By OntLaer het ons onderneem om nie opvoerig oftewel performatief te wees nie. So, ons wil nie nasionale vakansiedae vier bloot omdat dit vir toeskouers goed en reg lyk nie, of deugseine daaroor probeer uitstuur nie. Vryheidsdag is wel ‘n verdere geleentheid om reguit, opregte en nuwe invalshoeke oor ons land, haar regerings- en bedelingsprobleme, en haar talle kwellinge die lig te laat sien.
Benewens ‘n bydrae deur Daniël het ons ook twee lesersbriewe op vandag se spyskaart. Al drie spreek breedweg die tematiek van Vryheidsdag aan, en gaan selfs verder as dit, dieper die fondasies in.
Dr Sias Mostert, gemeenskapsman en satellietbouer van formaat, skryf uit Stellenbosch oor praktiese stappe waarmee Suid-Afrikaners deur gesamentlike vryheidsvieringe, ‘n beter nasionale pad kan vat. Wat vir my die liriek uit Koos Kombuis se “Johnny is nie dood nie” oproep: jy wou jou mense ompraat / om ‘n nuwe kans te vat.
Vir die pseudonieme Sulla Felix, ‘n regsgeleerde van Johannesburg wat ook ‘n bydrae ingestuur het, beteken om ‘n nuwe kans te vat wel ‘n radikale nuwe soort nasionalisme onder Suid-Afrikaners. Hierdie polemiese skryfstuk skets die fundamentele probleme aan die hart van die begrip “Suid-Afrika”, gee ‘n oorsig van ons geskiedenis, en beskryf in genuanseerde terme hoe Afrikaners ‘n kernrol in ‘n nuwe nasionalistiese gees moet speel. Meesleurend. Uniek.
Onse Daniël Eloff het ook nie op hom laat wag nie, en bekyk die begrip “vryheid” soos ons dit in Suid-Afrika se huidige bedeling teëkom, krities. Vir my het die vraag opgeduik: Is vryheid wat deur staatsvoorskrifte omsoom word, enigsins beskryfbaar as vryheid? Daniël probeer antwoorde verskaf.
Lekker lees en goed rus,
Frederik