Oor Manlikheid in 'n Republiek
Die "nuwe regses" kan iets by die Romeine loop leer.
Ek lees tans Plutarch’s Lives, wat my aan die Romeinse Republiek laat dink. Ek hou daarvan om elke jaar oor een ou Romein te lees, en al skiet die werklikhede van die Romeinse Republiek ver tekort van die geïdealiseerde beeld wat baie mense daarvan het, is daar tog iets werklik indrukwekkend en edel in wat die Romeine bereik het.
Hoe meer 'n mens weet van die klassieke geskiedenis (of van die geskiedenis van die Amerikaanse stigtingstyd), hoe minder oortuigend klink sommige van die bewerings van die post-liberale revisioniste. Die Romeine het byvoorbeeld konsepte gehad soos die oppergesag van die reg, politieke vryheid, die regte van 'n Romeinse burger, ensovoorts – alles dinge wat volgens die sogenaamde Nuwe Regterkant, New Right oftewel die nuwe regses, deel sou wees van die “vergiftigde pil” van Verligtingsliberalisme.
Een van die hoogste deugde – inderdaad die wortel van die woord “virtue” self – was vir die Romeine virtus, oftewel manlikheid. Dit het moed, eer, gehardheid en waardigheid alles in een beteken. Al was die Romeinse Republiek in werklikheid soms disfunksioneel, gekenmerk deur geweld en uitbuiting, en dikwels só deur faksiegevegte en korrupsie verskeur dat in vergelyking die afgelope twee en 'n halwe eeue van Amerikaanse regering soos volmaaktheid lyk, was daar 'n swaar klem op deug. Vir die Romeine was deug in die politieke klas onontbeerlik vir goeie regering.
My gunsteling-Romeinse geskiedskrywer is Tacitus, want geen geskiedeniskrywer het beter die gevoel van verlies vasgevang tydens die oorgang van republikeinse na imperiale regering nie. Een van Tacitus se hooftemas is dat Rome geval het en nie gestyg het tydens die Romeinse Ryk nie. Volgens hom was Rome nie meer wat dit eens was voor die Ryk nie.
Miskien die grootste voorbeeld hiervan was die kastrasie van die politieke klas. In die Republiek het senatore hulself as vryburgers beskou en verstaan. Republiekeinse regering het moed, vasbyt en durf vereis, daarom die klem op manlikheid. Vir vrye burgers om hulself te regeer, moes hulle 'n mate van dissipline, selfbeheersing, gemeenskapsgees, 'n sin vir reputasie en 'n bereidwilligheid om risiko’s te neem, hê. Binne een geslag onder imperiale heerskappy het dit heeltemal vergaan. Terwyl Augustus (wat gewoonlik as 'n goeie keiser beskou word) met krag en gesag regeer het, het die troon ná sy dood aan Tiberius gegaan.
Tiberius was 'n swakkeling en korrupte man, wie se besluiteloosheid en lafhartigheid net deur sy seksuele verdorwenheid oortref is. Hy was so sonder durf dat hy nie die moed gehad het om soos Augustus dekrete uit te reik nie; hy moes voorgee dat hy nie in mag en vleiery belangstel nie – ten spyte van sy ydelheid. Hy het 'n groot vertoning daarvan gemaak om die magte en ampte wat aan hom en sy amp gegee is, in die openbaar te weier, wat die senatore genoop het om selfs groter gebare van kruiperige onderdanigheid te maak. Die hele vertoning was deur swakheid aan albei kante gekenmerk, en Tacitus sê byna reguit dat daar in daardie dae nie 'n enkele ware man in die Romeinse politieke klas oor was nie. Dit herinner aan Mark Twain se Kolonel Sherburn, wat aan die skare gesê het dit vat 'n man om 'n man te vermoor, en aangesien hulle net 'n halwe man gebring het, moes hulle maar huis toe gaan.
Sommige aan die Nuwe Regterkant, soos die Amerikaanse Heritage Foundation se Kevin Roberts, bewonder Theodore Roosevelt. Hulle bewonder sy progressiwisme. Ek bewonder hom as 'n man en as buitelewe-mens, al verafsku ek meestal sy politiek (met die uitsondering dat sy kruistogte teen korrupsie edel en goed was; verder as dit is daar 'n rede hoekom hy en Grover Cleveland mekaar gerespekteer het).
Roosevelt se toespraak “Citizenship in a Republic” (wat die beroemde “man in the arena”-aanhaling bevat) pas hierdie beginsels toe op die moderne Weste. En al was Roosevelt teen die idee van 'n ruwe individualisme van “trek jouself aan jou stewels op”, het hy 'n baie Westerse, baie onafhanklike streep gehad wat herinner aan die Romeinse klem op die belangrikheid van manlikheid in republikeinse regering. 'n Mens sou kon sê sy progressiwisme was 'n “ruwe” progressiwisme. Die waarheid is dat vrye regering – republikeinse regering – groter deug en verantwoordelikheid van burgers vra as ander regeringsvorme. Monargie of diktatuur degradeer manlikheid. Die geskiedenis leer ons dat eenmanheerskappy dan selfrespek en individuele karakter uithol en vleiery en kruiperigheid aanmoedig.
Wat ek die meeste teen die Trump-era het, is die volkome vernedering en ruggraatloosheid van soveel mense in die politieke klas, in joernalistiek, in die sakewêreld en dwarsdeur ons kultuur. Dit is die duidelikste sigbaar in die Republikeinse Party, hoewel die troon-snuifery en diktator-afguns aan die ander kant ook nou en dan sy gesig gewys het onder Obama (of in China-afguns, soos Tom Friedman). Eerlikwaar sien ek dit as 'n verleentheid. Wanneer ek na Batya Sargon-Ungar luister, krimp ek innerlik ineen soos wanneer ek na Will Ferrell of 'n ander akteur kyk wat iets só pynlik ongemakliks doen dat ek skaam voel namens 'n fiktiewe karakter.
Talle aan die regterkant hou daarvan om hul hande te wring oor die gebrek aan manlikheid by die jonger geslagte. Ek stem saam met baie van hierdie bekommernisse. Ek sou egter uitwys dat die “sagte, dekadente Weste” die geslag voortgebring het wat die Nazi’s op die slagveld verpletter en daarna die Sowjetunie verslaan het. Ek dink tegnologie en 'n maklike lewe het ons wel 'n bietjie sag gemaak.
Weet jy wie sou saamgestem het? Teddy Roosevelt. Hy sou gesê het ons almal moet ons ruggraat styf maak en besluit om geharde burgers te wees, want die lewe in 'n republiek vra harde werk, opoffering en integriteit. As Roosevelt vandag geleef het, sou hy moontlik Donald Trump se onbeskroomde vermetelheid bewonder het. Maar anders as Trump, het hy nie gelieg oor osteofiete in sy beendere om diensplig vry te spring nie. En anders as Trump, het hy nie weggeskram van moeilike fisiese inspanning nie. Roosevelt sou net soveel Trump se skare verag het, as kruiperige toeskouers en patetiese aanhangers, as wat hy die korrupte mans van sy eie tyd verag het.
Sommige van die nuwe regses voer vandag aan dat wat die Weste nodig het om ons reg te ruk, 'n monargie of 'n soort aristokrasie is. Roosevelt sou dit ongetwyfeld verwerp het. Hy het sy toespraak getitel “Citizenship in a Republic,” nie “Citizenship Under a King” nie. Anders as baie mense wat deel is van die Nuwe Regterkant, het hy Amerika liefgehad en in Amerika geglo. Hy was trots om 'n Amerikaner te wees, en een van die dinge wat Amerika uniek gemaak het, is dat Amerikaners nog nooit 'n koning gehad het nie. Amerikaners het nog nooit adellike here of hertoge of gravinne of prinsesse gehad nie. Amerika het net burgers.
Of dit nou die vleiende hofdienaars in die Franse konings se paleise was, of die verdorwe vertonings van Caligula se aanhangers, die geskiedenis het sy ervaring van swak mans gehad. Swak mans versamel altyd rondom mans wat hulle as sterker as hulself beskou. Hulle is aangetrokke tot daardie soort mag. Hulle hou daarvan om te dink dat dit op hulle sal afvryf. Republieke het mans nodig wat nie mag hoef na te jaag nie. Mans met selfbeheersing, nie mans wat net bevele ontvang nie. As Westerlinge vandag ruggraat kort, is dit die slegste oplossing om 'n diktator aan te stel want dit sal bloot 'n nuwe kliek van klouers, nastrewers en verleentheidwekkende lofdigters skep. (Ek bedoel, in 'n groter mate as wat ons reeds het.)
Ek dink egter nie die regterkant is verkeerd wanneer hulle bekommerd is oor die afname in manlikheid, deug en gehardheid in die Weste vandag nie. Maar dit help nie om te kla as jy nie bereid is om iets aan die probleem te doen nie. En dit begin by die huis. Sodra 'n man sy eie huis in orde kry, kan hy begin om 'n gesin te bou, ander mans in sy gemeenskap te mentor, en seker te maak dat hy sy huis in orde hou.
Maar as 'n man nie sy huis in orde het nie, as hy fisies ongesond is, ongedissiplineerd in sy sosiale en finansiële lewe, onwillig om swaarkry te verduur, wegskrum van fisiese arbeid af en nie belese is nie, dan het hy geen gronde om Westerse kultuur as “te sag” af te maak nie.
Die Weste het nie 'n sterkman nodig nie. Ons het sterk mans nodig. Die eersgenoemde bring nie laasgenoemde voort nie.
Hierdie artikel is met vergunning van John Grady Atreides vertaal en aangepas. Besoek sy Substack Carrying the Fire hier.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.