Dialoog in die hedendaagse openbare ruimtes
Die moord op Charlie Kirk, gegewe die ruimte van die universiteit waarin dit plaasgevind het, spreek boekdele van 'n atmosfeer wat lankal reeds vaardig is in die openbare ruimtes. Knoppies en snellers bied vinniger oplossings as dialoog, en ‘denkers’ word gemeet aan klieks eerder as substansie.
Die universiteit staan nie los van die kitswêreld van skerms nie, dit vorm deel daarvan, en dit hou die potensiaal in om rigtinggewende betekenis oop te sluit in hierdie tye. Na my mening speel die universiteite tans nie naastenby so 'n betekenisvolle rol as wat nodig is nie, trouens– dit dra selfs by tot die probleme. Dit is maklik om die vingers in so 'n scenario te wys na sogenaamde intellektuele ‘elites’ wat in afsondering van die samelewing funksioneer, waarvoor die oplossing eenvoudig sal wees: dryf die sondebokke oor die kloof, en siedaar! Maar ongelukkig lê kern van die probleem agter die simptome veel dieper en sal die voorgestelde uitdrywing en onlangse mondsnoering meer van dieselfde probleme in nuwe vorme daarstel as wat dit daadwerklike oplossings sal bied. Ons moet in hierdie veranderende tye eerder die vraag stel oor die wese van die openbare ruimtes, en spesifiek ook die plek waar hierdie gebeure afgespeel het, naamlik die universiteit.
Verwikkelde onderskeid
Die beskikbaarheid van inligting het daartoe bygedra dat die universiteit vandag in 'n meer direkte verhouding tot die samelewing staan as in die verlede, toe navorsing hoofsaaklik gesetel was by die universiteit. Daarmee saam het die grense tussen die universiteit, die staat, die bedryf en die samelewing egter dermate vervaag dat dit nodig is om na te dink oor die interaksie tussen hierdie domeine.
Uiteraard wil ons hê dat die universiteit die samelewing moet dien en nie in ‘ivoortorings’, hetsy intellektueel of ideologies, vasgevang raak nie. Daar moet aanspreeklikheid teenoor die bedryf (die ekonomie) en die samelewing wees. Daarom is bemiddeling tussen die domeine belangrik sonder om die selfstandigheid van die domeine te ondermyn. 'n Onderskeidlose samelewing is egter net so gevaarlik soos 'n samelewing waarin een van die domeine in totale afsondering van die ander funksioneer. Wanneer die universiteit alleen deur markkragte of deur ideologie gedomineer word, kan denke nie gedy nie. Robuuste debatvoering is nodig en ruimtes moet daarvoor geskep word. Hierdie ruimtes is geen ‘safe spaces’ nie, maar dit is insgelyks belangrik dat die kwessies in diepte uitgeredeneer kan word, eerder as om ondermyn te word deur intimidasie, opsweping en geweld. Die universiteit is net so min 'n safe space as wat dit 'n stofstraat in 'n Western-film behoort te wees waar mense met pistole moet rondloop.
Ten dele het die grense vervaag vanweë die bemiddeling van die media wat nie bemiddelend nie, maar partydig tussen domeine boodskappe oordra, asook nuwe kommunikasietegnologie. 'n Verdere dimensie wat beide die media en die tegnologie onderlê, is bemarking, wat grootliks geskoei is op die aktivering en manipulering van die onderbewussyn op 'n deurlopende basis deur algoritmes. Die bedryf belê reusagtige bedrae in navorsing om bemarking te verfyn, terwyl die effek van bemarking op die samelewing en selfs op publieke diskoers nog nie na behore verreken is nie, veral by die plek wat oor die middele beskik om dit te doen nie, naamlik die universiteit. In watter mate handeling gestem is deur allerlei onderbewuste prikkels, is die groot vraagstuk van ons tyd. Ons staan in die môre waaroor Johan Huizinga in 1935 in sy boek In de schaduwen van morgen, geskryf het: “woord en beweging is nie meer lewende handelinge nie, maar slegs herprodusering. Die stemme uit die eter is blote eggo’s.”
Die kampvegter-generasie
Die jonger generasie van die 21ste eeu kan beskryf word as 'n kampvegter-generasie wat hulle beywer vir 'n saak. Die saak self is dikwels sekondêr tot die daad van deugpronkery. Dit kan beskou kan word as 'n reaksie op die ‘rebel without a cause’ verskynsel wat verbind word met James Dean in die tweede helfte van die 20ste eeu. Tereg kan gevra word hoe oordeelkundig die jonger generasie omgaan met die moralismes wat hulle as gegewe aanvaar.
Die kampvegters is ook nie meer verbruikers soos hulle ouers wat ingestel is op die bevrediging van behoeftes nie, hulle is gebruikers (users) wat volhoubaarheid bevorder (tesame met die bevrediging van behoeftes). Dikwels is gebruikers niks meer nie as chroniese verbruikers. Die gebruiker beskou sigself vanuit die staanspoor as geregverdig en eiegeregtig, oftewel moreel. Hierdie moraliteit behoef nie dialoog en bewysvoering nie, dit is immers goedgunstiglik vooruitbestem deur kunsmatigheid.
Akademici in hierdie orde mobiliseer dikwels studente om onbeproefde idees tot norm te verhef deur aktivisme. Om 'n mens te beywer vir 'n saak, veral as jongmens, is gewis nie verkeerd nie, maar behoort gepaard te gaan met 'n basiese vlak van mondigheid en 'n knippie lewenswysheid eerder as blote klakkelose napratery. 'n Standpunt moet redelik verdedig kan word. As die antwoorde reeds gegewe is, word die vraagstelling bloot prosesmatig, en die universiteit 'n mondstuk van ander kragte.
Verstelling
Ten slotte: behoort die universiteit Kirk se idees te omhels as alternatief tot dit wat gebeur het? Allermins. Die universiteit is nie óf behoudend óf progressief nie, dit is albei: dit dra gevestigde kennis oor met inagneming van die konteks én dit daag ook daardie kennis uit en beproef nuwe idees met dieselfde kritiese blik. Studente behoort te leer om selfstandige, bekwame beroepslui en deelnemende burgers te word. Die universiteit is 'n plek waar mense hulle onderskei ten bate van die samelewing, en 'n plek waar hulle leer om gesonde onderskeide te tref sowel as om te vertaal tussen verskillende vlakke. My selfbevrediging staan nie los van die effek wat dit op die samelewing het nie, en die vorige generasie is net so skuldig aan hierdie aanname as die huidige.
Die onvermoë om te onderskei tussen die virtuele domein waar oplossings 'n kliek ver is, en die tasbare wêreld– wat weerstandig is teenoor ons pogings om dit onder ons ‘swakke vuis’ te laat swig, het tekenend van ons tyd geword. Dit verg selfs besondere dissipline om te onderskei tussen gebeure en wat daaragter sit, gegewe die ophef wat aanlyn gemaak word op gebeurtenisse. Tog is dit goed dat mense steeds bereid is om fisiese dialoog en ruimtes op te soek. Ek merk, ten spyte van die gebeurtenisse van verlede week, wel iets van 'n nuwe vorm van dissipline onder die jonger generasie op, 'n nuwe tipe selfdissipline, wat mens hoop gee. Mag die onvermoë om te onderskei en die gepaardgaande onmondigheid met ywer en kalmte teengewerk word. Geen politieke ideologie is immuun teen hierdie uitdagings van onmondige burgerskap nie, en ons temperamente is in tye soos hierdie selfs meer bepalend as ons woorde.
Dr Hercules Boshoff is Navorsingsgenoot aan die Departement sistematiese teologie en ekklesiologie binne die Fakulteit Teologie, Universiteit Stellenbosch. Hy skryf in sy persoonlike hoedanigheid. Sy boek Verantwoording: die dialektiek van ‘n sinryke bestaan verskyn eersdaags by Naledi uitgewers.
Nog artikels deur Dr Hercules Boshoff:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.