Slotwoord: "My teiken was tog die diskoers oor Afrikaans se geboortedag"
Ds. André Bartlett lewer sy slotwoord in die debat met die Afrikanerbond (AB) se Jan Bosman.
Daar was 'n tyd dat jy jou boeglam sou geskrik het as die uitvoerende sekretaris van die destydse Afrikaner-Broederbond (AB) jou in die openbare media aanspreek het oor iets wat jy geskryf het. As die hoofsektretaris van hierdie organisasie boonop sou verklaar dat hy jou nie ken nie, kon jy maar weet dat daar 'n leeftyd van marginalisering vir jou voorlê, dat jy behoorlik “ont-laer” sou word uit die geledere van die Afrikaner establishment.
Gelukkig het die tye verander, en het die AB (nou die Afrikanerbond) 'n meer normale plek ingeneem in die diskoerse van volk en samelewing. Dit is derhalwe met vrymoedigheid dat ek in gesprek tree met die AB se hoofsekretaris, Jan Bosman, oor sy repliek van 13 Junie op my vorige bydrae op OntLaer van 6 Junie 2025.
Bosman het my kennelik op verskeie punte verkeerd verstaan en 'n paar dinge wat ek gesê het, misgelees. Sonder om uitvoerig op alles in te gaan, miskien die volgende paar aantekeninge by wyse van repliek op sy repliek:
Ek is 'n Afrikaner, lees graag Afrikaanse letterkunde, het twee boeke en verskeie artikels in Afrikaans gepubliseer, en vind my tuis binne die geselskap van 'n wye verskeidenheid van Afrikanervolksgenote. Ek is ook nie net Afrikaner wanneer dit my pas nie, en probeer ook nie om gou genoeg afstand tussen my en ander Afrikaners te kry nie - soos wat Bosman oor sommige Afrikaners se gedrag sou beweer.
Ek is ook baie ander dinge: 'n Suid-Afrikaner, 'n belydende Christen, 'n lidmaat van die NG Kerk, 'n wêreldburger, en iemand wat van musiek, tuinmaak en kosmaak hou. Niks hiervan staan teenoor my Afrikanerskap nie, maar maak my tog méér as 'n Afrikaner.
Ek stem ook volkome saam dat ons as Afrikaners 'n grondwetlike reg het om ons taal- en kultuurbelange te bevorder. Ek het dus ook nie 'n probleem dat die amptelike erkenning van Afrikaans as landstaal in 1925 vanjaar feestelik gevier word nie, en het ook as matrikulant in 1975 heelhartig deelgeneem aan die Taaljaar toe die stigting van die Genootskap van Afrikaners herdenk is. My probleem (en dit was die punt van my vorige bydrae) is dat sommige Afrikaners hierdie datums beskryf as die herdenking van die geboortedag van Afrikaans – asof die taal eers in 1875 of 1925 gebore is.
Hierdie tendens versterk myns insiens die wanbegrip by baie mense dat Afrikaans 'n witmanstaal is, wat toevallig ook deur ander mense wat nie wit is nie, gepraat word. Daarmee word die verwydering tussen byvoorbeeld wit en bruin Afrikaanssprekendes in stand gehou, en word die bydrae van die bruin bevolking in die ontstaan van Afrikaans misken. Hierdie verdeeldheid het die potensiaal om goedbedoelde en legitieme pogings om die taal te bevorder in die wiele te ry.
Oor die Afrikanerverklaring van 2024, die volgende: Ek het probeer aantoon dat die Verklaring werk met 'n eng, uitsluitende omskrywing van Afrikanerskap: Afrikaners word beskryf as van Europese herkoms; ons, hierdie Afrikaners van Europese (dus wit) herkoms, het intussen inheems geword en het onder andere “ons taal” na Afrika genoem. As toegif word erken dat ons ons taal met mense van ander bevolkingsgroepe deel. Dit is my probleem: dat ons Afrikanerskap ekskusief beskryf in terme van rasseherkoms, in plaas daarvan om taal en kultuur te neem as primêre merkers van wie ons is. (Oor ander aspekte van die Afrikanerverklaring – byvoorbeel die hunkering na 'n eie grondgebied – het ek my elders in 'n ander artikel uitgelaat).
Oor Bosman se neerhalende, weliswaar onjuiste tipering van die Defend Our Democracy (DOD)-beweging wil ek nie meer sê nie, as dat 'n klein bietjie speurwerk hom sou laat besef het dat dit 'n breedgebaseerde burgelike samelewingsgroepering is, waarby 'n wye spektrum ander burgerlike organisasies geaffiliëer is. En natuurlik sal die DOD besorg wees oor die bedreiging van die grondwetlike regte van enige segment van die samelewing en is die AB meer as welkom om die vermeende, of werklike bedreiging van Afrikanerbelange met die DOD op te neem. Laat ons ons egter weerhou van valse narratiewe, soos dat Afrikaners die slagoffers van volksmoord en die primêre teikens van geweldsmisdade is.
Ten slotte wil ek darem net sê dat ek nie omgee dat Bosman my nie ken nie: ek word eerder getakseer op die inhoud en waarde van my bydrae, as op wie ek is en of ek bekend is in die geledere van die voormense in die Afrikanergemeenskap.
Ds. André Bartlett 'n lid van die uitvoerende komitee van die Defend Our Democracy-beweging en 'n afgetrede predikant van die NG Kerk.
Lees die voorafgaande artikels in hierdie debat hieronder:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in: