Ware liberalisme is dinamies
Thomas Jefferson was liberaal, maar ook 'n slawe-eienaar?
Klassieke liberalisme is nie 'n statiese politieke filosofie nie, al lyk dit asof sommige mense dit as sulks probeer skets.
Die kwessie wat my hieroor laat dink het, was die debat oor huweliksgelykheid. Al het dit my gedagtes oor die onderwerp laat draai, is die huweliksgelykheidvraagstuk nie regstreeks tersaaklik vir die groter vraag oor of liberalisme dinamies of staties is nie. Een teenstander van huweliksgelykheid het geargumenteer dat steun vir die reg nie “liberaal” is nie, omdat John Stuart Mill nooit iets oor gay-huwelike of selfdegeslag burgerlike verbintenisse gesê het nie.
Hoe waar dit ook al mag wees, die afleiding dra niks tot die debat by nie en is nie juis relevant nie. In die opmerking lê 'n paar lae, maar kern tot dit alles is die idee dat liberalisme staties is en nie aanpas nie.
In 'n sekere sin is dit 'n byna godsdienstige siening van liberalisme, want dit behandel liberalisme asof dit 'n geopenbaarde geloof is. Maar die vele vaders van liberalisme was nie profete wat uit 'n soort heilige teks gepreek het nie. Hulle was mense. Ordentlike en intelligente mense, maar net mense. Hulle het nooit voorgegee om enigiets meer te wees nie.
Komplekse liberale denkers
Dit beteken natuurlik hulle het foute gemaak. Hulle was deel van en vas in hul tyd en kultuur. Selfs 'n groot liberale figuur soos Thomas Jefferson, wat in die 1700’s geleef het, was 'n produk van sy omgewing. Hy is gebore in 'n wêreld waar slawerny aanvaarbaar was en hy het as 'n slawe-eienaar grootgeword. Jefferson het daardie praktyk voortgesit tot en met sy dood al het hy die spanning tussen sy liberale beginsels en slawerny ingesien.
Jefferson het probeer om slawerny af te skaf, maar sy kultuur en samelewing kon eenvoudig nie daardie idee aanvaar nie. Byna 'n eeu later het slawerny steeds in die Amerikaanse Suide voortbestaan. Waarom sou ons Mill se siening oor die huwelik dus ernstiger opneem as Jefferson se sienings oor slawerny?
Jefferson was diep gekwel deur die instelling van slawerny. Hy het geweet daar bestaan 'n botsing tussen politieke waardes en sy samelewing. Hy het probeer om die instelling te beëindig maar beslis nie hard genoeg nie weens vrees dat dit die jong nasie wat hy help stig het, uitmekaar sou skeur. Slawerny was tradisie en gebruik in daardie tyd. Dit is gesteun deur baie van die georganiseerde godsdienste van die tyd veral die ortodokse kerke. Liberale beginsels van daardie tyd kon eenvoudig nie aangewend word om die slawerny-kwessie in daardie mileu te beantwoord nie, omdat die kultuur nog nie gereed was vir die regte en vryhede wat klassieke liberalisme beloof het nie.
Die konflik vir Jefferson was tussen sy waardes en sy bereidwilligheid om nie meer te veg vir volle vryheid nie. Die man wat geskryf het “all men are created equal” het geweet hy is vasgeketting en kon nie veg vir die beginsels wat hy self in die Onafhanklikheidsverklaring vasgelê het nie.
Om verskeie redes het liberaalgesindes nie altyd hul beginsels tot die uiterste deurgevoer nie. Sommige, soos Jefferson met sy anti-slawerny-idees, was ver voor hul tyd. Hulle het 'n radikale toepassing van liberalisme voorgestaan wat hul samelewing nie kon begryp nie. Ander kon nie verder sien as die kwessies van hul dag nie, onbewus van waar hul beginsels toekomstige geslagte sou neem.
Deur die eeue het liberalisme egter ontwikkel. En wanneer ek na “liberalisme” verwys bedoel ek nie die gekaapte opstelling van liberalisme soos deur sommige sosialiste beskryf nie. Ek bedoel liberalisme wat aanhoudend beweeg om vryheid na al hoe meer terreine van die menslike lewe uit te brei. Dit het nie begin met 'n voltooide agenda van vryheid nie. Daardie agenda het ontwikkel en dit ontwikkel steeds. Dis onwaarskynlik dat enigeen ooit 'n volledige liberale agenda sal kan neerskryf, aangesien elke geslag nuwe uitdagings in die gesig staar en geestelik voorberei moet wees vir nuwe toepassings van liberale beginsels.
In stryd met konserwatisme
Omdat liberalisme 'n ontwikkelende wêreldbeskouing is, bestaan daar altyd 'n spanning tussen diegene wat vir méér vryheid werk deur 'n konsekwente toepassing van gelyke regte, en die wat ongemaklik raak en die proses wil stop of selfs wil terugdraai.
Soos met enige oortuiging bestaan daar konserwatiewe denkers wat voel die beginsels het so ver gegaan as wat hulle kan of behoort. FA Hayek het in sy klassieke essay Why I Am Not a Conservative geskryf dat die moderne wêreld oorheers word deur sosialisme in sy vele vorms. Omdat beide konserwatiewe asook liberale denkers teen sosialisme ingestel was, het sommige mense gedink hulle is bondgenote. Maar teenoor konserwatisme, het Hayek gesê, “is die belangrikste kenmerk van liberalisme dat dit elders heen wil beweeg en nie stilstaan nie.”
Hayek het gesê 'n duidelike verskil tussen klassieke liberale mense en konserwatiewes lê in hul sielkundige ingesteldheid:
“Een van die fundamentele eienskappe van die konserwatiewe ingesteldheid is 'n vrees vir verandering, 'n skugter wantroue teenoor die nuwe as sodanig; die liberale posisie is daarenteen gebou op moed en vertroue en op 'n bereidwilligheid om verandering sy loop te laat neem, selfs al weet ons nie waarheen dit lei nie.”
Hierdie vrees vir “onbeheerde sosiale kragte,” het Hayek verduidelik, “hou nou verband met twee ander eienskappe van konserwatisme: die liefde vir gesag en die onvermoë om ekonomiese kragte te verstaan.” Die konserwatiewe denkers begryp nie dat orde in die samelewing spontaan ontstaan nie en hulle verstaan nie hoe die mark se ekonomiese kragte daartoe bydra nie. Hulle aanvaar orde moet van bo af opgelê word – deur die koning, die priester, of albei saam. Soos Hayek dit gestel het: “Orde verskyn vir die konserwatiewe as die resultaat van die voortdurende aandag deur gesag.”
Die logiese gevolgtrekking vir konserwatiewes is dus dat staatsmag nie inherent problematies is nie. Hy wil net hê dit moet aangewend word vir doelwitte waarmee hy gemaklik is. Hayek skryf:
“In die algemeen kan 'n mens sê die konserwatiewe beswaar nie teen dwang of arbitrêre mag is nie solank dit vir ‘regte’ doeleindes gebruik word nie. …Soos die sosialis, is hulle minder besorg oor hoe staatsmag beperk moet word as oor wie dit gebruik; en soos die sosialis, meen hy hy is geregtig om sy waardes op ander af te dwing.”
Hier word die konflik tussen klassieke liberalisme en konserwatisme die duidelikste. Vir die konserwatiewe kant lê die probleem van regering uiteindelik nie in wat die staat doen nie, maar in wie dit beheer. Hulle wil die staat nie noodwendig beperk nie, maar wil dit net in ander hande plaas. In hierdie opsig is hy nader aan die sosialis. Albei glo in orde van bo af, opgelê deur die “meerderwaardige mens,” al verskil hulle hewig oor waarvoor die mag gebruik moet word. Dít is hoekom liberalisme ewe ver van konserwatisme as van sosialisme staan. Daarom vind berouvolle sosialiste, soos Whitaker Chambers, dit dikwels makliker om skuiling by konserwatisme te soek as om hulself met liberale denke te vereenselwig.
Liberalisme leef voort in die gevolgtrekkings van groot liberale denkers, maar dit is meer as net daardie gevolgtrekkings. Hulle afleidings is nie die fondamente van liberalisme nie. Trouens, dit is byna onbelangrik. Liberalisme lê in die beginsels. Waar gevolgtrekkings konsekwent die uitvloeisel van beginsels is, kan moderne liberalisme dit aanvaar. Waar dit inkonsekwent is, kan ons dit verwerp. Ons is nie verbind aan die gevolgtrekkings van 'n spesifieke denker nie, maar wel aan die grondbeginsels. Ons leef in 'n ander wêreld, een waar houdings en politieke realiteite voortdurend verander.
Dit beteken nuwe terreine waarin liberale beginsels toegepas kan word, maak oop en geleenthede ontstaan wat vroeëre geslagte nie gehad het nie.
Liberalisme loop met oop oë
Lord Samuel Brittan het opgemerk dat baie van die hervormings van die 1960’s die logiese gevolge van klassieke liberale beginsels was. Gevolge wat vroeër net nie haalbaar was nie. Hy het gesê:
“Baie van die klassieke idees van die negentiende-eeuse liberalisme het eers in die 1960’s wet geword. Die stryd is nog lank nie gewen nie, soos gesien kan word uit die strawwe wat steeds opgelê word vir ‘obsene publikasies’ of die histeriese en wraaksugtige houding van soveel gesagsfigure oor dwelms.”
Daarom kan ons nie liberalisme ontdek bloot deur terug te kyk na die gevolgtrekkings van vorige geslagte nie. Liberalisme is 'n inherent dinamiese, ontwikkelende stelsel van oortuigings. Maar as dit waar is, wat keer dat dit ontwikkel tot iets heeltemal onliberaal? Die grondbeginsels van liberalisme, as dit streng gevolg word, hou die skip op koers. Dit is liberalisme se krag. Mill kon nooit huwelike tussen persone van dieselfde geslag voorsien het nie. Gedurende sy tyd was dit ondenkbaar. Maar sy beginsels oor vryheid, en die noodsaaklike beperking van die staat om daardie vryheid te beskerm, lei tot sekere logiese gevolgtrekkings. Daardie gevolgtrekkings sal van geslag tot geslag uitbrei namate kulture, samelewings en mense verander.
Maar die beginsels bly. Dis dié beginsels wat bepaal waar liberalisme heen beweeg – nie 'n stilstaande foto van wat liberales op 'n sekere tydstip geglo het nie.
James Peron het vir talle publikasies geskryf en is die outeur van verskeie boeke, insluitend Exploding Population Myths en The Liberal Tide. Hy is ook 'n lid van die Free Market Foundation. Hierdie artikel is met die toestemming van The Rational Standard vertaal.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.