SA Erfreg: Ondermyn die Grondwet ons beskikkingsvryheid?
Die grondslae van privaat eiendomsreg word regterlik ondermyn.
Ingevolge die Suid-Afrikaanse reg kan 'n eienaar vrylik oor sy of haar bates beskik. Dit kan gebeur tydens 'n eienaar se lewe wanneer bates byvoorbeeld verkoop of geskenk word, maar ook by 'n eienaar se afsterwe, wanneer aan die beskikkings in die oorlede eienaar – genoem die testateur – se testament uitvoering gegee word.
In laasgenoemde verband word van “testeervryheid” gepraat. Dit behels dat 'n testateur na goeddunke kan bepaal wie sy of haar erfgename is en op welke terme en voorwaardes dié erfgename moet erf. Dit behels ook dat 'n testament se bepalings ná 'n testateur se afsterwe presies uitgevoer moet word en dat 'n hof nie goedsmoeds testamentêre bepalings mag wysig nie.
“Testeervryheid het grense”
Soos enige vryheid, is testeervryheid egter nie absoluut of onbeperk nie. Van oudsher af is aanvaar dat 'n testamentêre bepaling nie die goeie sedes in gedrang mag bring nie. Vandag word gesê dat 'n testamentêre bepaling nie teen openbare beleid mag indruis nie. 'n Goeie voorbeeld is 'n bepaling wat 'n erfgenaam verbied om in die huwelik te tree. Ons gemenereg skryf voor dat so 'n bepaling die goeie sedes skend omdat dit poog om die erfgenaam sy of haar keusevryheid ten opsigte van huweliksluiting te ontneem. Die testateur probeer dus om uit die graf te regeer deur een van die erfgenaam se belangrikste lewensbesluite – om in die huwelik te tree, al dan nie – aan bande te lê. Die gemenereg laat testateurs nie toe om testamentêre beskikkings op dié manier te misbruik nie. 'n Hedendaagse Suid-Afrikaanse hof sal só 'n voorwaarde ongetwyfeld aan die hand van openbare beleidsoorwegings nietig verklaar.
Sedert die aanvang van Suid-Afrika se huidige grondwetlike bedeling, word openbare beleid in terme van die Grondwet – en by uitstek die regte in die Handves van Regte vervat – geïnterpreteer en toegepas. Die gelykheidsbeginsel, wat onregverdige diskriminasie op grond van, onder andere, etnisiteit, geloof, geslag en ras verbied, staan sentraal in hierdie grondwetlike bekouing van openbare beleid. Die onvermydelike vraag is hoe hierdie grondwetlik-gefundeerde openbare beleid 'n testateur se testeervryheid beïnvloed? Suid-Afrikaanse howe het sedert die inwerkingtreding van die 1996 Grondwet by verskeie geleenthede oor hierdie kwessie uitsprake gelewer.
Beskikkings in die Openbare Sfeer
Die eerste uitsprake het oor testamentêre beursbepalings aan openbare universiteite en skole gehandel. Dié bepalings het uitsluitings bevat rakende wie vir die beurse in aanmerking kon kom. Dié beperkings was dikwels op geloof, geslag en ras gegrond. Die howe het byna deurgaans bevind dat hierdie uitsluitings op onregverdige wyse diskrimineer teen diegene wat van die beurse uitgesluit is en dat die betrokke testamentêre bgepalings dus teen openbare beleid indruis. Die howe het gevolglik beveel dat die uitsluitings uit die testamente verwyder moes word, sodat die beurse sonder inagneming van geloof, geslag en ras toegeken kon word.
Alhoewel hierdie beslissings 'n nuwe ingreep op testeervryheid meegebring het wat nie tydens die voor-grondwetlike tydperk bestaan het nie, is die beperking van testeervryheid, en dus beskikkingsvryheid, in hierdie uitsprake waarskynlik geregverdig. Een rede hiervoor is dat beursbemakings aan openbare universiteite en skole wesenlik liefdadigheidsbemakings is wat gekenmerk word deur die oogmerk om die openbare belang – spesifiek die bevordering van onderrig en opleiding – te dien. Die openbare belang word nie gedien deur liefdadigheidsbemakings wat onregverdige diskriminerende terme en voorwaardes bevat nie. Liefdadigheidsbemakings wat vanweë hul oogmerke in die openbare sfeer werking geniet, is dus weens hul openbare aard besonder vatbaar vir grondwetlike of beleidsvoorskrifte rakende gelykheid en nie-diskriminasie. Voornemende testateurs wat beoog om sulke bepalings in hul testamente in te sluit, moet derhalwe deeglik van hierdie regsontwikkeling bewus wees.
Dit beteken uiteraard nie dat geen ruimte vir uitsluiting of beperking ten opsigte van liefdadigheidsbemakings bestaan nie. Bemakings wat byvoorbeeld beurse toeken aan vroulike studente in studierigtings wat tradisioneel deur manlike studente oorheers is, behoort die nie-diskriminasietoets te slaag omdat dit op die regstelling van 'n geskiedkundige wanbalans gerig is. Dieselfde behoort te geld vir bemakings aan lede van bepaalde taal- of kultuurgemeenskappe wat aan onderverteenwoordiging by openbare universiteite of skole onderwerp word.
Beskikkings in die Privare Sfeer
Wat egter van private testamentêre beskikkings wat sonder enige liefdadigheidsoogmerk gemaak word? Hier kan gedink word aan bemakings aan 'n testateur se afstammelinge of syverwante.
Moet hierdie bemakings – wat uitsluitlik binne die testateur se private sfeer werking geniet – aan dieselfde streng grondwetlike of openbare beleidsvereistes as liefdadigheidsbemakings onderwerp word? In enkele uitsprake van afdelings van die Hooggeregshof is hierdie vraag ontkennend beantwoord. Ook die Hoogste Hof van Appèl het in een uitspraak bevestig dat private testamentêre bemakings nie oor dieselfde kam as liefdadigheidsbemakings geskeer moet word nie en dat 'n meer toegeeflike benadering tot eersgenoemde gevolg moet word. Die Konstitusionele Hof het egter in twee uitsprake beslis dat selfs private testamentêre bemakings nie op onregverdige wyse teen uitgeslote begunstigdes mag diskrimineer nie.
In die eerste van hierdie uitsprake is testateurs se vroulike afstammelinge van die vererwing van landbougrond uitgesluit en in die ander is die aangenome kinders van 'n trustoprigter se dogter as trustbegunstigdes uitgesluit. Die Konstitusionele Hof het bevind dat altwee uitsluitings op onregverdig wyse teen die uitgeslotenes gediskrimineer het en dus ongrondwetlik en teen openbare beleid is. Die Hof het voorts die onderskeid wat die Hooggeregshof en die Hoogste Hof van Appèl vroeër tussen die openbare sfeer waar liefgdadigheidbemakings werking geniet en en private sfeer waar familiebemakings funksioneer, verwerp.
Hierdie uitsprake van die Konstitusionele Hof is myns insiens kommerwekkend. Nie alleen kom dit op 'n ernstige ondergrawing van beskikkingsvryheid neer nie, maar dit maak 'n testateur se private en intieme besluite betreffende wie hy of sy as erfgename wil instel, onregmatig indien daardie besluite nie met die grondwetlike gelykheidsbeginsel versoenbaar is nie. Dit is des te meer problematies omdat niemand ingevolge die Suid-Afrikaanse reg daarop aanspraak kan maak om te erf nie. 'n Testateur se besluit om bepaalde persone van vererwing uit te sluit, ontneem dus nie daardie persone van enige voordele waarop hulle regtens 'n aanspraak gehad het nie. Anders gestel, onterwing bring geen wesenlike skadelike gevolge vir die onterfdes mee wat regtens vermy moes word nie. 'n Testateur wat private testamentêre beskikkings maak, behoort myns insiens die volste reg te hê om te bepaal wie van hom of haar sal erf en behoort na goeddunke moontlike erfgename van sodanige private bemakings te kan uitsluit, selfs al berus dié uitsluitings op gronde waarop daar nie in die openbare sfeer gediskrimineer mag word nie. Die Konstitusionele Hof se uitsprake oor hierdie kwessie waarin 'n teenoorgestelde standpunt gehandhaaf is, hou dus 'n ernstige bedreiging vir eiendomsreg – 'n reg wat reeds groot uitdagings in die gesig staar – in deurdat dié uitsprake beskikkingsvryheid as 'n fundamentele aspek van eiendomsreg binne die private sfeer ondermyn.
Professor François du Toit is 'n akademiese regsgeleerde wat in die erf- en trustreg spesialiseer. Hy het al plaaslik sowel as internasionaal gepubliseer oor die invloed van grondwetlike regte en openbare beleid op testamentêre bemakings.
Nog artikels op OntLaer:
SOSIALE MEDIA
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.