Ek het die Sowjetunie in 1988 as gas van die Novosti-nuusagentskap besoek. Vir my was dit 'n ongelooflike ondervinding om in die land van die “Rooi Gevaar” te kon wees en met die Russe te kon praat oor hoe hulle dink.
Hulle wou ook by my hoor wat in Suid-Afrika aangaan. Oekraïne was toe nog deel van die Sowjetunie en dit was ook die streek waar die Tsjernobil-kernramp in 1986 plaasgevind het. My enigste ander kennis daardie tyd oor Oekraïne was dat dit 'n korrupte mafiastaat was en min met die Weste te doen wou hê.
Sedertdien het baie dinge in die land in verskillende rigtings ontwikkel. Op 27 Junie 2014, kort nadat Rusland die Krim geannekseer het en gevegte in die ooste van Oekraïne uitgebreek het, het voormalige president Petro Porosjenko die politieke en ekonomiese Assosiasie-ooreenkoms met die Europese Unie onderteken. Dié ondertekening het Oekraïne se strategiese wending weg van Rusland en nader aan Europa gesimboliseer.
Donald Trump het aan die begin van sy huidige presidensie gesê hy sal die Russiese oorlog in Oekraïne in een dag oplos, maar nou, meer as 500 dae later, het hy nog niks reggekry nie.
Vereistes vir insluiting
Oekraïne streef daarna om lid van die Europese Unie te word, maar dan sal die land sy sake in orde moet kry om aan EU-wetgewing te voldoen.
Oekraïne word steeds as korrup beskou, met 'n telling van 36 uit 100 — dit is 104de op die ranglys — maar die land toon werklike vooruitgang in die stryd teen korrupsie, selfs te midde van 'n verwoestende oorlog. Die land het funksionele teenkorrupsie-instellings gevestig wat groot skandale ondersoek, insluitend sake wat die hoogste vlakke van die regering raak.
Toe Russiese tenks op 24 Februarie 2022 oor Oekraïne se grense rol, het die wêreld 'n relatief eenvoudige verhaal gehoor: Rusland het 'n onafhanklike, Europees-gesinde demokrasie aangeval. Wat dikwels verlore gaan, is hoe kompleks Oekraïne voor die oorlog was, hoe korrup die oligarge was, hoe diep die land intern verdeel was, wie president Volodymyr Zelensky werklik was, en hoe Westerse hulp — veral uit die Verenigde State — gehelp het om die Oekraïense weermag te omskep in een van die sterkste militêre magte in die Europese omgewing.
Vir dekades ná die ontbinding van die Sowjetunie in 1991 het Oekraïne tussen twee wêrelde gestaan. In die weste en sentrale dele van die land was daar sterk steun vir Europese integrasie, nouer bande met die Europese Unie en uiteindelike lidmaatskap van NAVO. Hierdie streke het hulself toenemend as deel van Europa gesien en wou hulself losmaak van Russiese invloed. In die ooste en suide van die land was die situasie anders. Gebiede soos Donetsk, Loehansk, Charkif, Odessa en veral die Krim het groot Russiessprekende bevolkings gehad. Baie inwoners het kulturele, ekonomiese en historiese bande met Rusland behou en was meer ten gunste van noue betrekkinge met Moskou.
Hierdie interne spanning het in 2004 tydens die sogenaamde Oranje Revolusie duidelik na vore gekom, toe massabetogings oor beweerde verkiesingsbedrog uitgebreek het.
Die verdeeldheid het in 2014 verder vergroot en werklik ontplof. President Viktor Yanukovych het besluit om 'n assosiasie-ooreenkoms met die Europese Unie op te skort ten gunste van nouer bande met Rusland. Maande van betogings het uiteindelik tot Yanukovych se val gelei.
Oekraïne se post-Sowjet-geskiedenis is gekenmerk deur die opkoms van magtige oligarge en georganiseerde misdaadnetwerke. Kenners het Oekraïne en Rusland se onderwêrelde beskryf as een van die sterkste kriminele ekosisteme in Europa.
Korrupsie aan die stuur
Groeperings soos die Donetsk-klan, die Dnipropetrovsk-groep en ander oligargiese netwerke het enorme ekonomiese en politieke invloed uitgeoefen. Hierdie mafiastrukture het tydens die chaotiese privatiseringsprosesse van die 1990's ontstaan en het dikwels sakebelange, politiek en georganiseerde misdaad vermeng. Teen 2022 het baie van hierdie netwerke steeds 'n rol in die land se ekonomie gespeel, hoewel verskeie hervormings hul invloed beperk het.
Vir baie Oekraïners was dit 'n demokratiese revolusie. Vir baie Russiesgesinde inwoners was dit 'n staatsgreep wat deur die Weste ondersteun is. Kort daarna het Rusland die Krim geannekseer en het gewapende separatiste beheer oor dele van die Donbas-streek oorgeneem. Die konflik wat gevolg het, sou die voorspel wees tot die grootskaalse oorlog van 2022, toe Rusland Oekraïne binnegeval het.
Toe Volodymyr Zelensky in 2019 president geword het, was hy nie 'n ervare politikus nie. Hy was 'n komediant, akteur en televisieprodusent. Ironies genoeg het hy bekendheid verwerf deur die gewilde televisiereeks Servant of the People, wat gehandel het oor 'n geskiedenisonderwyser wat onverwags president word en korrupsie beveg.
Zelensky het die presidentsverkiesing van 2019 met meer as 73% van die stemme gewen. Min mense het destyds voorsien dat dieselfde komediant binne drie jaar die gesig van Oekraïne se oorlogspoging sou word.
Een van die belangrikste redes waarom Oekraïne die aanvanklike Russiese aanslag in 2022 kon weerstaan, lê in 'n minder bekende verhaal: die jarelange hervorming van sy weermag met die hulp van Amerika.
Harde werk lê nog voor as Oekraïne deel van die Europese Unie wil word, maar die EU het Oekraïne herhaaldelik geprys vir sy pogings om hervormings deur te voer terwyl die land 'n oorlog teen Rusland voer.
Nog artikels deur Jurie van der Walt:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.









