"Verdelgingsdrang": Harde Feite oor Israel se plan met Gaza
Leser Jurie van der Walt oor Israeliese aandadigheid.
Israel se oorlog in Gasa is nou reeds meer as 700 dae oud. Volgende maand op die 7de sal dit twee jaar wees. Die verwoesting wat in Gasa in hierdie tyd aangerig is, is verskriklik. Ek bespreek graag drie feite oor die oorlog wat baie belangrik is om alles te verstaan.
Hamas se ontstaan in 1987 het plaasgevind tydens die Eerste Intifada, 'n massiewe Palestynse opstand teen dekades van Israeliese militêre besetting in die Wesoewer en die Gasa-strook. Lank voordat Hamas bestaan het, het Palestyne reeds ontheem geraak tydens die Nakba van 1948, toe meer as 750 000 mense uit hul huise verdryf is tydens die stigting van die Staat van Israel.
Sedert 1967 het die Israeliese besetting gelei tot grondbesettings, die bou van nedersettings, huisafbrekings, massa-arrestasies en militêre beheer oor elke aspek van die Palestynse lewe. Hamas het gedeeltelik ontstaan as 'n reaksie op hierdie voortdurende ongeregtighede, en het 'n politieke en maatskaplike vakuum gevul wat gelaat is deur die verswakte teenwoordigheid van die Palestynse Bevrydingsorganisasie (PLO, oftewel Palestinian Liberation Organisation) in Gasa.
Die grondliggende oorsake van die geweld is dus struktureel en geskiedkundig - insluitend besetting, kolonisasie en apartheid - en nie die beleid van een groep alleen nie.
Die Groter Israel ideologie
Die konsep van Eretz Yisrael of “Groter Israel” beoog Israeliese beheer oor alle grond van die Jordaan rivier tot by die Middellandse See - insluitend die Wesoewer, Gasa en dele van aangrensende lande. Terwyl uitlegte daarvan verskil, sien die mees ekstreme Sionistiese faksies geen plek vir 'n soewereine Palestynse staat in hierdie visie nie. Hierdie visie is deur Benjamin Netanyahu onlangs bevestig in verskeie Israeli nuusmedia. Dit is nie hoorsê nie, dit is feite waarteen niemand kan skop nie.
Daarom gaan die oorlog in Gasa lankal nie meer oor die verslaan van Hamas nie - dit gaan oor die verwydering van Palestyne uit strategiese gebiede om permanente Israeliese beheer moontlik te maak. Die verwoesting van Gasa, tesame met die versnelde uitbreiding van nedersettings in die besette Wesoewer, dui op 'n territoriale agenda eerder as slegs 'n veiligheidsdoelwit.
Baie van die leiers wat hierdie visie bevorder, insluitend senior lede van die huidige Israeliese regering, verwerp uitdruklik die twee-staat-oplossing en het uitsprake gemaak wat anneksasie en “vrywillige” Palestynse hervestiging aanmoedig.
'n Ooglopende verdelgingsdoelwit
Feit nommer drie hang baie nou saam met feit nommer twee. Die Israeliese militêre veldtog in Gasa het onbeheerste bombestoking, massiewe burgerlike sterftes, gedwonge verplasing van meer as 2 miljoen mense, en die doelbewuste vernietiging van huise, hospitale, watersisteme, skole en landbougrond behels.
Terselfdertyd het nedersetter-burgermagte en die weermag in die besette Wesoewer hul grond besettings, verwoesting en geweld teen Palestynse gemeenskappe verskerp, wat die lewe ondraaglik maak in geteikende gebiede. Hierdie aksies pas by 'n patroon van etniese suiwering, gemik op die opruiming van grond vir Israeliese nedersettings uitbreiding en infrastruktuur.
Die sistematiese teiken van landbouhulpbronne soos olyfboorde, saadbanke en kweekhuise, vernietig die ekonomiese basis vir Palestynse bestaan. Saam met honger as 'n oorlogswapen in Gasa, dui dit op 'n gekoördineerde poging om Palestynse terugkeer of oorlewing in hierdie gebiede onmoontlik te maak.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.