Muurskilderye gee stil stemme kleur
Die skokkende storie van Iryna Zarutska sal leef deur kuns.
Die tragiese dood van die jong Oekraïense vlugteling, Iryna Zarutska, het die wêreld met groot skok gelaat en onderwerpe soos veiligheid, geestesgesondheid en die kwesbaarheid van immigrante in hul nuwe gemeenskappe in die kollig geplaas. Haar verhaal het egter ook 'n unieke nalatenskap voortgebring: deur haar met muurskilderye te herdenk.
Op 22 Augustus 2025 is die 23-jarige Zarutska, wat saam met haar familie van die oorlog in Oekraïne gevlug het, in Charlotte, Noord-Carolina, op 'n openbare metrotrein vermoor. Sy is sonder enige voorafgaande interaksie deur 'n mede-passasier, Decarlos Brown Jr., met 'n mes aangeval en het aan haar steekwonde beswyk. Brown, wat reeds 'n lang misdaadgeskiedenis en duidelike uitdagings met geestesgesondheid gehad het, het 'n daad gepleeg wat nie net 'n jong lewe verwoes het nie, maar ook die wêreld se aandag gevestig het op die kwesbaarheid van individue wat reeds uit die gevolge van 'n oorlog ontsnap en waar mense versuim het om haar te help.
Na afloop van die tragedie was daar 'n voorstel gemaak om muurskilderye van Iryna Zarutska in groot Amerikaanse stede op te rig. Sosiale media platforms het van talle kunsvoorstelle, wat deur kunsmatige intelligensie geskep is, begin gons en mense met groot name (en baie geld) se aandag getrek. Die doel van hierdie kunswerke regoor Amerika is nie net om Zarutska te onthou nie, maar ook om onderwerpe soos geweld in openbare ruimtes en die hantering van geestesgesondheidskwessies, in die gemeenskap aan te moedig. Elon Musk het die idee ondersteun en genoem dat hy bereid is om een miljoen Amerikaanse dollar vir die befondsing van muurskilderye, met toelaes vir kunstenaars wat die projek wil uitvoer, te gee. Dit was nie lank nie of Andrew Tate, die Britse-Amerikaanse internetpersoonlikheid, entrepreneur en voormalige professionele skopbokser, het by Elon aangesluit deur een miljoen Amerikaanse dollar uit sy sak te haal.
Hierdie betrokkenheid gee nie net finansiële ondersteuning aan die idee nie, maar beklemtoon ook die krag van kollektiewe deelname om onreg en verlies in betekenisvolle dade van herinnering deur kuns te omskep.
Kuns speel 'n diepgaande rol in die vorming en genesing van gemeenskappe. Muurskilderye of straatkuns is meer as net visuele uitdrukkings. Dit is standpunte en permanente herinneringe aan diegene wat gesterf het, maar ook vir dié wat nog lewe en wil onthou. Deur Iryna se beeld in openbare ruimtes te verewig, word haar bestaan erken en haar verhaal as deel van 'n groter gesprek oor maatskaplike verantwoordelikheid en gemeenskapsveiligheid in die kollektiewe geheue verweef. Hierdie vorm van openbare kuns gee gemeenskappe 'n ruimte vir nadenke, skep 'n gevoel van saamwees, en kan selfs lei tot konkrete maatskaplike verandering.
Die dood van Iryna Zarutska is 'n ondenkbare verlies, maar die reaksie daarop het 'n beweging begin wat haar nalatenskap lewend hou. Deur muurskilderye wat haar beeld en verhaal vertel, word sy nie net onthou nie, maar word ook 'n platform geskep vir gemeenskappe om saam te praat oor veiligheid, geestesgesondheid en die waarde van elke lewe. Kuns, in hierdie konteks, tree op as 'n middel tot genesing, bewusmaking en gemeenskaplike herinnering. In 'n wêreld waar onreg en verlies dikwels deur die stilte oorheers word, gee kuns 'n stem aan diegene wat maklik vergeet kan word.
Ons is afhanklik van kuns, nie net omdat dit 'n boodskap of gevoel oordra nie, maar omdat dit mense in 'n tyd van vertroosting bymekaar bring.
Hilde Kruger is 'n grafiese en multimedia-ontwerper, skrywer en bemarker met 'n sterk fokus op strategiese konseptualisering en handelsmerkontwikkeling. Sy het haar honeursgraad in BA Grafiese Ontwerp, met Multimedia as nagraadse studies, by die NWU-Potchefstroom voltooi en is sedert 2017 'n lid van die Internasional Society of Typography Design (ISTD). Vandag is sy die eienaar van 'n kreatiewe eenmansaak en werk met verskeie organisasies en instansies.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.