Is die ANC ernstig oor gelykheid?
Daar is 'n ongelykheid tussen gelykheidsteorieë.
Sedert die stigting van die African National Congress (ANC), aanvanklik onder die naam South African Native National Congress (SANNC), in 1912, het die begrip gelykheid soos 'n goue draad deur sy ideologiese ontwikkelingslyn geloop. Van die party se eerste grondwet in 1919, tot die Vryheidsmanifes van 1955 en selfs die 2022-konferensieresolusies, word gelykheid telkens voorgehou as 'n grondslag vir politieke en sosiale transformasie in Suid-Afrika. Tog is dit juis hierdie begrip, gelykheid, 'n begrip wat op die oog af universeel en begeerlik voorkom, wat onderhewig is aan uiteenlopende interpretasies en derhalwe radikaal verskillende praktiese gevolge het.
Vir die algemene Suid-Afrikaner is dit van groot belang wat presies met gelykheid bedoel word as die ANC van gelykheid praat, omdat ons sekerlik moet weet of ons saamstem met die wat nagestreef word, en of dit enigsins die nastreef werd is. Is die ANC se verstaan van gelykheid soos dit uit sy dokumente en beleid blyk bloot voortbou op die klassieke idee van gelykheid voor die reg, of neem dit eerder 'n meer radikale, rewolusionêre vorm aanneem wat diepgaande implikasies het vir burgerlike vryhede, eiendomsreg en die gesag van sosiale instellings? In hierdie meningstuk (en die akademiese artikel waarvan dit 'n opsomming is) ondersoek ons hierdie vraag ten diepste.
Klassieke gelykheid en die regsorde
Die klassieke verstaan van gelykheid, met wortels in antieke Atene, fokus op isonomia - gelykheid voor die reg. Hierdie idee, soos verwoord deur Perikles en opgeneem in Thucydides se Peloponnesiese Oorlog, is die grondslag van die moderne regstaat: almal is gelyk in die oë van die reg, ongeag hul sosiale of ekonomiese status. Hierdie regsgelykheid vorm ook 'n integrale deel van die Westerse Christelike tradisie, waarvolgens mense as gevalle skepsels gelyk is voor God en gelyk is in hul afhanklikheid van verlossing.
Teenoor hierdie klassieke siening het daar in die tyd van die Verligting en daarna 'n alternatiewe idee ontstaan – gelykheid nie net voor die reg nie, maar ten opsigte van toestand en sosio-ekonomiese omstandighede. Hierdie breër gelykheidsideaal behels dat enige ongelykheid hoe langer hoe meer as onregverdig beskou word en aktief deur die staat reggestel moet word. Ons verstaan hierdie tipe gelykheid as rewolusionêre gelykheid.
Die opkoms van rewolusionêre gelykheid: Rousseau en Marx
Jean-Jacques Rousseau het in sy Discours sur l’origine de l’inégalité (1755) geargumenteer dat ongelykheid onder mense nie natuurlik is nie, maar die gevolg van maatskaplike ontwikkeling en eiendomsinstellings. Hy het geglo dat gelykheid slegs bereik kan word deur die herstrukturering van die sosiale orde volgens die “gemeenskaplike wil” (volonté générale). Hierdie gemeenskapswil staan bo individuele belange en impliseer die oorgawe van persoonlike vryheid aan die kollektief.
Karl Marx het op hierdie basis voortgebou en ongelykheid as 'n produk van klasonderdrukking gesien. Na sy mening moes die werkersklas of proletariaat deur middel van rewolusie die heersende klas omverwerp, privaat eiendom afskaf, en 'n klaslose samelewing tot stand bring. Marx het die klassieke liberale idee van gelykheid as oppervlakkig afgemaak en pleit vir 'n substantiewe gelykheid waarin uitkomste gelyk gemaak word.
Groen van Prinsterer se waarskuwing teen die Revolusie
Teenoor hierdie rewolusionêre beskouings staan 'n tydgenoot van Marx, Guillaume Groen van Prinsterer (1801–1876), 'n Nederlandse staatsman, geskiedkundige en Reformatoriese denker. Groen, soos hy algemeen in die literatuur genoem word, was 'n uitgesproke teenstander van die Verligtingsideale van “vryheid, gelykheid en broederskap,” wat hy as kunsmatige konsepte beskou het wat die organiese struktuur van die samelewing bedreig.
Volgens Groen is die samelewing nie die produk van 'n sosiale kontrak tussen gelyke individue nie, maar die gevolg van 'n geskiedkundige en goddelik-gegewe orde waarin gesag, verskille en selfs ongelykhede natuurlik en funksioneel is. Hy aanvaar gelykheid voor die reg, maar wys daarop dat ware vryheid slegs moontlik is binne 'n raamwerk van erkende en gerespekteerde verskille. Elke poging om hierdie verskille met staatsmag uit te wis, lei volgens hom tot tirannie.
Hy beskryf die rewolusionêre gelykheidsideaal as 'n poging om “die natuurlike en geskiedkundige eienskappe van dinge ter syde te stel” en die samelewing kunsmatig te herskep volgens abstrakte beginsels – iets wat onverminderd uitloop op magskonsentrasie, eiendomskending en die verwoesting van burgerlike vryheid.
Die ANC se gelykheidsideaal in ideologiese konteks
Die ANC se geskiedenis wys op 'n diep verbintenis tot gelykheid, maar met verloop van tyd het die omskrywing van hierdie begrip verskuif. Waar die 1955-Vryheidsmanifes nog pleit vir “gelykheid voor die reg,” begin dit ook verwys na die idee van onderwys wat “gratis, verpligtend, universeel en gelyk” moet wees – 'n aanduiding dat 'n gelykheid van geleenthede en selfs van uitkomste reeds gesuggereer word. Die idee van bekostigbare opleiding is nie opsigself boos nie, maar om te maak asof geleentheidsgelykheid en uitkomsgelykheid dieselfde ding is as regsgelykheid is in alle gevalle oneerlik en in meeste gevalle onkundig.
Sedert die 1960’s het die invloed van Marxistiese en Leninistiese denke toenemend duidelik geword. Joe Slovo, 'n sleutel-ideoloog van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP), het in 1969 die konsep van die Nasionale Demokratiese Rewolusie (NDR) as beleidsraamwerk vir die ANC gevestig. Hierdie rewolusie beoog die oorgang na 'n sosialistiese staat deur “stadige maar doelgerigte” transformasie van die ekonomiese en maatskaplike orde. Slovo het herhaaldelik beklemtoon dat die rewolusionêre ideaal, soos vervat in Marx se idees, nie die probleem was nie, maar dat die mislukkings van kommunistiese state aan swak of verkeerde implementering te wyte is (steeds 'n lieflingverweer van kommuniste). Die ANC het homself sedertdien openlik met die Marxisties-Leninistiese tradisie geïdentifiseer.
Praktiese gevolge: Van beleid na werklikheid
In die praktyk het hierdie gelykheidsideaal beslag gekry in beleid soos swart ekonomiese bemagtiging (BEE), radikale grondhervorming, kwotastelsels en 'n verskerpte staatsrol in die ekonomie. Die 1993-interimgrondwet is 'n belangrike spilpunt. Terwyl dit gelykheid voor die reg beklemtoon (Artikel 8.1), laat dit ook ruimte vir regstellende aksie (Artikel 8.3) – 'n voorbeeld van hoe klassieke gelykheid voor die reg dikwels as ideaal voorgehou word, waarna meer uitbreidende uitlegte, en dan veral rewolusionêre gelykheidsideale nagestreef word.
Groen se waarskuwing in die Suid-Afrikaanse konteks
Die gevaar wat Groen beskryf – naamlik dat die staat, in sy strewe om alle ongelykheid uit te wis, homself tot 'n tirannieke mag verhef – is vandag duidelik sigbaar. Wanneer eiendomsreg ondermyn word, wanneer burgerlike vryhede ingekort word om sosiale gelykheid af te dwing, en wanneer sosiale instellings soos die gesin of godsdiens gemarginaliseer word, dan tree die simptome op van die rewolusionêre oordrewe staat.
Vir Groen is ongelykheid nie noodwendig 'n onreg wat reggestel moet word nie, maar dikwels 'n funksionele en selfs noodsaaklike verskynsel vir samelewingsontwikkeling. Hy verwys spesifiek na eiendomsreg as 'n kernvoorwaarde vir sosiale stabiliteit en vooruitgang – en waarsku dat die staat nie die reg het om hierdie fundamentele vryheid arbitrêr te herverdeel nie.
'n Keuse tussen vryheid en dwang
Die onderskeid tussen klassieke en rewolusionêre gelykheid is nie akademies of abstrak nie, maar logies en noodsaaklik. Dit is 'n vraag wat kernbesluite oor reg, eiendom, gesag en vryheid in 'n demokratiese samelewing raak. In Suid-Afrika het die ANC se skuif na 'n rewolusionêre gelykheidsbegrip regstreekse gevolge vir ekonomiese beleid, onderwys, grondbesit en nasiebou.
So 'n verstaan van gelykheid is nie neutraal nie, maar ideologies gewortel in 'n tradisie wat op Rousseau, Marx, Lenin en Slovo teruggaan eerder as op Atene en die Christelike beskouing. Dit is 'n begrip van gelykheid wat die staat sentraal stel en die geskape verskeidenheid van die werklikheid as iets onaanvaarbaar beskou. Groen van Prinsterer bied 'n alternatiewe pad: een waarin gelykheid voor die reg beskerm word, maar maatskaplike en ekonomiese verskille aanvaar en selfs gekoester word as noodsaaklik vir ware vryheid. Hy waarsku dat om hierdie verskille met geweld te probeer uitwis, onherroeplik lei tot onderdrukking.
Vir Suid-Afrika in 2025 (en hierna) is hierdie waarskuwing van uiterste belang. Dit vra dat ons as samelewing onderskei tussen regsgelykheid en rewolusionêre gelykheid – en dat ons kies vir 'n pad wat ware vryheid, waardigheid en volhoubare vooruitgang bevorder.
Dr Adi Schlebusch is 'n teoloog, filosoof en geskiedkundige. Hierdie meningstuk is 'n bondige samevatting van 'n akademiese artikel wat op 1 Augustus 2025 in die Koers-joernaal verskyn het. Die skrywers dank die redaksie vir hul toestemming tot herpublikasie. Die volledige artikel met volledige bronverwysings is hier beskikbaar.
Nog artikels op OntLaer:
SOSIALE MEDIA
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.