Roedean-nasleep: Antisemitisme word stilweg genormaliseer
Ideologiese raserny verander samelewingstandaarde handomkeer.
Ek het 'n hele paar waarskuwingsartikels geskryf oor die rigting waarin die Suid-Afrikaanse regering en samelewing beweeg; 'n rigting wat lank reeds kommerwekkend is. En nou is ons hier.
'n Baie gerespekteerde skool in Johannesburg, Roedean Meisieskool, se eerste dames-tennisspan het geweier om teen die plaaslike Joodse skool King David, 'n geskeduleerde wedstryd te speel. Vir baie mense was dit bloot nog 'n sportomstredenheid, bloot 'n klein insident wat oor 'n paar dae in die paniekbevange nuussiklus sou verdwyn. Maar vir dié wat die groter ideologiese verskuiwings dopgehou het, was dit nie 'n verrassing nie.
Die geskiedenis leer ons dat ideologiese verandering selde met dramatiese revolusies begin. Dit begin stil. Die proses is so geleidelik dat baie mense dit eers raaksien wanneer dit reeds gevestig is, soos die “padda-in-kookwater” analogie. Wat dus vandag soos 'n uitsondering voorkom, word môre 'n norm.
Die tennis-insident tussen Roedean en King David is ongelukkig nie net 'n eenmalige ding nie. Dit is presies wat gebeur wanneer antisemitisme stadig genormaliseer word deur politieke retoriek, deur leuens wat herhaal word totdat dit soos die waarheid klink, en deur narratiewe wat onkrities deur dele van die media en deur regeringsfigure versterk word. Dit gebeur wanneer antisemitisme herverpak word as antisionisme, of as 'n sogenaamde morele stryd teen “volksmoord”. Wanneer die term volksmoord as politieke slagspreuk gebruik word sonder feite en waarheid, verloor dit nie net sy morele erns en gewig nie — dit word 'n instrument wat emosie mobiliseer en kompleksiteit vernietig.
Wanneer leerders begin glo dat dit aanvaarbaar is om nie teen 'n Joodse skool te speel nie, moet ons vra hoe ons by hierdie punt gekom het. Hulle reflekteer die idees wat hulle hoor: in die media, van politieke leiers, van aktiviste, en uit die breër samelewing.
Vorige Waarskuwings
In vorige OntLaer-artikels het ek gewaarsku oor presies hierdie soort situasie. Ek het geskryf oor die gevaar wanneer 'n geloofsideologie 'n land se denkwyse begin infiltreer en koloniseer.
Ek het verwys na die invloed van organisasies en politieke netwerke; na die rol van Gift of the Givers en Al Jama-ah binne die breër ideologiese landskap; en na Suid-Afrika se groeiende geopolitieke belyning met Iran. Ek het gewaarsku dat wanneer 'n regering konsekwent ideologiese posisies inneem teen een spesifieke staat, dit uiteindelik die publieke morele raamwerk beïnvloed. Van die ICJ-saak teen Israel, tot en met DIRCO se uitsetting van Israel se saakgelastigde — amptelik oor diplomatieke gedrag en protokolkwessies — het hierdie klimaat verder aangehits.
Om dinge nóg meer ontstellend te maak, is dat daar nou 'n voorgestelde Palestina-kurrikulum vir Suid-Afrikaanse Moslem-skole is: die ideologie beweeg van aktivisme na institusionele vorming. Wanneer geopolitieke konflik die klaskamer binnekom, word jong mense nie net ingelig nie; hulle word gevorm om 'n spesifieke wêreldbeeld as moreel vanselfsprekend te aanvaar.
Dit is presies hoe ideologiese infiltrasie werk—nie net deur geweld nie, maar deur normalisering. Hierdie proses is nie nuut in die geskiedenis nie. Antisemitisme het selde met geweld begin; dit het begin met ideologie, propaganda, breinspoeling, demonisering, en die ontmensliking van Jode.
Dan beweeg dit oor na boikotte. In baie geskiedkundige kontekste het die eerste stap nie geweld teen Jode behels nie, maar die idee dat dit aanvaarbaar is om nie met hulle te werk, speel of handel te dryf nie. Die argument was altyd, dit is nie haat nie, maar beginsel; nie diskriminasie nie, maar morele solidariteit. 'n Klassieke voorbeeld het onlangs weer kop uitgesteek by die Winter Olimpiese Spele, waar 'n Switserse kommentator die Israeliese bobslee-atleet, Adam Edelman, beskuldig het dat hy volksmoord in Gaza ondersteun. Dit is presies wat jy kry wanneer jy diskriminasie regverdig deur dit soos morele geregtigheid te laat lyk.
Hierdie proses word versterk deur sosiale media, waar komplekse konflikte gereduseer word tot slagspreuke en hutsmerke. Jong mense wat hul politieke identiteit vorm, word blootgestel aan 'n wêreldbeeld waarin moraliteit eenvoudig lyk: daar is slagoffers, en daar is onderdrukkers. Maar die werklikheid is selde so eenvoudig. Wanneer kompleksiteit verdwyn, verdwyn empatie ook; en sonder empatie word uitsluiting maklik geregverdig. In die propaganda-oorlog wen die anti-Israel-kant ver — nie omdat hulle noodwendig die waarheid aan hul kant het nie, maar omdat hulle soveel groter getalle het: ongeveer 15 miljoen Jode teenoor sowat 2 miljard Moslems. Dit is nie eers amper kop-aan-kop nie.
Hierdie dinamika is nie uniek aan Suid-Afrika nie. In Europa en Noord-Amerika sien ons soortgelyke patrone waar universiteitskampusse en skole ideologiese slagvelde word. Studente word aangemoedig om konflik deur 'n morele lens te sien wat min ruimte laat vir konteks. Suid-Afrika, met sy unieke geskiedenis van versoening en pluralisme, behoort juis meer weerstand teen hierdie tendens te bied, maar tans lyk dit asof ons eerder die internasionale polarisasie internaliseer.
Gerasionaliseerde Veragting
Wanneer 'n samelewing begin om ideologiese lojaliteit as maatstaf vir sosiale aanvaarding te gebruik, beweeg dit weg van pluralisme na uniformiteit.
Die vraag wat ons dus moet vra, is nie net of 'n spesifieke insident reg of verkeerd was nie. Die werklike vraag is of Suid-Afrika stadig besig is om 'n kultuur te ontwikkel waarin sekere gemeenskappe onregstreeks as problematies beskou word omdat hulle aan 'n internasionale konflik verbind word. Indien dit die geval is, is die gevaar nie net vir die Joodse gemeenskap nie, maar vir elke minderheidsgroep. Want sodra die beginsel gevestig is dat ideologie bepaal wie behoort, is niemand werklik veilig nie.
En dit is presies hoe samelewings ten kwade verander: nie deur een dramatiese oomblik nie, maar deur die ophoping van klein veranderinge wat saam 'n nuwe werklikheid vorm.
As Suid-Afrika werklik 'n reënboognasie wil bly, moet die beskerming van minderhede nie onderhandelbaar wees nie. Want wanneer ideologie begin bepaal wie welkom is en wie nie, verloor ons nie net diplomatieke balans nie, ons verloor die morele kern van ons samelewing.
Nog artikels deur Barend Wesseloo:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










