VERKIESING 2026 | Wie sal die Staat Beteuel?
'n Ouer besinning, met die oog op die komende plaaslike verkiesing.
Ondanks die ernstige maatskaplik-ekonomiese uitdagings waarmee Suid-Afrika steeds te kampe het, bly sy demokrasie — wat formeel deur die geskiedkundige verkiesing van 1994 ingelui is — veerkragtig, funksioneel en betreklik stabiel.
Die land beskik oor 'n progressiewe Grondwet wat fundamentele regte beskerm, staatsgesag tussen die wetgewende, uitvoerende en regsprekende gesag verdeel, en hoofstuk 9-instellings daarstel om etiese regering te ondersteun. Die regbank het 'n betekenisvolle mate van onafhanklikheid getoon in die handhawing van grondwetlike beginsels en die hersiening van die uitoefening van staatsgesag. Sedert 1994 het Suid-Afrika gereeld mededingende verkiesings gehou, terwyl 'n lewendige burgerlike samelewing en uiteenlopende medialandskap steeds die openbare debat vorm en politieke aanspreeklikheid versterk.
Hoewel Suid-Afrika se demokrasie dus bepaalde sterk punte het en funksioneel bly, is sy strukturele gebreke oor die afgelope drie dekades verskerp deur 'n diep gesentraliseerde staat. Dié bestel moedig rentejagpolitiek aan, verskerp die stryd om beheer oor staatshulpbronne en vergroot staatsmag op maniere wat individuele vryheid ondermyn en uiteindelik 'n eksistensiële bedreiging daarvoor inhou.
Selfs terwyl die African National Congress (ANC) Suid-Afrika saam met die Demokratiese Alliansie (DA) en agt ander politieke partye regeer, bly die ekonomiese masjinerie van die staat stewig onder die ANC se beheer. Die party gebruik steeds sy sterk verminderde demokratiese mag om sy Nasionale Demokratiese Rewolusie (NDR) na te streef: 'n links-georiënteerde ideologiese program wat daarop gemik is om onder meer die land se ekonomie te “transformeer” deur 'n kombinasie van nasionalisering, sentrale ekonomiese beplanning en herverdeling.
Die staat se beheer oor “strategiese sektore” van die ekonomie, soos energie en mynbou, tesame met sy beskikking oor 'n herverdelingsmeganisme soos Breëbasis- Swart Ekonomiese Bemagtiging (BBSEB), beteken dat diegene in strategiese magsposisies steeds aangespoor word om rykdom op te bou deur plundering of deur rente aan produktiewe rolspelers in die private sektor te onttrek.
Hierdie konsentrasie van enorme ekonomiese hulpbronne in die staat verklaar op sy beurt gedeeltelik die intense stryd om staatsbeheer wat reeds lank die faksiegevegte binne die ANC aanvuur. Dit help ook verklaar waarom twee wegbreekpartye van die ANC — naamlik die Economic Freedom Fighters (EFF) en die uMkhonto weSizwe-party (MK-party) — so vasbeslote is om die staat te kaap.
Elite Ekonomiese Bemagtiging
Anders as wat hul misleidende politieke retoriek te kenne gee, is hul werklike doel nie om die miljoene jong, arm en werklose swart Suid-Afrikaners te bemagtig wat weens sentrale ekonomiese beplanning steeds struktureel van deelname aan die ekonomie uitgesluit word nie. Net soos die ANC is hul ware doel om staatsmag te gebruik om hulself te verryk, terwyl 'n deel van die opbrengs van rentejag deur maatskaplike toelaes verdeel word onder 'n demokratiese meerderheid wat hulle om rasionele redes ondersteun.
Die ANC se NDR, wat ook daarop gerig is om ander terreine van die samelewing soos gesondheidsorg en onderwys te transformeer, vergroot vanselfsprekend steeds die staat se mag oor individue, ondernemings en gemeenskappe. Dit beperk hul vryheid om onafhanklike besluite sonder onbehoorlike inmenging te neem aansienlik.
Ten tyde van skrywe het die staat deur die “transformerende” Wysigingswet op Wette op Basiese Onderwys, oftewel BELA, sy beheer oor die basiese onderwysstelsel verstewig en die beperkte selfbeskikking wat die Skolewet aan ouers en gemeenskappe oor die onderrig van hul kinders verleen het, verswak. Hoewel die uitvoering van die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering, oftewel die NGV, hangende regsuitdagings tot stilstand gekom het, is dit weinig meer as 'n kwalik verbloemde poging om gesondheidsorg te sentraliseer en die private gesondheidsektor mettertyd te laat wegkwyn.
Dit is geen geheim dat geweldsmisdaad in Suid-Afrika hoogty vier en dat Suid-Afrikaners in toestande leef wat aan 'n oorlogsgebied herinner nie. Tog dring dieselfde staat wat klaaglik misluk het om een van sy mees basiese funksies te verrig daarop aan om polisiëring deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) te monopoliseer. Die SAPD het 'n deur-en-deur korrupte en onbevoegde Trojaanse perd geword waarvan die beheer deur gekompromitteerde politici die gedeeltelike kaping van die strafregstelsel deur misdaadnetwerke moontlik gemaak het.
Gevolglik kan die DA nie beslissend teen bendegeweld in die Wes-Kaap optree nie, hoewel dit steeds gemeenskappe verwoes en openbare veiligheid ondermyn. Miljoene arm Suid-Afrikaners wat geen toegang tot private beveiliging het nie, leef voortdurend in vrees dat hul vryhede geskend sal word deur misdadigers wat feitlik straffeloos optree.
Die opposisie en die grense van formele politiek
In 'n krisistyd waarin die Suid-Afrikaanse politieke bestel uitmekaar begin val en allerlei vorme van populisme onder arm en werklose mense aanvuur, is daar geen ruimte vir vertroostende illusies nie. Pessimisme is onbehulpsaam en verlammend, maar die politieke opposisielandskap bied weinig rede vir optimisme.
Sowel die EFF as die MK-party is ideologiese erfgename van die NDR. Hulle kan reeds in 2028 maklik 'n koalisieregering met die ANC vorm indien die ANC se volgende president, ná die party se verkiesingskonferensie, die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) sou laat ineenstort. Wat hulle veel gevaarliker as die ANC maak, is hul uitdruklike begeerte om die grondwetlike wigte en teenwigte op staatsmag af te breek en 'n suiwer meerderheidsbestel in te stel om hul vernietigende agenda deur te voer.
Die DA, die ander groot rolspeler in die RNE en tradisioneel 'n klassiek-liberale party, kan 'n belangrike dryfveer vir fundamentele verandering in die land wees. Dit ontbreek die party egter waarskynlik aan die ideologiese oortuiging wat nodig is om volle vertroue in te boesem. Hoewel sy regeringsprestasie belangrike suksesse opgelewer het, het dit ook getoon dat die langdurige stryd om die siel van die party nog lank nie verby is nie. Sekere elemente binne die DA is steeds bereid om klassieke liberalisme te versag of selfs geheel en al te laat vaar in 'n poging om deur die party se verkiesingsplafon te breek.
Wat ter wille van die argument die sosialdemokratiese vleuel van die Suid-Afrikaanse politiek genoem kan word, bestaan uit partye soos Build One South Africa (BOSA), Rise Mzansi en GOOD. Hulle verskil hoofsaaklik op administratiewe gebied en oor die toepassing van beleid soos SEB van die ANC. Hulle beloof skoner en bekwamer regering, maar demokrasie bly hul noordster. Hulle aanvaar ook in breë trekke die konsensus van die postapartheidsera dat 'n bekwame, gesentraliseerde staat nodig is om ongelykheid aan te pak, rasse-regstelling te bevorder en 'n vae vorm van burgerlike nasionalisme te bevorder.
Om billik te wees, ondersteun BOSA die instelling van onderwysbewyse in basiese onderwys en die afwenteling van polisiëringsmagte. Sy leier, Mmusi Maimane, onderskryf egter nie die siening dat die Grondwet federaal van aard is nie. Hy bly verkleef aan die idee dat 'n bekwamer, gesentraliseerde staat — wat noodwendig op 'n mate van sentrale ekonomiese beplanning en verskillende vorme van herverdeling steun — nodig is om 'n werklik nie-rassige en regverdige samelewing te bou.
Rise Mzansi en GOOD volg, veral wat ekonomiese beleid betref, 'n meer progressiewe koers as BOSA. Sommige van hul leiers het reeds getoon dat hulle bereid is om welvaartbelasting en soortgelyke beleidsmaatreëls te aanvaar. Albei partye is ook merkbaar meer krities teenoor klassieke liberalisme as ideologie. Dit blyk uit hul skerp kritiek op bepaalde aspekte van die DA se beleid, soos behoeftegebaseerde regstelling, wat hulle as anti-transformasie beskryf.
Op wat versigtig as die sentrumregse vleuel van die Suid-Afrikaanse politiek beskryf kan word, vind 'n mens partye soos ActionSA, die Patriotic Alliance (PA), die Inkatha Freedom Party (IFP), die African Christian Democratic Party (ACDP) en die Vryheidsfront Plus (VF Plus).
Op papier toon ActionSA 'n goeie begrip van basiese ekonomiese beginsels. Sy leier, Herman Mashaba, is 'n suksesvolle entrepreneur en uitgesproke voorstander van kapitalisme. Die party se nativistiese populisme, wat daarop berus dat immigrante vir maatskaplik-ekonomiese probleme geblameer en strenger immigrasiebeleid bepleit word, sit egter ongemaklik met klassieke liberalisme. Klassieke liberalisme verwerp nie landsgrense nie, maar is oor die algemeen ten gunste van minder beperkende immigrasiebeleid. Soos verskeie ander gevallestudies wêreldwyd reeds getoon het, leen hierdie soort populisme hom dikwels tot proteksionistiese ekonomiese beleid wat staatsmag uitbrei en vryemarkkapitalisme ondermyn.
Daarbenewens blyk Mashaba se meedoënlose kritiek op die DA deur meer as bloot voortslepende wrewel oor vermeende verraad in die verlede aangevuur te word. Sy volgehoue aanvalle op die party omdat dit tereg weerstand gebied het teen vroeëre pogings om dit van klassieke liberalisme weg te stuur, sy skeptisisme oor privatisering in die Stad Tshwane en sy verkondiging van groot narratiewe oor kollektiewe rasseskuld dui alles daarop dat hy 'n onvoorspelbare figuur is wie se verbintenis tot die klassiek-liberale tradisie op sy beste twyfelagtig bly.
Die PA, onder leiding van minister Gayton McKenzie, het geen duidelik onderskeibare ideologie buiten 'n soort “konserwatiewe” aanslag oor wet en orde, kapitalisme en die terugbring van God na skole nie. Sy aansluiting by dieselfde soort populisme wat ActionSA verkondig, is nog 'n rede tot kommer. McKenzie is boonop volgens geen denkbare maatstaf ’n klassieke liberalis nie. Hy beskryf homself trots en herhaaldelik as 'n “welwillende diktator” wat, indien hy staatspresident sou word, die Grondwet sou opskort en aan homself noodmagte sou verleen om Suid-Afrika te red.
Die IFP, gedryf deur 'n begeerte om sy tradisionele beeld as 'n Zoeloe-etnonasionalistiese party af te skud en homself te vernuwe, het tragies genoeg van sy federalistiese erfenis weggedryf. In sekere opsigte begin die party al hoe meer na sy teenstander, die ANC, lyk. Die IFP is beslis verkieslik bo die ANC en kan steeds vanuit KwaZulu-Natal 'n voertuig vir fundamentele verandering wees, mits die paar oorblywende stemme van rede binne die party deur die een of ander wonderwerk die oorhand kry. Die huidige voorrang wat aan vernuwing en verkiesingspragmatisme gegee word, plaas hierdie stemme egter in 'n uiters gemarginaliseerde posisie waarin hulle weinig of geen invloed op die party se beleidsrigting het nie.
Daar bestaan onderskeidelik meningsverskille met sommige van die VF Plus en die ACDP se sosiaal-konserwatiewe standpunte. Nietemin is albei belangrike partye wat die federale aard van die Grondwet erken en hulle konsekwent vir 'n federale regeringstelsel beywer. So 'n bestel kan die aansporings vir rentejagpolitiek aansienlik verminder, die stryd om hulpbronne by die sentrum temper en die ruimte vergroot waarbinne individue, ondernemings en gemeenskappe hulself kan regeer en onafhanklike besluite kan neem.
Hierdie ontleding is geensins volledig nie, maar behandel die partye wat die nuttigste is om die aard en rigting van die Suid-Afrikaanse politiek te verstaan en in kaart te bring.
Geen politieke party kan volmaak met 'n mens se ideologiese wêreldbeskouing ooreenstem nie, en die beredeneerde pessimisme oor die opposisielandskap wat in hierdie essay uitgespreek word, spruit nie uit so 'n verwagting nie. Nietemin is dit belangrik om groot waarde aan 'n mate van ideologiese ooreenstemming te heg, veral in 'n konteks waarin idees — bewustelik of onbewustelik — saak maak en waarin die toekoms van 'n verbrokkelende politieke bestel in beduidende mate daarvan afhang.
Die beredeneerde pessimisme wat hier oor die opposisielandskap uitgespreek word, moet ook nie verwar of gelykgestel word met 'n algehele onttrekking uit Suid-Afrika se formele politieke arena nie. Formele politiek bly die belangrikste terrein waarbinne politieke mag uitgeoefen en openbare beleid gevorm word. Dit staan dus sentraal tot die strewe na betekenisvolle verandering en kan nie eenvoudig geïgnoreer word nie.
Die DA het, veral binne die RNE, steeds 'n belangrike rol om te speel in die weerstand teen die ANC se vernietigende beleidsagenda. Die party moet voortgaan om die saak van klassieke liberalisme te bevorder en volgens die beginsels daarvan te regeer waar hy ook al die regering beheer. Meer algemeen het almal wat vryheid koester die verantwoordelikheid om in die aanloop tot die nasionale verkiesing van 2029 politieke partye te ondersteun wat vryheid ook waardeer — hoe onvolmaak ook al — selfs indien klassieke liberalisme 'n verkiesingsmatig gemarginaliseerde ideologie in Suid-Afrika bly.
Verby Formele Politiek
Die meer genuanseerde punt wat egter ook oorweeg moet word, is dat die saak van vryheid en fundamentele verandering uiters beperkte vooruitsigte het om deur formele politiek alleen te slaag.
Vir minstens die afsienbare toekoms is die waarskynlikste uitkomste ná die RNE óf 'n uiters gevaarlike koalisie tussen die ANC, die MK-party en die EFF, óf die een of ander RNE 2.0 waarin 'n nóg swakker ANC saam met die DA en verskeie kleiner partye aanhou regeer. 'n Derde “wildehondkoalisie”, waarin die DA saam met 'n groep kleiner partye sonder die ANC regeer, is die onwaarskynlikste uitkoms. In al drie scenario’s is die vooruitsig dat 'n toekomstige regering sal instem om staatsmag te desentraliseer uiters skraal.
Dit beteken noodwendig dat daar 'n ander weg, buite die arena van formele politiek, moet bestaan waardeur die saak van vryheid bevorder en volgehou kan word.
Daardie weg is die burgerlike samelewing. Dit is bemoedigend dat die burgerlike samelewing reeds die saak van vryheid bevorder, die RNE aanspreeklik hou en druk daarop uitoefen om van sentralisering weg te beweeg.
Dit sluit burgerlike organisasies soos AfriForum en Solidariteit, dinkskrums soos die Vryemarkstigting en die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge, en drukgroepe soos Sakeliga en Lex Libertas in. Gesamentlik speel hierdie organisasies 'n belangrike rol om die saak van vryheid te bevorder. Hulle moet daarmee voortgaan in 'n konteks waarin volgehoue druk buite die arena van formele politiek noodsaaklik is om fundamentele verandering teweeg te bring.
Hopelik sal hierdie sfeer van die samelewing aanhou groei, namate meer individue, organisasies en gemeenskappe sowel die beperkings van formele politiek as die noodsaak van druk van buite erken. Dit is ewe belangrik dat die sakegemeenskap sy invloed besef en dit aanwend ter ondersteuning van 'n beleidsagenda wat individuele vryheid uitbrei en die konsentrasie van staatsmag verminder.
Hoewel formele politiek belangrik bly, is dit individue, ondernemings en gemeenskappe wat oor die vermoë beskik om blywende verandering te bewerkstellig. Dit is makliker gesê as gedaan, maar die geskiedenis het herhaaldelik getoon dat betekenisvolle verandering dikwels begin by diegene wat die swaarste geraak word wanneer die staat buitensporig magtig word en op individuele vryheid inbreuk maak.
Ayanda Sakhile Zulu het 'n BSocSci-graad in Politieke Studies aan die Universiteit van Pretoria verwerf en is 'n beleidsbeampte by die Vryemarkstigting. Hierdie artikel is met die vergunning van The Rational Standard vertaal en herpubliseer.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.








