Naamsveranderinge: "Volksbewaring is uitsluitelik in Afrikanerhande"
Nie eens die DA se rekord getuig van ondersteuning nie.
Graaff-Reinet, gestig in 1786 deur die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie, staan as een van die oudste nedersettings in die land. Die erfeniswaarde van hierdie dorp vir Suid-Afrika in die breë en vir Afrikaners in besonder beteken vir die hedendaagse politieke elite hoegenaamd niks. Maar dis juis ons emosionele aandrang dat dit vir hulle wel móét belangrik wees, wat die meer patetiese verskynsel in hierdie verhaal is. Petisies, voorleggings, en proteste uit Afrikanergeledere hou almal voor: “Respekteer ons erfenis en wees regverdig teenoor ons!”
Gayton McKenzie het besluit dat een van die oudste Afrikanerdorpe in Suid-Afrika se naam moet verander. Ons moet uitsluitlik vra: Wie op dees aarde is “Gayton McKenzie” wat Afrikaner-erfenis betref? Stel jou voor dat die Solidariteit Beweging aankondig (ná 'n “proses van openbare konsultasie”) dat Ulundi, die tradisionele hoofstad van die Zoeloevolk, vorentoe as “Ben Schoemansdorp” bekend gaan staan. Dit sal sonder twyfel tereg (in woord en daad!) verwerp word.
Gayton McKenzie het net so min regmatige gesag om Graaff-Reinet se naam te verander as wat Flip Buys het om Ulundi se naam te verander. Afrikaner-erfenis het niks met die Grondwet of formele Suid-Afrikaanse publiekreg te doen nie, so McKenzie se klaarblyklike status as minister is heeltemal buite die kwessie. Die Suid-Afrikaanse regering kan net besluit wat hý die dorp gaan noem. Niks meer nie. Dit sou een ding gewees het indien 'n leier of leierskorps wat organies vanuit Afrikanergeledere gegroei het die naamsverandering van Graaff-Reinet bepleit het. Maar dis Gayton McKenzie. A nee a!
Die ander kant van selfaangewesenheid
Watter maatskaplike legitimiteit het Gayton McKenzie om vir Afrikaners en Afrikaanssprekendes te sê wat hulle 'n plek gaan noem?
Die Nasionale Party het dit vir swart en bruin burgers probeer voorskryf en in talle gevalle eenvoudig nie gewerk nie. Dit is die legitimiteit wat Afrikaners wél vir McKenzie en sy kollegas verleen wat hierdie truuks moontlik maak. Graaff-Reinet is deel van ons erfenis, en ons moet verstaan dat net ons alleen kan besluit wat ons die dorp gaan noem.
Trouens, dit mag dalk wees dat daar oor 'n paar jare nie meer genoeg ondersteuning vir die Voortrekkermonument is nie, en dat hy sy deure gaan moet toemaak. Al is dit hóé jammer, is dit steeds ‘n besluit wat ons mag neem. En dit moet juis 'n volksbesluit wees. Indien die Afrikanervolk en sy erfenis tot ‘n einde gaan kom, moet daardie besluit onder Afrikaners self geneem word.
Ons is verantwoordelik vir ons eie voorspoed en ons eie ondergang. Die Afrikanervolk het allermins 'n alleenstaande reg op voorbestaan. Indien Afrikaners besluit om van ons erfenis afstand te doen, dan sal die Afrikanervolk tot 'n einde kom. Dit is 'n besluit wat Afrikaners wel mág maak – bewustelik, of oor baie jare deur ons dade én versuime.
Op die stadium blyk dit dat Afrikaners nog gráág Afrikaners wil bly, nogtans wil talle onder ons hê dat volksvreemdes die Afrikaner se erfenis moet respekteer en beskerm! Die Suid-Afrikaanse staat is juis aspris in hierdie opsig. Hulle gee voor dat hulle “diversiteit” wil bevorder maar daar is tot my wete geen voorbeeld van 'n Xhosa-, Sotho-, of Zoeloe-pleknaam wat na 'n Afrikaanse naam sedert 1994 verander het nie. Aan die ander kant word dit as doodnormaal geag om Afrikaanse (en Engelse) name te verander.
Dis mos maklik.
Die politieke elite weet dat as Ulundi na “Ben Schoemansdorp” verander word sal dit nag wees.
Maar Afrikaners se dae van spiere span en mag vertoon is verby – ons sal enige ding aanvaar wat aan ons gedoen word, en hulle wéét dit. Afrikaners is gehoorsame klein landsburgertjies wat enige oënskynlike “offisiële” handeling onkrities by ons introspektiewe raamwerk van “wetsgehoorsaamheid” sal inprop.
Volksbewussyn
Dit is nodig vir Afrikaners om ons beheptheid met formalisme te staak en weereens 'n volksbewussyn te ontwikkel.
Ten minste sedert die totstandkoming van Nasionale Party se bewind is Afrikaners baie ingespan op wetsgehoorsaamheid en staatlike rituele. Waar Afrikaners voorheen heel gemaklik daarmee was om, byvoorbeeld, Staatspresident Thomas François Burgers alleen op die gevegsveld agter te laat en terug te keer plaas toe, stel Afrikaners vandag te veel klem daarop om as goeie en gehoorsame outomate geag te word.
Daar is niks fout met die sentiment dat ons graag as konstruktiewe en vreedsame medeburgers gesien wil word nie, maar die sentiment word wel 'n probleem wanneer dit ons daartoe lei om ons eie belange (onnodig!) tersyde te stel, slegs omdat 'n politikus wat net haat vir ons het so gesê het. Kompromie is belangrik, maar éérs wanneer ons in vergelykbare posisies van mag én oortuiging staan met ons teenstanders. Daar is vandag nog te veel volksgesinde Afrikaners wat hoop en glo dat “die stelsel” ons sogenaamde kulturele regte gaan beskerm. Dink net aan diegene wat so kla op sosiale media oor hoe vervalle munisipaliteite nie Afrikanervolksmonumente in stand hou nie. Stel jou voor!
In Suid-Afrika vandag is daar is geen hof of staatsinstelling wat namens die Afrikanervolk teen die staat se homogeniseringagenda gaan optree nie. Die Grondwetlike Hof het al uitdruklik vir ons so gesê, en ons hou aan smeek!
Nog minder gaan die Verenigde Nasies of ander internasionale forum tot ons redding kom. Ook nie buitelandse regerings nie: Die Verenigde State sal dalk help om die lewens van Afrikanerindividue wat bedreig voel te red, maar hy gaan nie 'n vinger lig om Afrikanererfenis te bevorder nie.
Afrikaners alleen is daarvoor verantwoordelik.
Nie 'n ANC-ding nie
Op 'n lang tydlyn gaan elke Afrikaanse pleknaam in Suid-Afrika formeel vervang word.
Dit is nie alleenlik 'n “ANC-ding” of 'n manifestering van radikale swart nasionalisme nie. McKenzie verteenwoordig die Patriotiese Alliansie (PA) en is geskiedkundig 'n opposisie-figuur wat steeds as 'n “kleurlingnasionalis” beskryf word. Maar dit is juis hý wat “Graaff-Reinet” se naam na “Robert Sobukwe Town” toe verander! En dit was die Demokratiese Alliansie (DA) se Wes-Kaapse regering, onder Helen Zille, wat in 2018 die Coen Steytlerlaan in Kaapstad na Walter Sisululaan verander het. Die DA-regering in Kaapstad het ook Modderdamstraat na Robert Sobukwestraat verander, onder andere.
Nié 'n “ANC-ding” nie.
Afrikaners moet mooi verstaan dat die bewaring van ons erfenis en volksbates nie deur enige politieke party sal geskied nie. Slegs Afrikaners self, in ons optrede en doen en late, kan dit bewerkstellig. Die stigting van die universiteite van Stellenbosch en Potchefstroom was merkwaardige manifesterings van positiewe Afrikanernasionalisme. So ook, byvoorbeeld, was die stigting van die eertydse Afrikaanse Hoërskool (sedert 1930 die Afrikaanse Hoër Seunskool en Afrikaanse Hoër Meisieskool).
Die oordrag van hierdie instellings aan die staat was 'n fout van geskiedkundige omvang. Alhoewel die bou van die Voortrekkermonument tot 'n groot mate deur staatsgeld befonds is, was dit steeds hoofsaaklik 'n volksinisiatief. Dat die volk die bestuur en instandhouding van hierdie monument tot ons erfenis aan die staat toevertrou het was 'n groot fout wat gelukkig in onlangse jare deur die Solidariteit Beweging reggestel is.
Ons onmiddellike voorouers, al het hulle dit nie so bedoel nie, het ons volk se voortbestaan in verskriklike gevaar gestel toe hulle die fondasie wat húlle voorouers gelê het, aan die politieke owerheid oorgedra het. Dit is nêrens 'n verstandige besluit nie.
Die grap van Europese “konserwatisme”
Kyk maar na Europa.
Al die Europese nasies het hulle volksbewaring aan hul onderskeie staatsowerhede oorgedra. 'n Mens kan vandag nog miskien opmerk dat daardie owerhede dié rol ernstig opneem, maar ek vermoed dat dit nie vir baie lank nog so gaan wees nie. Slegs 32% van Europeërs is bereid om namens hulle lande oorlog te voer. Die Christelike geloof het ook byna heeltemal in verskeie Europese lande platgeval. Vandag is daar baie Europese konserwatiewes wat hieroor in 'n histeriese toestand van beide verontwaardiging en verwarring verkeer.
Hulle wil graag die “globaliste” en onlangse immigrante blameer, al is hulle self aandadig daaraan dat hul volksbewaring aan die staat en sy unieke (afbrekende) aansporingsstrukture oorgedra is. Juis in onlangse jare vier Europese konserwatiewes fees nadat hul moederfiguur, Giorgia Meloni en haar regering, laboratoriumgekweekte vleis in Italië verban het om die land se “tradisionele boerdery- en kookerfenis te bewaar”. Foeitog.
Sonder die staat kan die Italianers nie eers vir hulself besluit hoe en wat hulle gaan eet nie. Stel jou voor die Afrikaner het op sy knieë voor die ANC gaan smeek om ons koeksister- en braai-kookkuns-erfenis te bewaar! Vir so lank as wat enige volk soos klein kindertjies by die voete van die ouerlike staat speel en vir voorregte bedel - ekskuus - dan is sy kak in die pos. Gelukkig is daar nog 'n groter sin vir volksbewussyn onder Afrikaners in vergelyking met die Europeërs. Afrikaners bly tot 'n groot mate gelowig. Afrikaners praat nog tot 'n groot mate met trots Afrikaans. Met enkele uitsonderings kan 'n mens vandag nog daarop reken dat as jy 'n Afrikaner in die straat teëkom, hulle hoofsaaklik Afrikaanssprekend, konserwatief, Christelik, en polities-rasioneel sal wees.
Maar tensy ons hierdie bewussyn en ons nasionale erfenis bewaar met ons eie hande, sal dit deur ons vingers glip.
“Teenstanders skuld Afrikaners niks”
Ons kan nie die ANC of “globaliste” blameer vir die ondergang van ons erfenis en kultuur nie. Dit is nie hulle verantwoordelikheid om vir ons te sorg nie, en hulle sê nou al vir 'n geruime tyd vir ons presies wat hulle bedoelings is. Nou dat hulle met hulle agenda voortgaan, kan ons nie bekostig om verontwaardig te wees nie. Die ANC, PA, of DA skuld Afrikaners absoluut niks.
Net die volk kan homself red, soos die leuse van 1938 Ekonomiese Volkskongres uitgebeeld het. Vergeet dat talle van die groot figure by hierdie kongres hulself later skuldig gemaak het aan die verstaatliking van die Afrikanervolk. Maar die idee dat as ons self (en niemand anders nie) baie werk het om te doen as ons wil hê ons kinders nog in Afrikaans moet leer en tuis voel in Suid-Afrika, bly vandag waar. Die Solidariteit- en Orania-bewegings is die absolute standaardstellers in hierdie opsig, maar hierdie twee instellings en hul filiale kan beslis nie alleen die taak van volksbewaring dra nie. Volksbewaring moet 'n doelwit in die hart van elke individuele Afrikaner wees.
Kom ons begin klein!
Dit is waar dat Afrikaners slegs 'n deel van die bevolking van Graaff-Reinet verteenwoordig. Ek sê dus nie dat dié dorp vir álmal “Graaff-Reinet” moet heet nie. Maar vir die Gadigal-volk in Australië is Sydney dan “Warrane” of “Warrang”. Onder die Dakota-mense heet die Minneapolis en St. Paul-stadsgebied in Amerika “Bdote” of “Mni Sota Makoce”.
Elke gemeenskap kan en mag vir 'n dorp 'n ander naam hê, en dit veroorsaak byna geen verwarring nie.
Laat ons onsself in 'n posisie plaas waar enige toekomstige naamsveranderinge van ons plekke as irrelevant geag sal word, want daardie name leef in ons daaglikse omgangstaal, ons ekonomiese interaksies, en ons kulturele ervaring voort, sonder enige verduideliking en sonder enige verskoning.
Martin van Staden is die Beleidshoof van die Vryemarkstigting en het sy doktorsgraad in die regte aan die Universiteit van Pretoria voltooi.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.











Ja-wat, meeste van ons bly nog steeds praat van Nelspruit en nie Mbombela nie en sal nie sommer anders praat nie. Selfs swartmense doen dit ook, want die stadskern is oor alle kultuurgrense heen nog steeds net "Nelspruit". (Swartmense spreek dit uit as "Nelsproet".)