Wanneer is 'n krisis 'n krisis?
Waarom ons die onderwysramp nie sien nie—tot dit te laat is.
Ek lees hoe pragtig Trisa Hugo op Litnet skryf oor die brande in Bettysbaai en Kleinmond in 2019. Sy vertel, aangrypend, hoe mense geld, klere, kos, water, tyd, en vaardighede skenk om mens en dier te help. Skilpaadjies te red, verbrande grysbokkies in ambulanse na die dierehospitaal te vervoer.
Dis mooi. Dis wat mense doen wanneer krisis gebeur.
Soos Trisa, glo ek ook dat meeste mense goed is - en dit wys veral in tye van krisis. As dit wat Trisa waargeneem het, en ek ook glo, waar is, kan ons land mos nie in 'n krisis wees nie? Almal wat op sosiale media blêr oor die krisis(se) moet verkeerd wees, want ons tree nie teenoor mekaar op soos ons weet mense wat viervoet in 'n krisis is teenoor mekaar optree nie.
Dalk is die probleem nie dat ons apaties is in ons krisis nie. Dalk is die probleem dat ons nie altyd 'n krisis herken wanneer dit besig is om te gebeur nie.
Soos die krisis in onderwys. Die krisis in onderwys is nie soos 'n brand of 'n vloed of 'n droogte nie. Dit sluip. Verdoesel onder en agter individuele slimkoppe se prestasies, en sportdae en matriekuitslae (en -afskeide) en kunswedstryde.
Soms haal iets van die krisis die nuus: wanneer iemand iewers iets skryf oor die uitvalsyfer van eerstejaarstudente - syfers wissel van 33%-60% afhangend van met wie mens praat.
Dalk sien ons 'n noodfakkel opgaan na die aankondiging van matriekuitslae. AfriForum en Solidariteit misbruik dit van tyd tot tyd vir publisiteit wanneer hulle “Stop BELA”-skree.
Maar die meeste van die tyd is daar totale apatie. Meeste van die tyd leef ons in 'n staat van tevrede onwetendheid. Ek wonder hoe ons dit regkry? Hoe ignoreer ons dit dat meeste skole in ons land soms tot 70 kinders in 'n klaskamer het? Hoe slaan ons oë op na die berge sodat ons nie hoef te aanskou hoe duisende graad 8 leerders elke jaar nie plek kry in hoërskole nie? (Getalle is moeilik om in die hande te kry, want owerhede deel nie graag hulle mislukkings nie)
Hoe kry ons dit reg om te maak asof ons nie weet dat 40% van kinders wat graad 1 begin nie verder as graad 9 skoolgaan nie? Ons weet wat die werkloosheidssyfer is, maar slaag daarin om die konneksie tussen hierdie skokkende syfers te ignoreer. Volpunte vir doelgerigte krisisblindheid, Suid-Afrika.
Trisa vertel hoe dat die gemeenskap van Kleinmond, in 'n oogwink, 10-uur in die aand, 53 pare droë sokkies bymekaar gemaak het vir die brandslaners. Sy vertel van (meestal anonieme) finansiële skenkings. Sy loof besighede vir hulle ruim donasies.
Dit kán gedoen word. Dit wórd gedoen. Wanneer daar 'n brand of 'n vloed is. Dis nie 'n brand of 'n vloed nie, maar onderwys is 'n krisis. Dit is dalk erger as 'n brand of 'n vloed, want na 'n brand kan mens herbou. Na 'n vloed kan mens herstelwerk doen. As 'n persoon onderwys verbeur het, is dit amper onmoontlik om die skade ongedaan te maak.
Die eerste element van die krisis is oorvol klaskamers en te min skole.
Die tweede element is 'n oorvol, komplekse kurrikulum wat ure se administrasie van opvoeders verg en min waarde toevoeg tot leerders se ontwikkeling. Leerders in graad 7 het tien vakke. Van die 27.5 ure kontaktyd word een uur per dag aan huistaal (Afrikaans of Engels) spandeer, 4.5 ure aan Wiskunde, en 4 ure aan 'n addisionele taal. Die res van die tyd word tussen die sewe ander vakke opgedeel. Sit nou by dié heksebrousel 'n klaskamer met 40+ leerders, swak leerder dissipline, en vermorsing van tyd wat aan administrasie spandeer word, en die kontaktyd word halveer.
'n Derde element is die impak van sosiale media. Die verslawing aan dertig sekonde TikTok video’s het kinders se vermoë om te fokus al so afgetakel dat dit 'n dalk een van die redes is waarom elke derde leerder vandag ADHD het en aandagafleibaar is.
Daar is dalk nie vlamme wat rooi in die nag skyn nie, maar die krisis is besig om te ontvou. Vergeet van baklei oor BELA - die fokus in elke skool behoort te wees om druk op die owerhede te sit om die kurrikulum aan te pas. Die fokus van elke munisipaliteit behoort te wees om saam met die relevante nasionale departemente te werk om skole op te rig. Elke dorpsbiblioteek wat onbenut staan behoort ingerig te word om 'n veilige plek te skep waar kinders na skool kan huiswerk doen.
Elke kerksaal wat elke dag van die week leeg staan behoort omskep te word in 'n ruimte waar leer- en leesklubs kan ontmoet met die doel om kinders se taalvermoë weer op standaard te kry.
Elke lid van elke gemeenskap waar daar 'n skool is behoort te weet watter organisasies werk in skole en in onderwys, en hoe om daardie organisasies te ondersteun.
Toe Kleinmond gebrand het was dit nie net die mense wie se huise in onmiddellike gevaar was wat gehelp het nie. Niemand het gesê: “die vlamme is nie naby my huis nie”. Elkeen het besef dat as die vlamme die huis drie blokke van my af bereik het, is dit net 'n kwessie van tyd en ek moet ook ontruim. Toe Kleinmond gebrand het, het niemand gesê: “Dis die regering se plig om die vuur te blus nie”. Almal het besef, dit is die regering se plig, maar ons het nie nou tyd om te wag vir die regering om iets te doen nie. Toe die krisis gebeur het die mense van Kleinmond dit gesien, en gehelp.
Die vlamme is dalk nie besig om aan die dak van jou huis te lek nie, maar die krisis van 'n gebreekte onderwysstelsel gáán jou raak. Een of ander tyd. Direk, of indirek. Elke kind wat nie plek kry in 'n hoërskool nie, en nie graad 9 voltooi nie, is nóg 'n mens wat gaan kom bedel by jou motor. Elke kind wat druip omdat hy in 'n klas van 70 kinders moes probeer leer hoe om 'n algebraïse uitdrukking te faktoriseer, sodat hy graad 9 Wiskunde kan slaag, is nóg 'n kandidaat vir jou plaaslike bende, wat by jou huis gaan kom inbreek wanneer jy vir 'n naweek wegbreek.
As jy in hierdie land woon, is die onderwyskrisis jou probleem. As jóú kind, of kleinkind, in 'n goeie skool is, en presteer, onthou: hulle is die minderheid. Drie blokke verder woed daar 'n brand. Die slagoffers van hierdie brand gaan die skade tot binne-in jou huis ook dra. SIEN die krisis, en begin help. Daar is nie tyd om te wag nie, die vlamme kom.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










