderheid voorgenome samesmeltings (soos die ANC dit wil nastreef) dit meer skade as voordele tot gevolg hê en selfs tot onbedoelde gevolge lei. Ten beste gaan dit nie juis iets positief verander nie.
Om die getal amptenare en politieke leierskap af te bring, besnoei slegs koste en skep 'n tweesnydende swaard. Dit stel nie die inkomstekant en lewensvatbaarheid van die vele brose munisipaliteite reg nie. Die wydverspreide armoede, korrupsie, vaardigheidsgebreke, infrastruktuur-agterstande, toksiese ideologie en beleide, werkloosheid, tekort aan geleenthede, staatsafhanklikheid en die gebrek aan trekpleisters en behoudsmaatreëls vir die private sektor, entrepreneurs en gegoede inwoners word eweneens nie aangespreek nie. Meeste provinsies in Suid-Afrika is tot 'n groot mate disfunksioneel, ongeag hoe hulle in munisipaliteite verdeel word.
Om twee of meer swak bestuurde munisipaliteite met armlastige meerderhede in elk saam te voeg gaan net dieselfde uitslag bewerkstellig. In die seldsame geval dat 'n disfunksionele en arm een met 'n goed bestuurde en befondsde een saamgesmelt kan word, sal belastingbetalers in laasgenoemde waarskynlik meer moet betaal om die armer munisipaliteit en sy inwoners te dra. Dit sal tot 'n veg- of vlug-reaksie – of miskien albei – lei. Ewenwel, dit sal nie skadeloos wees of bloot aanvaar word nie.
Lede van die Cogta-parlementêre portefeuljekomitee het onlangs hul misnoeë uitgespreek oor die R151 miljoen wat vermors is om munisipaliteite ingevolge die distrikontwikkelingsmodel reg te ruk of altans te verbeter. Nieteenstaande hierdie program se lofwaardige doelwitte en dat dit reeds 'n klomp geld ontvang het, kan dit nie enige resultate toon nie. Dit is omdat niks gaan verander totdat dinge veránder nie, soos in politieke verandering, bestuursverandering, ideologiese verandering en veranderinge in aanspreeklikheid.
My siening was nog altyd dat munisipaliteite nie bloot kan agteroor sit en kla dat hul finansiering te min is nie. Dit gaan altyd te min wees. Baie van hulle gebruik nie eens die toewysings wat hulle jaarliks by die tesourie ontvang nie en boonop verdwyn baie daarvan by uitstek in korrupte verkrygingsprosesse. Wat doen hulle voorts om beleggings na hul grondgebied te lok? Die vanselfsprekende antwoord is om solank te doen wat jy kan met wat jy het. Maar te veel van hulle slaag nie eens hierdie basiese toets nie – die meeste metro’s inkluis.
Derhalwe, om twee ANC-beheerde munisipaliteite te verenig, of selfs 'n plaaslike of distriksmunisipaliteit in 'n metro te laat opgaan (soos al die geval in Tshwane was), is doodgebore indien dit nie met wydverspreide en diep verandering gepaard gaan nie. As mense aanhou om enige posisie in die staat as 'n middel tot selfverryking te beskou terwyl hulle nie die verval keer nie of verantwoordelik is daarvoor, is dit 'n mors van tyd om oor belastingkortings en die lok van beleggings te gesels.
Dit is hoekom hervorming eerder substantief as struktureel van aard moet wees. Sal kiesers dit uiteindelik in 2026 besef? Ek verwag nie grootskaalse verandering nie – ten minste nie ideologies nie – en ek sal intussen wil sien wat Hlabisa in die mou voer.
Dr Eugene Brink is 'n entrepreneur, sakekonsultant en ontleder van die Paarl.
Nog artikels deur Eugene Brink:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in: