Waarom filosowe dáái "Equity"-meme haat
DEI-manie draai die horlosie van 'n afgehandelde debat terug.
(Vertaal deur OntLaer)
As jy jou gunsteling filosoof wil irriteer, is een van die beste maniere om dit deesdae te doen, om die “kinders op bokse / equity (in Afrikaans, billikheid)-meme” te opper. Dit sou oordrewe wees om hierdie meme as die som van alle boosheid te beskryf, maar dit maak vir seker niemand van ons se lewens makliker nie.
Die meeste van ons het hierdie prentjie al gesien, maar, selfs meer belangrik - al ons studente het dit al gesien. Hulle het dit nie net gesien nie, hulle glo vas dat dit ‘n volmaakte gesprekstopper is. ‘n Onoorkombare kishou. Ja, die moderne student glo heel dikwels dat hierdie prentjie 'n korrekte en onomstrede omskrywing van billikheid daarstel, en dat dit gelykheid as morele ideaal daarmee saam verpletter. Groot is hul verbasing as filosowe nadese steeds dink dat enige kwessies rondom gelykheid nog die debat werd is.
Ongelukkig verteenwoordig hierdie klein prentjie met die bokse die afkraking van feitlik alles wat ons in ons debatte oor gelykheid en sosiale geregtigheid probeer bereik het oor die afgelope halfeeu. (Inderdaad nog bewysstukke daarvoor dat sin en rede elke keer teen sosiale media die onderspit sal delf). Trouens, dit is nie oordrewe nie om te sê dat die onvolledigheid van billikheid as konsep, soos wat dit deur hierdie prentjie voorgestel word, juis gedien het as die vertrekpunt van sekerlik die belangrikste debatte oor gelykheidsdenke sedert die 1970’s sentraal tot daardie dissipline staan.
As gevolg hiervan, wanneer 'n student hierdie meme as gesprekpunt opper – iets wat hulle feitlik altyd doen– het 'n filosoof wat sy sout werd is geen ander keuse nie as om te verduidelik wat verkeerd is daarmee. Dit lei gevolglik tot die student wat onmiddellik ons van ‘n gedagtemisdryf verdink, want soos almal weet, is die tipe “billikheid” wat in die meme geïllustreer word die E in DEI (“Diversity, Equity, Inclusion” oftewel diversiteit, billikheid en insluiting) en as jy nie met hierdie opvatting van gelykheid saamgaan nie, is jy sekerlik 'n teenstander van DEI, wat beteken jy kan netsowel 'n Trump-ondersteuner wees...
Die oorspronklik doel van hierdie meme was om die onderskeid tussen “gelykheid van geleenthede” en “gelykheid van uitkomste” uit te beeld, en dit vang die denkwyse van denkers tot en met die laat 1960's rakende gelykheidskwessies redelik goed vas. Dit was voor die publikasie van John Rawls se A Theory of Justice in 1971. Daarna het byna almal saamgestem dat die geleentheid/uitkoms onderskeid nie nuttig of samehangend was nie. Die regtig belangrike vraag was nie wanneer 'n mens sou kies om te gelyk te maak nie, maar wat jy bedoel met “om gelyk te maak” (in akademiese taal, word hierdie “wat” die equalisandum, of “dit wat gelyk gemaak word” genoem). Die uitgebreide en meer spesifieke “gelykheid van wat?” debat, wat belangrike denkers vir dekades besig gehou het, was basies 'n debat is oor die toepaslike equalisandum vir 'n teorie van geregtigheid.
Dit is algemeen aanvaar dat die“gelykheid van wat?” vraag die geleentheid/uitkoms onderskeid insluit, in die sin dat enigiets wat in terme van geleenthede en uitkomste uitgedruk kan word, duideliker bespreek kan word in terme van verskille in die equalisandum. Die kinders op bokse meme sou byvoorbeeld gesien kon word as uitbeeldings van die onderskeid tussen die gelykmaak van bokse en die gelykmaak van die kykers se bevrediging, in welke geval dit glad nie oor gelykheid van uitkomste gaan nie. So is daar dadelik twee foute met die meme: Ten eerste behels die etikette 'n misbruik van die term billikheid, en ten tweede word die opvatting van gelykheid van uitkomste, wat hier voorgestel moet word, regressief daargestel. Ek sal hierdie twee punte in volgorde behandel:
1. Misleidende konsep van billikheid
Die duidelikste probleem met die meme is dat dit nie 'n aanvaarbare omskrywing van die begrip “billikheid” (equity) aanbied nie, maar eerder 'n voorskriftelike herdefinisie, wat nie baie goed ooreenstem met die term se historiese gebruik nie. Soos bo genoem, is die grafika oorspronklik geteken om die kontras tussen gelykheid van geleenthede en gelykheid van uitkomste uit te beeld. Later, nadat dit hoeveel keer herproduseer is, het iemand die opskrifte gaan verander, en op een of ander manier het die idee dat “gelykheid van uitkomste” (equality of outcome) “billikheid” (equity) genoem moet word, vasgesteek. Hierdie aanpassing is irriterend juis omdat so baie van ons studente dink dat hierdie prent as ‘n kritiek van “gelykheid” ontwerp is, terwyl dit in werklikheid ten gunste van ‘n spesifieke opvatting van gelykheid geskets is.
Tradisioneel is die begrip “billikheid” minder presies gedefinieer as “gelykheid”. Hoewel daar nie ’n universeel aanvaarde definisie bestaan nie, verwys billikheid dikwels na ’n maatstaf wat losser en meer kontekstueel toegepas word as streng gelykheid. In situasies waar komplekse toedeling plaasvind — veral wanneer dit verskillende soorte hulpbronne of voordele behels — kan ’n verdeling waar elke persoon presies dieselfde hoeveelheid van alles ontvang as “gelyk” beskryf word. ’n Alternatiewe verdeling, waar individue verskillende kombinasies ontvang wat in waarde (op een of ander manier) as dieselfde beskou kan word, sou eerder as “billik” beskou word (sien die skakel hier).
’n Goeie voorbeeld hiervan — en waarskynlik die mees algemene gebruik van die term “billikheid” buite die konteks van diversiteit, billikheid en insluiting — is die begrip “billike vergoeding”. Beleide in hierdie verband poog dikwels om te verseker dat daar “gelyke betaling vir werk van gelyke waarde” is. Die uitdaging lê egter daarin dat nie alle werk dieselfde waarde het nie. Waar werk verskil in aard, verantwoordelikheid of impak, is dit dus onrealisties om gelyke betaling te verwag. Hier kom die idee van billikheid na vore: dit dui op ’n regverdigbare afwyking van absolute gelykheid. So kan twee verskillende salarispakkette — selfs al is hulle nie gelyk nie — steeds as billik beskou word.
My vermoede is dat toe DEI-idees begin posvat het, mense doelbewus na die term “billikheid” geneig het juis omdat dit ’n mate van buigsaamheid inhou. Aangesien mense verskillend is — dus divers — is dit nie realisties om perfekte gelykheid te verwag nie, maar eerder ’n soort regverdige aanpassing: billikheid. Dalk was dit ook die bedoeling van die persoon wat die bekende “kinders op bokse”-prent aangepas het — om te wys dat die hulp (in die vorm van bokse) volgens elke kind se unieke omstandighede verdeel moet word.
Die ironie is egter dat die meme, in plaas daarvan om ’n losser en meer realistiese begrip van gelykheid daar te stel, juis daartoe gelei het dat DEI verbind is aan ’n baie streng en omstrede siening van gelykheid, naamlik gelykheid van uitkomste. Dit is ’n benadering wat min redelike mense as ’n algemene beginsel sou onderskryf. Wat die saak nog meer problematies maak, is dat hierdie verskuiwing nie deur logiese argumente tot stand gekom het nie, maar bloot deur ’n slim, selfs oortuigende, maar misleidende heromskrywing van begrippe.
2. Die “gelykheid van wat” debat
As ons die begripskwessies eenkant skuif en op uitkomste gelykheid fokus, dan is die volgende groot probleem met die “kinders-op-bokse” meme dat dit voorstanders van DEI vasbind tot ’n siening van gelykheid wat selfs verder links lê as die mees radikale standpunte onder linkse politieke filosowe. Een van die belangrikste dryfvere agter die akademiese debat oor “gelykheid van wat?” was juis om die ou, simplistiese idee van uitkomsgelykheid — die soort wat die meme voorstel — te vervang met iets meer deurdag.
Daardie debat, soos soveel ander in moderne politieke filosofie, is aangevuur deur iets wat John Rawls in A Theory of Justice geskryf het. Rawls het teen die utilitaristiese idee geargumenteer dat die staat se doel is om geluk te maksimeer. Sy grootste beswaar teen hierdie siening was dat dit glad nie omgee hoe geluk tussen individue versprei word nie. Die stelsel sou dus geen probleem hê met uiterste ongelykheid nie — solank die totaal van geluk gemaksimeer word. Rawls het eerder gepleit vir ’n teorie van geregtigheid wat meer gelyke verspreiding van voordele en laste sou bewerkstellig.
Een manier om dit te doen sou wees om die utilitaristiese berekening aan te pas om meer gelyke geluk te bewerkstellig. Maar Rawls het 'n meer radikale stap geneem: hy het bevraagteken of geluk enigsins die regte fokus vir geregtigheid behoort te wees. Sy argument was dat geregtigheid gaan oor hoe die voordele en laste van samewerking tussen mense versprei word — en geluk is nie regstreeks ’n produk van daardie samewerking nie. Mense bepaal hul eie lewensdoelwitte, en of hulle daardie doelwitte bereik, beïnvloed hul geluk. Maar dit maak geluk te individueel en te buite beheer van die samelewing. Geregtigheid, het Rawls aangevoer, moet eerder fokus op die “inputs” — die basiese vryhede en hulpbronne wat mense nodig het om hul planne te probeer uitvoer.
Hy noem hierdie hulpbronne “primêre goedere” — dinge soos inkomste, rykdom, en basiese regte. Al sê hy dit net kortliks, het die idee posgevat, en filosowe soos Ronald Dworkin het verder daaroor uitgebrei. Dworkin het geargumenteer dat ’n regverdige samelewing nie moet probeer om mense se geluk gelyk te maak nie, want mense kies self dinge wat hul geluk beïnvloed. Sy mees oortuigende voorbeeld was iemand wat ’n smaak vir goeie wyn aankweek — so verfyn dat gewone wyn vir hom nie meer plesier gee nie. Dit sou absurd wees om te sê die samelewing skuld hom nou ’n groter wynbegroting om sy geluk gelyk te stel met iemand wat nie kieskeurig is nie.
Hieruit het Dworkin ’n belangrike onderskeid getrek tussen hulpbrongelykheid en welstandsgelykheid (oftewel geluk). Hy het gepleit dat geregtigheid oor hulpbronne moet gaan want dit gee mense hul regmatige deel van wat die samelewing voortbring, maar lê die verantwoordelikheid by wat hulle daarmee maak. As twee mense dan met verskillende uitkomste eindig, bloot omdat hulle verskillende keuses gemaak het, is dit nie regtig ’n skending van gelykheid nie. Ongelykheid is slegs onregverdig as dit voortspruit uit omstandighede buite hul beheer.
Hierdie benadering het aanleiding gegee tot die gewildste moderne gelykheidsteorie: “geluks-egalitarisme” of formeel gestel, “verantwoordelikheidsensitiewe egalitarisme.” Die kern van die idee is dat die samelewing mense moet vergoed vir slegte geluk. Dus wanneer iemand minder het as 'n ander weens faktore buite hul beheer. G.A. Cohen het sterk hiervoor gepleit, onder andere omdat hy geglo het dit is bestand teen die tipiese regse besware teen gelykheid. Hy het selfs geskryf dat:
Hierdie idee het baie aanklank onder filosowe gevind. Hulle het die onderskeid tussen keuse en omstandigheid sentraal gestel en aangevoer dat ons juis om daardie rede oor gelykheid moet gee: om die effek van blote geluk of ongeluk te neutraliseer. Volgens hierdie siening, as ons na die meme kyk en besluit om die boks van die lang kind weg te neem en dit vir die kort kind te gee, doen ons dit nie om uitkomste gelyk te maak nie, maar omdat lengte nie gekies word nie en dus nie as grondslag vir ongelykheid aanvaar moet word nie.
Jy hoef nie saam te stem met dié benadering om te sien dat dit ’n heel ander manier is om oor gelykheid te dink nie. En juis daarom is die probleem met die meme dat dit ’n ou en lankal weerlêde siening van gelykheid laat herleef, een wat maklik omvergewerp kan word deur bloot te wys op voorbeelde waar ongelykheid ontstaan uit mense se eie keuses uit. Die entoesiasme oor geluks-egalitarisme was deels gebaseer op die gevoel dat ons uiteindelik ’n belangrike denkfout oorwin het. En tog was al wat nodig was om alles met 50 jaar terug te rol, een enkele meme!
3. Verdere komplikasies
Die verspreidingsprobleem van geregtigheid wat in die prentjie uitgebeeld word, is natuurlik baie eenvoudig, maar dit is duidelik bedoel om implikasies te hê vir hoe ons oor breër sosiale kwessies dink. Eenvoud op sigself is nie 'n probleem nie. Die doel van 'n goeie model is om 'n vereenvoudigde voorstelling van die werklikheid te gee om kernkenmerke uit te lig en dit analitieser hanteerbaar te maak. Die vraag is dus of die kinders‑op‑bokse‑meme 'n nuttige model bied vir die soort verspreidingsprobleme wat in DEI‑kontekste opduik. Die meeste egalitaristiese filosowe sou, dink ek, sê dat dit 'n swak model is.
Om met die mees voor die hand liggende te begin: die prentjie bied 'n baie swak manier om oor regstellende aksie te dink – so swak dat dit die voorspelbare beskuldiging ontlok het dat dit “rassisties” is. As mens die bokse sien as 'n metafoor vir die ekstra hupstoot wat lede van sogenaamde “billikheids‑verdienstelike gemeenskappe” kry wanneer hulle meeding vir gesogte posisies, wat stel dan “kort wees” voor? Ongetwyfeld dink die morele hooffilosowe wat die beeld versprei, dat dit vir 'n strukturele nadeel staan. Maar wat keer die minder kritiese kykers om te dink dit staan vir “dom wees”? Grof egalitarisme het soms die neiging om sy begunstigdes te beledig.
Daar is ook meer subtiele kwessies waarop filosowe nou baie meer bewus is danksy die groot 20ste‑eeuse debatte. Eerstens is die beeld 'n nulsom‑situasie: daar is net drie bokse, dus moet om een aan die korter kind te gee, een van die langer kind afgeneem word. Sulke situasies kom soms in die werklikheid voor, maar baie probleme is nie nulsom nie; hulle behels eerder die verspreiding van (wat Rawls genoem het) die voordele en laste van samewerking – 'n positief‑som interaksie per definisie. Dit is belangrik om te beklemtoon, want baie mense klassifiseer positief‑som‑interaksies foutiewelik as nulsom, wat tot onnodige polarisering kan lei.
Tweedens is daar die vraag waar die bokse vandaan kom. Die prentjie veronderstel 'n “manna‑uit‑die‑hemel”‑siening – dat die bokse daar liggies wag om deur 'n onpartydige bokstoedeler uitgedeel te word. Maar wat as dit 'n tailgate‑partytjie is waar elkeen sy eie boks moes saambring? In daardie geval kan dit vriendelik wees van die lang seun om sy boks aan die korter kind te gee, maar 'n dwingende oordrag sou talle besware uitlok. Dit is uiters belangrik in ekonomiese vrae, want die institusionele strukture wat samelewingswelvaart genereer, skep eise op daardie welvaart wat op hul beurt herverdelingsbeperkings plaas.
Derdens is die verspreidingsprobleem eendimensioneel: daar is net een goed wat tel – bokse – en die probleem behels hul toewysing aan individue. As mens 'n welsynsdenker sou wees, sou mens dink dat samelewings net in 'n enkele dimensie moet gelykmaak, naamlik geluk. Maar die Rawls‑Dworkin‑kritiek het egalitariërs laat besef dat ons bekommerd behoort te wees oor die verspreiding van 'n heterogene klomp goedere. Dit skep sy eie stel probleme, veral in 'n pluralistiese samelewing waar mense daardie goedere op verskillende maniere waardeer. Dit maak dit moeilik – nie onmoontlik nie, maar moeilik – om te verduidelik wat werklike gelykheid beteken. ('n Gereelde voorbeeld is die probleem om 'n nalatenskap onder erfgename gelyk te deel sonder om dit te likwideer.)
Hierdie laaste punt het 'n mate van pessimisme onder filosowe teweeggebring oor die hele “distributiewe” paradigma van gelykheid. Die aantal goeie dinge wat samelewings produseer, is uiters groot – nie net inkomste en rykdom nie, maar ook gesondheid en vrye tyd. As mens probeer om dit alles in een enkele equalisandum te versamel om die verspreidingsprobleem te vereenvoudig, eindig mens met iets wat uiters abstrak en moeilik meetbaar is (vir Cohen, “toegang tot voordeel”; vir Amartya Sen, “bekwaamhede” oor die “ruimte van moontlike funksioneringe”; ens.). Die alternatief is om die goedere direk te gelyk te maak sonder samantelling, wat 'n reuseprobleem van heterogeniteit en pluralisme skep.
Dit is nie moeilik om dit in 'n dilemma vir egalitariërs te omskep nie. Die gewildste reaksie was om die strewe na distributiewe geregtigheid prys te gee en eerder te fokus op die bereiking van “relasionele gelykheid” tussen individue. Dit dui op 'n selfs radikaler kritiek van die kinders‑op‑bokse‑meme: ons hoef nie oor boksetoedeling op sigself bekommer nie, of selfs of hulle die wedstryd kan sien, maar oor die kwaliteit van die verhoudings tussen hulle. Dit is nie soveel 'n gelykheidskonsep as 'n poging om die onderwerp te verander nie. (Tot dusver het dit geen vooruitgang in die tradisionele egalitariese probleme gemaak nie; wie weet, miskien kom daar eendag 'n bruikbare definisie, meting of verwezenliking van relasionele gelykheid.)
4. Die weerklinkende stilte
Een van die mees opvallende kenmerke van die DEI‑manie wat Noord‑Amerikaanse universiteite oor die afgelope dekade oorstroom het – en wat onverstoord in Kanada voortduur – is die weerklinkende stilte van filosowe oor hierdie vrae. Dit is werklik verstommend hoe min betrokkenheid daar oor enige van die groot kwessies bestaan. Gegewe dat gelykheid, multikulturalisme, feminisme en rasse geregtigheid sentrale onderwerpe in politieke filosofie is, is dit verbasend hoe min kollegas bereid is om vir DEI op te staan (behalwe, dalk, die epistemoloë, wat deesdae vreemd optree).
Nie net het filosowe gekies om nie met DEI te bemoeid te raak nie, maar DEI‑voorstanders het ook byna al die werk van filosowe oor hierdie vrae oor die afgelope eeu geïgnoreer. Dit is byvoorbeeld opvallend in die SSHRC‑riglyne vir DEI‑verklarings in navorsingsbeursaansoeke dat die voorgestelde leeslys geen filosofiese verwysings bevat nie. Klaarblyklik is nie een hoogstaande, gegronde filosofiese werk oor diversiteit, billikheid of insluiting gevind wat aanbeveel kon word nie.
Ek vermoed dit kom deels omdat die meeste filosowe nie werklik een van die hoofidees wat met DEI geassosieer word, aanvaar nie. Die kinders‑op‑bokse‑meme is 'n goeie voorbeeld: as “billikheid” só geïnterpreteer word, weerhou dit basies enige bekwame politieke filosoof daarvan om DEI te ondersteun. En tog, soos almal weet, word DEI‑verklarings nie as 'n uitnodiging gesien om jou werklike sienings oor hoe om geregtigheid en gelykheid te bevorder, te deel nie. Dit het baie tot die gevolg gehad dat stilte die beter deel van dapperheid geword het.
Totdat studente die kinders‑op‑bokse‑meme na vore bring, waarop selfs die skaamstes geen keuse het as om iets te sê nie.
Professor Joseph Heath is ‘n Kanadese filosoof aan die Universiteit van Toronto. Hy het vriendelik toestemming aan ons verleen om hierdie vertaling van sy artikel, “Why philosophers hate that ‘equity’ meme”, op OntLaer te gebruik. Volg gerus sy Substack, genaamd In Due Course.
Nog artikels deur gasskrywers:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in:
'n DEI Voorbeeld: Afrikaans 100 = Afrikaans 100% Woke. Die blanke Afrikaners se bydrae tot die Afrikaanse taal en die ontwikkeling van dit (alhoewel 95% van die taal se woorde uit oud Nederlands kom) word blykbaar geag as gering. Die taal het blykbaar in die Bokaap ontstaan en die eerste Afrikaanse teks was blykbaar in Arabies (ek meen geen Vryburgher of Hugenoot het ooit ou Afrikaans geskryf of gepraat voor die mense in die Bokaap nie ... blykbaar). Blykbaar is Kaaps / Afrikaaps net 'n ander tipe van standaard Afrikaans.
In Mauritius (die eiland) is daar 3 tale: Frans, Engels en 'n gemengde (tipe van omgekeerde een - meeste van die woorde is Frans) maar dit word besjou as 'n aparte taal - dit is nie a dialek van Frans nie. Die 3 tale op die eiland word almal gerespekteer, maar hulle word nie gemeng nie. In Suid Afrika sukkel baie Afrikaners blykbaar met die idee dat Standaard Afrikaans slegs behou kan word as dit nie gemeng word nie.
Geen wonder mens sien minder en minder trots in die Afrikaanse taal onder blanke Afrikaners. Ek meen as ons dit nie eers eintlik ontwikkel of geskryf het nie (bykbaar) en as ons dit nie mag sien as "anders" as Kaaps/Afrikaaps nie, hoe kan jy dan 'n trotsheid voel? Wat beteken dit dan vir ons as dit eintlik nie ons taal is nie (volgens sommige). Oop vraag.
Hierdie muurskildery vier blykbaar Afrikaans as 'n taal, maar die woord Afrikaans is nie eers in dit nie - en wat se dit nou eintlik?
https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/afrikaans-100-muurkuns-bring-wortels-van-afrikaans-op-kleurvolle-wyse-uiteen/