Semiotiek se Onsigbare Mag
Van hiërogliewe tot emoji’s en wat dit oor ons wêreld sê.
Semiotiek is die studie van tekens en simbole en die manier waarop mense dit gebruik om betekenis te skep en oor te dra. Van antieke beskawings tot die mees moderne sosiale media platforms is tekens 'n fundamentele deel van menslike interaksie. Simbole dien as 'n visuele en kulturele kode wat vinniger en soms dieper boodskappe kan oordra as woorde alleen. Selfs padtekens kan onder die omvang van die semiotiek val.
Handelsmerke maak al dekades lank gebruik van semiotiek om 'n spesifieke identiteit te vestig en om emosies by verbruikers op te wek. Nike se bekende “swoosh” is byvoorbeeld nie bloot 'n eenvoudige regmerkie nie, maar 'n simbool van beweging, spoed en prestasie. McDonald’s se goue boë het 'n wêreldbekende simbool van kitskos en toeganklikheid geword. Apple se appel met die happie in roep assosiasies met kennis en innovasie op. Hierdie beelde het deurgaans dieselfde effek as woorde of slagspreuke, en sluit aan by wat Seth Godin in sy boek This is Marketing beklemtoon, deurdat bemarking se kern oor stories en betekenis gaan.
'n Suksesvolle handelsmerk is nie bloot 'n produk nie, maar 'n simbool waarin mense hul eie identiteit en waardes herken.
Emoji’s as moderne hiërogliewe
In die digitale era sien ons 'n soortgelyke verskynsel in die gebruik van emoji’s. Hulle het 'n moderne rol soortgelyk aan die hiërogliewe van antieke Egipte. Waar die Egiptenare prentjies van diere, mense en natuurverskynsels gebruik het om gedagtes en idees vas te lê, gebruik mense vandag klein digitale simbole om emosies en situasies vinnig oor te dra. Soos hiërogliewe, is emoji’s ook afhanklik van konteks en kultuur. Sonder die gedeelde kode kan die boodskap maklik verlore gaan of verkeerd uitgelê word.
Een van die mees interessante voorbeelde van hoe betekenis kan verskuif, is die duim-op emoji. In die fisieke wêreld is dit lank reeds 'n universele gebaar van instemming of goedkeuring. In Suid-Afrika beteken het dit ook verskillende betekenisse, soos “shap” of “ek het 'n ry-geleentheid nodig”. Konteks is dus belangrik.
Digitale platforms het egter die duim-op ook nuwe betekenisse gegee, en dit word nou op verskillende maniere deur verskillende generasies begryp. Ouer generasies begryp die duim-op nog meestal as 'n bevestiging of 'n eenvoudige “ja”. Jonger gebruikers, veral binne die Generasie Z-groep, beskou dit soms as kortaf of selfs passief-aggressief – 'n teken dat die gesprek klaar is en nie verder hoef te gaan nie. Hierdie botsende uitlegte wys hoe semiotiek nooit vas is nie, maar voortdurend verander namate mense se kulturele kodes en verwysingsraamwerke verskuif.
Van mode tot erkenning
Kentekens speel ook 'n spesiale rol in semiotiek, omdat dit dikwels meer onregstreeks en simbolies van aard is. Dit kan alles wees van weermaguniforms tot mode-items, soos Coco Chanel, wat 'n sosiale status aandui.
Kentekens werk omdat dit binne 'n kultuur 'n gedeelde betekenis dra. Kentekens kan selfs as 'n vorm van erkenning beskou en versamel word. Voortrekker-onderbaadjies wat wys watter leersame aktiwiteite deur die Voortrekker-jeugbeweging se kinderlede voltooi is, 'n voortsetting van die goue sterretjies wat op kleuters se voorkoppe geplak word as erkenning van goeie gedrag.
Hierdie tekens vorm 'n soort stille kommunikasieraamwerk waarin betekenis slegs verstaan word as die waarnemer die kulturele kode ken. In bemarking en sosiale media kan kentekens ook subtiele boodskappe oordra oor identiteit, styl en affiliasie, wat heeltemal ooreenstem met Godin se idee dat mense gekoopte produkte en simbole gebruik om hul eie storie te vertel.
Semiotiek en oorloë
Semiotiek het ook 'n kritiese rol in die konteks van oorloë en militêre geskiedenis gespeel. In oorlogstyd gebruik soldate, leiers en burgerlikes tekens om strategiese en propaganda-boodskappe oor te dra.
Vlae, embleme en selfs simbole op uniforms kon duidelike boodskappe van lojaliteit, rang of waarskuwing oordra. Tydens die Tweede Wêreldoorlog is propaganda-plakkate deur Geallieerdes en die As-magte gebruik om ideologie, morele steun en vrees te versprei, terwyl kodetaal en geheime simbole in die spioenasiewêreld noodsaaklik vir oorlewing was. Hierdie voorbeelde wys hoe tekens nie net kultuur en identiteit vorm nie, maar ook oorlewing en strategiese kommunikasie in ekstreme situasies beïnvloed.
Die studie van semiotiek maak dit dus moontlik om te verstaan hoe ons deur simbole met mekaar kommunikeer. Van Egiptiese hiërogliewe tot internasionale handelsmerke en moderne digitale geselskapstaal, leef ons in 'n wêreld van tekens. Om hierdie tekens te kan lees, is om 'n dieper insig te kry van hoe mense dink, voel en hulself met ander verbind. Semiotiek stel ons in staat om krities na advertensies, visuele kommunikasie, mode, sosiale rituele en selfs daaglikse interaksies te kyk en verstaan watter boodskappe woordeloos oorgedra word.
Dit wys ook hoe tekens voortdurend verander en aanpas namate kulture, tegnologie en generasies verskuif, wat semiotiek nie net 'n studie van die verlede maak nie, maar ook as 'n sleutel-instrument om die dinamika van hedendaagse en toekomstige kommunikasie te verstaan.
Hilde Kruger is 'n grafiese en multimedia-ontwerper, skrywer en bemarker met 'n sterk fokus op strategiese konseptualisering en handelsmerkontwikkeling. Sy het haar honeursgraad in BA Grafiese Ontwerp, met Multimedia as nagraadse studies, by die NWU-Potchefstroom voltooi en is sedert 2017 'n lid van die Internasional Society of Typography Design (ISTD). Vandag is sy die eienaar van 'n kreatiewe eenmansaak en werk met verskeie organisasies en instansies.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.