Devolusie is 'n gelaaide woord in die Suid-Afrikaanse politiek, maar dit behoort nie te wees nie.
Al klink dit soos iets uit 'n staatsdienshandleiding of politieke filosofie, is dit in werklikheid net 'n nuwe voorgestelde model vir 'n sisteem wat duidelik nie werk nie. As 'n mens buite die handboeke na die werklikheid op straat kyk, begin dit sin maak. Devolusie beteken eintlik maar net om mag terug te gee aan mense wat beter weet wat aangaan, en wat die vermoë het om op te tree.
Suid-Afrika het dit ernstig en dringend nodig. Veral as jy kyk na hoe die huidige model daarin misluk om gemeenskappe te beskerm teen georganiseerde misdaad, afpersing, bendegeweld en vuurwapenhandel.
Gemeenskappe in Suid-Afrika sit tans hoofsaaklik in twee bokse. Aan die een kant is daar munisipaliteite wat die wil het om misdaad doeltreffend te beveg, maar nie die nodige regsordelike gesag het om dit te laat gebeur nie. Aan die ander kant is daar gemeenskappe wat eenvoudig ly as gevolg van die swak dienslewering deur 'n gesentraliseerde SAPD.
In beide gevalle is mense die slagoffers.
Sentralisme in 'n verdeelde samelewing
Suid-Afrika se polisiestelsel is steeds geskoei op 'n sentralistiese staatslogika wat nie meer in lyn is met die realiteite van 'n gefragmenteerde en uiteenlopende samelewing nie. Alles moet deur Pretoria loop— opdragte, begrotings, ondersoekmandate. Maar misdaad is nie 'n abstrakte, nasionale probleem nie. Dis plaaslik en dit is persoonlik.
Jy het nie 'n sentrale bevel nodig om uit te vind wie die koperkabels in Bishop Lavis steel nie. Jy het iemand nodig wat die buurt ken, mense wat weet wie skuld vir wie geld, wie verkoop ongeregistreerde vuurwapens agter in die winkel, en wie praat eerste as daar 'n klopjag is. In sulke situasies beteken inligting dikwels die verskil tussen lewensverlies en 'n arrestasie.
'n Polisiebeampte in die Kaapse Metroraad kan daardie inligting hê, maar volgens wet mag hy of sy niks met dit doen nie, en in praktyk weier die SAPD om saam te werk, want die SAPD moet elke ernstige saak oorneem, maak nie saak hoe oorlaai of ontoegerus hulle is nie.
Munisipaliteite wat kan
Stel jou voor jy is 'n beampte in die metropolisie. Jy het opleiding en toerusting en die werklike wil om jou gemeenskap veilig te hou, en jy het gemeenskapskennis wat SAPD nie eens naastenby het nie. Jy arriveer eerste op 'n toneel van 'n bende-skietery. Jy weet wie dit gedoen het, die buurt weet dit ook. Maar jy mag nie self ondersoek instel, die vuurwapens toets, 'n saakdossier voltooi of selfs die saak aan 'n aanklaer voorlê nie.
Wat moet jy doen? Jy moet wag vir SAPD, al weet jy hulle sal waarskynlik eers ure later opdaag. En as hulle wel opdaag, is daar geen waarborg dat die saak 'n voet verder sal vorder nie.
Dis soos om 'n brandweerman te wees wat eerste by die toneel opdaag, maar nie 'n tuinslang mag oopdraai nie. Jy’s daar, jy’s toegerus, jy sien hoe die vlamme klim, maar jy moet wag vir iemand van 'n ander dorp om eers toestemming te gee.
Munisipaliteite wat nie kan nie
Maar wat van munisipaliteite wat nie op dieselfde vlak is as Kaapstad nie? Ons almal weet dat die meerderheid munisipaliteit sukkel en grootliks in duie stort. Dis die plekke waar korrupsie, politieke inmenging, of bloot 'n gebrek aan bestuursvermoë die plaaslike strukture ondermyn.
Dis 'n geldige vraag. En dit is presies waarom devolusie nie beteken dat alle mag sommer lukraak oorgedra moet word nie. Dit beteken dat ons 'n differensiële model moet hê: een wat kapasiteit beloon waar daardie kapasiteit bestaan en waar prestasie gemeet kan word.
Dis ook waarom devolusie nie 'n sinoniem vir afwenteling is nie. Dis 'n proses van samewerking, met toesig en verantwoordbaarheid. En ja, met die moontlikheid dat sommige strukture hul mandaat kan verloor as hulle dit misbruik of nie gebruik nie.
Eenvoudig gestel, daar waar munisipaliteite kan, gee aan hulle die nodige toestemming om ten volle te kan polisieer. Daar waar hulle nie kan nie, moet die fokus val op versterking, nie vervanging nie. Dis hier waar die provinsiale en nasionale regering 'n rol het om op te tree as vennoot, nie as heerser nie. Jy bou kapasiteit deur ondersteuning, opleiding, en gesamentlike operasies en nie deur die aanhoudende ontneming van mandate en bevoegdhede nie.
Dis 'n fout om swak munisipale bestuur as regverdiging vir sentralisme te gebruik. Jy los nie 'n kwesbare wyk se veiligheidsprobleme op deur hulle permanent onder voogdyskap te hou nie. Skep eerder 'n afsonderlike model van oorgang: 'n duidelike padkaart waar daar prestasiedoelwitte, onafhanklike monitering en progressiewe mandaat-oordragte is. In kort: maak dit moontlik om op te gradeer, eerder as om in permanente afhanklikheid vas te val.
As ons ooit gaan aanbeweeg van 'n polisiestelsel wat nie werk nie na een wat werk vir almal, moet ons bereid wees om hierdie onderskeide te tref.
Devolusie is nie radikaal nie
Dis belangrik om te noem dat devolusie nie 'n revolusionêre voorstel is nie. Dis nie federalisme op steroïede nie. Dis ook nie 'n DA-uitvindsel of 'n Wes-Kaapse droom van onafhanklikheid nie - dit is bloot 'n aanpassing van 'n polisiemodel wat nie meer by die tye en by gemeenskappe se behoeftes pas nie. Die idee dat alle misdaadondersoeke vanuit 'n nasionale eenheid beheer moet word is reeds getoets (al vir 30 jaar) en te lig gevind.
Wat ons voorstaan, is 'n model waar metropolisiemagte die bevoegdheid kry om sekere ernstige plaaslike misdade ten volle te ondersoek, vanaf die misdaadtoneel tot by die hof. Met toegang tot ballistiese toetse, vingerafdrukdatabasisse, en regstreekse kommunikasie met aanklaers. Dis wat effektiewe misdaadbestryding vereis. En dis wat gemeenskappe verdien.
Die ware risiko lê in niksdoen
Daar is mense wat sê devolusie sal lei tot oorvleuelings en magstryde. Maar hoe lyk die alternatief? Dis nie net dat SAPD sukkel nie, dis dat hulle struktureel nie daartoe in staat is om vinnig genoeg aan te pas by gemeenskapsdinamika nie. Dit sal inherent nooit kan nie, weens sy gesentraliseerde aard. Dis die aard van 'n nasionale mag in 'n land met uiteenlopende maatskaplike realiteite.
Om devolusie te verwerp uit vrees vir turf-oorloë, is soos om 'n brandkraan nie oop te draai nie, uit vrees dat die emmer dalk te vol gaan raak. Intussen brand die huis af. Ons het reeds te veel tyd gemors. Te lank gewag dat 'n enkele, gebrekkige struktuur 'n land met twaalf amptelike tale en 'n geskiedenis van wetstoepassingswantroue alleen kan dra.
Geen toweroplossings
Veiligheid begin nie in Pretoria nie. Dit begin in die straat, voor jou huis. Dis die wetstoepasser wat weet watter seun nou by 'n bende aangesluit het. Dis die gemeenskapsorganisasie wat gister al die plan gehad het, maar nie die hulpbronne of toestemming van die staat nie. Dis die onderwyser wat weet wie van sy leerlinge hul ma se vuurwapen in die kas gekry het. Hierdie mense is nie “stakeholders” nie. Hulle is die eerste linie.
Polisie-devolusie is nie 'n toweroplossing nie. Maar dis 'n logiese stap in 'n stelsel wat nou meer met verskonings as resultate werk. Die gevaar lê nie in verandering nie. Dis in die vassteek.
As ons dit ernstig daaroor is om 'n verskil te maak, moet ons begin deur te vra: wie het die kapasiteit, en wie kort net die mandaat?
Ian Cameron, DA-LP, is die Voorsitter van die Portefeuljekomitee oor Polisie in die Suid-Afrikaanse Parlement. Hy skryf in sy persoonlike hoedanigheid.
Nog artikels deur gasskrywers:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in: