Khaki safaripak, knielengte kakiekouse - met 'n kam in die kous. Dit was my eerste aanblik van 'n inwoner van Orania, in Desember 1998. Die beampte aan diens by die twee-pompe-onder-'n-sinkafdak-garage, wat toe nog buite die dorp was. Ek weet geheue is nie betroubaar nie, maar in dié geval is ek redelik seker van die prentjie.
Aangetroude familie van my boer op die Vrystaatse oewer van die Oranjerivier, 10 kilometer vanaf Orania, en ons het by hulle gaan kuier. Dis hoekom ek op Orania was. Dit was 'n droom wat waar geword het, want die plek fassineer my sedert ek die eerste keer daarvan gehoor het.
'n Buitestaander oor drie dekades
Sedert daardie eerste besoek het ek 'n hele paar Kersfeeste op Orania by die familie deurgebring, wel met redelike lang intervalle, maar genoeg om my die plek se ontwikkeling te laat beleef as buitestaander. My mees onlangse besoek was in Desember 2025. Dié keer het ek tyd geneem om op my eie, sonder haas, deur die dorp te ry. Van straat tot straat, lekker stadig. Rondgekyk. Gesprekke in die winkel afgeluister, gestop by monumente en publieke kennisgewings aandagtig gelees.
OOM is die “Orania Ontwikkelingsmaatskappy”, met Paul Kruger se gesig as embleem. Die ora is die plaaslike geldeenheid. Daar is selfs die DORA – die digitale ora. Jy betree privaateiendom wanneer jy Orania binnegaan, en enige persoon kan ter enige tyd deursoek word as hulle gedrag iemand onrustig laat voel. Die duur van jou verblyf op Orania is onderhewig aan die eienaars se goedwilligheid. Sedert 2025 is Orania, as deel van die AfriForum/Solidariteit netwerk, op 'n nuwe manier wakker in die gees van die land. 'n Afvaardiging van top AfriSol leiers het in 2025 die Withuis besoek om by die Trump regering te gaan pleit vir VSA bystand vir Afrikaners wat swaar gebuk gaan onder die juk van ANC-onderdrukking. Daar was oproepe van dié netwerk om ANC leiers te sanksioneer, en intriges rondom bewerings van pogings van die regering om AfriSol te laat sleg lyk in die media.
Die Trump-regering het 'n spesiale program in werking gestel om Afrikaners te red van “uitwissing” deur hulle vlugtelingstatus te gee, en ten minste twee groepe vlugtelinge is in die VSA hervestig. Dit lyk asof iets deel van AfriForum se boodskap in vertaling verlore geraak het, want Trump se hulp het juis die gevolg dat daar nóg minder Afrikaners op Afrika-grond is. Solidariteit moedig Afrikaners nou aan om nié die land te verlaat nie, maar hier te bly en te help bou. Dit lyk asof mens versigtig moet wees waarvoor jy vra – want dalk kry jy dit.
Ek het Stokkiesdraai gesien – wat ek op Wikipedia lees 'n “Avontuurpark” is, wat insluit “a pub and coffee shop”. Avontuurpark is nou nie 'n begrip wat ek sou gebruik om Stokkiesdraai te beskryf nie. Behalwe as jou idee van avontuur is om in die son na 'n fontein in die middel van 'n groot grasperk te kyk en te swaai – daar is twee swaaie. Die twee of drie jongmense wat ek by die avontuurpark gesien het, het nie juis na entoesiastiese avontuursoekers gelyk nie. Maar dit wás twee-uur in die middag op 'n snikhete Noord-Kaapse dag kort voor Kersfees, dus het ek nie te veel aktiwiteit verwag nie
Blykbaar is daar, volgens Wikipedia, ook 'n winkelsentrum, die Ou Karooplaas. Winkelsentrum is 'n relatiewe woord in die geval. Ek het my vrek gesoek na 'n plek om brood en melk vir die huis te koop, tot iemand my verwys het na Knapsak, die supermark – voorheen 'n OK-winkel. Daar is die Niggie en Neef klerewinkel, wat ek nie besoek het nie. Daar is 'n hele paar koffie-en kitskoswinkels met volkseie name. Die garage is “Opsaal”. Geen bekende handelsmerke waarmee Suid-Afrikaners bekend is, is êrens in sig nie. Die koffie het volkseie Afrikaanse name: Cappuccino is 'n “kappiekoffie”, maar 'n “bagel” is 'n “bagel”.
Ironies genoeg is ek redelik seker dat geen een van die inwoners onder 52 weet wat 'n “knapsak” is, of wat “stokkiesdraai” beteken nie. Selfs die ongeveer 250 plaaslike skoliere wat 'n Christelik Nasionale opvoeding by die CVO-skool kry sal my verbaas as hulle die Afrikaanse woorde ken wat in hulle dorp gebruik word. Meeste van hulle spandeer ook seker ure op Tik-Tok en Instagram, spel swak, praat Mengels, en het dieselfde swak maniere teenoor hulle onderwysers as tieners in stedelike gebiede in die res van die land. Dit het ek op gesag van een van die onderwyseresse wat by die skool werk.
'n Dorp wat groei
Die dorp se uitleg is 'n sameflansing van strukture en buurte wat organies ontwikkel het. Daar is geen duidelike skeidslyn tussen die industriële gebied, sakesentrum en woongebiede nie. Sommige huise is nuut, en netjies. Ander is oud en verwaarloos. 'n Netjiese huis staan langs 'n bouval met 'n agterplaas wat dubbeldiens doen as skrootwerf. Netjiese staalraambehuising is opgerig by die opleidingsentrum wat Solidariteit bedryf. Daar is heelwat meer besighede as met my eerste besoek in 1998, en dat die dorp groei is onbetwisbaar. Daar is 'n netjiese mediese sentrum waar lede van my familie al uitstekende sorg gekry het.
Die mense is nie anders as mense op ander plattelandse dorpe nie. Inwoners ken mekaar en knoop geselsies by Knapsak aan. Iemand wat ek vir padaanwysings gevra het was vriendelik en behulpsaam. (Ek was wel ligweg geaffronteer dat sy my “tannie” genoem het, terwyl ek gedink het ek is ten minste tien jaar haar junior, maar dit kan ek nie teen haar, of haar tuisdorp hou nie). Daar is geen persone van kleur wat werk of woon in die dorp nie. Die meisie wat vrugteslaai gemaak het was wit, en die pakker van die broodrak was ook wit. Die opsiener was wit, en net so ongeskik met die wit kassiere onder haar toesig as wat toesighouers oor die algemeen met kassiere is.
Wie mag hier wees?
Op pad dorp toe het ek 'n bruin gesin 'n rygeleentheid gegee. Slaghuis toe om sopbene te gaan koop. Ek het uitgevra oor hoe dit is om in Orania besigheid te doen as bruinmens. Hulle word toegelaat om te koop by die winkels, en “party mense is gaaf, ander is nie.” Ek het twee bruin kliënte in die drankwinkel gesien. Dit was die enigste mense van kleur in die dorp.
Is Orania dan 'n probleem? Is dit 'n probleem dat daar 'n nie-onbeduidende groep mense bestaan, wat op hulle eie terme hulle eie lewe wil leef volgens hulle eie standaarde? Die dorp is privaat eiendom wat volgens reëls wat die eienaars bepaal bestuur word. Niemand word gedwing om daar te gaan woon nie. Is daar iets fout met die mense van Orania? Geensins nie. Die mense is mense soos op enige ander plek. Daar is sout van die aarde en bedrieërs; luiaards en hardwerkendes; slimmes en minder slimmes. Ek voel redelik seker dat niemand op Orania aan hulleself dink as rassisties nie. En hulle is waarskynlik reg, want ek vermoed dat hulle bruinmense en swartmense met wie hulle te doen kry op individuele vlak respekvol behandel.
Dit is nie die probleem met Orania nie. Die probleem met Orania is dat die leiers van Orania deel is van een van die grootste sosiopolitieke drukgroepe in die land, wat ook toegang het tot baie geld. Die probleem met Orania is nie dat daar mense is wat wil leef volgens Orania se standaarde nie. Die probleem is dat daar mense met baie mag en baie geld is, wat Orania gebruik om húlle ideale uit te brei, en bereid is om propaganda en vrees te gebruik om dit te doen. Die probleem is dat die Orania-ideologie geskoei is op 'n uitleg van ons land se geskiedenis, en ons land se hede, wat nie strook met die werklikheid nie.
Dít het my getref by die laaste stop op my besoek aan Orania – die Paul Kruger-standbeeld. Volgens die regeerders van Orania het die Afrikaner “aan die einde van die negentiende eeu sy vryheid verloor”. Orania is 'n “stad vir Afrikaners op pad na vryheid.” Orania bestaan “in die vertroue dat God, wat die onuitblusbare vuur van die liefde vir vryheid in ons harte en dié van ons voorvaders aangsteek het, ons nie sal verlaat nie, maar Sy werk in ons en ons nasate sal vervul”.
Orania is veel meer as 'n idiosinkratiese dorpie vir 'n unieke groep mense wat verknog is aan 'n mitiese verlede. Orania is die suurstoftenk vir die dogma dat die Afrikaner 'n uitverkore volk is wat gebuk gaan onder die juk van 'n bose, vreemde, mag. Eens was dit die Engelse, nou is dit die ANC en “liberales”. Orania is die naelstring. AfriForum en Solidariteit is die baarmoeder. So word die mite van die uitverkore Afrikanervolk lewendig gehou, sodat 'n groep wat nie eens meeste Afrikaanse mense se sienings verteenwoordig nie, húlle ideale vir 'n baie spesifieke groep kan laat leef.
Watter goeie uitkoms kan die Orania/AfriSol ideologie baar, in hierdie land, vandag? Dit is waarom Orania 'n gevaarlike plek is. Dis nie net 'n dorpie vir eiesoortige mense wat hulle reg om te leef soos hulle wil uitoefen nie. Dis 'n broeikas vir 'n knoeiery met die potensiaal om die lont te wees wat 'n kruitvat laat ontvlam.
Nog artikels deur Tersia du Plessis:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










