Yuval Noah Harari sê in 'n onlangse onderhoud dat ons (as spesie) 'n wonderlike vermoë het om lank en ernstig oor dinge te praat wat totaal onbelangrik is, terwyl die werklik belangrike kwessies nie eens op die tafel kom nie.
Hy gebruik die voorbeeld van die groot vraagstuk van die Reformasie: word die Nagmaal-beskuitjie werklik die liggaam en bloed van Christus, of is dit bloot 'n simbool van versoening? Dit was só 'n groot kwessie dat daar oorloë oor gevoer is, en mense in klein dorpies hul bure op die brandstapel sou offer daaroor. Ons ken steeds nie die antwoord nie, en mettertyd het nuwe vraagstukke die tafel bereik — nuwe vraagstukke wat net so irrelevant is, omdat die onderliggende vraag nooit ontrafel is nie. Die kernvraag is nie of die broodjie vlees en bloed word nie, die kernvraag is of die hele storie ooit gebeur het, en of dit nodig is.
Die debat oor die matriekslaagvereistes is een van die hedendaagse voorbeelde van 'n groot gesprek oor iets wat nie die werklik belangrike saak is nie. Die eintlike vraag wat bespreek moet word, is wat behoort 'n kind te weet teen die tyd dat hy of sy die skool verlaat?
Eers wanneer daardie vraag beantwoord is, kan ons begin redeneer oor hoe ons gaan toets watter persentasie van daardie kennis 'n kind moet bemeester om te “slaag”. Dus, kom ons begin by die vraag: wat weet JY? En hoe het jy dit wat jy weet, te wete gekom?
Wat is die belangrikste kennis en vaardighede?
Dit lyk toenemend vir my asof ons onderwyskundiges nie veel aandag aan hierdie vraag gee nie. En is dit nie juis die belangrikste vraag wanneer ons besluit waarop ons die (beperkte) hulpbronne vir onderwys gaan bestee nie?
Google AI beweer dat 'n kind op skool die fondasie van akademiese kennis moet leer, synde geletterdheid, wiskunde en wetenskap. Daarby kom sogenaamde “essensiële” 21ste-eeuse vaardighede soos kritiese denke, kreatiwiteit, probleemoplossing, digitale geletterdheid en effektiewe kommunikasie. Terselfdertyd moet maatskaplik-emosionele vaardighede ontwikkel word, insluitend selfbewussyn, empatie en 'n sin vir verantwoordelikheid en burgerskap.
Google is so gaaf om elkeen van hierdie fokusareas verder uit te pak: Geletterdheid — lees, skryf, klanke en effektiewe verbale kommunikasie. Ons weet Suid-Afrika misluk met lees; dit word jaarliks deur PIRLS uitgewys. Daar is egter min aanduidings dat die departement van onderwys werklik probeer om hierdie krisis aan te spreek. Wiskunde vereis basiese bewerkings, probleemoplossing en logiese denke. Ons uitkomste wys dat die meerderheid leerders in Suid-Afrika hierdie kennis en vaardighede eenvoudig nie bemeester het nie. Wetenskap en die kunste vereis dat wetenskaplike konsepte, tegnologie, globale bewustheid en verantwoordelikheid vir ons omgewing aangeleer word.
Volgens wet kan 'n leerder aan die einde van graad 9 die skoolstelsel verlaat. Die afgelope drie jaar is daar 'n loodsprogram aan die gang wat 'n eksterne eksamen vir graad 9 vereis — soortgelyk aan matriek — bekend as die Algemene Onderwyssertifikaat (AOS). Wanneer dit geïmplementeer word, sal dit die eerste amptelike kwalifikasie wees wat 'n Suid-Afrikaner kan behaal. Tans is matriek, die Senior Sertifikaat, steeds die eerste amptelike kwalifikasie. As die AOS die eerste amptelike kwalifikasie word, is die vraag, “wat moet 'n kind weet aan die einde van graad 9?” Dit raak veel belangriker as “wat moet die slaagvereiste vir matriek wees?”
Kennis verander so vinnig soos die wêreld self. Soos dinge tans staan, doen graad 9-leerders EBW — Ekonomiese en Bestuurswetenskappe — wat 'n komponent van rekeningkunde insluit. Raai wat leer hulle? Hulle leer van tjekteenblaadjies en joernale. Daar word tyd spandeer aan hoe om joernaalinskrywings te doen en hoe om 'n tjekboek by te hou. Gaan kyk gerus in 'n graad 9-EBW-handboek, ek belowe dit is daar. As jy iemand ken wat nog 'n tjekboek gebruik, sal ek hulle graag wil ontmoet. Hulle klink na interessante geselskap. Enige rekenmeesters wat nog joernale en kasboeke met die hand byhou? Ek sal hulle ook graag wil ontmoet. Ek is lief vir geskiedenis en hou van museums.
Dieselfde kinders wat nie langdeling of optelling met breuke kan doen nie, leer hoe om tjekteenblaadjies in te vul. Dít word as belangrik beskou. Dieselfde leerders wat die meeste van hul vrye tyd spandeer aan TikTok-video’s oor die plat aarde, dat die maanlanding nooit gebeur het nie, en ander samesweringsteorieë, kry geen blootstelling aan werklike kritiese denkvaardighede in wetenskap of tegnologie nie.
In plaas daarvan word hulle oorweldig met feitekennis wat só ver van hul leefwêreld verwyderd is dat dit net sowel Grieks kon wees. Waarom leer graad 7’s van die Timboektoe-manuskripte en Mansa Musa in Geskiedenis? Waarom leer hulle hoe om 'n straatkaart te teken wanneer almal Google Maps gebruik en pins drop?
Ek wag dat iemand my oortuig waarom kinders in graad 7 tot 9 moet leer hoe om hul enkels te strek voordat hulle 'n monoloog doen.
Ek wag ook dat iemand my oortuig waarom die gemiddelde Suid-Afrikaanse skoolkind moet leer van tonale waardes in skilderkuns, halfnote en kwartnote, tromritmes en die lees van musieknotasie.
Ek is oop vir oortuiging, maar dit bly vir my verbysterend dat graad 7-leerders moet leer van isometriese tekeninge, translasies en ortografiese projeksies.
Die kar is voor die perde ingespan
My eie kennis van elke vak (al tien!) in die Seniorfase-kurrikulum het eers in 2020 begin. Dit was die jaar waarin die pandemie my gedwing het om my jongste kind self te onderrig.
Die pandemie was die sneller, maar my ervaring met die CAPS-kurrikulum en die skoolstelsel met my ouer kinders het reeds ernstige vrae laat ontstaan oor hul akademiese gereedheid vir universiteit. Hulle was — soos ongeveer 60% van eerstejaars — ten spyte van goeie punte, nie intellektueel gereed vir universiteit nie. Soos ek die kurrikulum vir myself en vir die kinders wat ek onderrig het, begin ontleed het, het ek tot die skokkende besef gekom dat hierdie kinders nie oor die basiese woordeskat beskik om met die leermateriaal om te gaan nie. Woorde soos gieter, pels, siersteen, portret, kolonie, staaf, goewerneur, ontdekkingsreisigers en nedersetting. (My lys van woorde uit handboeke wat kinders nie ken nie, staan tans op om en by 500.)
My pleidooi aan die kundige kurrikulumopstellers is eenvoudig: leer eers ons kinders om hul moedertaal vaardig te gebruik, voordat hulle oorweldig word met vakkennis.
In dieselfde onderhoud met Yuval Noah Harari waarna ek verwys het, beklemtoon hy dat taal die mensdom se superkrag is. Dit is deur taal dat ons saamwerk, deur taal dat ons kennis oordra, en deur taal dat ons die planeet oorheers. Die moderne kind se omgang met taal is egter, weens tegnologie en sosiale media, besig om radikaal te verander. Hulle beskik nie oor dieselfde taalvaardigheid as vorige generasies nie, omdat hul mediadieet veel meer visueel en veel minder verbaal is. Die huidige kurrikulum, in alle vakke, is steeds gebaseer op leerders se taalvermoë — soos dit die afgelope honderde jare was. Dit neem egter nie in ag dat die taalvermoë van die kind wat vandag op die skoolbank sit, drasties anders is as dié van vorige generasies nie. (En hier praat ons nog net van moedertaal, ons het nog nie eens die komplikasie aangespreek dat die meeste leerders in 'n tweede taal onderrig ontvang nie.)
Totdat die kurrikulum se fokus verskuif na die ontwikkeling van taalvaardigheid, gaan leerders nie die kennis verwerf wat hulle nodig het nie. Hulle gaan nie die konsepte internaliseer wat nodig is om nuwe vaardighede aan te leer nie. Hulle gaan nie wiskunde kan doen of tegnologie bemeester nie, want logiese denke is afhanklik van taalvaardigheid. Solank die kurrikulum grootse ideale koester oor kuns, kultuur, EBW en tegnologie as vakke, sonder om te erken dat leerders nie die taalvaardigheid het om dit te verwerk nie, sal ons onderwysstelsel bly misluk.
Wanneer ek hieroor nadink, keer my gedagtes terug na 'n dag in 2008 toe ek voor 'n graad 10-klas gestaan het. Ek het Engels Eerste Addisionele Taal aangebied. Ter voorbereiding vir 'n begripsleesoefening lees ek die teks hardop voor — 'n uittreksel uit 'n jeugroman. Op 'n stadium word beskryf hoe die hoofkarakter oor die grasperk weghardloop: “She ran away across the lawn.” Op die ingewing van die oomblik (noem dit maar 'n juffrou se sesde sintuig) vra ek: “What is a lawn?” In dié klas was daar net een leerder wat gereeld probeer het om vrae te beantwoord. Hy was die slimste in die klas — volgens hom én sy klasmaats. Sy hand skiet op en hy antwoord, vol selfvertroue: “It’s when you’re all a lawn at home.”
Wanneer ek oor hierdie dinge dink, voel ek all a lawn.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.












Ek het so gevoel op skool, en later ook op mediese skool. Wat ons geleer is, was reeds uitgedien. Ook hóé dit aan ons oorgedra is. Ek ken SOVEEL mense wat deesdae tuisonderrig verkies vir hierdie rede.
Baie dankie vir die pleidooi. Ek ril van vrees vir ons kinders se toekoms.