Burge vs Pluckrose debat: “Die Liberale Dwaling”
Geen vrye individue nie, maar 'n samelewing van atomistiese verbruikers.
Toe ek as nagraadse student politieke wetenskap studeer het, het ek liberalisme as 'n vanselfsprekende goedheid gesien: natuurlik moet 'n samelewing vooruitgang bo alles bevorder, natuurlik moet tradisies weggegooi word as dit in geluk se pad staan, en natuurlik moet die uiteindelike doel wees om individuele vryheid te maksimeer.
Wanneer ek “liberaal” sê, bedoel ek nie die Amerikaanse Demokratiese Party nie, maar die dominante politieke filosofie van die moderne Westerse wêreld. Liberalisme is 'n filosofiese tradisie wat in die Verligting gewortel is, en dit berus onder meer op die idee dat vryheid die hoogste goeie is, en dat die regering se rol is om persoonlike regte te beskerm sonder om enige spesifieke morele visie af te dwing. Amerika is op liberale beginsels gebou. In die 20ste eeu het semantiese skuif daartoe gelei dat “liberaal” as 'n versamelterm vir linkse of Demokratiese politiek begin dien het, maar albei partye — Demokrate en Republikeine — funksioneer steeds binne 'n liberale raamwerk, ten spyte van hul oppervlakkige teenstrydighede.
En vir 'n rukkie het dit gelyk of Amerika se liberale eksperiment 'n oorweldigende sukses was. Ons het 'n ongeëwenaarde lewensgehalte opgebou, die Tweede Wêreldoorlog beslissend gewen, die Sowjetunie aangepak, en mense op die maan gesit. Vir dekades lank het dit gevoel asof die geskiedenis self aan ons kant is.
Maar mettertyd het daar krake begin wys.
Vooruitgang en Ontbinding
Liberalisme verkondig dat regerings neutraal moet wees, maar in praktyk is Amerika se liberale raamwerk bevolk deur 'n kultureel samehangende bevolking, grotendeels verenig deur die Christelike geloof en Anglo-Europese sosiale norme. Oor tyd het die onderliggende morele konsensus egter begin vervaag. Moderniteit (tegnologies gesproke en opvattingsgewys) het atomisering en 'n fokus op selfvervulling aangemoedig. Soos immigrasie toegeneem het, is Amerika al hoe minder as 'n tuiste met 'n gedeelde kultuur beskou, en al hoe meer as 'n abstrakte idee. Assimilasie het plek gemaak vir 'n multikulturele etos wat ou idees van eenheid laat verdwyn het.
In die politiek het sommige Demokrate doelbewus die afbreek van sosiale norme bevorder, terwyl sommige Republikeine so behep met 'n minimalistiese regering geraak het dat hulle niks meer gehad het om voor te staan nie. Uiteindelik, gegewe die menslike natuur, het liberalisme dikwels meer as 'n stel leë slagspreuke gefunksioneer as 'n opregte poging om die regering moreel neutraal te hou; beide partye was eerder gretig om hul ideologiese agendas te bevorder.
Wat beide partye verenig het, was 'n oortuiging in progressie oftewel vooruitgang. Vooruitgang was die goue sleutel wat liberalisme in staat sou stel om geskiedkundige griewe tussen hoër- en laerklasse te oorkom. Vooruitgang — ekonomies sowel as maatskaplik — het beteken dat mense toegang gekry het tot 'n steeds groeiende verskeidenheid produkte en leefstyle, genoeg om hulle besig te hou terwyl elites hul beheer behou. In dié sin het liberalisme as 'n bestuursmodel gefunksioneer om elite-beheer onder die dekmantel van neutraliteit en individuele regte te verseker.
Liberalisme het ontstaan in 'n kultureel samehangende, moreel gegronde samelewing. As jy in 'n homogene samelewing leef met gedeelde waardes, is dit moeilik om te dink dat só 'n samelewing ooit kan verbrokkel. Maar liberalisme is soos 'n kragtige suur.
Mettertyd het Amerika se kulturele samehang begin ontrafel. Dinge wat aan die lewe betekenis verleen kan neutraliteit nie oorleef nie; as 'n samelewing ophou om sy tradisies te versorg, verdwyn daardie tradisies. Hoe meer gefragmenteerd 'n samelewing word, hoe meer verval vertroue en neem konflik toe — en mense wend hulle dan tot die staat om as skeidsregter op te tree, wat lei tot meer staatsmag en inmenging. Ironies genoeg het Amerika se obsessie met vryheid uiteindelik in minder vryheid ontaard.
Die woke ortodoksie
In dié ontbindende Amerika het woke progressiwisme ingetree. Dit het voordeel getrek uit liberalisme se verwerping van 'n gedeelde waarheid en 'n nuwe morele orde voorgestel wat die ou taal van regte gebruik het om dwang en beheer te regverdig. (Ek weet ons mag glo nie meer die woord “woke” gebruik nie, maar ek gaan dit steeds gebruik want dis 'n handige afkorting wat almal verstaan.)
Woke progressiwisme sien die samelewing as 'n onderdrukkingsisteem. Alles — ras, geslag, seksualiteit — word deur 'n lens van mag beskou, wat altyd vra: wie onderdruk, en wie word onderdruk? Dit probeer tradisionele strukture en norme afbreek in die naam van gelykheid — wat selfs die grense wat die biologie veronderstel probeer oplos in die naam van vryheid. Dit funksioneer deur morele absolutisme — dit monitor spraak, denke en gedrag om ideologiese eenvormigheid af te dwing. Dit is nie in staat om waarheid te bou of te soek nie, want dit is gegrond op kritiek en afbrekingsdrang. Die uiteindelike aanbod is gewoon chaos.
Woke progressiwisme was nuttig vir die magselite. Demokrate het sy taal geïnternaliseer om die Amerikaanse bevolking as rassisties, seksisties en homofobies af te maak — en dus te regverdig waarom die “verligte elite” in beheer moet bly. Republikeine gebruik “wokeness” as 'n afskrikmiddel om meer mag vir hulself op te eis, sonder om te erken dat dit intussen 'n luuksheidsoortuiging geword het wat juis vir die eliteklas baie voordelig is. Saam benut die liberale establishment hierdie sikliese ontplooiing van — en stryd teen — woke progressiwisme op maniere wat hul mag versterk.
Die liberale staat en Amerika se voorste instellings het hul eie morele orde geword — een wat 'n nuwe ortodoksie van selfskepping, vloeibare identiteit en eindelose vooruitgang afdwing. En dit straf afwyking van daardie ortodoksie met toenemende krag. Die gevolg hiervan is nie 'n florerende samelewing van vrye individue nie, maar 'n samelewing van geatomiseerde verbruikers — verslaaf aan nuwigheid, agterdogtig teenoor mekaar, en toenemend onbekwaam om die vryhede te onderhou wat hulle beweer om te waardeer.
'n Post-Liberale Toekoms
Om liberalisme te kritiseer beteken nie om die goeie daarin te ontken nie — soos insigte oor menswaardigheid, die gevare van tirannie, en die noodsaak van vryheid. En kritiek is nie 'n oproep om die klok terug te draai nie, maar 'n eerste stap om deur die liberale dwaling te sien.
Die liberale dwaling is die geloof dat vryheid die uiteindelike doel van 'n samelewing kan wees. Hierdie illusie maak van vryheid 'n afgod, bloot ter wille van vryheid self. Dis die idee dat indien ons net basiese regte beskerm en terugstaan, die goeie vanself sal voortkom. Maar samelewingsflorering onderhou nie homself nie — dit benodig tradisie, geloof, pligsbesef en samehorigheid. Vryheid is goed nie omdat dit ons toelaat om enigiets te doen nie, maar omdat dit ons die vryheid gee om deugsaamheid te kweek. Vryheid moet vryheid ter wille van iets groter wees. Sonder 'n samehangende transendente orde om dit te anker, word vryheid fragmentasie, wat lei tot nihilisme en konflik — wat dan weer tot chaos lei wat hardhandige beheer noodsaak.
In hierdie sin is die strewe na vryheid bo alles juis dit wat vryheid vernietig.
Vandag glo baie dat die mislukkings van liberalisme so skreiend en onafwendbaar geword het dat “die debat verby is, en politieke liberalisme as teorie verloor het.” Die opkoms van populisme regoor die Weste word dikwels gesien as liberalisme se doodsklok; net die tyd sal leer of hierdie post-liberale hoop gaan realiseer, of bloot nog 'n valse belofte sal wees wat deur die liberale masjien ingesluk word.
Een van die voorgestelde alternatiewe vir liberalisme is “gemeenskapsbeswil konserwatisme” soos uiteengesit deur Patrick Deneen in sy boek Regime Change. Dit is 'n benadering tot politiek en kultuur wat die fokus verskuif na die kweek van die gemeenskaplike goeie. Dit is nie 'n terugkeer na outoritarisme nie, maar na die idee dat vryheid nie die afwesigheid van beperkings is nie, maar die teenwoordigheid van 'n groter oogmerk of doel. In plaas daarvan om 'n neutrale skeidsregter van gefragmenteerde pluralisme te probeer wees, bevorder die staat in hierdie benadering deugsaamheid deur ’n visie van die goeie lewe aan te moedig. Dit is 'n raamwerk wat inisiatiewe of optrede beloon wat pro-maatskaplike kapitaal uitbou: soos families, kerke, plaaslike gemeenskappe, ensomeer.
'n Post-liberale orde sou erken dat 'n goeie samelewing mense vorm, eerder as om hulle net los te laat. Dit sou ook begin herbou wat liberalisme oor dekades afgebreek het: eerbied, begrondenheid en verantwoordelikheid. In die praktyk kan dit beleid wat huwelike en kindersorg ondersteun beteken, soos belastingkrediete vir gesinne en betaalde ouerverlof; die herstel van handelsbeskerming om plaaslike nywerhede weer op te bou; skole wat weer burgerlike opvoeding en klassieke letterkunde prioritiseer in plaas van identiteitspolitiek en aktivisme. In kort, die staat laat vaar die voorwendsel van neutraliteit en begin aandag gee aan die grondslag van nasionale bloei deur die afbrekende te ontmoedig en die goeie aan te moedig.
Natuurlik het ek ook voorbehoude oor Deneen se denke. Maar dis maklik om 'n stelsel te kritiseer en baie moeiliker om alternatiewe voor te stel, en daarom waardeer ek enige poging, want dit is 'n noodsaaklike stap tot herstel.
Uiteindelik moet ons die liberale dwaling deurbreek wat sê vryheid is die hoogste doel, en begin om 'n ander soort toekoms te verbeel. Die meeste mense wil familie, geloof en 'n plek hê om hul voete neer te sit — en al hoe meer mense keer terug na daardie dinge. Oor heel Amerika sien mens groen lote deur gebarste beton breek: huise gesentreer op geloof, gemeenskappe wat herbou wat verlore gegaan het, lewens heroriënteer op betekenis. Wat ons nou nodig het, is dat daardie stil groei moet uitkring na ons instellings en ons regering, sodat dit onthou dit is veronderstel om vir die mense, deur die mense te wees.
Die grond is gereed. Dis tyd om iets blywends te plant.
Dr. Natasha Burke is 'n akademikus en skrywer van die Substack getiteld The Undercurrent. Hierdie artikel is met haar vergunning vertaal, as deel van 'n ontwikkelende reeks artikels in debat met die Britse skrywer en Substacker Helen Pluckrose.
Nog artikels op OntLaer:
SOSIALE MEDIA
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.