Beskawing
Op die gesamentlike inisiatief van die Griekse en Chinese regerings het verteenwoordigers van Griekeland, China, Indië, Irak, Iran, Egipte, Italië, Meksiko, Peru en Bolivia op 24 April 2017 in Athene vergader. Dit was by geleentheid die eerste byeenkoms van die Forum vir Antieke Beskawings (Ancient Civilisations Forum).
Die regerings verteenwoordig groot antieke beskawings: die Egiptiese, Romeinse, Persiese, Chinese beskawings, die van die Mayas, Inkas, Asteke, die van Mesopotamië en die Indus Vallei. Die Forum het sedertdien elke jaar vergader.
Dit is onder andere teen hierdie agtergrond wat historikus Christopher Coker se stelling in 2019 verstaan moet word wanneer hy in The rise of the civilizational state verklaar:
“You may not have given civilization a great deal of thought, but others certainly have. In fact, you are already living in a world in which civilization is fast becoming the currency of international politics.”
Ons praat natuurlik nie hier van beskawing teenoor nie-beskawing, barbarisme of primitiwiteit gestel, maar van beskawings elkeen synde 'n eiesoortige stelsel met sy eie oorhoofse godsdienstige en dergelike fundamentele opvattings en kulturele temperament, wêrelduitkyk, mites, metafisika en taal / tale en aksiologie, sy eie omvattende Gestalt. Daar word dikwels in die Duitse literatuur na beskawing in hierdie sin kultuur (Kultur) verwys.
Dienooreenkomstig sou 'n mens net sowel of dalk eerder van die Westerse kultuur as die Westerse beskawing kon praat. In hierdie bespreking word met beskawing in hierdie laasgenoemde kulturele betekenis daarvan volstaan.
Die Marxistiese einde van die geskiedenis
Volgens die klassieke Marxistiese sou die geskiedenis na die voltrekking van die kommunistiese rewolusie/s tot ‘n einde kom. Die kommunistiese rewolusie sou nasies, state, die kapitalisme en klasse ophef; en dit sou die laaste rewolusie wees, want daarna sou die mensdom opgaan in 'n klaslose utopiese toestand van gelykheid.
Gedurende die twintigste eeu was daar inderdaad opeenvolgende sosialistiese rewolusies – in Rusland, wat die Sowjet-Unie geword het, China, wat kommunistiese (Rooi) China geword het, talle soortgelyke rewolusies in Sentraal- en Oos-Europa ten dele aangestig deur die Sowjet-Unie, en talle rewolusies oor die Derde Wêreld heen.
Maar in weerwil van die enorme krag van die kommunisme, het hierdie rewolusies toe nie die geskiedenis tot 'n einde laat knars nie. Sowjet-geïnspireerde sosialisme is uitgedoof en het binne die bestek van enkele jare vanuit sy basis in Oos- en Sentraal-Europa verdwyn en die Sowjet-Unie het in 1991 in duie gestort; China het ook 'n nuwe weg ingeslaan.
Die liberaal-demokratiese einde van die geskiedenis
Dit mag in 1992 gelyk het of die sosialisme nie slegs uitgedoof was nie, maar dat sy aartsteenstander, liberale demokrasie, onherroeplik en globaal geseëvier het. Dit mag voorgekom het of die geskiedenis uiteindelik toe tog beëindig is, egter nie vanweë 'n kommunistiese sege nie, maar danksy die klinkende liberaal-demokratiese triomf.
Presies dit was Francis Fukuyama se oortuiging. In sy The end of history and the last man redeneer hy in 1992 dat die geskiedenis, ten minste die idee-geskiedenis van die wêreld (synde die eintlike bewegende krag volgens die Hegeliaanse beskouing van die geskiedenis) volbring is. Die val van die Berlynse Muur en die inploffing van die Sowjet-Unie het die einde van liberale demokrasie se ideologiese antitese beteken, met die gevolg dat liberale demokrasie wêreldwyd finaal as die enigste geldige ideologie geseëvier het.
Daar is gevolglik ten slotte nie werklik iets van die aard van 'n verskeidenheid van beskawings met hulle eiesoortighede nie. Daar is net een algemene geldige ideologie – een politieke waarheid – wat die wêreld onvermydelik verder homogeniseer. In die geglobaliseerde wêreld sal die openbare orde derhalwe op die grondslag van slegs een ware en egte stel idees naamlik liberale demokrasie ingerig word.
Ja, dit is so dat die wêreld nie onverwyld volskaals hierby sal inval nie. Plek-plek sal daar nog eienaardige, wrede en uitbuitende diktators, verspotte godsdienstige sektes, en irrasionele nasionalismes, regeringsmislukkings en dergelike manewales wees. Maar dit lewer oplaas niks meer op nie as sydelingse skermutselings en politieke vermaak, sonder beduidende gevolg. Dit sal weldra swig voor die onkeerbare kragte van die liberale demokrasie, wat onverbiddelik oral gaan wortel skiet. Ten slotte is daar geen keer daaraan nie. Die liberale universalisme het geseëvier.
Net soos Marx en ander aankondigers van die einde van die geskiedenis van tevore, het Fukuyama inderdaad ook nie gelyk gehad nie. Trouens, reeds met die verskyning van The Last Man was die tekens reeds daar dat 'n nuwe geskiedenis besig was om stoom op te tel – 'n geskiedenis aangedryf deur die groot beskawings van die wêreld.
Beskawings was regdeur die geskiedenis van groot belang. Die prominensie van 'n aantal ryke – in die besonder die Habsburgse, Ottomaanse en Oostenryks-Hongaarse ryk – het die regstreekse belang van beskawings in die politiek egter gemarginaliseer. So ook natuurlik nasiestate (oftewel eerder territoriale state), wat sedert die sewentiende eeu die toonaangewende akteurs van die (internasionale) politiek was.
Mededingende ideologieë en meegaande ideologiese stryd was veral vanaf 1917 tot 1991 die sterkste krag in die internasionale politiek.
Die prominentste was eers die stryd tussen (Westerse) liberalisme en die Fascisme / nasionaal-sosialisme, wat oplaas in 1945 deur oorlogsvernietiging ten gunste van eersgenoemde beslis is.
Daarna is die stryd tussen die liberalisme en die Sowjet-kommunisme sowel as Chinese kommunisme eweneens in die guns van liberale demokrasie beslis: in die geval van Sowjet-kommunisme vanweë die ekonomiese inploffing van die Sowjet-ekonomie; en in die geval van China, vanweë 'n interne kentering weg vanaf die Maoïsme na die Chinese beskawingstaat.
Dit was juis die liberale oorwinning van die vroeë 1990’s wat Fukuyama oortuig het dat die geskiedenis permanent beëindig is – dat ons die ryk van die blywende liberale universalisme tegemoet gegaan het. Slegs liberale state, wat kwalik van mekaar onderskeibaar sou wees, het nou oorgebly.
Nie The Last Man nie maar The Clash of Civilizations
Maar nie almal het saamgestem nie – nie almal was so optimisties, pessimisties of onrealisties nie. Samuel Huntington het reeds in die 1990’s radikaal anders geoordeel. Enkele jare na Fukuyama se Last Man het sy Clash of Civilizations and the Remaking of World Order die lig gesien. Hierin het hy hom deeglik verantwoord oor die beslissende prominensie van beskawings in die politiek – ook die wêreldpolitiek.
Kenmerkend van sommige beskawings is dat hulle as’t ware opvolgersbeskawings is, wat ruim put uit een of meer vorige beskawings en die voorgangers deels as’t ware kontinueer.
Volgens Huntington se myns insiens akkurate beskouing, verdeel die wêreld tans – en oor die afgelope aantal eeue – in sewe groot beskawings: Sino (Chinese) Japanese, Hindoe, Islamitiese, Ortodokse, Latyns-Amerikaanse en die Westerse beskawing. Die lewensduur van beskawings wissel gewoonlik tussen een en twee millennia, maar as die tydsduur van opvolgersbeskawings bygereken word, kan dit veel langer wees.
Ons onderneem vervolgens 'n vinnige voëlvlug oor die beskawings van ons tyd en betrek tegelyk die verskynsel van beskawingstate daarby.
Chinese-beskawing
Die Chinese beskawing dateer terug tot 1500 jaar voor die huidige jaartelling. Dit is beduidend, maar nie volledig nie Confuciaans. Die huidige Chinese bewind trag juis om die Confusiaanse karakter van die Chinese beskawing - na die Maoïsme - weer op die voorgrond te plaas. Dit Die Chinese beskawing strek wyer as die Chinese staat om ook Chinese gemeenskappe in Suidoos-Asië en die verwante (sub)kulture van Korea en Vietnam in te sluit. China kan as 'n beskawing- eerder as 'n nasieststaat getipeer word aangesien die wesenlike eienskap daarvan juis die langdurige Chinese beskawing en nie bloot die huidige Chinese nasie nie, is. Ofskoon die Maoïsme vanaf die deurvoer van die rewolusie in 1949 'n beduidende uitwerking op die aard van die Chinese staat gehad het, en aan die hand van die Marxisme wat uit Wes-Europa stam, tydelik 'n merk links-Westerse ideologie op China gelaat het, het die momentum van sy langdurige beskawing uiteindelik die Chinese beskawingskarakter van China herstel. Die belangrikste uitwerking van die Maoïsme mag egter geredeneer word, was om as 'n vorm van nasionalisme China se waardigheid na die eeu van vernedering gedurende die negentiende eeu aan die hand van Westerse moondhede (en Rusland) te herstel.
Japanse-beskawing
Die Japanse beskawing, synde 'n wegbreek uit die ouer Chinese beskawing het sy ontstaan in die tydperk 100 tot 400 in die huidige jaartelling. Japan val vierkantig binne die omskrywing van 'n beskawingstaat, aangesien die beskawing in totaliteit met die Japanese staat vereenselwig is. Vanweë realpolitieke oorwegings is Japan tans in hegte bondgenootskap met die VSA.
Indiese of Hindoe-beskawing
Die Indiese of Hindoe-beskawing gaan soos die Chinese beskawing ook terug na die tweede millennium voor die huidige jaartelling, na die tydperk 1500 v.c.. Onderlê deur die Hindoe godsdiens en sosiale stelsel, in die onlangse dekades, versterk deur onder andere die tans regerende Bharatiya Janata Party (BJP), is die beskawingskarakter van Indië na die Britse koloniale tydperk en die sekularisme van die Kongres Party wat vir die eerste dekades na onafhanklikwording dominant in Indië was, herstel. Indië het egter nogtans die tipiese verdraagsaamheid teenoor pluraliteit van die Hindoeïsme behou, as gevolg waarvan dit na alle waarskynlikheid (net soos Rusland) nie besig is om 'n uitsluitlike beskawingstaat te word nie. Nogtans dra die beskawingbevestigende karakter van die Indiese staat klaarblyklik daartoe by om die Hindoebeskawing wêreldwyd onder Hindoe-minderhede elders in die wêreld – ook in Suid-Afrika – te beklemtoon.
Islam-beskawing
Die Islam-beskawing het in die sewende eeu in die Arabiese Skiereilande ontstaan, en op die rug van militêre energie vinnig oor Noord-Afrika en die Iberiese skiereiland en later in Suidoos-Asië en elders uitgebrei. Soos die Christelik-Westerse beskawing het dit universalistiese aansprake en 'n universaliserende, Messiaanse missie. Dit is proseliterend en derhalwe altyd potensieel wedywerend en vyandig teenoor ander beskawings en teenoor afvalligheid in eie geledere.
Die Islam verdeel in 'n verskeidenheid sub-beskawings, sommige daarvan vereenselwig met bepaalde state: sekulêre Turkye wat in onlangse tye hegter met Islam vereenselwig het; Iran, wat put uit sy antiek Persiese beskawingsagtergrond en die feit dat hy die sentrum van Shia in die Islam-wêreld is; Indonesië en talle ander.
Latyns-Amerikaanse-beskawing
Volgens Huntington konstitueer Latyns-Amerika, onder andere vanweë die blywende invloed van 'n aantal inheemse karaktertrekke 'n eiesoortige beskawing. Dit is ook, anders as die Weste meer korporatief en outoritêr, nie gemaklik konstitusioneel nie en het bowendien, anders as die Weste nooit 'n Reformasie beleef nie. Indien nie 'n afsonderlike beskawing nie, is dit 'n sub-beskawing van die Weste.
Russies-Ortodokse beskawing
Die volgende beskawing is die (Russies)-Ortodokse beskawing met Rusland as die sentrum. Dit is 'n opvolgerbeskawing met sy wortels in Bizantium. Dit het 'n drieledige karakter naamlik die Ortodokse kerk (die grondslag van Rusland se identiteit as die sogenaamde Derde Rome, in opvolging van Rome self, daarna Konstantinopel en uiteindelik Moskou); die Russiese kulturele tradisie, wat veral sedert die negentiende eeu in 'n hoogkultuur ontwikkel het en die outoritêre Russiese staat, wat homself onder andere beskou as die beskermheer van die ortodokse wêreld.
Rusland (en die ortodokse beskawing) het die ergste gely onder die sosialistiese universalisme (en diktatuur). Die kommunisme het homself die taak gestel om die Russies-ortodokse beskawing te likwideer en het in die eerste dekades na die aanvang van die rewolusie in 1917 ver hiermee gevorder.
Die Russiese staat het deurlopend 'n uitbreidingsdrang gehad, wat klaarblyklik nie slegs realpolities was nie (dit wil sê gemik was op die maksimalisering van die mag van die Russiese staat nie) maar ook Messiaans, aangesien dit ook wat dit beskou het die sogenaamde ware Christendom moes beskerm.
Die kommunistiese rewolusie het hierdie bo-wêreldse heilige karakter van die Russiese beskawing met 'n nuwe wêreldse heiligheid toegerus. Gevolglik moes dit na 1917 die blye boodskap van die kommunisme wêreldwyd uitdra, wat deurlopend een van die hoofmomente van die Sowjet-Unie se proseliterende buitelandse politiek was, net soos proselitering integraal deel van die Islam en die Westerse beskawing is.
Die verdediging van Rusland teen die Nasionaal-sosialistiese inval vanaf 1941 was die eerste groot kentering om onbedoeld die sosialistiese universalisme in die Sowjet-Unie te stuit, want wat Rusland verdedig het, was die sosialisme nie, maar wel wat as Moeder Rusland beskryf is.
Die Russiese nasionalistiese faktor gepaard met die ekonomiese mislukking van die sosialisme (kommunisme) het egter die Sowjetstaat vernietig en die nasionale en uiteindelik beskawingsaard van die Russiese staat herstel.
Die beskawingsdiskoers het teen die 1880’s in Rusland ontstaan en het 'n komplekse geskiedenis. Die presiese beskawingskarakter van die Russiese staat is egter 'n omstrede kwessie. Tevore – teen die einde van die negentiende eeu en die begin van die twintigste eeu – was daar die aanspraak dat Rusland die basis van 'n Pan-Slawiese beskawing moes wees. Dit lyk of dit stroming stoom verloor het. Dan is daar die sogenaamde Euro-Asiatiese beskouing, waarvolgens Rusland deel moet wees van 'n Oos-Europese/Asiatiese blok (onder andere saam met China en ander Asiatiese moondhede) teen liberale, spesifiek Amerikaanse en Wes-Europese universele liberalisme. Myns insiens is hierdie sienswyse egter bloot 'n aspirasie vir 'n realpolitieke-militêre magsblok en behels dit nie 'n bona fide beskawingstroming nie.
Die Ortodokse beskouing wat Rusland in die sentrum van 'n breër Ortodokse beskawing saam met gemeenskappe en state in Oos-Europa plaas, is klaarblyklik histories en kultureel meer verantwoordbaar. Die Russiese nasionalistiese faktor soos onder andere deur Aleksandr Solzhenistyn verwoord en wat tans in die Valdai-groep waaraan Vladimir Putin ook deelneem, is die mees prominente front hiervan.
Westerse beskawing
Laastens is daar natuurlik die Westerse beskawing hierna die Weste genoem met sy grondslag in Wes- en dele van Sentraal-Europa. Dit het vir eeue as Westerse Christendom bekend gestaan. Oor die afgelope vier eeue het Noord-Amerika 'n belangrike – moontlik die kardinale – komponent van die Westerse beskawing geword. Weens suksesvolle Westerse kolonisasie het Australië en New-Seeland ook deel van die Weste geword terwyl die Weste ook 'n onmiskenbare teenwoordigheid in Suider-Afrika het.
Die Weste is ook 'n opvolgerbeskawing. Dit het sedert die negende eeu ontstaan en uiteindelik in die elfde eeu beslag gekry. Dit volg op drie vroeëre beskawingsgrondslae aan die Middellandse See: die Helleense, Christelike en Romeinse beskawing, wat ten slotte in die elfde eeu in 'n sintese, synde die Weste versmelt is en veral met die Renaissance, waartydens Griekeland en Rome ywerig herontdek is, wat die bedding was, van waar dit verder in bykans alle denkbare kulturele, intellektuele en politieke opsigte gegroei het.
Daar word soms aangevoer dat daar eintlik geen Weste bestaan nie; dat dit 'n blote abstraksie is; dat dit dermate van “buite die Weste” beïnvloed is, dat daar geen essensies daaraan toegeskryf kan word nie. Hierdie sienswyse is egter om twee redes onjuis: eerstens omdat geen beskawing – ook nie die Weste nie – 'n blote tydlose versameling van onveranderlike essensies is nie, maar eerder 'n samehangende kollektiewe biografie. En tweedens is dit, soos Remi Braque in Eccentric Culture – A theory of Western civilization aangetoon het juis tipies van die Westerse verhaal om danksy opeenvolgende hergeboortes (Renaissance-episodes) uitsonderlike spronge te maak.
Tweedens word aangevoer dat dit eenvoudig onwaar is dat daar iets van die aard van 'n soomlose kontinuïteit tussen antieke Griekeland en die latere en huidige Weste bestaan. Deels toegegee, maar dis ten slotte volkome nie-ter sake, want dit is onteenseglik waar dat die latere en hedendaagse Weste, veral sedert die Renaissance van die veertiende eeu die Klassieke – Griekeland en antieke Rome – ywerig sy eie gemaak het. Indien die Klassieke nie soomloos tot die latere Weste herlei kan word nie, het Wes-Europa derhalwe die Klassieke ex post facto deel van homself gemaak. Europa – die Weste – (anders as die Islam) het derhalwe die Klassieke as’t ware as sy voorvader aangeneem en gekoester. Soos Christian Meier in A culture of freedom – Ancient Greece and the origins of Europe verduidelik:
“Can the impression be entirely wrong that Europeans not just appropriated antiquity, but allowed themselves to be appropriated by classical Rome and Greece.”
Die geskiedenis sedert die Verligting het egter opeenvolgende ontwrigting opgelewer wat die uitdruklike doelwit gehad het om die Weste te ontbind, of wat ten minste daardie resultaat sou hê.
Die Franse rewolusie, meer korrek, die rewolusie van die radikale liberalisme, moes die Westerse tradisie ontbind en die Weste in 'n algemene mensdom likwideer.
Die Marxisme met die oogmerk van die klaslose utopie, het ten slotte wesenlik dieselfde beskawingsontbindende oogmerk gehad.
Fundamentalistiese staatsoewereiniteit soos dit tot uitdrukking gekom het in die twee Westerse burgeroorloë (soos Christopher Dawson in Understanding Europe beskryf het) wat die twee wêreldoorloë van die twintigste eeu inderdaad in beduidende mate behels het.
Nogtans het die Weste in weerwil van hierdie krisisse, ofskoon erg geskonde tog nagenoeg in takt gebly.
(Wat die onderskeie beskawings betref, noem ek volledigheidshalwe dat Huntington onseker is of Sub-Sahara-Afrika 'n afsonderlike beskawing is.)
Die belangrikste uitdaging vir beskawings en vir vrede
Die verskeidenheid van beskawings as die mees omvattende kollektiewe identiteite van mensegemeenskappe dank hulle bestaan aan die erkenning en die nougesette eerbiediging van die beskawings- oftewel kulturele pluraliteit in die mensdom. Dit kom tot uitdrukking wanneer die veelheid van beskawings as inherent goed en koesterwaardig bejeën word. Dit behoort nie slegs te geld vir die wêreldpolitiek nie, maar ook in die huishoudelike politiek (wat buite die bestek van die huidige bespreking val).
Die prinsipiële teenstander van hierdie verskeidenheid is eksklusiewe universalismes, oftewel enige projek wat hierdie verskeidenheid verwerp en hom vir die ontbinding van die beskawings beywer.
Die variasies van Marxistiese ideologie vanuit die Sowjet-Unie en China (en natuurlik ook in linksgesinde bewegings en veral akademiese formasies elders, met inbegrip van die Weste) was tot in die laat twintigste eeu die belangrikste en dodelikste van hierdie kragte vir die likwidasie van beskawings. In hulle mags-en invloedsfere het hulle die Chinese en Russies-Ortodokse beskawings ongekende skade aangerig, voordat dit uiteindelik stoom verloor het. Die Weste het ook die Marxisme tereg as aartsvyand beskou, wat teengestaan moes word.
Een universaliserende ideologiese krag, waarskynlik die mees formidabele van almal, het oorgebly. Dit is die liberale internasionalisme (universalisme) – wesenlik die krag wat Fukuyama in 1992 as die finale oorwinnaar gekroon het.
Die liberale universalisme kom 'n lang pad, wat na die tydperk voor die Franse rewolusie herlei, maar in die twintigste eeu veral vanuit die VSA en die liberale elites van Wes-Europa gevoed word.
Dit gaan uit van die oortuiging dat daar 'n enkele algemene en wesenlik homogene mensdom is, wat uit soewereine individue bestaan – nie ook uit beskawings, kultuur- en taal- of godsdiensgemeenskappe nie of dergelike partikulieres nie, maar ten slotte slegs uit individue met dieselfde gelyke universele individuele regte, wat in 'n politieke orde 'n soomlose liberale demokrasie behels. Vir sover mense hulself wel as deel van partikuliere identiteite beskou, is dit 'n dwaling ('n valse bewussyn) wat mettertyd sal oorwaai, namate mense hulle “ware” universele identiteit ontdek.
In Wes-Europa is die liberale universalisme gemonster in die onderskeie liberale regerings van Wes-Europa – Brittanje, Frankryk, Duitsland, Spanje en andere en veral in die strukture van die Europese Unie.
In Amerikaanse buitelandse beleid word die liberale universalisme vereenselwig met Amerikaanse oorlogs- en na-oorlogse presidente Woodrow Wilson en Franklin Roosevelt en met die buitelandse beleid van etlike administrasies daarna, soos dit veral tot uitdrukking kom in die buitelandse beleidsprojekte wat tans breedweg onder die sogenaamde neocon-vaandel tuisgebring kan word.
Volgens hierdie stroming in die Amerikaanse buitelandse beleid is die VSA die vaandeldraer van die goeie teen die bose, die slegte en teen dwaallere. Dit veg vir gewaande geregtigheid vergestalt in universele gelyke individuele menseregte en demokrasie. Dit behels 'n abstrakte politiek van beginsel, nie (in die eerste plek) 'n realpolitiek van belange, magsbalans en wisselende bondgenootskappe nie. Daarom is daar in beginsel nie ruimte vir toegewings en kompromieë nie. Akkommoderende buigings kan per slot van sake nie na dwaallere gemaak word nie. Dit is 'n buitelandse politiek wat in morele en juridiese terme tot uitdrukking kom – 'n Messiaanse politiek, waarvan die missie is om die blye boodskap van menseregte en demokrasie oral uit te dra. Almal moet daartoe bekeer word. Halsstarriges wat bekering weerstaan, moet daartoe gedwing word en die instrumente van Amerikaanse buitelandse beleid – intellektueel, propaganda, ekonomies en desnoods militêr – moet vir daardie doel aangewend word.
Kragtens die liberale universalisme word projekte onderneem wat soortgelyk aan die Marxisme van vroeër nadelig vir die onderskeie beskawings is en ten slotte beoog om hulle te likwideer. Twee van hierdie projekte word uitgelig.
In plaas daarvan om die integriteit van Wes-Europa bakermat van die Westerse beskawing te beskerm, word ongebreidelde migrasie van nie-Westerlinge na Europa toegelaat, wat die Westerse beskawingsintegriteit van Wes-Europa bedreig, of alreeds onherroeplik benadeel het. Die sit om in 'n politiek van beskawingslikwidasie. Teenstand hierteen behels beskawingspolitiek in die Europese konteks ter verdediging van die Weste.
Amerikaanse, meer bepaald neocon-projekte in die Islam-beskawing
Amerikaanse buitelandse politiek het oor die afgelope dekades herhaaldelik mislukte maar steeds skadelike projekte in (Islamitiese) Midde-Ooste behels. Die jongste sodanige projek is die Iran-oorlog, wat klaarblyklik op die grootste mislukking van al hierdie projekte afstuur. Die oorlog is eerstens klaarblyklik onwenbaar en tweedens bring dit ongekende reputasie-skade vir die VSA.
Die beskawingsverlies is natuurlik nog groter. Eerstens word die oorlog teen Iran gevoer, wat watter onaanneemlike regime dit ook al mag wees, as verteenwoordigend van een van die sektore van die Islam (en bowendien die eietydse verskyning van een van die wêreld se antieke beskawings – die Persiese beskawing – beskou kan word.
Dit dreig derhalwe om 'n volskaalse interbeskawingsoorlog te word, wat te midde van die heropkoms van beskawings juis een van die gevaarlikste konflikte met die ingrypende gevolge kan word.
Ofskoon Huntington die realiteit van beskawings deeglik onder oë gesien het, en deel van die titel van sy boek The Clash of Civilizations is, dien sy werk juis as 'n waarskuwing om op sodanige botsing bedag te wees. Hy verklaar:
In the emerging world of ethnic conflict and civilizational clash, Western belief in the universality of Western culture suffers three problems: it is false, it is immoral, and it is dangerous. That it is false has been the central thesis of this book, a thesis well summed up by Michael Howard: the ‘common Western assumption that cultural diversity is a historical curiosity being rapidly eroded by the growth of a common Western oriented, Anglophone world culture shaping our basic values ...is simply not true.’”
Liberale universalisme – anti-beskawing
Tog is nie een van hierdie twee konflikte waarna pas verwys is, 'n beskawingsbotsing tussen enige van die huidige groot beskawings nie.
Die kragte in Wes-Europa teen ongebreidelde migrasie stel hulself nie teen 'n ander beskawing of beskawings op nie, maar teen 'n dekadente elite wat die immigrasie fasiliteer, aanmoedig en bewerkstellig. Hierdie elite maak deel uit van die liberale universalisme, wat hom hier teen die Westerse beskawing vaardig maak. Indien 'n soortgelyke krag in Rusland, Indië, China of in die Islam bedrywig is, is dit ewe nadelig vir die daar tersaaklike beskawings. Die liberale universalisme is derhalwe die aartsvyand van alle beskawings, nie net die Weste nie, ofskoon die Weste tans die skerpste in die visier is. Die akkuraatste beskouing van die liberale universalisme is derhalwe dat dit 'n anti-beskawingskrag is.
Die neocon-projek is ten slotte ook 'n anti-beskawingsprojek. Dit word vanuit die Weste van stapel gestuur en in die huidige tydsgewrig voltrek die projek veral in die Islam-wêreld, aangedryf deur die Messiaanse missie om die universaliserende blye boodskap van gelyke menseregte en demokrasie oral te versprei, en waar die geleentheid homself voordoen, af te dwing.
Die Amerikaanse weermag word misbruik as die skerpste wapen in hierdie afdwinging. Toegegee dat etlike oorloë wat die VSA oor die afgelope dekades in die Midde-Ooste gevoer het ook ander – realpolitieke - doelwitte gedien het, was die liberale universalisme deurlopend 'n prominente doelwit. Dieselfde geld ook vir die huidige oorlog teen Iran.
Dienooreenkomstig is bepaalde formasies in die Islam-wêreld die skerpste in die visier van die neocon-projek. Enige ander beskawing, haaks op die liberaal-universalisme is egter potensieel in die spervuur. Maar die Amerikaanse burgery, wat ten dele met toestemming met hulle belastingdollars en soms met hul lewens hiervoor moet betaal, is klaarblyklik ook 'n slagoffer van die liberale universalisme.
Vrede en stabiliteit is natuurlik konsekwent die gemeenskaplike slagoffer van die neocons se liberale universalisme.
Die Weste versus die liberale universalisme
Die Westerse beskawing word dikwels met die liberalisme gelyk gestel asof dit een en dieselfde ding is. Dit is waar dat oortuigings van individuele vryheid eerste en die mees prominente in die Weste ontstaan het en dat die Weste daarsonder nie te bedink is nie. Dit is egter allermins vereenselwigbaar met die liberale universalisme, wat abstrakte universele gelykheid van alle individue behels. Die liberale universalisme staan as 'n krag van anti-beskawing net so vyandig teenoor die Weste as teenoor alle ander beskawings – ewe beskawingsontkennend so beskawingslikwiderend.
Wat wel gebeur het, is dat politieke akteurs wat vanuit die Weste bedrywig is, soos die wat pas hierbo genoem is, 'n anti-beskawingskrag teen alle beskawings met inbegrip van die Westerse beskawing is.
Dit is van kardinale belang om hierdie waarheid helder in te sien, sodat die antagonismes in die wêreldpolitiek begryp kan word vir wat dit werklik is en bowendien gemene grond vir al die beskawings bied om die gemeenskaplike vyand naamlik die anti-beskawing van die liberale universalisme met realistiese begrip teen te gaan.
Te midde van die era van die groeiende belang van beskawings, is dit belangrik vir die beskawings om 'n modus vivendi met mekaar te vind asook om gemene grond te ontwikkel teen die liberale universalisme wat ten slotte almal se vyand is.
________________________
Die basis van hierdie artikel was 'n lesing wat op 14 Augustus 2026 by 'n konferensie van die Pionier Instituut by Vredenheim Landgoed aangebied is.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.









