Afrikanervlugtelinge: Misdiagnose en oordrywing help nie
Die feite agter die emosie, na vore gestoot.
Sover is 2025 ’n gebeurtenisvolle jaar vanuit ’n Afrikaner-perspektief en die laaste week was weer besonder omstrede en opspraakwekkend.
Die sogenaamde “groep van 49” het as vlugtelinge in Amerika aangekom en ’n plaaslike en internasionale storm ontketen. Pres. Donald Trump van die VSA het ook vir pres. Cyril Ramaphosa van Suid-Afrika ontvang en gekonfronteer met plaasmoorde en vermeende volksmoord op wit mense en by uitstek, boere. Die herrie gaan nog lank voortduur.
Helaas is daar mildelike wanopvattings, kranksinnige (en opportunistiese) retoriek en verdraaide feite aan albei kante van die debat oor Afrikaners se lot en of hulle vir vlugtelingstatus kwalifiseer. Nadat ek onlangs ’n meningstuk hieroor vir Maroela Media geskryf het, het die kommentaar daarop my laat besef hoe emosie baie mense heeltemal in die war stuur. Dit bring ons egter nie nader aan die waarheid of oplossings nie. ’n Kwalifikasie hierop is dat misdiagnose en ander perseptuele probleme nie eie aan Afrikaners is nie. Sosiale media word deurgaans oorspoel met oningeligte opinies, misgissings en blatante leuens van regoor die wêreld.
Kortom en oorhoofs het ek in my artikel aangevoer dat Afrikaners wel aan vervolging onderhewig is. Vervolging is egter ’n baie wollerige en komplekse verskynsel wat behoedsaam benader moet word al laat gesaghebbende definisies dit eenvoudig klink. Die vooraanstaande regsgeleerde Cherif Bassiouni voer bloot aan dat die woorde “vervolg” en “vervolging” oor die eeue deur baie kulture en beskawings gesien is as diskriminerende praktyke wat lei tot fisieke, geestelike of ekonomiese skade, of al die bogenoemde. Dis ’n kort maar gangbare en omvattende omskrywing van vervolging. Die Cambridge-woordeboek beskryf vervolging as volg:
“Unfair or cruel treatment over a long period of time because of race, religion, or political beliefs.”
Die “because” hierin impliseer dat ’n bepaalde iemand of iets ’n spesifieke iemand anders (meestal ’n groep, maar kan ook ’n indiwidu wees) vir skadelike behandeling uitsonder oor wie hulle is of wat hulle glo. Hier is egter ’n hele paar praktiese en konseptuele uitdagings hiermee in eietydse Suid-Afrika en elders – soos die hoë bewyslas van verskillende vorme en gevalle van vervolging.
Afrikaners en vervolging
Afrikaners is wel volgens hierdie definisies aan vervolging deur middel van diskriminasie blootgestel. Regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en selfs die dreigende Bela-wet (tesame met die boelie van Afrikaanse skole lank voor Bela) is almal middele om Afrikaners te teiken. Dit is middele wat die staat deur politieke mag en beleid inspan om Afrikaners ekonomies en kultureel te marginaliseer in die eufemistiese en welluidende kader van “regstelling”. Dit teiken egter nie slegs Afrikaners nie. Wit Engelssprekendes, bruin Afrikaanssprekendes en ander minderhede soos Indiërs trek ewens aan die kortste ent van hierdie beleide. Hierdie maatreëls is egter sogenaamde “sagte diskriminasie”, in die woorde van die politieke wetenskaplike prof. Deon Geldenhuys (voorheen van die Universiteit van Johannesburg). Soos hy dit in sy 2019-boek The Politics of Persecution stel:
“Soft persecution is more subtle and seemingly innocuous – but potentially harmful to its victims. It could involve restricting the space of a particular group to use its language and practise its culture or religion, or imposing affirmative action in favour of other supposedly disadvantaged group. Soft persecution could be aimed at the former targets of hard persecution, or the latter could in a new political order – where they hold power – turn the tables on their former oppressors.”
Dit is opsluit skadelike beleide wat wel op Afrikaners gerig is en baie meer van ons as bloot die 49 onlangse vlugtelinge landuit gedryf het. As jy nie werk kan kry of besigheid doen nie oor wie jy is (met dien verstande dat jy dit wel graag wíl doen), is dit verkeerd en laat jou met geen keuse as om groener weivelde te soek nie. Ek praat uit persoonlike ervaring want ek het dit self al ervaar en ek het menigte kennisse, vriende en familie wat juis weens hierdie beleide hulself oorsee bevind. Dit is nie nou nodig om die meer onregstreekse nadele van hierdie beleide vir Suid-Afrika in geheel diepliggend te bespreek nie. Ek volstaan daarmee dat SEB veral oorsese investering in die land afskrik en gevolglik die hoë werkloosheid onder die breë bevolking handhaaf.
Dit bring my vervolgens by meer algemene uitdagings. Toksiese beleide, gevestigde partybelange en beleidonsekerheid deur die nasionale regering (waarvan die ANC steeds die nukleus vorm) en ander regeringsfere laat werkloosheid, trae ekonomiese groei, misdaad, treurige dienslewering op veral munisipale vlak, sowel as korrupsie gedy. Al hierdie euwels hou ook op verskeie maniere verband met mekaar en blaas mekaar aan. Ofskoon Afrikaners uiteraard ook die slagoffers van die uitwerking hiervan is, is hulle nie die primêre en enigste slagoffers daarvan nie.
Dit is waar die emosie baie Afrikaners verblind. Die bronne en oorsake van hierdie probleme word oorvereenvoudig en verkeerdelik toegedig – selfs deur Trump. Die kommentare op my bogenoemde artikel bewys dit onteenseglik. Ek het, tussen al die werklike vervolging en die impak van meer algemene probleme soos misdaad, reeds vroeg in die onderhawige artikel aangevoer dat Afrikaners nie deur die staat met geweld vervolg word nie.
Dit het ’n onbedoelde knuppel in menigte lesers se hoenderhok gegooi. Chaos by die verkeerspolisie in Pretoria, plaasmoorde, wit pensioenarisse se stief behandeling by Sassa-kantore, die kwansuise teikening van slegs wit mense deur die metropolisie vir omkopery en die sabotasie van kragstasies is alles as teenargumente geopper. Klaarblyklik is nie een hiervan ’n doelbewuste én gewelddadige teikening van ’n sekere groep deur die staat nie. Indien dit waar is (en dit is waarskynlik in party gevalle), is dit eerder ’n mengsel van blote onregte en misdade wat grotendeels deur staatsverval, ongeërgdheid en selfs persoonlike rassisme veroorsaak word. Daar is wel enkele bewyse dat sindikate saam met sommige polisielede werk om plaasaanvalle uit te voer, maar daar kan nie bewys word dat dit sistemies is nie – al is dit hoe wreed en skokkend ook al. Misdadigers beroof huise en besighede omdat hulle waardevolle items of geld soek. Die identiteit van die eienaars is van veel minder belang in sulke gevalle. Ramaphosa se ontkenning van plaasmoorde en die juridiese toelating (lees: nie amptelike goedkeuring nie) van “Kill the Boer” is nie afdoende bewyse dat die staat aktief en opsetlik by geweld teen Afrikaners betrokke is nie.
Kom ons wees eerlik
In ’n vorige lewe was ek ten nouste by gemeenskapsake betrokke. Ek was op tonele van plaasmoorde en ander geweldsmisdaad. Ek het vir jare die land vol gereis om gemeenskappe toe te spreek en by te staan en ek het die verval op veral plattelandse dorpies eerstehands beleef. Ek het gesien wat meeste Afrikaners slegs deur hoorsê of gesaniteerde beriggewing inneem. In al hierdie gevalle was die staat laks, onderbeman, onderbefonds, nalatig, korrup en onbevoeg. Ons kan die staat vir baie dinge blameer, maar nie vir sistemiese geweld teen ’n spesifieke groep, volksmoord of etniese suiwering nie. Afrikaners val eenvoudig net nie in die kategorie van die Tutsi’s in Rwanda en Bosniese Moslems in die 1990’s, of die Jode tydens die Tweede Wêreldoorlog nie. In daardie gevalle was die owerhede regstreeks daarvoor verantwoordelik en nie slegs nalatig, ongevoelig of selfs subtiel goedkeurend nie.
Proporsioneel is geweld teen Afrikaners (hetsy op plase of in dorpe of stede) ’n breukdeel van wat teen ander groepe gepleeg word. Byvoorbeeld, die meeste moorde word in plekke soos Gugulethu, Khayelitsha, die Kaapse Vlakte, KwaZulu-Natal, en die Johannesburgse middestad en townships gepleeg en aangemeld. Dus, dit word hoofsaaklik in swart en bruin gemeenskappe deur bendes, familielede van die slagoffers en gewone misdadigers gepleeg omdat hulle nie die wetstoepassingsowerhede vrees nie. Dis ’n feit wat Johann Rupert tereg aan Trump tydens Ramaphosa se besoek uitgelig het. Grondbesettings word deur die EFF aangehits en soms aktief gelei. Maar behalwe vir sommige munisipaliteite waar hulle as koalisies regeer, is hulle nie verteenwoordigend van die staat en amptelike beleid nie. Dit is eerder ’n manier vir ’n klein party om mag te vertoon omdat hulle nie oor werklike staatsmag beskik nie.
Ramaphosa se weiering om plaasmoorde te erken en te verseker dat die polisie meer doeltreffend raak en die ekonomie vinniger groei, is iets wat opsluit reggestel moet word. Raswette móét waai. Geen vooruitstrewende land kan hierdie status quo bekostig nie. Ek is erkentlik jeens Trump en sy administrasie vir wat hulle vir ons doen en neem niemand kwalik as hulle van hierdie vlugteling-geleentheid gebruik maak nie. Afrikaners is wel disproporsioneel betrokke by oplossings in Suid-Afrika. Daarvan getuig die duisende mense wat patrollies ry, hul vaardighede en belastings bydra, op verskeie maniere protes aanteken en uiteraard ook Rupert en ander wat hoëvlak-ingrypings doen. Ons stem ook nie vir partye wat hierdie skade veroorsaak nie. Maar om te oordryf, die waarheid te verdraai, miopies en uit voeling oor ons probleme te wees, emosioneel te raak, net anoniem op die internet te kla en die boodskappers te skiet baat niemand nie. Inteendeel, dit laat ons kleinlik en belaglik in Suid-Afrika en elders lyk. Ons is beter as dit. Kom ons werk met feite en met moeite want slegs dan kan ons werklike oplossings vind en keer dat die 49 ’n stroom van 49 000 en meer word.
Dr. Brink is ’n entrepreneur, sakekonsultant en ontleder van die Paarl
Nog artikels deur dr. Brink en ander op OntLaer
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in: