Mens onthou in die algemeen min dae in jou lewe vreeslik klinkklaar. Ek onthou slegs sekere verjaarsdae, my troudag, geliefdes se afsterwe, en my kinders se geboortes omdat dit persoonlike en gekoesterde of hartseer dae is. Mens onthou miskien nuuswaardige gebeurtenisse, maar nie hoe jy op daardie dag gevoel het nie.
Maar daar is uitsonderings – altans vir my. Die 9/11-aanvalle op 11 September 2001 was só 'n gebeurtenis. Die seuns in die hoërskooldebat-groep wat ek deeltyds afrig het my juis onlangs gevra hoe ek daardie dag gevoel het. Hulle is almal eers daarna gebore, maar wou net weet hoe ek op dáárdie dag gevoel het.
Ek het destyds 'n klein tuisgebaseerde besigheid gehad en ek besig was om met die radio aan te werk in die motorhuis toe die eerste nuusberigte deurkom. Ek het aanvanklik gedink dis straks 'n ligte vliegtuig wat per ongeluk die eerste toring van die Wêreldhandelsentrum in New York getref het. Toe die nuus oor die tweede vliegtuig deurkom, het ek na die televisie gehardloop en CNN aangeskakel. Ek kon nie weer werk vir die res van die dag nie en dis al waaroor mense vir weke gepraat het. Instinktief het ek geweet dit is 'n epogmakende gebeurtenis wat ontsagwekkende gevolge tot ver in die toekoms teweeg sou bring.
Dit was verstommend en katastrofies en het baie persoonlik vir my gevoel op 'n skaal wat nog nie deur enige misdaad, natuurramp en selfs ander terreurdade oortref kon word nie. Dit was 'n wrede coming of age-oomblik vir ons geslag. Derhalwe was dit 'n taamlik rigtinggewende faktor in my keuse om die jaar daarna joernalistiek (met politiek as stopvak) te begin swot. Ek wou verstaan hoekom sulke dinge gebeur en waartoe hulle aanleiding gee. 'n Paar jaar later het ek my meestersgraad oor Amerikaanse buitelandse beleid aangepak vanweë my belangstelling (asook steun gevolg deur ontnugtering) in die sogenaamde Bush-doktrine, neokonserwatisme en die oorloë in Irak en Afganistan.
Baie het intussen verander en nog steeds is hierdie gebeurtenis nie heeltemal ontrafel of afgehandel nie. Daar was al baie teorieë, geloofwaardig asook kranksinnig, oor die oorsake van die aanvalle. Soos dat die Amerikaanse en/of Israelse regerings, die federale speurdiens (FBI), en die sentrale intelligensie-agentskap (CIA) die aanvalle beplan het as 'n enorme false flag om die daaropvolgende oorloë te regverdig. Sulke bespiegeling val vir eers buite die strekking van hierdie artikel, want ek wil eerder betrag wat intussen gebeur het as gevolg van die aanvalle.
'n Lang skaduwee
Baie dinge het verander. Die internet was destyds nog in sy babaskoene terwyl uiters gesofistikeerde slimfone ons uiters eenvoudige Nokias en Samsungs ondertussen vervang het. Kunsmatige intelligensie rig toenemend ons lewens op 'n manier wat toe steeds ondenkbaar was. Daar was toe nie eens YouTube en sosiale media nie, en nou is dit die vernaamste manier waarop nuus en inligting versprei en ontvang word. Koerante en liniêre TV het sedertdien bykans hul bestaansreg verloor. Die wêreld het meer multipolêr geword – toevallig omdat Amerika ook in 2001 besluit het om China tot die Wêreldhandelsorganisasie toe te laat om die Middelkoninkryk uiteindelik polities (sonder sukses) te hervorm.
Die 9/11-aanvalle het ook politieke en ekonomiese gebeurtenisse ontketen wat Amerika grondliggend beïnvloed het. Daar was aanvanklik 'n nuutgevonde patriotisme in die VSA in die nadraai van 9/11. Oudpres. George W. Bush se goedkeuringsyfers het ongekend van die lae 50’s tot in die 80’s opgeskiet. Hy kon in wese doen wat hy wou, en hy het. Die neokonserwatiewe valke in sy administrasie soos Paul Wolfowitz, Dick Cheney, Donald Rumsfeld, Richard Perle en invloedryke denkers soos Douglas Feith wou lank reeds van Saddam Hoesein ontslae raak en regimeverandering in Irak bewerkstellig.
Bush was voor sy naelskraapse verkiesing in 2000 redelik ongekunsteld wat buitelandse beleid en die wêreld betref. Hy het homself van Bill Clinton en Al Gore probeer onderskei deur groter klem op militêre mag te plaas tydens sy veldtog, maar terselfdertyd Amerikaanse nederigheid bepleit. Hy wou opsluit nie demokrasie na onvrugbare grond in die Midde-Ooste versprei nie en het meer (en meer in ooreenstemming met die konstruktivistiese as realistiese skool in internasionale betrekkinge) op sagte mag – soos waardes en voorbeeldstelling – aanspraak gemaak.
Ná 9/11 het hy die sogenaamde “oorlog teen terreur” geloods. Nes die “oorlog teen dwelms” in die Reagan-jare en daarna, het 'n gepaste naam en diagnose veelal onbedoelde gevolge indien dit sonder die korrekte strategie en middele benader word. Eerder as om op transnasionale terreurnetwerke en geteikende operasies te fokus, is regimeverandering in Irak en Afganistan onderneem om wapens van massavernietiging hok te slaan onder die dun versluierde dekmantel om demokrasie te versprei. Realisme se fokus op mag en state as hoofrolspelers het geseëvier en demokrasie is deur die loop van 'n geweer afgedwing op samelewings sonder enige toegeneentheid daartoe.
Afganistan het na alle aanduidings willens en wetens skuiling en opleiding aan Al Kaïda verskaf, maar diegene wat die vliegtuie teen die torings en die Pentagon laat bots het, is in onder meer Amerika opgelei. Hulle het tewens regstreekse en indirekte steun vanuit Saoedi-Arabië ontvang en die meeste van hulle was Saoedi-burgers. Waarskuwings oor hulle is vir 'n geruime tyd deur die Amerikaners geïgnoreer. Osama bin Laden is in Pakistan naby 'n militêre basis opgespoor en doodgeskiet in 2011. Die VSA was woedend vir Pakistan, maar van regimeverandering was daar nie meer sprake nie. Noord-Korea, wat deel van Bush se “spil van boosheid” saam met Iran en Irak uitgemaak het, se regime het strykdeur ongeskonde gebly.
Ofskoon die oorloë aanvanklik maklike seges opgelewer het (Bush en kie wou immers korttermynresultate behaal), het hulle by gebrek aan strategie en kennis van plaaslike omstandighede meer moeisaam en ongewild geraak. Irak is vandag 'n taamlik stabiele maar nogtans onvrye en brose land wat uiters vatbaar is vir radikalisme en geweld. Die Taliban het ná bykans 20 jaar weer beheer van Afganistan teruggeneem ná 'n chaotiese en roemlose Amerikaanse onttrekking in 2021. Die Irak-oorlog het Sjiïtiese politieke heerskappy in daardie land gevestig en dit derhalwe in Iran se arms ingedwing nadat hulle 'n bloedige oorlog in die 80’s geveg het.
Die oorloë ná 9/11 het die Republikeine in 2006 se middeltermynverkiesing erg geknou en John McCain het om hierdie rede in 2008 geen kans meer teen die buitestaander Barack Obama gestaan nie. Asof die lewensverlies van onskuldige Irakkese en allerlei Westerse soldate nie genoeg was nie, het die ekonomiese las van Irak en Afganistan (gesamentlik geraam op $2-3 triljoen) dit onlewensvatbaar gemaak om weer troepe te werf en die Amerikaanse weermag voldoende te versterk en te moderniseer.
Terwyl Obama geen engeltjie was wat buitelandse beleid en oorlogvoering betref nie, het hy op talle kulturele maniere Amerika grondliggend verander en ook staatsinstellings in ideologiese wapens omskep. Dit sou altyd weer 'n teenreaksie uitlok en in 2016 het Amerikaners linkse wokeheid vir die regse soort verruil deur die kwansuis pragmatiese maar meer kragdadige Donald Trump te verkies. Ek is vas oortuig dat Covid losgelaat is deur China sodat Joe Biden in 2021 verkies kon word, en nes Obama is Biden se termyn deur oordadige weifeling en oorversigtigheid gekenmerk. Trump wou weer in alle opsigte homself uitermate van Obama en Biden onderskei.
Hy het vir jare jeens onnodige oorloë in die Midde-Ooste uitgevaar. Sy beloftes om uitgerekte oorloë te voorkom en te beëindig was hoekom so baie mense hom bewonder en gesteun het – die uwe inkluis. Vir vyf jaar het sy buitelandse optrede juis rondom ekonomiese staatkunde en beperkte militêre optrede gewentel. Die konflik in Iran het dit verander en dis al langer as ses maande aan die gang met geen einde in sig. Weer eens was kernwapens sonder bewyse of werklike bedreiging ter sprake.
Trump het nog nie met só 'n weerbarstige buitelandse uitdaging te kampe gehad nie en die Republikeine is weer waar hulle 20 jaar gelede was: Waarskynlike grootskaalse verliese in 'n middeltermyn-verkiesing met 'n uiters ongewilde president wat nie weet wat om met 'n Midde-Oosterse konflik te doen wat hy begin het nie. Die regime in Iran is meer veglustig en ontoegewend as voorheen terwyl hulle beheer oor die Hormoes-seestraat die ganse wêreld nou die prys laat betaal, en nie slegs Amerika nie. Die oorloë in Irak en Afganistan het buitendien moreel en ekonomies verhoed dat Trump troepe in Iran kan instuur of voldoende wapens vervaardig om Iran te verslaan. Dit is weer onduidelik wat die plan is indien die regime tot 'n val kom. Terwyl Amerika sy hulpbronne in die Midde-Ooste verspil, het ander groot moondhede hul kanse gebruik en die post-Koue-Oorlogse unipolêre oomblik sodoende tot ’n einde gebring – al bly Amerika in absolute en relatiewe terme die magtigste staat, is hulle nie meer so dominant soos voorheen nie en die magsgaping het aansienlik vernou.
Bush het stiksienig 'n werklike tragedie in 'n veel groter ramp verander. Dit het tot Obama (en Biden) se verkiesing en oorkompensasie aanleiding gegee – veral wat immigrasie, kultuur en globale leierskap betref – en die wêreld 'n gevaarliker plek gemaak. Trump het die regte geluide gemaak en wel sekere suksesse gehad, maar ook hý het die pad byster geraak en homself en Amerika verloën (of was dit net voortreflike oëverblindery?). New York se burgemeester is vandag die radikale Zoran Mamdani. Amerikaners word sedert 9/11 strenger met behulp van tegnologie deur 'n drasties vergrote staat dopgehou en gemonitor as ooit tevore. Hulle het ideologies meer gepolariseerd geraak.
Die verloop van tyd het sieninge oor sekere lesse laat kwyn en verander. 9/11 het al 'n kwarteeu gelede plaasgevind en selfs die oorloë in Irak en Afganistan is besig om vergete te raak. Tog hoor ons weer: Hierdie keer sal dit anders wees.
Dr. Brink is 'n entrepreneur, ontleder en sakekonsultant van die Paarl.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.









