Afrikaans100: Hoekom so verknog aan die verkeerde verjaardae?
Die hoër kultuuruitdrukkings wat wit en bruin Afrikaanses deel is tog feitelik identies.
Die laaste tyd is daar verkeerdelik deur verskillende persone verwys na die Afrikaanse taal wat vanjaar honderd jaar oud is.
Dit word gedoen in die konteks van die Afrikaans100-feesvieringe, wat die erkenning deur die Suid-Afrikaanse parlement van Afrikaans as amptelike landstaal op 9 Mei 1925 herdenk.
Die feit dat Afrikaans100 hiermee verband hou, impliseer egter by voorbaat dat Afrikaans meer as honderd jaar oud is. 'n Taal kan immers slegs amptelike status verkry as dit reeds geruime tyd voor dergelike erkenning bestaan het en deur 'n beduidende aantal persone gepraat is.
Toe die Suid-Afrikaanse Akademie vir Taal, Lettere en Kuns (later die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns) in 1909 gestig is met onder andere die doel om die Hollandse taal en letterkunde te bevorder, is daar duidelik gestel: "Onder 't Hollands wordt verstaan: beide taalvormen gebruiklijk in Zuid-Afrika", dit wil sê Nederlands en Afrikaans. Ook toe reeds is Afrikaans as 'n eie, reeds bestaande taalvorm naas Nederlands beskou.
Die mistasting oor die ouderdom van Afrikaans was vyftig jaar gelede in die Taaljaar van 1975 ook by sommige mense aanwesig. In daardie jaar is die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) op 14 Augustus 1875 gevier. Die hoogtepunt van 1975 se vieringe was die onthulling van die Taalmonument in die Paarl. Ook toe het baie mense gepraat van Afrikaans wat toe “honderd jaar oud” sou wees.
Dat Afrikaans nie toe eers gebore is nie, spreek duidelik uit die feit dat die stigtingsvergadering van die GRA direk verband gehou het met onderhandelinge met die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap om die Bybel in Afrikaans te vertaal. Enige Bybelvertaling word immers slegs oorweeg vir bestaande tale, met 'n redelik groot gebruiksgemeenskap.
Dat Afrikaans heelwat ouer as 100 of 150 is, word deur deeglike navorsing bevestig. So wys Wannie Carstens en Edith Raidt in hulle boek Die Storie van Afrikaans dat die proses van kreolisering of vereenvouding van gesproke Nederlands aan die Kaap reeds vroeg ná die vestiging van die VOC-verversingspos begin het. Dit het waarskynlik te doen gehad met kontak en wisseling met nie-Nederlandssprekendes – Duitse en Franse koloniste, maar ook plaaslike Khoi en slawe uit die Ooste en van elders in Afrika. Die behoefte aan kommunikasie tussen hierdie verskillende taalgroepe het aanleiding gegee tot die geleidelike vervorming van die Nederlands wat aan die Kaap gepraat is, en het met verloop van tyd (Carstens en Raidt praat van 'n tydperk van 180 jaar) gelei tot 'n selfstandige taal, Afrikaans.
Aanvanklik is Afrikaans nie geag as 'n taal wat geskik is vir die hoër funksies van menslike kommunikasie (soos letterkunde en wetenskaplike diskoers) nie, en is dit afgemaak as “kombuistaal” – slegs geskik vir kommunikasie met bediendes en plaaswerkers. Carstens en Raidt verklaar: “[T]een die einde van die 18de eeu (was dit reeds) die algemene en vir baie sprekers selfs die enigste omgangstaal by wit en bruin mense, asook slawe in die kolonie aan die Kaap.”
Waarom klou 1875 en 1925 dan?
Wat my interesseer is die vraag waarom die stigting van die GRA in 1875 en erkenning van Afrikaans as amptelike landstaal in 1925 in baie mense se denke die “geboortedatum” van Afrikaans verteenwoordig, terwyl die taal self veel ouer is.
My vermoede is dat dit is omdat Afrikaans in die gemoed van baie mense nog gesien word as ‘n “witmanstaal” – die taal van blanke Afrikaners. Waarskynlik daarom die klem op die stigting van die GRA deur 'n groep Afrikanermans van die Paarl en die fokus op die amptelike erkenning van Afrikaans deur die wit parlement 'n 100 jaar gelede. In hierdie verband is dit opmerklik dat die stigterslede van die SA Akademie ook almal wit mans was: die eerste vrou is eers later as lid toegelaat, en bruin Afrikaanssprekendes nog heelwat later as dit.
Indien my vermoede reg is, beteken dit dat hierdie toeëiening van Afrikaans as taal van die Afrikanervolk saamhang met die opkomende Afrikanernasionalisme van die laat 19de en die eerste helfte van die 20ste eeu. In sowel die Eerste Taalbeweging van die 1870’s en die Tweede Taalbeweging van die vroeë 1900’s is taal en volk ten nouste met mekaar verbind – soos uitgedruk in die lied “Afrikaners, volksgenote”: “Wees getrou aan volk en taal.” In die uitsprake en publikasies van hierdie vroeëre (en sommige latere) taalstryders het die veelrassige smeltkroes waarin Afrikaans gevorm is, selde of nooit ter spake gekom nie. Dit was “ons” taal wat ook deur “hulle” gepraat word.
Lees dit nou saam met die Afrikanerverklaring van verlede jaar waarin nie taal nie, maar Europese afkoms as samesnoerende uitgangspunt geneem word. So word ondermeer verklaar:
“Ons voorouers het eeue gelede uit verskillende Europese lande hiernatoe gekom, maar ons het hier Afrikaners geword, lank voordat Suid-Afrika sy ontstaan as land gehad het. Ons taal en kultuur is inheems aan Afrika en nêrens anders nie. Ons het onsself, ons taal en baie van ons instellings na Afrika vernoem. Afrikaners is 'n self-gedefinieerde kultuurgemeenskap – 'n volk – en nie bloot 'n taalgroep of 'n rassegroepering nie. Ons beklemtoon dat ons deur Afrikaans ook 'n taalverbintenis het met die meerderheid bruin Suid-Afrikaners, asook met 'n beduidende aantal mense uit ander Suid-Afrikaanse gemeenskappe.”
“Ons” – Afrikaners – is hiervolgens 'n eie afsonderlike kultuurgemeenskap afkomstig uit Europa, teenoor die veronderstelde “hulle” – die meerderheid van bruin Suid-Afrikaners en 'n beduidende aantal mense uit ander Suid-Afrikaanse gemeenskappe. Waarom daar gewag gemaak word van 'n afsonderlike wit kultuurgemeenskap, terwyl die hoër kultuuruitdrukkings van ten minste wit en bruin Afrikaanssprekendes feitlik identies is, word nie verduidelik nie. Die werklikheid is egter dat sowel “ons” as “hulle” Afrikaans as ons moedertaal beskou waarin ons praat, skryf en aanbid, en waarin ons op skool en tersiêre vlak onderrig sou wou word.
Dit is ook opvallend uit hierdie aanhaling vanuit die Afrikanerverklaring dat daar verwys word na “ons” (wit Afrikaners) wat “ons taal” na Afrika vernoem het – let wel, nie “ons wat ‘n taal praat wat na Afrika vernoem is nie”, maar “ons taal wat ons vernoem het”.
Waarom my besorgheid oor hierdie kwessie van die ouderdom van Afrikaans? Is dit nie onnodige haarklowery nie?
Ek is daarvan oortuig dat hoe meer ons praat van Afrikaans wat 100, of dan 150 jaar oud is, hoe meer misken ons die feit dat die taal nie net ouer as dit is nie, maar ook die gemeenskaplike taal van 'n veel breër deel van ons gemeenskap is. Hoe meer ons aan laasgenoemde feit erkenning gee, hoe meer dra ons by tot versoening en gemeenskaplikheid onder die verskillende groepe wat steeds sukkel met die verdeeldhede van ons apartheidsverlede.
Ons taal en ons kultuur is gevorm in die smeltkroes van kontak tussen mense uit verskillende wêrelddele (Europa, Afrika en Asië) wat met mekaar moes leer saamleef.
Dit bly steeds die betekenis van Afrikaans – dat dit kan bydra tot ons saamleef hier in Afrika.
Ds. André Bartlett 'n lid van die uitvoerende komitee van die Defend Our Democracy-beweging en 'n afgetrede predikant van die NG Kerk.
Nog artikels oor Afrikaans100:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in:
Ek was by die lesing op 8 Mei in die Paarl. Dit was gelewer deur professor Deborah Meyer van die Sol Plaatje Universiteit. Niemand was misken nie. Die standarisering van Afrikaans is gedenkwaardig. Dit was gedoen binne die parameters van die tyd en voldoen gladnie aan moderne standaarde nie. Dit maak dit egter nie histories irrelevant nie. Ek is nie 'n Christen nie, en volgens die Afrikanerverklaring van 2024 ook nie 'n Afrikaner nie. Maar ek steur my nie daaraan nie.