Pete Hegseth, die Sekretaris van Oorlogsmisdade
Onbeheerste mag in die hande van 'n godsdienstige fanatikus.
'n Mens kan net terugstaan in hierdie uitgeputte dae van Amerika en Israel se onwettige en onuitgelokte oorlog teen Iran en kyk hoe die Republiek sy laaste geskeurde skyn van “verdediging” ruil vir die rou, Made in America handelsmerk van suiwer aggressie.
Hier kom Pete Hegseth in, Fox News se naweek-stoeier met die Kruis van die Kruistog-tatoeëring. 'n Godsdienstige evangelis wat danksy 'n wraakgierige kieserskorps en 'n papbroek Amerikaanse Senaat die Sekretaris van Verdediging geword het. Hy verkies om homself as die Sekretaris van Oorlog voor te hou, maar 'n meer akkurate beskrywing sou wees: Die Sekretaris van Oorlogsmisdade.
Oorlogsmisdade in Iran
Hegseth se jongste oorlogsmisdade teen Iran is nie meer abstrak, hipoteties of die produk van “woke kritiek” nie, want hulle is goed gedokumenteer en word daagliks ge-livestream op Twitter en YouTube.
'n Aanslag op 28 Februarie op 'n laerskool in Minab het volgens berigte meer as 150 kinders vermoor. Die oorlewendes beskryf klaskamers wat binne sekondes in massagrafte verander het, met reddingswerkers wat deur die beton grawe vir liggame van kinders wat nooit 'n kans gehad het om weg te hardloop nie.
Hospitale en ambulansdienste is ook tot puin gereduseer, met chirurge wat steeds by flitslig moet werk en pasiënte wat onder die ingestorte sale begrawe is.
Kragsentrales, waterwerke, farmaseutiese- en staalfabrieke, brûe—hele distrikte in Teheran en Isfahan—word uitgewis onder Hegseth en Trump se refrein dat Iran “terug na die Steentydperk” gebombardeer moet word.
Nog meer grillerig is berigte van sogenaamde dubbele-aanslagmissiele, waarin 'n aanvanklike bomaanval gevolg word deur 'n tweede aanslag. Dié tydsberekening word opsetlik gekalibreer om die reddingswerkers en medici wat na die toneel storm, te vermoor. Die effek is nie net fisies nie, maar ook sielkundig, om hulp te ontmoedig, lyding te verleng, en 'n duidelike boodskap aan die Iranese te stuur dat die redding van hul geliefdes 'n dobbelspel met hul eie lewens geword het.
Hierdie voorvalle is nie geïsoleerde insidente of blote foute nie. Dit weerspieël die sistemiese praktyke van Israel en die Verenigde State van Amerika, wie se doelwit klaarblyklik is om Iran se industriële kapasiteit te vernietig sodat die land nie die vermoë sal hê om homself ná die oorlog te herbou nie. 'n Groeiende aantal regskundiges en internasionale regskenners het reeds gewaarsku dat die algehele verloop van die veldtog dui op sistemiese oortredings van internasionale humanitêre reg en die internasionale oorlogswette.
Tog swaai Pete Hegseth die “Steentydperk”-reël met preekstoel-sekerheid. Hy is duidelik onbewus—of ongeïnteresseerd—dat selfs 'n basiese lees van die geskiedenis (of van sy Bybel—sy gunstelingboek) wys dat Kores die Grote 'n groot en goed georganiseerde ryk bestuur het. Die Achaemenidiese Ryk was bekend vir beleide van godsdiensverdraagsaamheid en die hervestiging van onderworpe volke, soos beskryf op die sogenaamde Kores-silinder—lank voordat baie van sy Europese eweknieë soortgelyke staatsvorme ontwikkel het.
Hegseth se Verlede
Pete Hegseth se loopbaan is die perfekte voorbeeld van die moderne Amerikaanse hustle: 'n Mengsel van vegterveteraan-status en vurige godsdienstige ywer. Hy was 'n voormalige kaptein in die Army National Guard wat diens gedoen het by Guantánamo Bay, in Irak en later in Afghanistan.
Ongelukkig het hy nie as 'n nederige, besadigde man uit die gruwels van oorlog te voorskyn gekom nie. In plaas daarvan het hy geradikaliseer tot 'n aggressiewe kabelnuus-aanvalshond. Vir hom is die Uniform Code of Military Justice bloot 'n burokratiese ergernis, en die Genève-konvensies se beskerming van burgerlikes niks meer as oulike, lastige hindernisse op pad na “totale oorwinning” nie.
In sy boek The War on Warriors het Hegseth sy visie met opvallende duidelikheid en opvallende weglatings uiteengesit. Hy het nooit ernstig gereflekteer oor gedokumenteerde Amerikaanse wreedhede soos die martelkamers van Abu Ghraib, die massaslag van burgers in Haditha, of die sistemiese tekortkominge wat die “bevryding van Irak” in 'n internasionale skandaal verander het nie. In plaas daarvan stel Hegseth homself voor as 'n kampioen van straffeloosheid, terwyl 'n vegter-etos sonder aanspreeklikheid verheerlik. Toe Donald Trump die Navy SEAL Eddie Gallagher—beskuldig van oorlogsmisdade, insluitend posering met 'n dooie gevangene se lyk en 'n gesteekte gewonde tiener—genade gegee het, het Hegseth dit openbaar toegejuig en sy beeld as kampioen van “vegters bo die wet” versterk.
Nou sit dieselfde man agter die lessenaar in die Pentagon – die einste man wat jare lank die reëls en instellings wat hy nou moet verdedig, openlik ondermyn het.
Sy bevestigingsverhoor het ou skandale weer na vore gebring: bewerings van alkoholmisbruik, seksuele aantygings en omstrede optrede. Tog het Hegseth geen sigbare berou of nederigheid getoon nie—net 'n geharde politieke houding en onwrikbare ideologiese sekerheid. Hy het die proses oorleef, grootliks onaangeraak, terwyl die Amerikaanse Senaat uiteindelik sy aanstelling bekragtig het.
Die Iran-oorlog merk 'n donker verskuiwing, selfs gemeet teen Amerika se mees aggressiewe oomblikke. Vorige administrasies, hoe sinies ook al, het ten minste voorgegee om selfbeheersing te toon. Hulle het humanitêre voorwendsels gekonstrueer vir Viëtnam, Irak en Afghanistan—en wanneer hulle die grense oorgesteek het, soos in Chili en Oos-Timor, is dit dikwels agter die skerms gedoen, buite die oog van kameras en publieke aanspreeklikheid.
Die Bush-White House het die publiek oortuig van massavernietigingswapens met uitgebreide propagandaveldtogte, wetende dat die intelligensie wankelrig was. Hulle het die behoefte verstaan om die oorlog te verkoop, en Amerikaners weet vandag dat hulle mislei is.
Die huidige benadering skrap die teater heeltemal. Geen ingewikkelde leuens meer vir die publiek nie. In plaas daarvan: rou mag, netjies toegedraai in godsdienstige sekerheid – die kruis van die kruistog wat oor die roofdier hang. Dit weergalm die ou waarskuwing: selfs die duiwel haal Skrif aan.
Geskiedenis sal Pete Hegseth waarskynlik onthou as 'n man wat krag met sterkte verwar het, en straffeloosheid met legitimiteit. Hy self sal nie die sneller trek nie – min in sulke hoë posisies doen dit ooit. Maar hy sal die omstandighede skep waarbinne ander dit wel doen. En omdat hy hom nie aan die “reëls van betrokkenheid” steur nie, sal hy self nooit aanspreeklik gehou word vir die wreedhede wat volg nie.
Die Romeinse Republiek het nie geval weens 'n gebrek aan soldate nie. Dit het geval toe mag gekonsentreer het in die hande van ambisieuse mans, en die instellings bedoel om hulle te beheer te swak geblyk het.
Die Sekretaris van Oorlogsmisdade het sy lessenaar, sy vlae, en sy gesag. Die res van ons word ongelukkig net oorgelaat om te kyk—en om te besluit of enige hiervan regtig onvoorsiene was.
Nog artikels deur Hügo Krüger:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.






















