Suid-Afrika en sesessie: ’n Paar gedagtes
"Selfbeskikking" makeer ernstig debat oor die vorm en inhoud daarvan.
Sedert 1994 en veral in die onlangse verlede is daar 'n (straks groeiende) getal stemme wat opklink vir groepe en streke om weg te breek van Suid-Afrika en nuwe onafhanklike republieke te vorm.
Sommiges is georganiseerd, terwyl ander blote leunstoel-ondersteuners van hierdie konsep is. Ofskoon hul idees hieroor wydlopend is, is hulle nie min nie.
Eers net 'n paar inleidende en konseptuele opmerkings oor sesessie. Menigte akademici en kommentators (die uwe inkluis) meen byvoorbeeld nie dat die sogenaamde “fluweelskeiding” van Tsjeggo-Slowakye, sesessie verteenwoordig nie. Twee state, naamlik Slowakye en Tsjeggië, het vreedsaam hul eie onafhanklike weg ingeslaan en hul eertydse tuiste het in die niet verdwyn. Desgelyks kan dekolonisering as die onafhanklikheidwording van 'n kolonie wat voorheen deur ’n oorsese metropolitaanse moondheid beheer is, moeilik as sesessie regverdig word.
Meeste kommentators sal egter saamstem dat sesessie ten minste die onttrekking – hetsy konflikterend of konsensueel – van 'n bepaalde grondgebied van ’n gevestigde en erkende staat behels. Die moederstaat (oftewel “rump state”) bestaan egter voort langs die nuwe staat. Dit sal tipies die geval wees as 'n grondgebied en dié se bevolking hulself van Suid-Afrika sou onafhanklik verklaar. Myns insiens kan die likwidasie van Tsjeggo-Slowakye eerder as partisie pleks van sesessie beskou word.
Hierbenewens kom die kwessie van erkenning en die voordele wat daarmee gepaard gaan, aan die bod. Wanneer is 'n staat werklik ’n staat? Moet dit slegs aan die basiese Weberiaanse kriteria voldoen om 'n staat te wees, of moet dit oor meer as byvoorbeeld 'n regering, permanente bevolking en grondgebied beskik? Welke ekonomiese, diplomatieke en politieke gevolge hou geen of min erkenning vir 'n aspirant-staat in? Is sekere streke en groepe se belange miskien beter gediend deur in die oorspronklike staat aan te bly? Is sesessie die beste moontlike of enigste oplossing vir werklik of verbeelde griewe? Dit is indringende vrae waarvoor baie van die voorstanders van sesessie nie antwoorde het nie en nie veel oor besin nie. Meer oor die praktiese aspekte hiervan later.
Die geweer is magtiger as die stembus en howe
Om duidelik te wees, sesessie is inderdaad moontlik in Suid-Afrika, al laat die Grondwet dit nie toe nie. Suid-Soedan en Eritrea sou nooit ná dekolonisering in Afrika onafhanklik geword het indien dit slegs langs regsweë en ingevolge gewone demokratiese prosesse kon geskied nie.
Die redes vir hierdie suksesvolle gevalle (in teenstelling met mislukte gevalle soos Biafra en Katanga) is dat hulle militêre seges was met heelwat gunstige maar sonderlinge politieke wendings – waarvan toestemming deur Ethiopië en Soedan as hul eertydse moederstate opsluit nie gering was nie. In albei gevalle het growwe menseregteskendings en vervolging tot georganiseerde onvergenoegdheid en dekades lange burgeroorloë gelei. Die feit dat Suid-Soedan in 2011 die laaste volwaardige staat (met lidmaatskap by die Verenigde Nasies en universele erkenning deur ander state) geword het, wys hoe moeilik afskeiding werklik is. Alles is deur eksterne rolspelers (vernaam die VSA) gepoog om eerder blote menseregte in die toenmalige Soedan te bevorder, en te keer dat dit verbrokkel. Onverrigter sake is ’n referendum wel gehou en Suid-Soedan is gebore.
Dit was egter nie lank nie of Suid-Soedan se etniese konflik, wat reeds lank voor onafhanklikheidwording kop uitgesteek het, het tot verdere bloedvergieting en burgeroorlog in die nuwe staat gelei. Dit is vandag feitlik heeltemal van olie-inkomste uit Soedan afhanklik en bly nypend onderontwikkeld. Eritrea is vandag ’n polisiestaat met streng diensplig wat deur dieselfde neurotiese outokraat as in 1993 regeer word. Kwalik suksesverhale.
Daar was sedert Suid-Soedan se onafhanklikheid wel gevalle van dreigende sesessie, selfs in die Weste. Ná Katalonië se mislukte en ongemagtigde referendum oor onafhanklikheid van Spanje in 2017 is sommige leiers van die sesessionistiese beweging landuit gedryf en die Spaanse staat het hardhandig hierdie impulse onderdruk. Die Skotse bevolking het in ’n seldsame referendum in 2014 gekies om deel van die Verenigde Koninkryk te bly. Heelwat magte is reeds vroeër deur middel van devolusie na Skotland afgewentel en dit was weliswaar ’n bydraende faktor in hierdie uitslag. Die Vlaminge in België, Baske in Spanje en Serwiërs in Bosnië en Herzegowina bly vandag insgelyks staatloos.
Hoewel Europa veelal in die verlede grense gewysig het (na afloop van warm en koue oorloë), is Afrika verrassend konserwatief daaroor. Die Afrika-unie (AU) en sy voorganger, die Organisasie van Afrika-eenheid (OAE), is botweg formeel gekant daarteen, selfs as growwe menseregte-vergrype ter sprake is en as skynbare regverdiging kan dien. Om nie eens van indiwiduele regerings te praat nie.
Vanweë Afrika se arbitrêre en grootliks koloniale grense, is verskeie groepe in verskillende state versplinter. Derhalwe sal selfs subtiele steun deur een regering aan ’n separatistiese beweging elders die veroordeling van ander state uitlok. Elke Afrika-staat is kwesbaar en sulke steun sal die staat wat dit verskaf, blootstel aan allerlei wederkerige steun vir soortgelyke bewegings in hul eie gebied. Die nie-erkenning van Somaliland, ’n taamlik oase van stabiliteit wat in ’n mislukte staat geleë is, staan in die teken van hierdie taboe. Dit toon wel tekens van indrukwekkende staatsbou en geniet de facto onafhanklikheid, maar geniet geen internasionale erkenning nie.
Afstig in SA: Onsekere steun en 'n vlak debat
Suid-Afrika is uiteraard geen uitsondering in hierdie verband nie. Talle etniese en kulturele groepe is meer as ’n eeu gelede in ’n groterige geografiese staat goedsmoeds saamgebondel. Daar is grondige redes vir hoekom dit eerder nie op hierdie manier moes gebeur nie, maar dit is gedane sake.
Dit is instruktief op twee aktiewe eietydse afskeidingsimpulse hier te fokus. Dit is naamlik Afrikaners se strewe na 'n eie soewereine staat asook meer etnies-diverse versugtinge vir Wes-Kaapse onafhanklikheid. Afrikaners het 'n lang en ryk geskiedenis van republikeinse denke en praktyk – meer as enige ander groep in die land. Reeds in die 1700’s het hulle proto-republieke die lig laat sien, soos Swellendam en Graaff-Reinet. Die Groot Trek het nog republieke opgelewer en Suid-Afrika het in 1961 onder die Nasionale Party se bewind die Statebond verlaat en 'n republiek geword. Heelparty van hierdie pogings was werklik bewonderenswaardig, maar behalwe vir vandag se Suid-Afrika was die res almal tydelik en dikwels vlietend. Die vermaarde Stellenbosch-filosoof prof. Johan Degenaar beskryf Suid-Afrika se republiekwording in Beweging Uitwaarts in 1969 as volg:
“Hier kry ons die totstandkoming van ’n volwaardige nasionalisme, waar 'n volk wat van hom bewus geword het as politieke mag en sodoende 'n nasie begin word het, homself in 'n soewereine nasionale staat verwesenlik.”
Feitlik al die ander Afrikaner-republieke is gebore in ’n tyd toe internasionale erkenning en mening irrelevant was en multilaterale organisasies en internasionale reg (veral oor iets soos sesessie) nog nie eens verbeel is nie. Die informele reëls het eenvoudig bepaal dat indien jy 'n gebied kon beset en verdedig, was die Kaap (asook ander plekke) letterlik en figuurlik Hollands.
Die republiek van 1961 onder Afrikaner-beheer het egter die ANC se republiek in 1994 geword en Afrikaners is tot 'n verspreide, geïntegreerde en grootliks verstedelikte minderheid gereduseer. In elke geval van volkstaat-skepping in die geskiedenis is die drang na vryheid gekwalifiseer deur magsverhoudinge, geregtigheid jeens ander groepe en die akkommodering van onvermydelike diversiteit. Groot-Brittanje het telkens 'n stokkie voor vroeëre republieke gesteek en die demografiese, ekonomiese en politieke druk en werklikhede (tesame met treurige onderhandeling in die 1990’s) het die huidige grotendeels sentralistiese republiek aan die ANC oorhandig. Die eertydse TBVC-tuislande as selfbeskikking-opsie vir swartmense was 'n onlewensvatbare doodloopstraat wat uiteindelik in die huidige Suid-Afrika geabsorbeer is.
Gedagtig aan die ANC se tanende steun en die broosheid van Suid-Afrika as staat, klink die stemme vir afskeiding en republieke weer op. “Selfbeskikking” word as die panasee vir die Afrikaner se probleme op sosiale media en selfs podsendings voorgehou. Dit makeer egter sonder uitsondering enige ernstige debat oor die vorm en inhoud hiervan. Baie mense stel selfbeskikking summier gelyk aan sesessie en maak dit toe onder die kombers van Art. 235 in die Grondwet en ander vae bepalings in internasionale verdrae, verbonde en konvensies. In weerwil van verwysings na selfbeskikking in al hierdie dokumente, het dit in wese nie veel van 'n bepalende praktiese invloed daarop nie. In al hierdie gevalle word sesessie as selfbeskikking-opsie verbied of gee minstens nie uitdruklike toestemming daarvoor nie.
Gaan kyk gerus na die betrokke artikels in die Verenigde Nasies se Stigtingshandves en verbandhoudende artikels oor selfbeskikking in ander verbonde. Terwyl selfbeskikking as 'n ideaal voorgehou word, kom dit meestal neer daarop dat groepe breedweg hul eie lot in talle opsigte kan bepaal. Daar word nie gespesifiseer hoe dit mag gebeur nie en ander artikels beskerm weer die gebiedsintegriteit van state. Art. 235 is opsetlik vaag, negatief en ingewikkeld geskryf en werk slegs met 'n konsep van 'n reg op selfbeskikking binne 'n gebied. Dit is boonop onderhewig aan nasionale wetgewing – wat nog nooit eers naby daaraan is om uitgevaardig te word nie – en die grondwetlike raamwerk, wat sesessie reeds in die Aanhef en Handves van Menseregte in die kiem smoor. Geen politieke party het in bykans 30 jaar eens begin om impetus aan Art. 235 se verwesenliking te verleen nie.
In menigte gesprekke met mense wat “selfbeskikking” as die enigste oplossing vir Afrikaners se uitdagings voorhou, stel ek altyd die vraag oor wat hulle daarmee bedoel. Indien dit sesessie is, waar en hoe moet dit gebeur? Dit is gewoonlik die geval en soms word Orania en Kleinfontein as voorbeelde opgehaal. Albei plekke kan verdienstelik in die kader van Afrikaner-selfbeskikking genoem word omdat hulle inderdaad plekke is waar veral kultuur beoefen word, die demografie gunstig is en wat ekonomies en polities taamlik selfstandig is.
Hulle is egter allermins volwaardige state met 'n gepaardgaande internasionale regspersoonlikheid en die bevoegdheid om self wette te maak. Sover ek weet, is daar bowendien nie 'n sterk en realistiese drang in albei gevalle om af te stig nie. Sulke aankondigings sal bloot met ’n mengsel van openbare hoon, ongeërgdheid en ongewenste politieke aandag begroet word. Niks meer nie. As 'n bepaalde plek jou reeds talle van die voordele van selfbeskikking bied en sesessie nie die status quo sal wysig nie of selfs nadelig is, hoekom dan die stap neem? Indien sesessie so maklik was soos om jou op bepaalde regte te beroep, sou dit al gebeur het.
Dit bring my by die punt van lewensvatbaarheid. Enige Afrikaner-groepering wat elders in Suid-Afrika 'n nuwe staat die lig wil laat sien, sal moet verseker slegs hulle beset daardie gebied en dat dit iets bied vir nuwe intrekkers. Orania het sekere funksies soos 'n plaaslike ekonomie en woonbuurte oor dekades slegs met volkseie arbeid opgebou. Ek sien egter nie enigiemand wat terselfdertyd vurige voorstanders van selfbeskikking is, wat hulself tans met sulke pionierswerk besig hou nie. As daar ook geen of slegs onderontwikkelde funksies in só 'n gebied is, is die kanse skraal dat dit 'n noemenswaardige getal mense sal lok om dit te bewoon. Derhalwe sal so 'n gebied ook moeilik beskerm kan word en onderontwikkeld bly. Soos die gesegde lui: “Populate or perish.”
Die Wes-Kaap is anders in hierdie opsig en dit verklaar hoekom dit boonop meer Afrikaners as ander meer eksklusiewe enklawes lok – tesame met ander mense. Dit beskik reeds oor gevorderde en gevestigde politieke, ekonomiese en maatskaplike infrastruktuur. Trouens, die Wes-Kaapse ekonomie vaar beter as die nasionale en ander provinsiale ekonomieë, en die provinsie en sy munisipaliteite word veel beter as die res bestuur. Dit beteken tewens dat die nasionale regering (in welke gedaante ook al) waarskynlik hewig teen Wes-Kaapse sesessie gekant sal wees. Dit beteken só 'n gebied sal stellig nie veel internasionale erkenning of selfs steun geniet nie – veral in Afrika.
Soos met Afrikaners as verspreide groep, is dit ook tans onseker hoe sterk die gevoel van sesessie werklik in die Wes-Kaap is. Daar is nie gesaghebbende peilings om enige gevolgtrekkings hieroor te maak nie. Hoewel sekere mense dit ten minste retories steun, ly dit sterk twyfel of meeste mense in die provinsie werklik op grond van ’n ingeligte besluit oor die gevolge wel Wes-Kaapse onafhanklikheid sal steun. Sal hulle bereid wees om te veg daarvoor aangesien dit waarskynlik nodig sal wees?
Ek woon al vir ’n wyle in die Boland en ek kan onomwonde verklaar dat daar geen groot debat oor enige van hierdie kwessies plaasvind nie. Ek is ook 'n Afrikaner en in my Kaapse en noordelike vriendekringe is die stig van Afrikaner-republieke geen prioriteit nie. In die lig van die Referendum-party (as sodanige voertuig vir Wes-Kaapse onafhanklikheid) se erbarmlike vertoning in die 2024-verkiesing (0.02% nasionaal en 0.26% in die Wes-Kaap), is dit tekenend van 'n soort elite-geleide aangeleentheid wat nie breë en openlike steun onder die publiek geniet nie. Die DA as provinsiale regeerders werk wel aan federatiewe opsies, maar volledige onafhanklikheid vir die Wes-Kaap was geensins deel van hul platform in hierdie verkiesing nie. Hulle het nogtans met sowat 55% van die steun die provinsie ingepalm.
Dit is ook moeilik om Afrikaners of die Wes-Kaap se wegbreekpogings gebiedend te regverdig. Anders as met Eritrea en Suid-Soedan is growwe menseregteskendings, veroorsaak of ondersteun deur die staat, net nie aanwesig in hierdie gevalle nie. Daar is wel diskriminasie en ander geldige beskuldigings, maar dit is eenvoudig nie voldoende om sesessie te regverdig of te laat slaag nie. Afrikaners en ander groepe enersyds, sowel as die Wes-Kaap en Suid-Afrika andersyds, is op stuk van sake vandag te ekonomies ineengestrengel om van sesessie 'n sukses te maak.
Ruimte ontbreek my om alternatiewe kort van sesessie, diepliggend te ontleed. Daar is wel verskeie konsosiatiewe, federale, institusionele en kleinskaalse opsies wat eers of alleenlik voor sesessie nagejaag kan word. Ek sal dit wel in die toekoms op Ontlaer onder die loep neem. Vir nou is dit toereikend om te sê dat hierdie alternatiewe reeds besig is om beslag te kry en dit moet meer indringend bestudeer, bespreek en bowenal gebou word. Sesessie is egter die mees drastiese selfbeskikking-opsie wat net in uiterse gevalle vir verkieslik gekonsentreerde groepe oorweeg kan word. Selfs dan is daar geen waarborg van sukses nie – veral in Afrika. Die Afrikaner-republiek in die eng sin van die woord is vandag in wese 'n oksimoron. As dit 'n saak van erns is, behoort dit meer ernstig benader te word.
Dr. Brink is ’n ontleder, entrepreneur en sakekonsultant van die Paarl.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in: