Plaaslike polisiëring kan demokrasie rugsteun
Die "People’s Police Bill" voorsien vir plaaslike aanspreeklikheid.
Elke jaar het Suid-Afrikaners die reg en die geleentheid om deel te neem aan openbare kommentaar vir voorgestelde wysigings aan die Grondwet. Dit is 'n fundamentele grondwetlike meganisme waardeur gewone mense hulle stem kan laat hoor oor hoe hulle geregeer word. In 'n land waar die afstand tussen burger en staat dikwels enorm voel, bied hierdie prosesse 'n brug.
Dit is in die lig van hierdie geleentheid dat Action Society sy People’s Police Bill voorstel.
Waarom nou, en waarom polisiëring?
Polisiëring is nie net 'n tegniese en teoretiese staatsfunksie nie. Dit is waarskynlik die belangrikste staatsregtelike funksie. Dit beskerm lewens en eiendom - altwee die grondslag vir 'n beskaafde samelewing - en dit skep die nodige vertroue vir die ekonomie, asook die gevoel van burgerlike orde. In Suid-Afrika het die nasionale, gesentraliseerde polisiediens, die SAPD, oor dekades heen begin ly onder al die simptome van oormatige sentralisasie: ondoeltreffende administrasie, korrupsie, swak reaksietyd, en 'n groeiende agterdog by gemeenskappe wat voel hulle word nie gehoor of beskerm nie.
Ons antwoord by Action Society is 'n grondwetlike wysiging wat voorsiening maak vir volwaardige polisiemagte op munisipale vlak.
Die People’s Police Bill
In eenvoudige taal stel die People’s Police Bill voor dat polisiëring in Suid-Afrika afgewentel word na distriks- en metropolitaanse munisipaliteite. Dit beteken:
Elke metro en distrik kry sy eie onafhanklike polisiediens, bestuur deur 'n Munisipale Polisiekommissaris wat deur die plaaslike munisipale raad aangestel word.
Hierdie munisipale polisiemagte sal volle bevoegdhede hê om misdaad te voorkom, te ondersoek en te beveg, net soos die SAPD dit tans doen (of eerder soms doen) maar met plaaslike beheer en aanspreeklikheid.
'n Nasionale ondersoekliggaam, die National Investigative Authority (NIA), word geskep om ernstige en multi-jurisdiksionele misdade soos dwelmhandel, mensehandel, terrorisme, en kubermisdaad te hanteer.
'n Nasionale koördinasieliggaam wat sal verseker dat daar samewerking is tussen die verskillende munisipale polisiemagte, en dat daar nasionale standaarde vir opleiding en etiek geld.
Daar word voorsiening gemaak vir meer aktiewe en betrokke gemeenskapspolisiëringsforums (“GPF’s”), asook onafhanklike provinsiale ondersoekdirektorate wat toesig hou oor munisipale polisiemagte en klagtes van wangedrag ondersoek.
Hierdie wetsontwerp se oorgangsreëling bepaal dat binne 24 maande na inwerkingtreding, die huidige SAPD se funksies binne munisipale grense aan die nuwe plaaslike magte oorgedra moet word.
Regverdigings vir ingryping
Die regverdiging vir so 'n ingrypende skuif in die struktuur van Suid-Afrika se polisiëring lê in 'n reeks oortuigende redes wat Action Society aanvoer: redes wat nie net die wenslikheid nie, maar die dringendheid van verandering onderstreep.
Op die voorgrond van redes vir die ingrypende verandering in die struktuur van Suid-Afrika se polisiëring, staan die falende werklikheid van 'n oorsentraliseerde stelsel. Die SAPD, soos dit tans funksioneer, het in vele opsigte nie daarin geslaag om sy grondwetlike plig na te kom nie. Gemeenskappe ervaar toenemend 'n polisiediens wat traag, ontoeganklik en ontoereikend is en die groeiende wantroue onder die publiek jeens die SAPD is 'n direkte uitvloeisel hiervan. Misdade word nie behoorlik ondersoek nie en daar bestaan byna geen aanspreeklikheid nie.
In kontras met hierdie mislukking, bestaan 'n ander moontlikheid, naamlik dat plaaslike kennis en nabyheid na behore aangewend word. Munisipaliteite op distriksvlak en in metropolitaanse gebiede is nader aan die mense wie se veiligheid op die spel is. Hulle verstaan die unieke aard van misdaad binne hul grense. Bendegeweld in die Kaapse Vlakte is nie dieselfde probleem as georganiseerde koperdiefstal in Mpumalanga of plaasaanvalle in die Vrystaat nie. Hierdie kennis is te vinde in gemeenskappe wat weet waar die gevaar lê, en wat vinniger en meer doelgerig kan optree indien hulle toegerus en bemagtig word.
Maar meer as bloot effektiwiteit, gaan die saak oor demokratiese aanspreeklikheid. 'n Polisiekommissaris wat aan 'n plaaslike raad verantwoording doen en nie aan 'n nasionale minister in Pretoria nie, is veel nader aan gemeenskapsdruk, burgerlike teenwig, en praktiese monitering. Hierdie nabyheid skep die druk vir beter bevoegheid en aanspreeklikheid. As iets skeefloop, is die verantwoordelike gesag nie op 'n televisie in 'n ander provinsie nie: hy of sy is net 'n gemeenskapsvergadering ver.
Suid-Afrika sal hierin nie alleen wees nie. In verskeie demokratiese lande is plaaslike polisiëring nie buitengewoon nie, maar die norm. In die Verenigde State, Duitsland en selfs Japan ('n eenheidstaat soos ons eie) is daar ruimte gemaak vir plaaslike variasie binne breër nasionale raamwerke. Die beginsel is eenvoudig: wanneer gesag nader aan die mense is, is dit makliker om verantwoordbaar te wees, en dikwels meer doeltreffend in uitvoering.
Vrae oor uitvoerbaarheid
Natuurlik sal so 'n verandering gepaard met beduidende uitdagings. Finansiële herverdeling van bronne, kapasiteitsbou by munisipaliteite, en die skep van nuwe koördinasiestrukture verg politieke wil en institusionele deursettingsvermoë.
Tog maak die Grondwet reeds voorsiening vir hierdie soort afwenteling. Artikels 156 en 206 van die Grondwet gee duidelike riglyne vir die oordrag van funksies na plaaslike regerings, mits hulle die kapasiteit het om dit uit te voer. Wat ontbreek is nie die regsraamwerk nie, maar die politieke moed om te implementeer.
Daarbenewens sal nasionale strukture soos die NIA (Nasionale Intelligensie Agentskap) steeds verseker dat ernstige misdaad hanteer word op 'n vlak wat doeltreffend en strategies is. Die model behou dus 'n balans tussen plaaslike beheer en nasionale samewerking, iets wat sin maak in 'n diverse land soos Suid-Afrika.
Openbare deelname
As daar een ding is wat hierdie wetsvoorstel duidelik maak, is dit dat openbare deelname nie net 'n formaliteit moet wees nie. Hierdie is nie net 'n tegniese wysiging van Artikels 199 en 205 van die Grondwet nie. Dit is 'n voorstel vir 'n ander tipe verhouding tussen burger en staat. 'n Verhouding waarin gemeenskappe nie net ingepas word in 'n nasionale stelsel nie, maar waar hulle self vorm gee aan hoe hulle beskerm word.
Openbare deelname in so 'n konteks gaan dus nie net oor kommentaar lewer nie, maar oor idees vorm: Hoe wil jy hê moet jou dorp, jou stad, jou distrik gepolisieer word? Wie moet aanspreeklik wees as dinge skeefloop? En hoe bou ons 'n model van polisiëring wat regtig mense dien, eerder as instellings?
In 'n neutedop: Dis als oor vertroue
Die debat oor die toekoms van polisiëring is eintlik 'n debat oor vertroue: vertroue in die staat, in mekaar, en in die moontlikheid van 'n veiliger, regverdiger samelewing. Suid-Afrikaners moet nie net toeskouers wees in ons eie demokrasie nie, maar medeskrywers van 'n meer suksesvolle toekoms.
Ons moet vra hoe ons kan seker maak dat beskerming iets is wat gewortel is in die plekke waar ons leef, nie net in Pretoria nie, maar in Porterville, Polokwane en Philippi.
Juanita du Preez is die hoof operasionele beampte van Action Society.
Nog artikels deur Juanita du Preez:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in: