Is die progressiewe oomblik verby?
Afrikaners, skuld en die tekens van 'n nuwe politieke fase.

Met die dat 2026 op so 'n onstuimige noot gearriveer het, kom Brutus se opmerking oor tydsberekening in die politiek uit Shakespeare se Julius Caesar by my op:
There is a tide in the affairs of men,
Which, taken at the flood, leads on to fortune;
Omitted, all the voyage of their life
Is bound in shallows and in miseries.
On such a full sea are we now afloat,
And we must take the current when it serves
Or lose our ventures.
- Julius Caesar, Bedryf III, Toneel iv.
Brutus se toespraak verwys na die gedagte dat die werklikheid soos die see se getye is – as 'n groot golf verskyn moet 'n mens dit ry of die vergane geleentheid vir die res van jou lewe berou.
Terwyl sommige verkies om in gebeure rondom Rusland, die Oekraïne, die VSA, Iran en Venezuela (asook in ons plaaslike nuus) skaduwees van die chaos van die ergste gebeure van die twintigste eeu te sien, is dit ook moontlik om aan te voer dat van die gebeure wat op die oog af die mat van die “normale” onder ons uitpluk, gesien kan word as 'n nuwe begin. Lesers bekend met Hegel se gedagtes – moontlik deur Francis Fukuyama se bekende The End of History And the Last Man – sal onthou dat hy 'n dialektiese model van die geskiedenis daargestel het. Sonder tierlantyntjies kom dit daarop neer dat Hegel 'n uiteensetting gee van hoe idees en die werklikheid ontwikkel deur spanning en konflik. 'n Aanvanklike standpunt, of gegewe (tesis) roep sy teenoorgestelde op (antitese), en uit dié botsing ontstaan 'n nuwe, ryker standpunt (sintese). Hierdie sintese word dan self 'n nuwe tesis, en die proses herhaal hom, asof die geskiedenis 'n lewende stroom is wat altyd aan die beweeg is.
En soos wat ons met meer as 'n kwart van die eeu agter die blad kan beaam, staan tyd inderdaad nie stil nie. Hegel se eie voorbeeld is die voor-rewolusionêre ancien regime – die ou aristokratiese orde met sy onbuigbare klassestelsel en sy ewe onbuigbare gestyfde pruike – as die tesis, met die Franse Rewolusie wat in 1789 begin het as antitese, en die Napoleontiese orde as sintese. Hierdie sintese het natuurlik 'n nuwe tese gevorm – die Napoleontiese keiserskap wat weer gebots het met die ou monargale orde van Europa, en uitgeloop het op die Weense kongres van 1815. Volgens Hegel vind daar met elke omwenteling 'n versoening van idees plaas – maar elke proses van versoening gaan terseldertyd gepaard met die verwerping van die idees “wat nie werk nie”. En so beur die geskiedenis vooruit. Hegel sien hierdie proses as die “enjin van die geskiedenis”. Wanneer ons van “vooruitgang” praat, bedoel ons eintlik hierdie “enjin”.
Hegel het van 1770 tot 1831 geleef, en as redakteur van die Bamberger Zeitung het hy Napoleon se soldate vanuit sy kantoorvenster beleef. Sy verwysingsraamwerk is uit die aard van die saak die van mid-moderne Europa, maar dit is nietemin moontlik om 'n Hegeliaanse patroon in die onlangse Suid-Afrikaanse geskiedenis te sien. As ons bietjie moeite doen, sal ons sien dat ons moontlik by 'n moment in die geskiedenis gekom het wat nie net Brutus se gevleuelde woorde werd is nie, maar ook 'n heeltemal nuwe vryheidsmoontlikheid bied.
Die aanloop tot ons moment
Die vorige bedeling kan gesien word as die tesis. Daar was inderdaad 'n tesis by betrokke: Die beleid van afsonderlike ontwikkeling, wat 'n besonderse lomp manier was om met die kompleksiteite van diverse gemeenskappe in die tydperk van die Koue Oorlog om te gaan.
Op die ou einde is mense se waardigheid aangetas en dit was veral arbeidspraktyke wat 'n verwoestende effek op ou stamstrukture en familiebande gehad het. Maar vir die doeleindes van hierdie artikel is dit veral die antitese – die anti-apartheidsbeweging, en dan spesifiek die wit-intellektueel-progressiewe element daarvan wat van belang is, omdat dit eintlik amper soos 'n petribakkie van die progressiewe ideaal dien. Ter wille van duidelikheid word dit beklemtoon dat die gesprek nie nou gaan oor die meriete van die saak self nie. Die anti-apartheidstryd was heeltemal legitiem, en is ook so deur die geskiedenis bewys. Dit gaan ook nie oor al die anti-apartheidsaktiviste as geheel nie: Iemand soos Beyers Naudé sal byvoorbeeld nie werklik onder die progressiewe etiket pas nie. (Op 'n eienaardige manier sou 'n mens kon aanvoer dat dit hom juis 'n “voorloper” maak van die verskynsel waarna ek bietjie later gaan verwys: Omdat hy nie sy geloof versaak het nie, maar dit juis op 'n outentieke manier gedeel het met mede-Suid-Afrikaners. Natuurlik is daar steeds mense wat hom vandag as 'n “verraaier” sou sien, maar hulle is heeltemal irrelevant vir die doeleindes van hierdie gesprek). Die onderwerp is eerder die moralistiese (nie “morele”) aannames waarmee 'n groot segment van die wit anti-apartheidsbeweging gewerk het. Vir baie – en natuurlik nie almal nie - het dit nie net daaroor gegaan om 'n werklik onderdrukkende sentralisme te verander nie, maar ook om die stryd in diens van hul persoonlike vetes aan te wend en hulle eie magspeletjies binne die wit gemeenskap te speel. Tot so 'n mate dat die mense in wie se naam hulle hulle bevrydingsstryd geveg het dikwels salig onbewus was van hierdie individue se eksistensiële angste. By 'n vorige geleentheid het ek aangevoer dat die sluiting van die Vrye Weekblad en beëindiging van die gedrukte weergawes van Beeld en Rapport nuwe moontlikhede inlui wat verby die progressiewe metanarratief van politieke verlossing strek.
Ter wille van verfrissing: Suid-Afrika se intellektuele geskiedenis is vir 'n baie lang ruk – feitlik vanaf die sestigjare tot vandag – gedomineer deur 'n unieke tak van die breër Westerse verhaal van vooruitgang. 'n Toewyding tot vooruitgang is een van die kenmerkende aspekte van moderniteit. Hierdie diskoers of gedagtelyn word gekenmerk deur 'n ongeduld met die wêreld soos dit op die huidige tydstip is. Progressiwisme word veral geassosieer met wetenskaplike en tegnologiese vooruitgang, met sy geboortemoment in Francis Bacon se 1626-pogings tot voedselbewaring, waartydens hy hoenderkarkasse in die sneeu probeer bevries het (en in die proses omgekom het) tot by Elon Musk se SpaceX. Hierdie aspek van die verhaal is natuurlik op sigself baie interessant, maar wat eintlik hier van belang is, is dat daar tesame met tegnologiese vooruitgang ook die idee ontstaan het dat menslike samelewings, en die orde waarop dit berus, nie bloot natuurlik of gegewe is nie, maar wesenlik verander kan word ten einde onregte aan te spreek. Die sleutelgebeurtenis in hierdie geskiedenis is natuurlik die bogenoemde Franse Rewolusie, wat klas as natuurlike orde vir ewig 'n knou toegedien het.
Ongeveer gedurende dieselfde tydperk het Mary Wollstonecraft die eerste slag vir feminisme geslaan, en die negentiende eeu is natuurlik gekenmerk deur die opkoms van Marxisme en die idee van 'n werkersrewolusie. Verskeie sosiale bewegings het gevolg, van die idealistiese Arts-and-Crafts beweging en die suffragettes tot by die meer brutale Russiese Rewolusie. So divers as wat hierdie bewegings was, deel almal een sentrale eienskap: Almal spreek 'n onreg aan wat teruggevoer kan word na bestaande sosiale strukture en op onregmatige mag.
Nog leesstof:
In Suid-Afrika het die progressiewe metanarratief ontstaan as 'n reaksie op die mag van die Nasionale Party van 1948, maar dit is ook gevoed deur die sinisme teenoor die Weste na die Tweede Wêreldoorlog en die idees rondom dekolonisasie en Swart bewussynsdenke uit die VSA.
Niemand kan ontken dat daar 'n goeie rede was vir hierdie ontwikkelinge nie. Nietzsche wys egter daarop dat baie bevrydingsdiskoerse nie uit suiwer motiewe ontstaan nie, maar uit haat en vernyn teenoor diegene wat mag het. So ook is die Afrikaanse progressiewe ideaal dikwels gevoed deur 'n kleinburgerlike oikofobie wat minagting vir die eie verwar het met sofistikasie. So is Afrikaans gedurig gereduseer tot die “taal van die onderdrukker”, en daar was meer as een “bedanking” uit Afrikanerskap. Van selfs groter belang is die links-progressiewe stem wat uiters onwillig was om die werklikhede van die Koue Oorlog te erken, asook die werklike krisis wat sou ontstaan het as - hipoteties gesproke - 'n Marxistiese party reeds sê nou maar in die 1960’s aan bewind gekom het.
Ou-skool liberalisme onder die Afrikaners
Miskien sou dit vrugbaar wees om meer spesifiek te wees. In die eerste plek het baie Afrikaners hulle geskaar by die klassiek liberalisme. Alhoewel ek nie 'n kenner is op die gebied of van sy intellektuele bydrae nie, sou ek wou aanvoer dat Frederik van Zyl Slabbert hierdie ideaal verteenwoordig het: Liberaal, versigtig en smart – hy het oral 'n goeie indruk gemaak.
Sy posisie was waarskynlik meer kompleks as bloot die verdediging van klassieke liberalisme per se, maar vir die doeleindes van hierdie gesprek identifiseer ons dit as die breë liberale gedagtelyn. Opposisie teenoor apartheid vanuit hierdie perspektief is meestal geloods vanuit die perspektief dat elke persoon 'n volwasse individu is wat outonoom, rasioneel en self-geldend is en dus verdien om as volwassene gerespekteer te word. Wette van 'n onderdrukkende staat is daarom wette wat individue se reg tot vrye beweging, vrye keuse en vrye spraak beperk. Sulke wette maak inderdaad nie sin nie. Klassieke liberalisme maak net sin as almal vry is. Hierdie gedagte is in Suid-Afrika deur die ou Demokratiese Party verteenwoordig, asook sy voorganger, die Progressiewe Federale Party. Omdat hierdie tradisie eintlik eg Brits is, het dit nooit heeltemal 'n volle vastrapplek in Suid-Afrika gekry nie, en daar was altyd iets ongemaklik rondom hierdie politieke stem, iets wat die Demokratiese Alliansie nou nog sukkel om te bowe te kom.
Maar vir die wit Suid-Afrikaner was daar is nog altyd 'n ander progressiewe stem, een wat 'n samevoeging is tussen Christelike moralisme en sy sekulêre humanistiese gelykes, 'n skeut Marxisme, en 'n variasie van Westerse ideologië van doodgewone boheemsheid tot by hedendaagse wokeness. Hierdie groep is meestal Afrikaans, en hulle het vanaf die sestigerjare 'n ruimte buite die amptelike staatskultuur van Christelik-Nasionalisme probeer vind. Dit was nie 'n maklike taak nie: Nie net staan Suid-Afrika op 'n groot afstand van ander sentra van idees nie, maar vir 'n lang tyd was dit boonop polities en kultureel geïsoleer. Verder het baie van hierdie figure hulself ook in 'n soort paradoks bevind: Hulle wou graag van gesofistikeerde Europese idees gebruik maak (veral van die eksistensialisme) maar terselfdertyd het hulle skuldig gevoel dat hulle die geleentheid gehad het om met hierdie idees kennis te maak terwyl soveel ander se geleenthede in die lewe so beperk was. Die leser sal waarskynlik dadelik aan groot name soos André P. Brink, Breyten Breytenbach, ensovoorts dink. Dit maak nie werklik sin om na hierdie mense as “liberaal” te verwys nie – liberaal is doodeenvoudig te Engels, te netjies en te vryemark gedrewe. Tot sy voordeel was die Afrikaanse linksgesinde nog altyd meer van 'n kunstenaar as 'n makelaar. (Dit is amper soos die skeidslyn tussen die Wilcoxes en die Schlegels in E. M. Forster se Howard’s End. Dit is geen ongeluk dat die kultuurfamilie 'n Duitse naam het en die besigheidsfamilie 'n Engelse een nie). As gevolg van sy Europese invloed – en die reedsgenoemde Marxisme, sou 'n mens hierdie Afrikaner eerder links as liberaal wou noem. Interessant genoeg kan 'n mens die skeidslyn duidelik sien in die ongemaklike verhouding tussen figure soos Max du Preez en Helen Zille.
Die linkse Afrikaner word dikwels meer gedryf deur 'n vae “gevoel” as deurdagte beginsels. Baie het bloot begin rebelleer omdat hulle nie van dooie Sondae, brutalistiese staatsargitektuur, safaripakke of bulderende dominees gehou het nie, en gesmag het na verbanne popmusiek en stout boeke. Die grensoorlog was natuurlik 'n groot faktor, maar dit is werklik nie uniek in terme van Koue Oorlog-geskiedenis nie. Van die goed wat 'n mens vandag hoor by mense wat die 1980’s geleef het klink inderdaad bisar, en soms wonder jy of dit werklik universele beleid was, of bloot plaaslike paniekreaksies. Dalk lê die beste opsomming van die verskynsel van wat ek beskryf in die ou woorde verlig teenoor verkramp.
As die “Engelse liberaal” gesukkel het om na 1994 aan te pas, sou mens dieselfde kon sê van die Afrikaanse linkse. Alhoewel hy Engelssprekend is en in Engels skryf, was daar bo en behalwe sy naam nog altyd iets Afrikaans aan J. M. Coetzee. Maar hy woon tans in Adelaide in Australië; waar sal jy 'n groter bekentenis van vervreemdheid kry? Ons het vroeër verwys na die paradoksale aard van die verdwyning van die Vrye Weekblad, maar die onvermoë van die Afrikaner-intellektueel om in die reine met sy eie sukses te kom, is oral te bespeur. Trouens, dit is moontlik een van die grootste oorsake van spanning op Afrikaanse brieweblaaie. Daar word dikwels gesê dat die ANC te veel vasklou aan die verlede, maar sou dit werklik verregaande wees om aan te voer dat 'n sterk element van die Afrikaanse media dit ook nie kan doen nie? Hoofstroomkommentaar en aksies soos die opstel van die Brief van 44, asook die intensiteit van anti-Trump kommentare in hoofstrooommedia dui dalk op 'n baie bepaalde nostalgie: Die verlange na 'n tyd toe dit maklik was om jouself as die cool Ander te definieer teenoor die bose, verkrampte Een.
Die ironie van die saak is dat daar 'n nuwe golf aan die opbou is – en hierdie keer is dit dalk die volwassewording van die Suid-Afrikaanse droom van 1994. Daar is skielik 'n groter ongeduld met die ANC onder swart kommentators en digitale inhoudskeppers as ooit tevore. Onlangs kom ek op die Facebook-blad van 'n prominente EFF-lid af wat sy lesers aan die Minister van Korrektiewe Dienste, Dr. Pieter Groenewald, se politieke verlede herinner. Tot my verbasing is daar 'n stortvloed kommentare wat hewig van die oorspronklike plasing verskil en hom selfs deeglik die kop was. Ene Isaac van Hammanskraal skryf tot “Oom Piet! I will vote for you!”
Ook kom hierdie gedagte in gesprekke met Uber-bestuurders op. Tog het ek nog niks hiervan gesien in tradisionele Afrikaanse media nie. Is Afrikaners dalk – anders as wat outeurs soos Lindie Koorts en Tristan Kapp beweer - te gefokus op self-ondersoek, soveel so dat hulle die opwinding mis van 'n nuwe politieke volwassenheid onder die voormalige slagoffers van apartheid, wat hulle eie outonomie aangryp en kyk na diens en prestasie eerder as velpolitiek?
As dit die geval is, sou dit 'n merkwaardige oomblik wees. Dit mag dalk vir almal van belang wees as die tradisionele linkse denker dalk effens die voet van die skuldpedaal afhaal - die anti-apartheidsbeweging het per slot van sake nie oor hulle gegaan nie. Dit wil voorkom of die res van ons – wit en swart – werklik al aanbeweeg het. Ons kan met mekaar praat – ons benodig nie meer groot oop briewe nie. Ons golf het gekom.
Nog artikels deur Dr Louise Mabille:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










Louise, ek het ook eens "Afrikaanse Liberalisme" probeer, soos vergestalt deur byvoorbeeld Max du Preez. Dit het ongemak by my veroorsaak in die tyd van die Ou Vrye Weekblad en later weer die Nuwe Vrye Weekblad. Ek gebruik die voorbeeld natuurlik net as 'n metafoor van 'n ingesteldheid onder 'n groepie Afrikaansspreekendes (Afrikaans-prekendes?) wat myns insiens te blasé omgegaan het met veroordeling van alles wat naastenby nie in hul wêreldbeskouing ingepas het nie.
Ek en vele ander soos ek het byvoorbeeld baie konstruktiewe rolle gespeel vóór die einde van apartheid met die doel in gedagte om 'n Mandela-tipe droom vir 'n nuwe land te probeer aanvaarbaar maak. Dit was gemik op mense in magsposisies wat Suid-Afrika sou kon lei tot 'n bevryde samelewing; maar ook "gemik" op die gewone mense wat sou kon stem dat verandering moes plaasvind. En hier bedoel ek nie die Boederbond se pogings van daardie tyd om hul getroue volgelinge te probeer oortuig het dat die einde van die ou bedeling in sig was nie. Ek praat van gewone mense wat elke dag in wat hulle gedoen het, op watter terrein ookal - in hul gewone omgang met ander - die saad geplant het vir die uiteindelike vreedsame oorgang; en die pad geloop het van konkrete inisiatiewe wat die oorgang sou help fasiliteer.
Ek kan hier noem dat daar vele forums was wat in die periode voor 1994 baanbrekerswerk gedoen het om 'n breë spektrum van denkers en doeners by mekaar te bring in die soeke na oplossings, instede daarvan om te huil en te vloek en te beskuldig oor alles wat dan verkeerd sou wees - al was dit dan ook dikwels verkeerd - deur middel van die "progressiewe" media.
Ons ("nie-progessiewes") was egter meestal met agterdog bejeen deur die sogenaamde "prgressiewes" van ons eie spesie, naamlik óns as voorstaanders van Afrikanerskap sonder té veel self-geselling.
Gelukkig het gebeure in Amerika en ander lande waar groter selftrots en selfgelding weer populêr gemaak is, ons verligtes (om eerder jou term uit "die ou dae" te gebruik) gehelp om ons mojo terug te kry en kan nou openlik en in die openbaar ons menings lug sonder selfsensuur. En ons het ook soos talle organisasies en individue nuwe spreekbuise om ons standpunte mee uit te dra; en om openlik organisasies te kan bedryf wat nie meer verskonend hoef op te tree omdat ons dit waag om selfrespekterend en selfgeldend te wees nie.
Ons is inderdaad uiteindelik ook werklik bevry en kan dit alles in die taal van ons voorkeur doen; of net so bekwaam in die wêreldtaal, Engels. Ook saam met ons baie Engelsprekende vriende wat ons stille stryd om erkenning in die verlede gedeel het en nou ook in groot getalle en deur middel van verskillende media-formate ons gesamentlike stemme laat hoor...