Vergesigte van vryheid: Repliek op Daniël Eloff
Vryheid moet in terme van verhoudinge verstaan word.
Daniël Eloff skryf in sy artikel “Bevryding as vryheid” dat die Suid-Afrikaanse Grondwet vryheid nie as iets “duidelik, omvattend en onbetwisbaar” daarstel nie.
In plaas daarvan om vryheid duidelik te omskryf, veranker die Grondwet dit in die logika van bevryding, regstelling en transformasie. Vryheid word gevolglik nie beskou as iets wat alle mense op sterkte van hul menswees toekom nie, maar eerder as iets wat die staat aan mense gun. Die staat is dus by magte om vryheid te omskryf, te kwalifiseer en te beperk, en om die beskerming daarvan van iemand se status as voorheen benadeelde afhanklik te maak. Eloff argumenteer daarenteen vir 'n siening van vryheid as 'n “natuurlike toestand” wat van bevryding en transformasie losgemaak word.
Ek stem saam met Eloff dat dit belangrik is om oor die aard van vryheid te besin, dat vryheid ruim uitgelê moet word, en dat niemand – ook nie die staat nie – die reg het om te dikteer hoe mense hul vryheid moet uitoefen nie. Ek gaan ook akkoord met sy standpunt dat vryheid nie gelyk gestel moet word aan staatsprogramme of aan die uitdeel van aalmoese nie.
Ek verskil egter van sy siening dat vryheid na 'n natuurlike toestand verwys, dat dit hoofsaaklik negatief – as die afwesigheid van staatsdwang – vertolk moet word, en dat dit van gelykheid ontkoppel moet word. Na my mening moet vryheid eerder in relasionele en politieke terme omskryf word. Die opvatting van vryheid waarvoor ek hier argumenteer put uit die insigte en oogpunte van verskeie outeurs – te veel om hier te noem – wat oor demokrasie, vryheid, gelykheid, ras, geslag en ubuntu skryf.
'n Ontwykende begrip
Vryheid is 'n ontwykende begrip. Dit verwys na ons lewe saam met ander – familie, lewensmaats, vriende, kollegas, kamerade, ensomeer – asook ons reg om onsself, gewoonlik tydelik – van hul af te sonder. Ons gebruik die woord om 'n lewe gewy aan vleeslike genot sowel as 'n lewe van sober besinning te beskryf. Soms verwys vryheid na 'n abstrakte morele reg en soms na 'n konkrete juridiese reg. Soms verklaar ons dat elke persoon vry is, bedoelende dat alle mense die reg op vryheid of die inherente bevoegdheid het om vry te wees, en soms kla ons oor die gebrek aan vryheid wat die lewens van sekere groepe mense kenmerk.
Juis omdat vryheid so 'n ontwykende begrip is, is dit aanloklik om dit, in Eloff se woorde, “duidelik, omvattend en onbetwisbaar” te omskryf. Ons moet egter lig loop. 'n Oënskynlik omvattende of universele omskrywing kan op aannames geskoei wees wat die ervarings of lewenswyses van sekere groepe weerspieël, tot uitsluiting van dié van ander. Dit loop dus die gevaar om 'n bepaalde opvatting van vryheid as die norm voor te hou – 'n resultaat wat Eloff juis wil vermy. Indien diegene wat nie aan die heersende begrip van vryheid voldoen nie, as irrasioneel en onvry gebrandmerk word, bly ons steeds vasgevang in die logika van kolonialisme en apartheid.
Ek glo nie dat vryheid tot 'n enkele omskrywing of dimensie gereduseer moet word nie. Dit is 'n afdwingbare reg én 'n etiese ideaal. Dit verwys na 'n aanspraak van die individu én iets wat slegs in verhouding met ander verwesenlik kan word. Wat ons benodig is 'n begrip van vryheid wat die kompleksiteit van die begrip erken en wat sin maak van die gedagte dat dit elke persoon toekom. So 'n begrip moet ons vryheid en menswees bowenal nie van konformiteit met heersende norme afhanklik maak nie.
Natuurlike vryheid
Eloff argumenteer dat vryheid na 'n natuurlike toestand verwys. Hierdie beskouing gryp terug na die moderne natuurregtelike gedagte dat mense van nature met inherente vryheid beklee is en dat die staat hul vryheid moet eerbiedig en beskerm. Vryheid is dus universeel – dit is in alle mense gesetel en bestaan onafhanklik van erkenning deur die staat. Eloff verkies hierdie begrip van vryheid bo “transformatiewe” sienings, wat volgens hom hiërargieë in vryheid inbou deur die selfverwesenliking van witmense ondergeskik aan dié van voorheen benadeelde groepe te stel.
Wat beteken dit om te sê dat mense van nature vry is? Dit maak sin indien ons daarmee bedoel dat alle mense die inherente bevoegdheid en die reg het om besluite te neem en hul potensiaal te verwesenlik. Dit kan egter nie beteken dat mense wat in uiterse armoede leef en wie se lewens gering geskat word, vry is slegs omdat die Grondwet of internasionale menseregte konvensies so sê nie. Die gedagte dat mense inherente vryheid het, stel nie die staat en samelewing van die verpligting vry om toestande te skep waarin elkeen se vryheid kan gedy nie. Die erkenning van die nasleep van die ongeregtighede van die verlede gee nie aanleiding tot 'n hiërargiese begrip van vryheid nie. Inteendeel, dit is 'n noodsaaklike eerste stap om die hiërargieë van die verlede te beveg.
Die gedagte dat vryheid uitsluitlik na 'n natuurlike toestand of status verwys, loop die gevaar om dit tot iets abstraks te reduseer wat ver verwyderd van ons geleefde werklikheid is. Sodanige beskouing onderskat die mate waarin ons identiteit en keuses gevorm word deur ons verstrengeling in en deelname aan maatskaplike verhoudings, netwerke en instellings. Dit stel kwesbaarheid en afhanklikheid as 'n swakheid op wat dui op 'n onvermoë of onwilligheid om vry te wees. Dit ontken die rol wat magsverhoudinge in die samelewing speel en normaliseer die onvryheid van diegene wat nie die hulpbronne of ondersteuningsnetwerke het om 'n lewe te ontsnap wat deur ekonomiese nood en verontmensliking gekenmerk word nie.
Relasionele vryheid
In teenstelling met die idee dat vryheid na 'n natuurlike toestand verwys, erken 'n relasionele begrip van vryheid dat sosiale netwerke en verhoudings 'n belangrike rol speel om individuele selfverwesenliking moontlik te maak. Dit verstaan kwesbaarheid as 'n universele menslike toestand wat nie onversoenbaar met vryheid is nie. Dit benadruk die noodsaak van maatskaplike praktyke en regsvoorskrifte wat daarop gemik is om alle mense in staat te stel om met hul kwesbaarheid saam te leef en hul vryheid te verwesenlik. Dit plaas 'n verantwoordelikheid op die staat om omstandighede te skep waarin vryheid kan gedy en erken dat die staat – binne redelike en proporsionele perke – die uitoefening van my vryheid kan beperk wanneer dit teen die openbare belang indruis of onversoenbaar met die regte en vryhede van ander is.
'n Relasionele begrip erken dat ons vryheid ten nouste met dié van ander verbind is en dat vryheid nie kan gedy in 'n samelewing waarin sommige mense onderdruk en verontmenslik word nie. Dit beteken egter nie dat individuele vryheid aan kollektiewe belange ondergeskik gestel word of dat vryheid aan die staat oorgegee word om dit na goeddunke te definieer, te kwalifiseer of te beperk nie. Inteendeel, 'n relasionele begrip dring daarop aan dat ons uiteenlopende maatskaplike praktyke, organisasies en diskoerse benodig wat verskillende opvattings van vryheid lewendig hou. 'n Veelvoud van interpretasies en praktyke van vryheid is 'n belangrike teenwig teen die staat en neoliberale ideologie se neiging om mense te homogeniseer en om vryheid van assimilasie in die heersende kultuur afhanklik te maak.
'n Relasionele konsep setel vryheid nóg in die fiksie van 'n soewereine, selfgenoegsame individu nóg in die droom van ʼn welwillende staat wat aan burgers voorskryf hoe hulle hul vryheid moet uitleef. Dit setel vryheid eerder in die individu-in-gemeenskap-met-ander. Dit definieer vryheid nie net negatief as die afwesigheid van staatsdwang nie, maar ook positief as die reg om in omstandighede te leef waarin mense hulself en hul doelwitte kan definieer en sinvol kan najaag. Relasionele vryheid plaas 'n verpligting op die staat om strukturele struikelblokke in die pad van vryheid uit die weg te ruim, maar dit gee nie die staat vrypas om vryheid namens burgers te definieer nie. Die staat is immers verplig om 'n veelheid van opvattings van vryheid te respekteer en te beskerm.
Politieke vryheid
Relasionele vryheid, soos hierbo omskryf, verwerp die idee dat persoonlike en politieke vryheid van mekaar losstaan. Dit wys daarop dat die beskerming van persoonlike vryheid deur openbare debat moontlik gemaak word.
Die vermoë om onvryheid uit te daag voorveronderstel 'n woordeskat wat ons in staat stel om ongeregtighede en nuwe aansprake op vryheid en gelykberegting te artikuleer. Sodanige woordeskat ontbreek dikwels. Dit moet nuut geskep word – deur demokratiese dialoog, betwisting, teoretisering en mobilisering. Die geskiedenis van werkersklas-, feministiese, antirassistiese en omgewingsbewegings is sprekende voorbeelde. Hierdie bewegings verpolitiseer heersende norme, byvoorbeeld, tradisionele opvattings van die skeiding tussen die openbare en private sfeer of hiërargiese omskrywings van menswees. Hulle stel ongeregtighede aan die kaak wat voorheen onsigbaar was en verwoord nuwe etiese en politieke visies.
Wanneer ons vryheid in relasionele en politieke terme verstaan, verwys dit nie na iets in 'n rustende toestand nie. Inteendeel, dit is permanent in wording. Ons verstaan van vryheid en die mate waarin dit beskerming geniet word nie slegs deur die regering van die dag of deur maatskaplike, ekonomiese en tegnologiese verandering beïnvloed nie. Die verwoording van nuwe aansprake op vryheid en die stryd vir die uitbreiding van bestaande vryhede is ook deurslaggewend.
Vryheid, gelykheid en bevryding
Die relasionele en politieke verstaan van vryheid wat ek voorstaan koppel vryheid aan bevryding – dit erken dat veel meer gedoen moet word om vryheid te verwesenlik en dat die stryd van groepe wie se vryheid ontken word, 'n belangrike rol in daardie verband speel. Dit beteken nie dat die grondwetlike raamwerk vir die beskerming van regte en vryhede aan die willekeur van die staat of regerende party(e) onderhewig gestel word nie. Die punt is nie om sekere groepe se persoonlike en politieke vryheid weg te neem nie, maar om te verseker dat alle mense sinvolle geleenthede het om hulself te definieer en te verwesenlik. In 'n land waar ruimtelike apartheid, rassekapitalisme, patriargie en heteronormatiwiteit vryheid steeds radikaal inperk, is dit 'n formidabele taak wat voortgesette demokratiese dialoog, mobilisering, organisering en vernuwing verg.
Anders as Eloff, glo ek dat vryheid en gelykheid onlosmaaklik met mekaar verbonde is. Wanneer ons die twee van mekaar skei, ontneem ons beide begrippe van hul emansipatoriese waarde, soos die Franse politieke filosoof Étienne Balibar uitwys. Gelykheid word dan afgewater tot 'n vaal eendersheid wat die verskille tussen mense ontken, terwyl vryheid vervlak tot die bevoorregting van sekere groepe mense. Dit is slegs wanneer ons die twee begrippe saam met mekaar bedink dat ons reg kan laat geskied aan die radikale idee dat alle mense die reg en die bevoegdheid het om vry te wees.
Geen finale woord oor vryheid
Om saam te vat: die relasionele en politieke begrip van vryheid waarvoor ek argumenteer, veranker vryheid nie in 'n abstrakte ideaal van persoonlike outonomie wat ver verwyderd is van meeste mense se geleefde werklikheid nie.
Hierdie beskouing erken mense se kwesbaarheid en benadruk die rol wat sosiale praktyke, verhoudings, netwerke en instellings in die verwesenliking van vryheid speel. Dit verwerp die gedagte dat die finale woord oor vryheid ooit gespreek sal word en beklemtoon die noodsaak van 'n verskeidenheid diskoerse en leefwêrelde wat verskillende visies van vryheid en gelykheid moontlik maak. Vryheid word as iets dinamies beskou wat nie tot 'n toestand of status gereduseer kan word nie en wat slegs deur die voortgesette ontbloting van ongeregtigheid en die verwoording van etiese en politieke alternatiewe lewend gehou kan word.
Relasionele en politieke vryheid is gemoeid met vryheid – en onvryheid – in die hier en die nou, asook met nuwe vergesigte van vryheid wat deur demokratiese dialoog, betwisting en mobilisering moontlik gemaak word.
Prof. Henk Botha doseer regsteorie en wetsuitleg aan die Universiteit Stellenbosch. Hy dink, skryf en gesels graag oor demokrasie, vryheid, gelykheid en kritiese teorie.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in: