"Die verskil tussen aanhitsing en om 'n ongevoelige drol te wees"
Politieke woede baar nie noodwendig geweld nie.
Ek het onlangs 'n groot mate van woede ontketen met die volgende plasing:
Honderde mense op die hellewebwerf wat X is, het my daarvan beskuldig dat ek vir Charlie Kirk se dood wens, dat ek 'n huigelaar is en nie omgegee het oor kanselleerkultuur toe dit van die woke linkses gekom het nie, dat ek boos is en politieke geweld ondersteun, en dat ek vet is.
Slegs laasgenoemde is waar. Ek het politieke geweld in die algemeen, en die moord op mnr. Kirk in die besonder, ten sterkste veroordeel en 'n beroep gedoen op etiese mense aan die linkerkant om nie die haatvolle opmerkings te ignoreer nie, of met “whataboutism” (oftewel watwouery of weerligafleiery) die kwessie van linkse regverdiging van politieke geweld te ontduik nie. (Ons weet steeds nie of hierdie moord deur linkse politiek geïnspireer is nie, maar die beginsel bly staan). Ek het boonop die identiteitsdwepende linkses se kanselleerkultuur al vir 'n dekade lank voltyds teëgestaan.
Meer redelike mense het ook gereageer, ook in hul honderde, dat dit volkome aanvaarbaar is vir werkgewers om nie iemand in diens te wil hê wat politieke geweld regverdig nie, veral as hulle in posisies van verantwoordelikheid met 'n polities uiteenlopende publiek werk. Ek sou dit nie betwis nie, maar sou voorstel dat daar 'n belangrike onderskeid getref moet word tussen die beoordeling wat werkgewers moet maak oor of 'n werknemer 'n risiko vir ander of vir hul onderneming se reputasie inhou, en 'n kultuur van politieke aktivisme waar mense die internet deursoek vir uitsprake wat hulle skokkend vind, 'n skare oproep om hulle “beroemd te maak” en dan druk op hul werkgewer plaas om hulle af te dank. Die eerste hiervan behels beleidsgebaseerde risiko-assesserings, wat my nie in die besonder interesseer nie. Die tweede is egter onthullend van ons groeiende kultuur van polarisasie en strafgerigte politieke oorlogvoering, en dit is beslis 'n probleem waaroor ek wel bekommerd is.
Emosies loop tans uitermatig hoog, en dit is verstaanbaar. Vir baie aan die regterkant, wat mnr. Kirk bewonder het, is sy moord – terwyl hy hoflik in debat getree het met mense met wie hy verskil het – 'n klinkklare bewys dat die liberale benadering van om idees wat ons nie aanstaan nie met kritiek en beredeneerde argument te beantwoord, bloot 'n idealistiese fantasie is wat nie ons politieke werklikheid weerspieël nie. Volgens hulle is dit nie net belaglik vir my om so iets te suggereer nie, maar diep aanstootlik. Met my verwysings na gevestigde argumente teen kanselleerkultuur, is ek werklik besig om te suggereer dat 'n openbare goedkeuring van die moord op 'n mens vergelykbaar is met plasings oor ras, immigrasie of geslagsidentiteit wat problematies geag kan word as 'n mens 'n sekere teoretiese standpunt inneem? Besef ek nie dat ’n jong vader dood is en mense daaroor pronk en dit vier nie?
Ja, ek besef dit. Opmerkings oor Charlie Kirk se dood moet diepe afsku en woede ontlok by enigiemand met 'n greintjie empatie. Dit moet ook groot kommer wek by enigiemand wat reeds besorg is oor die woede, minagting en verontmensliking wat tans oor politieke skeidslyne geslinger word. Soos Mike Young onlangs dit gestel het:
“Mense wat die moord op hul politieke teenstanders vier, neem nie deel aan die markplein van idees nie; hulle bevorder dodelike politieke geweld deur 'n toestemmingsraamwerk op te bou wat die moord op dié met wie hulle verskil, legitimeer en regverdig.”
Ons het 'n sterk konsensus nodig dat, maak nie saak hoe sterk ons met iemand mag verskil nie en selfs voel dat hul bydrae tot die openbare diskoers skadelik vir die samelewing is, geweld nooit 'n aanvaarbare reaksie is nie.
Nietemin, selfs in oomblikke soos hierdie – miskien juis in oomblikke soos hierdie – moet ons onderskei tussen haatlike politieke uitbarstings en werklike aanhitsing tot geweld. Om daardie lyn te vertroebel in die hitte van verontwaardiging, is om die beginsels wat ons almal beskerm, in gevaar te stel.
In die Verenigde Koninkryk debatteer ons nou al vir etlike maande oor hierdie bepaalde kwessie gegewe die strafsaak van ene Lucy Connolly, wat die volgende twiet op X geplaas en later verwyder het:
Diegene wat gevoel het haar strafregtelike vonnis was geregverdig, het aangevoer dat sy mense aangehits het om migrantehostelle vol mense aan die brand te steek op 'n tydstip toe spanning reeds hoog geloop het, en toe mense inderdaad sulke aanvalle probeer uitvoer het, is polisiemanne beseer en nooddienstevoertuie beskadig. Sy het ook die moord op verkose lede van die regering opgeroep.
Diegene wat gevoel het die vonnis was onregverdig, het aangevoer dat haar plasing nie 'n letterlike aanhitsing tot politieke geweld was nie, maar 'n emosionele uitbarsting ná die moord op drie klein dogtertjies. Hulle het daarop gewys dat haar frase “vir al wat ek omgee” eerder onverskilligheid as aanmoediging aangedui het, en beklemtoon dat geen regstreekse verband gevind is tussen haar woorde en die latere aanvalle nie. Alhoewel die meeste saamgestem het dat haar sentiment afskuwelik was, het hulle volgehou dat ons 'n baie hoë maatstaf moet handhaaf vir wat as aanhitsing tel voordat strafregtelike klagtes geregverdig is.
Verdedigers van geloofs- en spraakvryheid moet twee vrae uitmekaar hou: is 'n geloof of standpunt haatlik, aanstootlik of moreel verwerplik — teenoor of dit gestraf moet word? Alle redelike mense kan saamstem dat ons vir doeleindes van 'n gesonde samelewing, mense nodig het wat dit nie regverdig vind dat politieke aktiviste vermoor of migrante of politici lewend verbrand word nie. Maar daardie ooreenkoms besleg nie of wetlike of maatskaplike strawwe geregverdig is nie.
Die liberale standpunt is dat slegs regstreekse en wesenlike skade aan ander mense, dwang of straf vir spraak kan regverdig. Soos John Stuart Mill dit in On Liberty gestel het:
“[D]ie enigste doel waarvoor mag regmatig oor 'n lid van 'n beskaafde gemeenskap, teen sy wil, uitgeoefen kan word, is om skade aan ander te voorkom. Sy eie beswil, hetsy fisies of moreel, is nie 'n voldoende regverdiging nie. Hy kan nie regmatig gedwing word om iets te doen of te laat bloot omdat dit beter vir hom sou wees om dit te doen, omdat dit hom gelukkiger sou maak, of omdat dit, na ander se mening, wys of selfs reg sou wees nie. Hierdie is goeie redes om hom te vermaan, of met hom te redeneer, of hom te probeer oorreed of smeek, maar nie om hom te dwing of hom met enige kwaad te tref as hy andersins doen nie.”
Dit is noodsaaklik dat die maatstaf vir wat skade behels, baie hoog gestel word. In die debatte oor Lucy Connolly het haar verdedigers uitgewys dat geen regstreekse verband tussen haar woorde en die daaropvolgende geweld gevind is nie. Diegene wat geglo het haar vonnis was toepaslik, het aangevoer dat sy nietemin sulke dade aangemoedig en gelegitimeer het en daarom skuldig of mede-aanspreeklik was vir verwante dade.
Ons kan en behoort beslis ernstige gesprekke te hê oor watter soort retoriek in die sfeer van “onverantwoordelik” val en kan bydra tot die normalisering en regverdiging van geweld of haat. Nietemin dink ek ons moet versigtig wees om mense te straf bloot omdat hulle bydra tot diskoerse wat hipoteties tot skade kan lei. Dit is al dikwels gebruik om debat te smoor. Baie van ons het Kritiese Sosiale Geregtigheids-aktiviste gekritiseer omdat hulle daarop aandring dat genderkritiese feministe en sosiale konserwatiewes, wat hul onoortuiging en teenstand teen die begrip van geslagsidentiteit uitspreek, bydra tot 'n kultuur waarin transpersone slagoffers van geweld word of selfmoord pleeg. Soortgelyke kritiek is gelewer teen dié wat beweer het dat mense wat gesê het Donald Trump is 'n bedreiging vir demokrasie, medeskuldig was aan die aanslag op sy lewe verlede jaar. Ons moet in staat wees om sterk kritiek oor maatskaplike kwessies te opper.
Daar kan aangevoer word dat standpunte wat 'n werklike argument bevat, beskerm moet word as deel van 'n legitieme politieke debat, terwyl uitlokkende stellings wat by implikasie geweld goedpraat, buite daardie beskerming val. Oorweeg byvoorbeeld die volgende slagspreuk wat op T-hemde gedruk word: “ ’n Goeie skop in die balle sal jou geslagsverwarring oplos.” Dit dra niks betekenisvols by tot die gesprek nie, en letterlik geneem, bepleit dit geweld. Net so is Kyle Gass se kwinkslag, “Moenie volgende keer Trump mis nie” helaas nie kritiek op die president nie, maar, letterlik geneem, 'n oproep om hom skade aan te doen.
Tog word albei uitdrukkings ten beste verstaan as tong-in-die-kies uitdrukkings van minagting, nie ernstige pogings om geweld aan te hits nie. Mense moet ook hul sterk emosies kan uitdruk sonder om bang te wees dit word letterlik opgeneem. Daar is werklike grys areas waar 'n stelling oortuigend gelees kan word óf as hiperboliese uitbarsting óf as werklike aanhitsing. Dit moet geval-vir-geval uitgevoer word. Nietemin moet die maatstaf gesetel wees in die opset of bedoeling om regstreekse en wesenlike skade te veroorsaak. Nie die vae, subjektiewe en maklik manipuleerbare beskuldiging van “bydraend tot skadelike diskoers” nie.
Daar is mense wat sal aanvoer dat ek 'n belangrike onderskeid miskyk tussen wetlike strawwe, en maatskaplike afkeuring of gevolge vir 'n spreker se professionele lewe. Ons behoort 'n baie hoë maatstaf te hê in die regsbeginsels wat mense vir uitdrukking straf, maar sekerlik kan burgers hul eie oordele maak oor wat moreel aanvaarbaar is en dit weerspieël deur maatskaplike afkeur? Lucy Connolly, as 'n kinderoppasser, kon regmatig kliënte verloor omdat ouers besluit het om nie hul kinders by iemand te los wat skunbaar fantaseer oor om mense lewend te verbrand nie. Dit sou 'n volkome liberale uitoefening van assosiasievryheid wees. Net so moet werkgewers vry wees om 'n eties gefundeerde, beredeneerde beoordeling te maak dat mense wat politieke geweld vier, 'n risiko vir die veiligheid van die personeel of kliënte, of vir die reputasie van die maatskappy inhou — sonder dat hulle daarvan beskuldig word dat hulle aan kanselleerkultuur deelneem.
Dit is hier waar dit belangrik raak om die kulturele kant van kanselleerkultuur in ag te neem. Met “kultuur” bedoel ek die wyer maatskaplike norme wat verder strek as werksplekbeleide. Hierdie norme vorm steeds dit wat werkgewers gedruk voel om te straf, maar dit kan nie gereduseer word tot vrae oor menseverhoudinge in die werksplek of reputasie nie. Ons het liberales nodig wat noukeurig nadink oor waar die lyn lê tussen redelike werksplekverwagtinge en inmenging in werknemers se vryheid van uitdrukking in hul lewens buite die werk. Afsonderlike gevalle waar 'n uitgesproke standpunt 'n persoon moontlik ongeskik maak vir 'n werk of 'n organisasie se reputasie kan skaad, kan en behoort geval-vir-geval oorweeg te word.
Maar dit is nie my primêre bekommernis nie. My bekommernis is die stand van politieke diskoers self, ons toenemende polarisasie, en wat dit aan ons kultuur in die breë doen. Ek vrees 'n terugkeer na 'n kultuur wat gepeupelregering bemagtig en mense baie kwesbaar maak vir watter morele ortodoksie ook al op daardie oomblik geld.
Ek is bekommerd oor die rigting waarin ons kulturele norme beweeg, veral met betrekking tot die verflouing van toewyding aan vryheid van spraak, die drang om sekere maatskaplike norme op almal af te dwing en om opponente te straf. Dit het die term “kanselleerkultuur” gekry toe dit deur aanhangers van die Kritiese Sosiale Geregtigheid-beweging afgedwing is, maar dit is beslis nie nuut nie. Dit weerspieël 'n oeroue menslike neiging tot outoritêre maatskaplike ingenieurswese in diens van 'n oorheersende morele ortodoksie. Sommige het al probeer om dit enger te omskryf sonder verwysing na geskiedkundige voorbeelde. Ek kan nie meer oneens wees met die andersins hoog aangeskrewe Rob Henderson se onlangse bewering dat kanselleerkultuur gedefinieer word deur die poging om maatskaplike norme op te lê wat nog nie gevestig is nie. Inteendeel, dit is die meganisme waardeur maatskaplik-konserwatiewe norme konsekwent hulself gehandhaaf het en insluit dat mense gestraf word vir die uitdrukking van standpunte soos “Miskien bestaan God nie,” “Vroue moet dieselfde wetlike regte as mans hê” en “Dis OK om gay te wees.” In sommige lande gebeur dit steeds. Ons gaan sekerlik nie menseregte aktiviste wysmaak dat hulle nie regtig gekanselleer word wanneer hulle gestraf word vir die uitdrukking van hierdie standpunte nie, omdat die sosiale norme wat hulle teenstaan al lank gevestig is?
Ons kan baie seker wees dat kanselleerkultuur nie nuut is nie, omdat liberalisme – die filosofie wat gefokus is op die beskerming van individuele vryheid – eksplisiet ontstaan het om dit teë te werk. Dit is nie slegs om mense teen staatsinmenging te beskerm nie, maar ook teen wat in liberale filosofie as “die meerderheidsdwang” of – meer gepas, aangesien 'n klein aantal luidrugtige agitators 'n passiewe meerderheid kan oorheers – “die oorheersing van heersende opinie” verwys word. Weereens is John Stuart Mill waardevol. Die probleem waarna hy verwys en die impak daarvan op die menslike psige, soos in 1859 beskryf, is onmiddellik herkenbaar as dit wat ons nou “kanselleerkultuur” noem:
“Soos ander tirannieë, was die meerderheidsdwang aanvanklik – en word dit steeds – oppervlakkig gevrees, hoofsaaklik omdat dit deur openbare owerhede gepleeg word. Maar insigte van nadenkende mense het getoon dat wanneer die samelewing self die tiran is – die samelewing as kollektief, bo-oor die individuele lede wat dit uitmaak – is die middele van tirannie nie beperk tot dade deur politieke funksionarisse nie. Die samelewing kan en voer sy eie bevele uit: en as dit verkeerde bevele uitreik in plaas van regte, of enige bevele in sake waarmee dit nie behoort te bemoei nie, beoefen dit 'n maatskaplike tirannie meer formidabel as baie vorme van politieke onderdrukking, aangesien dit, alhoewel nie gewoonlik met uiterste strawwe gehandhaaf nie, minder ontsnappingsmiddele laat, die besonderhede van die lewe dieper penetreer, en die siel self onderdruk. Beskerming teen die tirannie van die heerser alleen is dus nie genoeg nie: daar is ook beskerming nodig teen die tirannie van heersende opinie en gevoel; teen die neiging van die samelewing om, deur ander middele as burgerlike strawwe, sy eie idees en praktyke as gedragsreëls op diegene wat daarteen verskil, af te dwing; om die ontwikkeling te beperk, en, indien moontlik, die vorming van enige individualiteit wat nie in harmonie met sy maniere is nie, te voorkom, en om alle karakters te dwing om hulself na die model van sy eie te vorm.”
Wat Mill teëgestaan het, was presies die kultuur van maatskaplike dwang wat ons weer sien opkom in ons eie tyd, waar konformiteit nie net deur regerings vereis word nie, maar ook deur medeburgers.
As die begunstigdes van die ontwikkeling van liberale konsepte van individuele vryheid – die Verenigde State is daarop gegrond – moet ons nie versuim om bedreigings teen hulle te herken nie. Selfs wanneer die standpunte waarvoor mense gekanselleer word, dié is waarvoor ons glad nie simpatie het nie en glo die samelewing sou baie beter daaraan toe wees daarsonder, moet ons dink in terme van die langtermynplan en die groter prentjie. Die oorheersende morele ortodoksie wie se waardes jy deel en wat tans die mag het om mense te kanselleer, sal waarskynlik nie vir altyd oorheers nie.
Wil jy regtig bydra tot die verdere verflouing van toewyding aan individuele vryheid en vryheid van uitdrukking, wetende dat, met 'n regerings- of openbare meningsverskuiwing, die standpunte wat kanselleerbaar word wel jou eie kan wees? Indien wel, wees asseblief eerlik en moenie aanvoer: “Dit is nie regtig kanselleerkultuur nie,” maar “Ek ondersteun kanselleerkultuur wanneer dit by my eie standpunte pas.”
Indien nie, erken en staan konsekwent die opkomende kultuur van kansellering teen.
Gelukkig kan hierdie teenstand op individuele vlak opgerig word, in die wyse waarop ons kies om op te tree. Om dit te doen, moet ons die drade van die kwessie skei. Een draad is die verantwoordelikheid van werkgewers om 'n etiese werksplek te verseker, klantvertroue te beskerm, en die reputasie van hul onderneming te beskerm. 'n Ander is die groeiende normalisering van 'n polities-straffende skarementaliteit, waarin mense dit prioritiseer om “verkeerddenkers” te vind en te straf, eerder as om ernstig met idees in gesprek te tree.
In praktyk oorvleuel hierdie dinge dikwels. Maar in beginsel, op die vlak van individuele etiese besluitneming, is hulle geskei. As jy 'n werkgewer is, is jou plig om die besonderhede van 'n spesifieke geval te oorweeg en 'n regverdige beoordeling te maak of 'n uitgesproke mening regtig iemand se vermoë om hul werk te doen, beïnvloed, of dat dit nie jou saak is nie. As jy 'n politieke aktivis is, is jou plig om te vra of jou tyd beter bestee word aan 'n gesoek na mense om te straf, eerder as aan ernstige betrokkenheid by die oorweging van idees.
Te dikwels probeer mense wat aan kanselleerkultuur deelneem, hulleself distansieer van die menslike koste daarvan en dit as 'n soort natuurlike verskynsel voor te stel. Hulle sê dinge soos: “Vryheid van spraak is nie vryheid van gevolge nie,” asof hulle nie betrokke is by die besluit wie gevolge moet ondervind nie, vir watter oortreding en wat daardie gevolge behoort te wees. Hulle praat soos oor iemand wat besluit om 'n berg te klim en die moontlikheid moet aanvaar dat hulle kan val. Maar kultuur is nie 'n natuurlike krag soos swaartekrag nie. Dit is iets waaraan elkeen van ons 'n rol speel om te kweek. Ons behoort elkeen noukeurig te dink oor watter soort kultuur ons aksies probeer uitbou.
As jy, na ernstige etiese besinning oor 'n bepaalde voorval, dink jy het sterk bewyse dat iemand 'n gevaar vir kwesbare mense is en dat jy die verantwoordelikheid het om hul werkgewer hiervan in kennis te stel, moet jy dit doen. Maak seker dat jou etiese regverdiging goed gegrond, logies beredeneer, konsekwent oor politieke skeidslyne, en nie in diens van jou eie politieke ideologie uitgereik is op 'n manier wat jy nie sou wou hê iemand anders aan jou opdwing nie.
As jy, na besinning, besef dat jy soek na mense wat dinge sê wat jy teenstaan om hulle te straf, aangedryf deur jou eie gevoelens van verontwaardiging, afsku en, in die geval van Charlie Kirk se moord, rou, stop asseblief en oorweeg die groter prentjie. Dink oor wat sulke aksies tot kultuur bydra en of dit 'n kultuur is wat jy wil bou. Oorweeg of dit beter sou wees om 'n etiese argument teen daardie persoon se standpunt te maak en ander te oorreed om dit vir goeie redes te teenstaan. Dink daaroor of jou bydrae tot 'n kultuur van kansellering op jou kan terugslaan as jou eie politieke standpunte uit die openbare guns val.
Uiteindelik sal die kultuur wat ons bou nie gemeet word aan hoe hard ons ons vyande gestraf het nie, maar aan hoe standvastig, selfs in tye van woede en rou, ons die liberale beginsels wat ons almal beskerm, verdedig het.
Helen Pluckrose is 'n akademikus en skrywer van die Substack getiteld The Overflowings of a Liberal Brain. Hierdie artikel word met haar vergunning vertaal en herplaas.
Nog artikels op OntLaer:
SOSIALE MEDIA
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.