Die ANC het sy verkiesingsmanifes bekend gestel, en dit bevat tientalle spesifieke beloftes.
Dit berus op ses hoofterreine vir “beslissende optrede” tussen 2026 en 2031, maar vroeg in die dokument word tien prioriteite vir die eerste 100 dae uitgelig. Dit sluit onder meer in om die basiese dinge reg te kry (slaggate reg te maak, straatligte te herstel, ens.), dat elke burgemeester 'n eerste gemeenskapsimbizo hou en sy of haar munisipaliteit se 100-dae-program publiseer, en om plaaslike ekonomieë aan die gang te kry deur katalitiese projekte te identifiseer wat werksgeleenthede, belegging en plaaslike ondernemings kan ontsluit.
Die manifes is daar vir almal om te lees en self te besluit wat hulle van die beloftes dink, maar om na die toekoms te kyk, moet ons ook die hede en die verlede in oënskou neem. Die inhoud klink redelik pragmaties, maar myns insiens geld die volgende: Hoe langer die lys beloftes en hoe meer spesifiek hulle is, hoe groter is die verantwoordelikheid om rekenskap te gee van wat reeds gedoen is om dit te verwesenlik. Wys my wat jy reeds gedoen het voordat jy enige groot nuwe beloftes maak. Aanspreeklikheid en prestasie behoort geloofwaardigheid te bepaal.
Hier volg 'n kort oorsig van hoe die ANC onlangs op enkele belangrike terreine van munisipale bestuur gevaar het. Vyf jaar (en beslis 100 dae) is immers nie lank in vergelyking met die dekades wat reeds verloop het nie. Dit gee boonop 'n aanduiding of die ANC hierdie beloftes oor 'n tydperk van vyf jaar kan nakom.
'n Skandelike rekord
BusinessTech het in Junie berig dat munisipaliteite in Mpumalanga en Limpopo die meeste wateronderbrekings ervaar. Die ANC oorheers dié provinsies op provinsiale én munisipale vlak. Die party beheer ook metro’s soos die Stad Johannesburg (CoJ), Mangaung en Nelson Mandelabaai, waar wateronderbrekings alledaags geword het.
Die jongste Groen Druppel-bevindings het getoon dat afvalwaterbestuur landwyd aansienlik verswak het, met byna die helfte van dié stelsels wat nou as kritiek geklassifiseer word. Nie-inkomstewater (water wat weens lekkasies en ander ondoeltreffendhede verlore gaan) bly ook hoog op 47,3%.
Adjunkminister van Openbare Werke Sihle Zikalala het vandeesweek gesê Infrastructure South Africa sal voortaan, benewens nasionale paaie, ook op die herstel en instandhouding van munisipale paaie moet fokus. “Ons moet ook kapasiteit in plaaslike munisipaliteite opbou. Ons munisipaliteite staan voor 'n uitdaging omdat tegniese kapasiteit uitgekalwe is, en dit het 'n ernstige probleem geskep waar mense met tegniese vaardighede die munisipaliteite verlaat. Dit is weens die verval wat ons in die administratiewe stelsel sien. Deur Infrastructure South Africa bou ons dus die tegniese kapasiteit van ons munisipaliteite op,” het hy aan die SAUK gesê.
Omdat ek in die verlede in plaaslike gemeenskappe gewerk het, het ek eerstehands gesien hoe die tegniese kapasiteit in ANC-beheerde plaaslike munisipaliteite in Noordwes heeltemal uitgekalwe is. Daar is nie genoeg personeel met die nodige vaardighede nie, nie genoeg hulpbronne (soos voertuie om op oproepe te reageer) nie, en ook nie genoeg toerusting nie.
Deur 'n verderflike mengsel van kaderontplooiing en die wanbestuur wat daaruit voortspruit, 'n gebrek aan meriete, regstellende aksie en arrogansie, weerspieël die munisipale sfeer die probleme wat provinsiale en nasionale regerings en departemente, asook die staatsondernemings onder hul beheer, teister.
Hoewel die ANC, hetsy deur volstrekte meerderhede of as deel van koalisies, die oorgrote meerderheid munisipaliteite in die land beheer nadat die party 45% van die stemme in die 2021-verkiesing gekry het, is ANC-beheerde munisipaliteite 'n klein minderheid wanneer dit by skoon oudits kom. In die Ouditeur-generaal (OG) se jongste verslag oor munisipaliteite was ANC-beheerde munisipaliteite vir minder as 20% van die 39 skoon oudits verantwoordelik. Die meeste vrugtelose, verkwistende, onreëlmatige en ongemagtigde uitgawes kom van munisipaliteite wat gedeeltelik of ten volle deur die ANC beheer word – tans én in die verlede.
Die Stad Johannesburg is 'n goeie voorbeeld. Dit is Suid-Afrika se belangrikste en rykste metro, maar verkeer in talle opsigte in ernstige moeilikheid. Soos die Centre for Development and Enterprise (CDE) dit in 'n verslag oor die stad stel:
“Ongelukkig het Johannesburg in 'n toestand van diepgaande disfunksie en ernstige finansiële nood verval. Infrastruktuur stort in duie, dienslewering faal, die koste om sake te doen styg, entrepreneurs, beleggers en geskoolde beroepslui verlaat die stad, talle inwoners word armer, en daar is min of geen doeltreffende beplanning vir die toekoms nie.”
Die verslag meld verder dat Johannesburg Water die agterstand met die vernuwing van infrastruktuur op R26,6 miljard geraam het, terwyl slegs 60 tot 70 kilometer se pyplyne jaarliks vervang word. Die geraamde agterstand met elektrisiteitsinfrastruktuur beloop R44 miljard, wat in die tweede helfte van 2025 tot 54 132 aangetekende kragonderbrekings gelei het – 'n toename van 22 persent teenoor die vorige jaar.
Die gevolgtrekking is dat, as hulle 'n ryk, robuuste en veerkragtige stad soos Johannesburg kan verwoes, dit selfs makliker is om kleiner metro’s, distriks- en plaaslike munisipaliteite te ruïneer – soos hulle inderdaad gedoen het. Ek kan nie aan 'n enkele ANC-beheerde munisipaliteit dink wat in die geheel floreer (of minstens gemiddeld presteer) nie.
Geen bespreking van dié onderwerp sou volledig wees sonder verwysing na die sistemiese korrupsie in munisipaliteite nie. Die Institute for Security Studies (ISS) het drie ANC-beheerde munisipaliteite – Madibeng Plaaslike Munisipaliteit (Madibeng), OR Tambo Distriksmunisipaliteit (ORTDM) en die Stad Johannesburg Metropolitaanse Munisipaliteit (CoJ) – ondersoek om vas te stel hoe munisipale korrupsie plaasvind.
ISS-navorser Romi Sigsworth het die bevindinge soos volg saamgevat: “Eerstens word invloed deur onreëlmatige aanstellings, nepotisme en begunstiging verkry. Tweedens word dié invloed gebruik om wettige stelsels vir persoonlike gewin te manipuleer en uit te buit. Derdens word die onwettige bedrywighede deur administratiewe of gewelddadige middele, of albei, gefasiliteer of beskerm.” Die OG se verslae maak somber leesstof uit en vertel hul eie verhaal.
Waarom dit dié keer nie anders sal wees nie
Om billik te wees, is die ANC nie die enigste party wat foute met die bestuur van munisipaliteite begaan het nie, en ander partye kan denkbaar selfs groter skade aanrig indien hulle meer mag sou kry. Minstens sommige funksies in sekere ANC-munisipaliteite is steeds aanvaarbaar.
Maar weens sy oorheersing by die stembus sedert 1994 is die ANC verreweg die grootste en opvallendste oortreder tot dusver. Daarom is dit nodig om dit uit te lig wanneer die uitdagings in plaaslike regering ontleed word. Om dit nie te doen nie, sou oneerlik wees. Geen ander party het dieselfde rekord van mislukking in die regering nie.
Die dilemma, nou en in die toekoms, vir die ANC en enigiemand wat steeds meer van die party verwag, is dat hy eenvoudig nie oor die menslike kapitaal en politieke wil beskik om die doelwitte wat in sy manifes uiteengesit word, te bereik nie. Dit is belangrik om dié twee faktore saam te beskou, aangesien hulle onderling verband hou, hoewel elkeen ook op sigself betekenisvol is.
As daar inderdaad enige politieke wil was om munisipaliteite beter te bestuur, sou die ANC lank gelede geskikte burgemeesters en munisipale bestuurders opgelei het. Hulle sou die beste mense gewerf het – ongeag ras of politieke verbintenis. Hul uiteindelike doel is nie om munisipaliteite te verbeter nie, maar om hulle uit te buit. Die beloftes in die manifes oor die eerste 100 dae klink na skynheiligheid en is deurspek van ironie.
Hulle het nog twee maande voor die verkiesing om kiesers te beïndruk en uitvoering aan sommige van dié beloftes te gee. Trouens, hulle het reeds 32 jaar gehad om dit te doen. En 'n vereiste dat burgemeesters grade moet hê, sal nie die probleem oplos nie, want grade en ervaring is nie sinoniem met bekwaamheid en integriteit nie. Die probleme is boonop sistemies en kan nie deur hoofsaaklik simboliese leiers alleen opgelos word nie.
Om die verskillende faksies binne die party te paai, is die ANC boonop huiwerig om sy burgemeesterskandidate vir die metro’s aan te kondig – slegs kortlyste word bekend gemaak. Hierdie faksiegevegte het 'n kenmerk, eerder as 'n toevallige gebrek, van ANC-politiek geword. Dit geld veral in provinsies soos Noordwes. Dit gaan nie ná die verkiesing op magiese wyse verdwyn nie. Die politieke moorde en plundering ook nie.
President Cyril Ramaphosa het kiesers gevra om die ANC nog 'n kans te gee omdat dit dié keer anders sal wees. Jy kan óf die herverpakte beloftes in hul jongste manifes glo óf jou eie oë vertrou en na verbetering streef. Die volgende skuif is joune, Suid-Afrika.
Dr. Brink is 'n entrepreneur, sakekonsultant en ontleder van die Paarl.
Nog artikels deur Eugene Brink:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.









