'n Week van Geskille: Gesprekke oor Grense, Geloof en Geslag
Soms voel dit of ons samelewing al hoe harder praat, maar al hoe minder luister. Mense vorm natuurlik laers – ideologies, kultureel, geestelik – en bou hul mure hoër terwyl die wêreld daar buite brand van onsekerheid en verandering.
Die digitale era, wat beloof het om gesprekke te verbreed en mense oor grense heen met mekaar in gesprek te bring, blyk in werklikheid dikwels 'n versterker van ideologiese afsondering te wees. In plaas daarvan om brugbouers te wees, het algoritmes en sosiale media ons dikwels net meer gedwing in ons eie borrel van bevestiging in. Dikwels soek mense nie net antwoorde nie maar hulle soek bevestiging van wat hulle reeds glo. Die internet, met al sy belofte van pluralisme, het ironies genoeg tot die verharding van laers van oortuiging gelei.
Maar hierdie week op OntLaer stuur ons skrywers hul gedagtes uit na buite hul eie laers. Verskeie uiteenlopende skrywers, met menings van regs tot links, van gelowiges tot humaniste, van lokaal tot globaal, het elk 'n perspektief gebied wat die gesprek oopmaak sonder om hul beginsels prys te gee. Dit was nie konsensus wat hier geskitter het nie, maar die gesonde wrywing van opsetlike uiteenlopende meningsvorming – iets wat in 'n demokratiese kultuur nie vermy moet word nie, maar gevier moet word.
So waarom OntLaer?
Paul Maritz verduidelik hoekom OntLaer bestaan: nie om ideologies neutraal te wees nie, maar om ideologies deursigtig te wees. Hierdie is nie 'n platform sonder oortuigings nie. Dit is 'n platform wat ruimte skep vir botsende oortuigings om mekaar in die oë te kyk. In 'n era waar debatte dikwels stilgemaak of verdraai word deur politieke filters, bied OntLaer 'n seepkissie sonder sensuur – maar ook sonder verskoning. Hier mag jy jou saak stel, maar jy moet jou argument bring. Want gesprek sonder die risiko van meningsverskil, is nie 'n gesprek nie, dis bloot 'n eggo.
Oor ras en die reg, wegtrek en grootword
Verder vra Reuben Coetzer in sy fyn ontleding van rasgebaseerde wetgewing in die demokratiese Suid-Afrika, 'n ongemaklike maar noodsaaklike vraag: is “transformasie” besig om die droom van nie-rassigheid te verraai? Sy argument, geskoei op die Grondwet self, herinner ons dat die uiteindelike toets van enige beleid nie bedoelings is nie, maar die uitkomste daarvan.
Intussen bring het ek twee bydraes van 'n heeltemal verskillende aard: die eerste, 'n alternatiewe mening oor en kritiek op die Britse minireeks Adolescence (2025), waar ek argumenteer oor hoe fiksie soms verkeerdelik as feit weergegee word, omdat dit by die tydsgees sou inpas. Die tweede is 'n langer artikel waaraan ek oor 'n geruime tyd stuk-stuk geskryf het, oor plek, migrasie en identiteit. Ek bespreek die liedjie “Tale of Three Cities”, deur Bittereinder, Jack Parow en Tumi Molekane, wat oor Pretoria, Johannesburg en Kaapstad gaan en hoe daardie plekke jou kan anker.
Geslag, geregtigheid en politieke woordkeuses
Gasskrywer en leser Theo van der Westhuizen bespreek die geslagsloonverskil met nugterheid en 'n alternatiewe uitkyk. Hy vra waarom jong mense wêreldwyd begin twyfel aan die feminisme van hul ouers se geslag en of dié twyfel dalk nie so irrasioneel is as wat dit uitgekryt mag word nie.
Dan volg, na my mening, een van die week se belangrikste stukke. Frederik van Dyk verskaf 'n insiggewende uiteensetting van wat links en regs nou eintlik beteken en waarom daardie etikette so gereeld tot verwarring en misbruik lei. Dit is volgens my politieke kartografie vir 'n wêreld waar die ou kompasse nie meer werk nie.
Populisme en die reg: van Washington tot Parys
Ons skrywers kyk ook internasionaal. Nog ‘n lesende gasskrywer, Jacques Fooy, bied 'n polemiese, dog verhelderende vergelyking tussen Trump en Le Pen se botsings met die regbank, en hoe verskillend die Amerikaanse en Franse regstelsels daarop reageer. 'n Waarskuwing en ’n rigtingwyser dat instellings net so sterk is soos ons geloof daarin, en 'n gesprek wat ons hoop hier verder gevoer sal word, ongeag oor hoe lesers oor Trump en Le Pen voel.
Die mens as middelpunt
Laastens bied die bekende vryskutjoernalis Jean Oosthuizen 'n radikale, maar deernisvolle verklaring van sy geloofsalternatief aan, ’n pad weg van georganiseerde godsdiens na wat hy “radikaal bevrydende humaniteit” noem. In 'n wêreld wat volgens Oosthuizen dikwels in godsdiens se naam uitsluit, vra hy of liefde, rede en empatie nie dalk sterker ankers vir 'n goeie lewe is nie. Hy dwing lesers – gelowig of nie – om weer te vra wat dit beteken om mens te wees.
En jy, leser?
Dis ’n week van veelstemmigheid. Van uiteenlopende menings oor uiteenlopende onderwerpe. OntLaer is nie hier om enigiemand te paai nie. Hierdie blad is hier om die vuurmaakhout te pak en aan die brand te steek en dan terug te tree sodat ander kan nader skuif.
So ons vra: Wat dink jy? Skryf vir ons 'n lesersbrief, reageer in die kommentaarafdelings, dink hardop saam met ons of stuur selfs jou eie meningstuk vir publikasie. Jou stem is deel van hierdie gesprek. Jy sal help om hierdie ding te maak werk of nie.
OntLaer wil nie neutraal wees nie, wat neutraal ook al mag beteken. Ons wil ruimte skep en oop wees vir gesprek. Ons wil onthou dat oop gesprekke nie die afwesigheid van oortuiging beteken nie, maar die bereidwilligheid om deurdagte maar bedagte debat te voer, en waarheidsoeke te bevorder.