KOOS MALAN | Wat bepaal die Islamabad Memorandum?
'n Oorwoë, punt-vir-punt ontleding van 'n groot geopolitieke kentering.
Die Memorandum van Verstandhouding (MvV) oftewel die Islamabad Memorandum (IM), die ooreenkoms waarin vrede tussen die Verenigde State van Amerika en die Islamitiese Republiek van Iran gesluit is, is op 17-18 Junie deur presidente Trump en Pezeshkian onderteken. Die IM is 'n tussentydse ooreenkoms wat die bereiking van 'n permanente ooreenkoms in die vooruitsig stel.
Die IM het 107 dae van vyandelikhede tussen Iran, die VSA en Israel, wat op 28 Februarie met 'n grootskaalse lugaanval van die VSA en Israel op Teheran begin en die grootste gedeelte van die destydse Iranse regering gedood het, formeel beëindig.
Vir die rekord: ek was vanuit die staanspoor teen die oorlog gekant. Veral omdat dit myns insiens geeneen van die oorlogspartye kon baat nie.
Myns insiens was die aanval ook moeilik vereenselwigbaar met huidige Amerikaanse buitelandse beleid (wat ek breedweg ondersteun) soos dit, onder andere, in die Amerikaanse Nasionale Veiligheidstrategie van Desember 2025 uiteengesit is. Ek het derhalwe gehoop dat die VSA 'n wyse sou vind om die oorlog spoedig te beëindig.
Dit het nou gelukkig gebeur. Ofskoon sake kan skeefloop en vyandelikhede maklik weer kan opvlam, het sowel Iran as die VSA 'n groot belang daarby dat dit slaag. Boonop meen ek dat die Amerikaanse ampsdraers wat regstreeks met die onderhandelings gemoeid is, meer bepaald visepresident Vance en minister van buitelandse sake Rubio, oor die bekwaamheid en verstandigheid beskik om die permanente ooreenkoms te bereik.
Hierdie bespreking is teksgebonde. Dit behandel die veertien artikels wat die IM beslaan puntsgewys. Elke bepaling word kortliks weergegee, waarop bondige kommentaar volg.
Minimale algemene kommentaar word gelewer, wat betrekking het op die stand van Iran, Israel en die VSA na aanleiding van die oorlog en die sluit van hierdie ooreenkoms. Algemene kommentaar mag later volg.
Artikel 1: Beëindiging van die Oorlog
Volgens artikel 1 is die VSA en Iran partye tot hierdie ooreenkoms. “Regstreekse partye”, moet 'n mens byvoeg, want in werklikheid is daar ook etlike ander partye hierby betrokke. Dit blyk daaruit dat die ooreenkoms lui dat die VSA en Iran “saam met hulle bondgenote” die ooreenkoms bereik vir die onmiddellike en permanente beëindiging van militêre operasies op alle fronte.
Hierdie “onregstreekse” partye sluit spesifiek Israel en Hezbollah, onderskeidelik bondgenote van die VSA en Iran in. 'n Mens sou kon redeneer dat Israel en Hezbollah se volmag aan onderskeidelik die VSA en Iran geïmpliseer is om die ooreenkoms ook namens hulle te sluit; alternatiewelik dat hulle (Israel en Hezbollah) by nabaat hulle goedkeuring daaraan verleen het (dat hulle die ooreenkoms gekondoneer het).
Die ooreenkoms sluit in soveel woorde Libanon in en betrek derhalwe ook die oorlogsfront in Libanon, waarin die oorlogspartye Israel en Hezbollah is. Die partye kom ooreen om geen militêre operasies teen mekaar uit te voer nie. Hulle bevestig pertinent die territoriale integriteit en soewereiniteit van Libanon. Die bevoordeeldes van hierdie bepaling is drie state, naamlik Iran, Israel en Libanon. Dit is die drie state waarvan die gebiedsintegriteit en soewereiniteit vanweë militêre operasies deur die VSA, Israel, Iran en Hezbollah geskend is.
Prakties gesproke word verpligtinge hiermee dienooreenkomstig op Iran gelê om niemand in die streek (Israel, die VSA of enige Golfstaat) of wie ook al aan te val nie; op Israel om nie Iran en/of Hezbollah in Libanon, en moontlik Hamas in spesifiek Gaza aan te val nie; op die VSA om nie Iran of enige Iranse belange soos skepe aan te val nie; op Hezbollah (en moontlik Hamas) om nie Israel aan te val nie.
Artikel 2: Geen Inmenging in Binnelandse Aangeleenthede nie
Artikel 2 herhaal die bepalings van artikel 1, spesifiek met betrekking tot die VSA en Iran. Hulle onderneem om mekaar se soewereiniteit en gebiedsintegriteit te eerbiedig. Hulle kom ook ooreen om nie in mekaar se binnelandse sake in te meng nie. Die tweede deel van die artikel om nie in mekaar se binnelandse sake in te meng nie, is teoreties tot voordeel van albei die partye.
Dit strek in praktyk egter slegs tot Iran se voordeel, en kan inderdaad as 'n enorme sukses vir Iran aangeteken word. Dit behels 'n beslissende kentering in die VSA se beleid jeens Iran. Die VSA onderneem hiermee om nie soos hy voor die uitbreek van die konflik gedoen het, die Iranse publiek aan te moedig en aan te hits om teen die Iranse regering in opstand te kom, en te probeer omverwerp nie.
Iran is derhalwe die klaarblyklik in veel sterker posisie as voor 28 Februarie.
Dit is 'n sleutelbepaling in die IM en in werklikheid sprekend van die hele ooreenkoms, soos dit in die res van hierdie bespreking toegelig word, wat Iran in die geheel beduidend bevoordeel.
Artikel 3: Onderhandelings vir 'n Blywende Ooreenkoms vir Normale Betrekkinge
In artikel 3 kom die VSA en Iran ooreen om in die 60 dae-tydperk na die bereik van hierdie ooreenkoms (dit wil sê voor 16 Augustus) verder met mekaar te onderhandel sodat 'n uiteindelike ooreenkoms bereik kan word. Die tydperk kan met wedersydse instemming verleng word. Hierdie verpligtinge om verder bona fide te onderhandel behels uiteraard ook om nie weer tot vyandelikhede oor te gaan nie.
Hierdie bepaling kan vertolk word as 'n verbintenis om nie net om die oorlog te beëindig nie, maar om na 'n tydperk van 47 jaar sedert die Iranse rewolusie in 1979, normale betrekkinge tussen Iran en die VSA te bewerkstellig.
Die VSA en Iran het die daad by die woord gevoeg deur inderdaad reeds enkele dae na die sluit van hierdie ooreenkoms in Switserland, met onderhandelinge te begin.
Artikel 4: Verwydering van Versperrings, Herstel van Skeepvaart en Onttrekking van Wapentuig
Onmiddellik na ondertekening sal die VSA begin om sy vlootversprerring en enige verdere belemmerings teen Iran te verwyder en binne 30 dae volledig beëindig. Skeepsverkeer moet in hierdie tydperk volledig herstel tot wat dit voor die oorlog was.
Binne 30 dae na die bereiking van die eindooreenkoms, moet die VSA sy magte uit die onmiddellike omgewing van Iran onttrek.
Die eerste deel van die ooreenkoms is tot die voordeel van Iran sowel as almal wêreldwyd na wie goedere vanuit die Persiese Golf (uiteraard veral vanuit Iran) uitgevoer word. Iran kan weer uitvoer en buitelandse valuta verdien en almal na wie uitgevoer word, kan weer teen herstelde laer pryse uitvoergoedere van Iran ontvang.
Die tweede deel van hierdie artikel is tot voordeel van die VSA, wat 'n militêre teenwoordigheid in die nabyheid van Iran mag handhaaf totdat 'n eindooreenkoms bereik is. Die nabyheid van Amerikaanse mag plaas gedurende die tydperk van onderhandeling vir die eindooreenkoms druk op Iran om 'n ooreenkoms te bereik. Aan die ander kant pen dit egter ook die betrokke Amerikaanse mag in die onmiddellike omgewing van Iran vas, in plaas daarvan dat dit elders aangewend kan word.
Artikel 5: Die Straat van Hormoes
Na die ondertekening van die ooreenkoms sal Iran reëlings tref om die heen en weer veilige kommersiële skeepsverkeer vanaf die Persiese Golf en die See van Oman via die Straat van Hormoes te bewerkstellig.
Vir hierdie 60 dae sal dit gratis wees. Inaggenome die verwydering van militêre struikelblokke en die noodsaak van ontmyning deur Iran sal skeepsverkeer onmiddellik hervat word en binne 30 dae volledig herstel wees. Iran en Oman sal beraadslaag oor die verlening van toekomstige maritieme dienste in die Straat van Hormoes. Dit sal geskied in samewerking met ander Golfstate en ooreenkomstig die toepaslike internasionale reg.
Dit is slegs vir die eerste 60 dae dat gratis verkeer deur die Straat van Hormoes beding is. Die verdere terme van deurvaart deur Hormoes sal nou onderhandel word. Die bepaling suggereer dat deurvaart na die sestig dae nie meer kosteloos sal wees nie en dat Iran, na alle waarskynlikheid saam met Oman en moontlik ander state die een of ander vorm van tol sal hef.
Indien wel, behels dit 'n verandering gunstig vir Iran in vergelyking met die posisie voor 28 Februarie.
Artikel 6: Die VSA en andere se Verantwoordelikheid vir die Herstel en Ontwikkeling van Iran
Die VSA sal saam met streeksvennote op die herstel- en ontwikkelingsplan van 300 miljard dollar vir Iran ooreenkom. Die meganisme vir die inwerkingstelling hiervan sal binne 60 dae as deel van die eindooreenkoms uitgeklaar word.
Die VSA aanvaar met hierdie bepaling aansienlike verantwoordelikheid vir die herstel en ontwikkeling van Iran. Dit is nie duidelik presies wie die streeksvennote is nie. Myns insiens mag dit state met 'n aktiewe buitelandse beleid op die rand van die streek soos Indië insluit. Ek kan geen beletsel sien dat ander state ook hierby betrokke mag wees nie.
Die meganisme hiervoor sal oor die volgende sestig dae uitgewerk word. Hierdie bepaling is klaarblyklik uitsonderlik voordelig vir Iran. Trouens, die Iranse regering kon hom voor 28 Februarie waarskynlik nie in sy wildste drome voorstel dat hierdie groot voordeel hom met die medewerking van die VSA te beurt sou val nie. Dit kan baie vermag om Iran uit sy ekonomiese knyptang en kreeftegang van etlike dekades te verlos.
Hier ter sprake is klaarblyklik nie skenkings nie, maar beleggings, waarvan die besonderhede nou uitgewerk moet word. Dit bring mee dat hierdie bepaling vir die VSA en “streeksvennote” ook baie werd is, aangesien dit beloof om enorme opbrengste vir die VSA (Amerikaanse maatskappye en die regering) en die streeksvennote op te lewer.
Met hierdie bepaling verander Iran in weerwil van sy allerweë gerekende ekstremistiese regime, met bloed aan sy hande, onder andere, vanweë wreedaardige optrede teen sy eie burgers, in 'n normale staat waarmee daar “besigheid” gedoen kan word. Dit is in teenstelling met die verstoteling (en vyand) wat Iran vir 47 jaar sedert die rewolusie vir die VSA en dergelike ander state was.
Hierdie bepaling in werklikheid in samehang met die hele ooreenkoms, is tekenend van die realpolitieke eerder as ideologiese benadering tot die internasionale politiek, wat samewerking ter wille gemeenskaplike voordeel vooropstel, en nie ideologiese gemeenskaplikheid as vereiste vir samewerking stel nie.
Artikel 7: VSA gaan Sanksies Ophef
Hierdie bepaling moet saam met Artikel 11 gelees word.
Die VSA onderneem om alle sanksies teen Iran op te hef. Die opheffing is omvattend en sluit in sanksies van die VN-Veiligheidsraad; die Internasionale Atoomenergie-Agentskap (IAEA); asook alle eensydige primêre en sekondêre sanksies van die VSA teen Iran. (Die Europese Unie het ook sanksies teen Iran.) Vir daardie doel sal op 'n skedule (rooster) ooreengekom word, wat ook deel van die finale ooreenkoms sal wees. Die partye beoog om dringend 'n uiteinde oor hierdie kwessie te bewerkstellig.
Knellende sanksies deur die VSA teen Iran is reeds sedert kort na die Iranse rewolusie in 1979 ingestel. Die sanksies het mettertyd 'n verbod op Amerikaanse maatskappye op die invoer van Iranse goedere ingesluit, sowel as 'n verbod op belegging in die Iranse olie en gas. Die Amerikaanse Kongres het ook sanksies teen buitelandse maatskappye ingestel wat in die Iranse energiesektor belê. In 2012 het die Obama-administrasie sanksies teen Iranse banke ingestel. En nadat President Trump in 2018 uit die JCPOA - Joint Comprehensive Plan of Action van 2015 tussen die VSA, Rusland, China, Brittanje, Duitsland, Frankryk en die Europese Unie getree het, het die VSA weer sanksies met die oog op “maksimum druk” teen Iran ingestel.
Die VSA moet nou kragtens die IM stappe doen dat al hierdie sanksies uit die weg geruim word. Die verwydering van die sanksies behels 'n totale ommekeer in die VSA se verhouding met en beleid teenoor Iran sedert die rewolusie in 1979, en plaas die Iranse regering in die mees gunstige situasie sedert die rewolusie.
Dit behels waarskynlik een van die mees drastiese kenterings in Amerikaanse buitelandse beleid ooit.
Artikel 8: Artikel 8 en 9 gaan oor Iran se Kernprogram.
Iran bevestig dat hy nie kernwapens sal verkry of ontwikkel nie. Die partye kom ooreen dat die hantering van reeds verrykte materiaal van Iran volgens 'n ooreengekome meganisme sal geskied met minimale verwerking deur verdunning op die perseel (in Iran) onder die toesig van die IAEA. Die partye sal kwessies rakende verryking en kernverwante kwessies binne die raamwerk wat in die eindooreenkoms vasgestel word, verder bespreek.
Iran bevestig hiermee 'n ou standpunt, wat onder andere sterk deur die voormalige opperleier Ajatolla Ali Khamenei, wat op 28 Februarie vanjaar in 'n Amerikaans-Israelse aanval op Teheran gedood is, gehuldig is.
Dit strook eweneens met waarop reeds in 2015 in die JCPOA ooreen gekom is, en plaas vraagtekens oor die wysheid van die besluit van die eerste Trump-bewind om in 2018 uit die JCPOA te tree.
Artikel 9
Hangende die eindooreenkoms handhaaf die partye die status quo. Iran laat sy bestaande kernprogram onveranderd en die VSA sal geen nuwe sanksies instel of nuwe magte in die streek ontplooi nie.
Totdat 'n eindooreenkoms binne 60 dae (of 'n langer tydperk soos tussen die partye ooreengekom) na die ondertekening van die IM bereik is, bly die status quo met betrekking tot Iran se kernprogram gehandhaaf.
Artikel 10: Amerikaanse Hulpverlening met Betrekking tot Iran se Uitvoere
Die Amerikaanse Tesourie sal by die ondertekening van hierdie memorandum vrystellings vir die uitvoer van Iranse ruolie, petroleumprodukte en afgeleides en verwante dienste (finansiering, versekering, ensomeer) uitreik.
Hierdie bepaling behels konkrete fasilitering deur die VSA vir Iranse uitvoere en strek Iran klaarblyklik tot voordeel.
Artikel 11: Vrystelling van Bevriesde Iranse Geldbates
Een van die gevolge van die sanksies teen Iran is dat baie van sy bates in die buiteland bevries is. Dit is onduidelik waar die bates gelys is en wat die waarde daarvan beloop. Wêreldwyd beloop dit na raming tussen 100 en 120 miljard dollar, en in die VSA skynbaar in die omgewing van 3.8 miljard dollar. Die VSA onderneem om bevriesde of beperkte Iranse bates volledig vir gebruik beskikbaar te stel. Die partye sal in onderhandelings ooreenkom op die prosedure van vrystelling van die bates.
Die geld sal beskikbaar wees vir betalings aan begunstigdes soos vasgestel deur die Sentrale Bank van Iran.
Die bepaling is klaarblyklik tot Iran se voordeel en is tekenend van die normalisering van betrekkinge tussen Iran en die VSA.
Artikel 12: Uitvoerende Meganisme
Die partye kom ooreen op 'n uitvoerende meganisme om die toepassing en nakoming van die eindooreenkoms te monitor.
Die bepaling getuig van die erns van die (regstreekse) partye om die ooreenkoms te laat slaag en om saam te werk om enige kragte wat die ooreenkoms mag verongeluk, te neutraliseer.
Artikel 13: Opskortende Voorwaarde
Die IM is 'n skeibare ooreenkoms. Artikels 1, 4, 5, 10 en 11 is skeibaar van die res. Hierdie bepalings moet onmiddellik in werking gestel word. Indien nie, kan onderhandeling vir die res van die ooreenkoms nie 'n aanvang neem nie. Die nakoming en toepassing van hierdie bepalings is derhalwe voorwaardelik vir die res van die ooreenkoms. Dienooreenkomstig bepaal artikel 13:
Na die ondertekening van hierdie memorandum en mits die toepassing van Artikel 1 (die beëindiging van die oorlog); Artikel 4 (die verwydering van versperrings, herstel van skeepvaart en onttrekking van wapentuig); Artikel 5 (Iran se effektiewe oopstel van die Straat van Hormoes); Artikels 10 en 11 (Amerikaanse hulpverlening met betrekking tot Iran se uitvoere en vrystelling van bevriesde Iranse geld) begin en voortduur, sal die twee state met onderhandelings vir die eindooreenkoms 'n aanvang neem, wat slegs op die oorblywende bepalings fokus. Die res van die ooreenkoms behels veral drie kwessies naamlik: die herstel en ontwikkeling van Iran; die opheffing van sanksies teen Iran; en Iran se kernprogram.
Met die inligting tans tot ons beskikking (die huidige onverwylde inwerkingstelling van artikels 1, 4, 5, 10 en 11) blyk dit dat reeds ver met die voldoening aan die voorwaardes vir die onderhandeling en inwerkingstelling van die res van die ooreenkoms voldoen is).
Artikel 14: Resolusie van die Veiligheidsraad
Die eindooreenkoms sal deur 'n bindende resolusie van die Veiligheidsraad van die VN goedgekeur word.
Sodanige resolusie het die implikasie dat al die permanente lede van die Veiligheidsraad (China, Rusland, Frankryk en Brittanje, naas die VSA) goedkeuring aan die ooreenkoms verleen en dit gevolglik nie meer bloot 'n bilaterale ooreenkoms tussen die VSA en Iran (en hulle bondgenote) sal wees nie.
Die bepaling is myns insiens klaarblyklik op aandrang van Iran in die ooreenkoms opgeneem ten einde die medewerking en vereenselwiging van ander moondhede, veral China en Rusland vir die ooreenkoms te verseker. Met die aanneem van die Veiligheidsraad se resolusie word die VN en by name China en Rusland mede-waarborgers vir die instandhouding van die ooreenkoms.
Laaste Opmerkings
Daar is een aspek wat ooglopend nie aangeraak is nie. Dit is Iran se missiel- en hommeltuig- en konvensionele militêre vermoë. Dis juis die dinge wat hom gedurende die oorlog besonder goed te pas gekom het, en bes moontlik hierdie, vir Iran, baie gunstige ooreenkoms moontlik gemaak het.
Vanweë die swye oor hierdie kwessie het Iran klaarblyklik die vryheid om verdere aandag hieraan te gee. Dit is egter 'n onderwerp vir verdere onderhandeling.
Met die ooreenkoms het die VSA duidelik vanaf dekades-lange stok- na 'n wortel-benadering oorgegaan. In plaas daarvan om Iran militêr of ekonomies te verwoes, sal hy nadese eerder probeer om hom met ekonomiese en dergelike voordele tot ʼn wedersyds medewerkende moondheid te verander. Dit is ook op die wyse wat die VSA sal poog om Israel se veiligheid sowel as die veiligheid van sy Golfstaat-bondgenote te waarborg.
'n Laaste opmerking het op Suid-Afrika, meer bepaald die ANC betrekking. Iran is 'n bondgenoot van die ANC. Die enigste wyse waarop Iran militêre mag na die geweste van Suider-Afrika kon projekteer, was deur middel van sy vloot, meer bepaald groot Iranse oorlogskepe. Daardie vermoë is vernietig en baie duur om weer op te bou. Die Amerikaanse onderhandelaars sal na alle waarskynlikheid ook in die finale ooreenkoms seker maak dat Iran nie fondse misbruik om hierdie vermoë te herstel nie.
Dit is bowendien 'n kwessie wat baie laag op die voorkeurlys van die Iranse regering is. Sonder dat Suid-Afrika en die ANC hoegenaamd 'n gedagte tydens hierdie oorlog was, is die ANC se buitelandse posisie klaarblyklik verder benadeel.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.








