7 Oktober: Trauma, Verset en 'n Onsekere Toekoms
Gans te min vordering na vrede.
“Israeli dienspligtiges wat aan die Gasa-grens diens gedoen het, is onvoorbereid betrap op 7 Oktober 2023 en baie het swakhede getoon. Maar hulle sou nie só blootgestel gewees het sonder die katastrofiese mislukking van die ‘hoë-tegnologie-leër’ nie – in hierdie geval Militêre Intelligensie en die Shin Bet-veiligheidsdiens. Die huidige stafhoof, Eyal Zamir, sê dit was die hoofrede wat die slagtings moontlik gemaak het. Die Gasa-grens-ramp kan natuurlik nie net tot die IDF se mislukkings beperk word nie. Hoër as die Israeli intelligensiegemeenskap en grondmagte het 'n regering gestaan wat die strategie in Gasa vir baie jare bepaal het – of versuim het om dit te bepaal.”
– Amos Harel, een van Israel se voorste militêre en veiligheidsontleders in Haaretz koerant.
Soos ons die tweede herdenking van Hamas se aanval op Israel op 7 Oktober 2023 nader, bly die Midde-Ooste vasgevang in 'n oorlog wat tienduisende lewens geëis het, Gasa verwoes en die politieke landskap tot ver buite die streek herskep het. Wat begin het as die dodelikste aanval in Israel se geskiedenis, het ontwikkel in een van die mees vernietigende en polariserende konflikte van die 21ste eeu.
Op daardie Saterdagoggend het Hamas-vegters die Gasa-grensheining oorgesteek in 'n gekoördineerde en beplande aanval. Meer as 'n duisend Israeli’s is doodgemaak en 250 is gyselaars geneem. Die omvang van die aanval het Israel geskok, toe sy geroemde veiligheidsapparaat binne ure inmekaar stort. Vir Palestyne was die aanval 'n dramatiese reaksie op dekades se Israeliese besetting en blokkade van Gasa.
Die wêreld se reaksie was egter vinnig: veroordeling van Hamas, beloftes van solidariteit met Israel, en vroeë oproepe tot selfbeheersing wat gou verdring is deur die felheid en onmenslikheid van Israel se militêre reaksie.
Twee jaar van menslike slagting
Binne dae na die aanval het Israel sy grootste militêre veldtog teen Gasa nog ooit begin. Wat begin het as weke van lugbombardemente het uitgebrei tot opeenvolgende grondaanvalle wat Gasa-stad, Khan Younis en Rafah geteiken het. Teen die einde van 2023 het Gasa se infrastruktuur in puin gelê, was sy hospitale oorweldig, en sy burgerlike bevolking vasgevang in wat die VN beskryf het as 'n humanitêre ramp in wording.
Deur 2024 en 2025 het die oorlog verdiep. Die mense van Gasa verwys na Israel se oorlog as 'n “volksmoord”. Wêreldwyd word die konflik as verskriklik beskou. Israel het Hamas se leierskap gejag en groot dele van Gasa se stedelike infrastruktuur totaal vernietig. Hamas, wat hard geslaan maar nie gebreek is nie, het deur tonnels, vuurpyle en stedelike oorlogvoering bly weerstand bied. Pogings om 'n skietstilstand te bemiddel, is deur Katar, Egipte en later die VSA gepoog maar het herhaaldelik in duie gestort.
Gyselaar-onderhandelinge het kortstondige pouses gebring, maar die oorlog het voortgeduur en selfs die daaglikse lewe in Israel hervorm. Families van gyselaars het teen Netanyahu se leierskap betoog en hul gyselaar-familielede se terugkeer geëis. Die aanval en sy gevolge het Israeliese politiek gefragmenteer weens woede oor regeringsmislukkings aan die een kant, en die verharding van nasionalistiese standpunte teen enige toegewings aan die ander.
Humanitêre tol
Nou, twee jaar later, lê Gasa verwoes. VN-agentskappe skat dat die meeste van die Strook se 2,3 miljoen inwoners gewelddadig verplaas is, met gepaardgaande hongersnood wat deur Israel bestuur word en die ineenstorting van mediesesorg wat ontelbare lewens geëis het. Philippe Lazzarini, hoof van UNRWA, het gewaarsku dat Gasa sonder 'n skietstilstand en internasionale heropbou op pad is na “[die] ineenstorting van 'n hele generasie.” Vir Palestyne het 7 Oktober nie net 'n baken geword van 'n gewapende weerstandsoperasie nie, maar van die begin van massalyding wat sedertdien hul lewens definieer. Vir Israeli’s is die datum 'n baken van sowel 'n nasionale trauma as die regverdiging vir 'n meedoënlose militêre veldtog.
Die oorlog het politieke verhoudings regdeur die Midde-Ooste verander. Israel se leierskap, onder Benjamin Netanyahu, staar toenemende internasionale veroordeling en regsaksies by die Internasionale Strafhof in die gesig. Intussen het die Palestynse Owerheid (PO), wat jare lank verswak was, homself probeer posisioneer as die “alternatiewe regering” vir Gasa, met sterk steun uit Arabiese en Westerse lande. In September 2025 belowe Saoedi-Arabië $90 miljoen om 'n Internasionale Koalisie vir Finansiële Steun aan die Palestynse Owerheid te help stig. Dit is 'n teken van groeiende Arabiese en internasionale erkenning van die PO as sentraal tot 'n na-oorlogse orde.
Wêreldwyd het die momentum na die erkenning van 'n Palestynse staat verskuif. Vandag het 159 van die VN se 193 lidlande reeds Palestina formeel as 'n staat erken, insluitend verskeie Westerse lande soos die Verenigde Koninkryk, Kanada, Frankryk en Australië. Hierdie golf van erkenning van die Palestynse staat onder die leiding van die PO het 'n Palestynse staat toenemend moeilik gemaak om te ignoreer, selfs terwyl die oorlog voortwoed. Al hierdie bewegings het gebeur terwyl Netanyahu en sy ultra-regse koalisievennote onverpoos werk om die werklikheid op die grond te verander en om enige hoop op die vestiging van 'n tuisland vir die Palestynse volk – beide in die besette Wesoewer en in Gasa – uit te wis.
Mededingende narratiewe
Aan die hart van die herdenking van 7 Oktober lê 'n botsing tussen geheue en betekenis.
Vir Israel word 7 Oktober opgeroep as 'n dag van verskrikking, wat die oortuiging vervat dat Hamas teen elke koste uitgeskakel moet word. Vir Palestyne is die datum deel van 'n langer geskiedenis van ontsegging, besetting en verset en die oorlog sedertdien word in Gasa beskryf as niks minder nie as volksmoord. Hierdie mededingende narratiewe strek wêreldwyd. In Westerse politiek word steun vir Israel toenemend deur die regtervleuel as 'n kwessie van nasionale sekuriteit en gedeelde waardes geraam, terwyl solidariteit met Palestina 'n saak van humanitêre en progressiewe bewegings geword het, gesentreer op menseregte en die regstelling van koloniale ongeregtigheid.
Soos die tweede herdenking van 7 Oktober 2023 nader skuif, duur die verwoestende menseslagting in Gasa voort en bly die oorlog se einde ons ontwyk. Israel beheer groot dele van die ruïnes van Gasa, maar Hamas is nog nie verslaan nie en weier om vrywillig te ontwapen of uit toekomstige staatkundige besluite uitgesluit te word. Internasionale planne vir heropbou, gelei deur die Europese Unie, Saoedi-Arabië en die VN, hang steeds af van 'n skietstilstand wat nog nie gerealiseer het nie. Die oorlog het verdeeldheid verhard maar ook diplomatieke verskuiwings versnel. Die erkenning van Palestina deur 'n groeiende meerderheid state dui daarop dat die idee van 'n tweestaat-oplossing in die oë van die wêreld nie meer bloot net 'n visie is nie, maar 'n onomkeerbare proses.
Die tweede herdenking van 7 Oktober is nie net 'n dag van rou en herinnering nie, maar ook 'n vingerwysing na hoe min vordering tot vrede gemaak is. Die oorlog het twee volke geskaad, 'n streek gedestabiliseer en die geloofwaardigheid van internasionale reg en diplomasie getoets. Of hierdie oomblik 'n draaipunt word na heropbou en uiteindelike staatskepping, of bloot nog 'n mylpaal word in 'n klaarblyklik eindelose oorlog, hang af van keuses wat nog gemaak moet word – deur leiers in Israel en Palestina, deur bemiddelaars in Washington en Doha, en deur 'n wêreldgemeenskap wat worstel om geheue, geregtigheid en vrede te versoen.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.