Roger Scruton skryf in 2014 dat goeie dinge maklik vernietig word, maar nie maklik geskep word nie. Ek onthou dat ek dié sin op universiteit gelees het maar ek besef vandag dat ek dit nou eers behoorlik verstaan. Toe het dit vir my geklink soos 'n konserwatiewe aforisme. Maar in werklikheid dui dit op die spanning tussen bouers en brekers.
Instellings, vertroue, gemeenskappe en lande word stadig gebou. Hulle ontstaan uit gewoonte, dissipline, opoffering en baie ondankbare werk. Maar hulle kan vinnig afgebreek word deur korrupsie, agterdog, onbevoegdheid, vrees, of bloot deur mense wat meer beloning kry uit kritiek as uit herstel of bou.
Daarom is verval so 'n kragtige openbare produk. Dit is makliker om 'n brand te beskryf as om water aan te dra om die brand te blus.
In Amerika het hierdie dinamika 'n hele bedryf geword. Die grift industrial complex, om dit so kras te stel, leef van die ongesproke siniese vertrekpunt dat wat sleg is vir die wêreld dikwels goed is vir hul bankstate. Hoe meer chaos, hoe meer kykers. Hoe meer morele paniek, hoe meer betaalde intekenaars.
En dit is nie uitsluitelik 'n linkse of regse verskynsel nie. Daar is linkses wat van permanente verontwaardiging oor “onderdrukkende strukture” leef, en regses wat van permanente slagofferskap in 'n “liberale orde” leef. Die produk van beide is dieselfde, naamlik 'n identiteit wat gevoed word deur die oortuiging dat jy 'n slagoffer is van magte wat jy nie kan beheer nie.
Die sielkunde hiervan is nie nuut nie. Navorsers beskryf 'n “tendency for interpersonal victimhood” as 'n volgehoue gevoel dat die self oor verskillende verhoudings heen as slagoffer behandel word. Dit gaan dikwels gepaard met 'n behoefte aan erkenning, morele meerderwaardigheid, die opgrawe van ou griewe en soms 'n verminderde vermoë om ander se perspektief raak te sien.
In groepsverband word dit nog sterker. “Competitive victimhood” beskryf hoe groepe begin meeding om die status van die grootste slagoffer. Wie die meeste gely het, kry morele gesag.
Vir lank was hierdie mededinging om slagofferskap die duidelikste sigbaar in die interseksionele woke verbeelding, waar morele gesag dikwels toegeken is volgens 'n hiërargie van historiese verwonding op verskeie identiteitsvlakke. Vandag sien 'n mens dit ook aan die ander kant van die politieke spektrum. Die woordeskat verskil, maar die aard daarvan is dieselfde.
Dit beteken natuurlik nie dat daar nie werklike slagoffers is nie. Suid-Afrika is vol werklike slagoffers van misdaad, staatsverval, korrupsie, raswetgewing, armoede, wanbestuur en die wrede alledaagsheid van vervalende staat. Om hierdie lyding te benoem, bespreek en dan aan te pak, is nie grift nie. Om dit te dokumenteer, hof toe te neem, polities te beveg, gemeenskappe daarteen te organiseer en instellings daarteen te bou, is noodsaaklike werk.
Maar die probleem is wanneer die werklike probleme nie aangespreek word om dit te verander nie, maar gebruik word as 'n hulpbron wat ontgin moet word vir eie gewin.
Die misbruik gebeur soms opsetlik. Maar dikwels gebeur dit ook deur “audience capture”. 'n Kommentator of organisasie begin met 'n redelike punt waarop sy of haar gehoor goed reageer want iemand verwoord uiteindelik wat die hoofstroom weier maar hulle ten diepste voel. Ons algoritmiese aanlynwêreld beloon dit dan en die volgende keer word dit effens skerper gestel. So groei die gehoor maar ook die afhanklikheid op daardie gehoor.
In die Amerikaanse konserwatiewe mediawêreld is hierdie spanning duidelik sigbaar die afgelope paar jaar. Aan die een kant is daar figure soos Tucker Carlson en Candace Owens wat vandag 'n groter ekosisteem voed waarin wantroue, ondergang en verraad dikwels die hoofproduk word. Aan die ander kant staan iemand soos Ben Shapiro en The Daily Wire.
The Daily Wire is in 2015 begin deur Ben Shapiro en Jeremy Boreing. Van daar af het dit gegroei tot 'n volwaardige mediamaatskappy met podsendings, nuus, video, dokumentêre projekte, films, 'n intekeningdiens, DailyWire+, verbruikersprodukte soos Jeremy’s Razors, en selfs Bentkey, 'n kinder-vermaakplatform. Daily Wire was die nuuste konserwatiewe mediareus in die VSA. Of jy van hulle inhoud of ideologie hou of nie, die Daily Wire het duidelik iets gebou eerder as om net gegrief te wees oor die medialandskap in die VSA. Hulle het nie net voor 'n kamera gesit en oor verval en uitsluiting gekla nie. Hulle het gebou.
Die DailyWire het dit gedoen sonder om heeltemal deur hul eie gehoor gevange geneem te word. Die jongste skeur in die Amerikaanse konserwatiewe beweging (oor Israel, Iran, Amerikaanse buitelandse beleid, antisemitisme en die groter vraag of die regse beweging ook slagofferskap moet omhels) het The Daily Wire duur te staan gekom. Shapiro en sy kollegas het kykers, invloed en waarskynlik ook intekenaars verloor omdat hulle nie bereid was om elke nuwe golf van aanlyn woede saam te ry nie. Candace Owens en Tucker Carlson het, elk op hul eie manier, die meer winsgewende, beginsellose en uiteindelik afbrekende pad gevolg.
Daar is 'n verskil tussen 'n instelling wat 'n prys betaal om 'n beginsel te behou, en 'n persoonlikheid wat elke nuwe grief as brandstof vir die volgende episode gebruik. En dit is die belangrike onderskeid. Die vraag is nie of iemand kwaad is oor die wêreld nie. Baie mense is met goeie rede kwaad. Die vraag is, wat doen hulle met daardie woede? Word dit omskep in instellings, beleid, regshulp, skole, media, gemeenskapsnetwerke, opleidingsprogramme, sakeondernemings en praktiese alternatiewe? Of word dit net elke week herverpak as nog 'n monoloog oor hoekom alles verlore is?
Suid-Afrika het sy eie kleiner weergawe hiervan. Ons aanlyn mikrokosmos is vol podsenders, kommentators en selfaangestelde profete van ondergang. Sommiges vervul 'n belangrike rol deur te sê wat die hoofstroom lankal moes sê. Maar daar is ook 'n groeiende klas mense vir wie Suid-Afrika se mislukking amper te gerieflik geraak het. Hulle het 'n belang daarin dat alles altyd slegter klink as wat dit is, want hulle gesag hang af van die idee dat net hulle die werklikheid durf beskryf.
Die Trump-vlugtelingprogram vir Suid-Afrikaners was 'n goeie voorbeeld van hoe vinnig 'n vakuum gevul word. Kort nadat Trump die aankondiging gemaak het, het webtuistes daaroor opgespring, WhatsApp-hulplyne, “advies”-kanale en digitale middelmanne wat mense wou help om die nuwe Amerikaanse uitweg te verstaan het oral opgeduik. Alles teen 'n fooi natuurlik.
Dit alles gesê, talle organisasies wat teen verval veg is nie skuldig aan hierdie slagoffer-mentaliteit nie. En te midde van verval het Suid-Afrika burgerlike organisasies nodig, meer as ooit. 'n Land wat deur die staat in die steek gelaat word, het mense nodig wat litigeer, mobiliseer, dienste bou, gemeenskappe beskerm en alternatiewe skep. Organisasies soos die Solidariteit Beweging bou universiteite, opleidingsinstellings, regstrukture, maatskaplike netwerke en kulturele infrastruktuur.
'n Paar jaar gelede het 'n groep huidige en voormalige IRR-lede, oud-werknemers en openbare figure selfs 'n ope brief gepubliseer waarin hulle beweer het dat die organisasie van sy oorspronklike nalatenskap afgedwaal het. Die ironie was dat die klag van dwaling self 'n poging was om die IRR terug te trek na 'n nouer, meer kontemporêre progressiewe konsensus oor wat hulle voel nuwe progressiewe liberalisme behoort te wees. Die IRR het nie gebuig nie. Dit het vasgehou aan egte liberalisme wat individuele vryheid, nie-rassigheid, eiendomsreg, vrye markte en staatsbeperking ernstig opneem, selfs wanneer daardie klem nie meer modieus is in die kringe waar liberalisme graag sy eie goedkeuring soek nie.
Die IRR lewer dus kritiek links en regs (excuse the pun), maar doen dit vanuit 'n beginselvaste verbintenis tot 'n beter Suid-Afrika as geheel. En dit swig nie maklik voor audience capture nie, juis omdat sy kritiek nie afhanklik is van 'n enkele gehoor se emosionele behoeftes nie.
Bouers kan natuurlik verkeerd wees. En die brekers kan soms reg wees. Maar net die bouer neem verantwoordelikheid vir die toekoms.
Die breek-instink is verwant aan die swakste weergawe van kritiese teorie waar die wêreld hoofsaaklik gesien word as 'n stel magsverhoudinge wat ontmasker moet word. Alles word verdag gemaak. Elke instelling is 'n rookskerm. Elke sukses is propaganda. Elke kompromie is verraad.
Maar kritiek is die maklikste vorm van deelname. Dit is die punt van Theodore Roosevelt se bekende waarskuwing dat dit nie die kritikus is wat tel nie, maar die mens “in the arena”. Die een wat stof, sweet en foute op hom neem omdat hy ten minste probeer bou. Ons kort minder van die permanente ontmaskeringsdrang van Foucault en meer van Burke se eerbied vir oorgeërfde instellings. Minder Twitter-reflekse en meer Tocqueville se begrip dat vryheid uiteindelik in gewoontes, verenigings en plaaslike verantwoordelikheid leef.
Hierdie soort bouwerk gebeur oral. In politiek is daar bouers en brekers. Dieselfde geld in die burgerlike samelewing, die media, die kuns, die akademie, die ekonomie en selfs in die kerk. In elke sfeer is daar mense wat instellings skep, vertroue herstel, gemeenskappe organiseer en verantwoordelikheid aanvaar. En in elke sfeer is daar ook mense wat hoofsaaklik leef van verdagmaking, verval en die maklike beloning van afbreek.
Die onderskeid is tussen dié wat verval as 'n probleem sien wat aangespreek moet word, en dié vir wie verval 'n platform geword het.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.











