Beste Meneer Maimane,
Dit was hoog tyd dat iemand in die parlement oor onderwys praat. Dankie daarvoor. Dit is net jammer dat die wetgewing wat voorgehou word, niks doen om die onderliggende oorsake van ons onderwyskrisis aan te spreek nie. En ja, daar is 'n krisis. Die lae slaagsyfer is egter 'n simptoom van en nie die rede vir die toestand nie.
As 'n opvoeder met meer as twintig jaar ervaring in al die fases, behalwe die grondslagfase, wat die afgelope vyf jaar as tuisonderrigfasiliteerder al die vakke aangebied het, het ek waardevolle insig in hoe om 'n oplossing te bied wat nie biljoene rande gaan kos nie, en ook nie jare gaan neem om te implementeer nie. In die besprekings oor die onderwyssituasie in ons land is daar klem gelê op gebrekkige infrastruktuur, ontoereikende opleiding van onderwysers, tekorte aan personeel, en te min skole.
Ek het dit ironies gevind dat parlementariërs sê daar moet meer biblioteke wees – hulle weet duidelik nie dat kinders wat nie kan lees nie, geen nut van 'n biblioteek het nie. Weet hulle dat ons kinders nie kan lees nie? Daar is meer as genoeg internasionale en nasionale studies wat hierdie krisis belig, en tog praat niemand oor die oplossing nie. Kom ons staar die eerste feit in die oë: Kundiges is dit eens dat dit wat by die skool gebeur min of meer 40% van 'n kind se vordering op skool bepaal – die ander 60% word bepaal deur huislike omstandighede. Dus, met die beste onderrig en fasiliteite kan enige skool net 40% bydra tot 'n kind se akademiese sukses. Almal weet dat die meerderheid skoolgaande kinders in ons land uit swak sosio-ekonomiese omstandighede kom.
Die kundiges wat ons kurrikulum opgestel het, het besluit dat kinders reeds in die grondslagfase van kodering en robotika, en kuns en kultuur en tegnologie geleer moet word. Nog voordat hulle kan lees en letters maak en somme doen. Die onderwysers begin met kinders wat uit moeilike omstandighede kom, met oorvol klasse, met swak geriewe. Dit is duidelik dat geen parlementariër 'n idee het van die uitdagings wat 'n grondslagfase-juffrou elke dag moet trotseer nie. Die geagte lede van die parlement sou binne 'n week bedank het, of op 'n massiewe salarisverhoging aangedring het!
'n Leerder mag net een keer in 'n fase 'n graad herhaal. Hierdie is belangrike inligting, want dit het tot gevolg dat groot getalle leerders wat die intermediêre fase betree nie gereed is nie. Dan moet opvoeders 30 tot 40 graad 4 leerders begin onderrig in vakke soos geskiedenis, geografie, natuurwetenskappe, tgnologie en ekonomiese en bestuurswetenskappe. Leerders wat nog nie onafhanklik met begrip kan lees nie. Leerders wat nie die basiese beginsels van gesyferdheid onder die knie het nie.
My spesialisarea is die senior fase, grade 7 tot 9. En dis hier waar die wiele behoorlik begin afkom. 'n Graad 7 leerder het tien vakke. 'n Skoolweek bestaan uit sewe-en-twintig en 'n half ure kontaktyd. Vyf ure (per week) gaan vir huistaal, vier en 'n half aan wiskunde, en vier ure aan 'n bykomende taal.
Ek werk die afgelope vyf jaar met kinders uit middelklas Afrikaanse huise. Ek het met vyf tot tien leerders op 'n slag gewerk. Net een van die leerders wat ek onderrig het, is met 'n leerprobleem gediagnoseer – die res was normale kinders uit normale middelklashuise. Ons het twee ure elke dag aan wiskunde spandeer. In graad 7 begin leerders met algebra. Meeste leerders wat om my tafel gesit het, het ure se oefening nodig gehad voordat die konsepte ingesink het. Ons het elke dag 'n tafeltoets geskryf. Ek verstaan waarom ouers duisende rande per maand aan ekstra wiskunde spandeer - daar is nie genoeg tyd in 'n skoolweek om kinders te help om die konsepte te verstaan en in te oefen nie. Onderwysers het nie tyd om na kinders se werk te kyk nie. Daar is nie tyd in die klas om oefeninge en probleme op die bord te herhaal nie.
In meeste skole vind daar van graad 7 vakonderrig plaas. Dit beteken dat óf die kinders, of die onderwysers klasse wissel. Gestel 'n periode is veertig minute lank. Gestel klasgroottes is 30 tot 40 leerders. Dit neem ten minste tien minute om tussen klasse te beweeg, in te stap, en vir almal om 'n sitplek te kry en rustig te raak – en dit is wanneer die dissipline in 'n skool fantasties is. Die chaos tydens klaswisseling in meeste skole verg 15-20 minute voordat enige onderrig kan begin plaasvind. Ek weet, ek het dit beleef. Duisende opvoeders beleef dit daagliks. Dus, voordat enige leer plaasgevind het, is ten minste tien minute van elke les daarmee heen. En dit is op 'n goeie dag, in goed bestuurde skole met kleinerige klasse, en waar daar effektiewe dissipline is.
Daardie vier en 'n half ure wat aan wiskunde spandeer word in 'n week, word effektief miskien drie en 'n half ure.
Diegene wat wil hê dat kinders wat nie met begrip kan lees nie, maatskaplik-ekonomiese agterstande het, in oorvol klaskamers in disfunksionele skole sit, en tien vakke moet bemeester leef in waansinnigheid– of sit elke dag in die parlement.
Die slaagsyfer is 'n simptoom van die probleem. As die slaagsyfer verhoog word gaan miljoene kinders nooit enige vorm van 'n basiese kwalifikasie kan behaal nie. Moenie nou al die slaagsyfer verhoog nie – hervorm eers die kurrikulum. As 'n oorgewig persoon met akute nierversaking in die hospitaal opgeneem word, is die eerste stap nie om hulle op 'n fiksheids- en gewigsverliesprogram te sit nie. Die eerste stap is om te bepaal waarom die niere nie werk nie, en dit aan te spreek. Wanneer die pasiënt se niere weer optimaal werk kan daar aan fiksheid en gewigsverlies, baie belangrike aspekte van gesondheid, gewerk word.
Die vinnigste, maklikste en goedkoopste manier om die krisis in onderwys aan te spreek is om die fokus van die kurrikulum te verskuif na taal en syfervaardigheid, en dit vir onderwysers moontlik te maak om dit te doen, deur hulle die onderrigtyd wat nodig is te gee. Kinders wat goed kan lees en skryf, en 'n stewige wiskundige basis het, sal outomaties in vakke soos geskiedenis, wetenskap en kuns en kultuur vorder. Kinders wat waarde heg aan kennis, en bekwaam is om bronne soos YouTube en KI te gebruik, staan 'n baie beter kans om te ontwikkel tot kodeerders en ontwerpers en entrepreneurs en ingenieurs en kunstenaars en geskiedkundiges, afhangend van hulle belangstelling.
Kinders wat semi-geletterd is, het geen kans om hulle potensiaal te bereik in enige area nie.
Beste Meneer Maimane, dankie dat u die item op die agenda geplaas het. Luister na onderwysers se daaglikse ervarings. Die pasiënt het akute orgaanversaking, 'n oefenprogram gaan hom nie help nie.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










