Ek is in die noorde van Suid-Afrika (die “Transvaal”) gebore en getoë en beskou dit steeds as 'n tuiste nadat ek dit soos duisende ander mense vir die suide verruil het 'n paar jaar gelede.
Ek is op die Wes-Rand gebore en daar skoolgegaan, waarna ek aan die eertydse Randse Afrikaanse Universiteit, Universiteit van Johannesburg en later ook aan die Noordwes-Universiteit se sakeskool studeer het. Ek het vir 13 jaar in Pretoria gewoon en gewerk en hoewel ek gefassineer is deur Johannesburg se geskiedenis en baie van die stad se merkwaardige bakens, sal die hoofstad altyd 'n hartsplek vir my bly.
Mens sou dink dat ek eerder 'n meer intense geborgenheid voel jeens Johannesburg omdat ek soveel van my lewe daar deurgebring het, maar ek voel vandag pure toeris wanneer ek soontoe gaan. Dit is steeds 'n plesier om nou weer plekke soos Melville, die Emmerentia-dam, en ja, selfs die Johannesburgse middestad, te besoek. Maar ek voel tewens meestal ontredderd daar en soos 'n nuuskierige vreemdeling.
Wanneer jy semigreer of enigsins trek na 'n ander plek, gaan daar desnoods sekere veranderinge wees – of jy dit só wil hê of nie. Maar veral met semigrasie is dit allermins 'n volledige breuk met jou komvandaan. Sekere dinge verander, maar baie daarvan is steeds bekend en selfs meer bekend indien jy jou herinneringe van die meer verre verlede in ag neem. Daarom wil ek bietjie 'n (kennelik subjektiewe) ontboeseming onderneem van my eie ervarings as semigrant. Dit sal uiteraard anders vir elke persoon wees en selfs meer as jy geëmigreer het. Die fisiese en maatskaplike omgewings van die Wes-Kaap (en die Boland in die besonder) toon immers verskille terwyl daar ook raakpunte bestaan. Dit is nie altyd ooglopend nie.
Semigrasie en emigrasie
Die ander aspek wat verander het is jou gesprekke en die onderwerpe waaroor jy gesels. Ons het reeds heelwat vriende, kennisse en familie in die Boland en Wes-Kaap gehad voordat ons getrek het, en ons het nog heelwat bygekry sedert ons aankoms hier (dis nie so kliekagtig soos wat almal aanneem nie en jy hoef nie beste vriende met almal te wees nie). Laasgenoemde val in twee kategorieë: Mense wat lank of nog altyd hier gewoon het en diegene wat meer onlangs hier aangekom het.
In Pretoria het enige sosiale gebeurtenis soos 'n braai nie lank aangegaan sonder dat die gesprek na emigrasie gedraai het nie. “ 'n Mens moet dit maar as 'n opsie oophou,” het 'n vriend 'n paar jaar gelede vir my gesê. Party mense volg selfs deur daarmee terwyl ander dit net as 'n soort middelvinger en klaagmuur vir vrot munisipale en ander vlakke van regering noem, maar nooit tot dade oorgaan nie.
Dienslewering is een rede hoekom mense emigreer en semigreer en hoekom besighede ook met hul voete (en fabrieke) stem. Nadat ek onlangs my skoonpa se begrafnis in Pretoria bygewoon het nadat ek sowat 'n jaar laas in Gauteng was, was ek aangenaam verras met hoe die stad (ek was wel nie in die middestad nie) steeds ordelik en skoon is. Nuwe besighede het opgeskiet en paaie wat lank om instandhouding en voltooiing gesmeek het, is klaar of toon goeie vordering. Dit beteken nie alles is perfek nie, want daar is nog heelwat slaggate en kolle wat vuil en rommelbestrooid is, maar dit is ook nie so erg soos wat heelwat mense dit uitmaak nie.
Ewenwel, mense in die Wes-Kaap praat nie juis oor dienslewering en emigrasie nie. Trouens, of jy nou 'n inkommer of 'n boorling is, ons praat feitlik nooit daaroor nie. Ons is betreklik tevrede en sien ons toekoms hier. Ons gesprekke het hier verskuif na talle ander onderwerpe. Te wete rugby, skole, godsdiens, politiek (plaaslik en internasionaal), besigheid of sommer net twakpraat met 'n glas wyn of bier in die hand. Dis nie dat die Wes-Kaap perfek is nie. Daar is hardnekkige armoede en boonop misdaad en onaansienlike areas. Mense emigreer ook uit die Wes-Kaap na ander wêrelddele, maar dis nie 'n wesenlike tendens nie. Maar dit verwerdig klaarblyklik nie mense se tyd om obsessief en swartgallig oor die probleme te raak nie. Soms word dit genoem, maar as 'n terloopse opmerking en nie 'n primêre onderwerp om breedvoerig te bespreek of oor te tob nie.
Stadiger dog nie swakker
Ek lees elke nou en dan stories in die plaaslike en nasionale media oor veral Gautengers wat kla oor swak en stadige diens in die Wes-Kaap. Soms is dit die inkommers self wat kla, ander keer is dit egte Wes-Kapenaars (ek gebruik dit maar as 'n generiese term omdat nie almal hier weens streeksverskille Kapenaars genoem wil word nie) wat kla oor die inkommers wat glo te veel sanik en kelners se lewe moeilik maak.
Dit is egter vir my vreemd. Die tempo van die lewe hier is kennelik stadiger (wat my geduld op die pad veelal beproef), maar my ervaring is nie dat die diens of sake doen treuriger is as in Gauteng (en beslis nie enige ander provinsie) nie. Daar is immers heelwat inkommers wat die sakekultuur heelwat verander het. En toerisme verseker ook dat die diens flink is. Ek het al gevalle van stadige diens beleef, maar dit was sover min en nie buitensporig nie. Trouens, of dit nou 'n aflewering, veral 'n besoek aan 'n staatsdepartement of 'n ete by 'n restaurant is, is ek persoonlik uiters tevrede. Die diens is boonop vriendeliker en in die Boland meestal in Afrikaans.
Hier moet genoem word dat mense hier werk om te lewe en nie lewe om te werk nie. Dis nie dat hulle luier is of nie omgee nie, maar hulle is minder freneties as mense in Johannesburg. Alles kom uiteindelik klaar en word gedoen. Net nie op dieselfde manier nie. Laat ek dit uiteindelik onomwonde stel: Die diens is in die algemeen beter in die Wes-Kaap as die robotagtige, onvriendelike en dikwels onordelike diens wat ek al op verskeie plekke in ander provinsies ontvang het – Gauteng inkluis. Straks is dit omdat inkommers se verwagtinge onrealisties hoog is as hulle wegtrek en vergeet wat hulle agtergelaat het, dat sommige van hulle so ontevrede is.
Uniek, maar tog bekend
Uiteraard bly die Wes-Kaap, die relatiewe afsondering ten spyt, steeds deel van Suid-Afrika. Afrikaans is 'n groot deel daarvan, met 'n caveat. Die Afrikaans wat jy dikwels hier hoor, is nie presies wat jy in Pretoria, Krugersdorp, Potchefstroom of Bloemfontein gaan aantref nie. Daar is verskillende maniere wat dit gepraat word – selfs binne dieselfde groep. Baie bruin mense kan byvoorbeeld Kaaps en dié se variante (wat heelwat Engelse woorde bevat) besig, maar ander praat suiwerder Afrikaans as die meeste wit mense. Soos my plaaslike barista wat steeds van “veselperske” (mango) praat omdat sy ouma hom glo só geleer het.
Afrikaans is eenvoudig nie homogeen nie en word deur 'n wye spektrum van mense op hul eie manier gepraat. Elke persoon, variëteit en streek het sy waarde, hebbelikhede en kostelike uitdrukkings. Dit is wat ons taal so interessant, komies en ryk maak. En jy tref meeste van hulle deesdae in die Wes-Kaap aan. Dit het die smeltkroes van vele Afrikaanse aksente en dialekte geword.
Dit is ongelukkig ook só dat heelwat bruin mense in die Wes-Kaap verengels en glad nie Afrikaans praat nie. Dit is hartseer, maar ook hul keuse. Een van die redes hiervoor is dat uitstekende dubbelmedium-skole veel meer volop is in die Wes-Kaap as in Pretoria en selfs op vele ander plekke. Dit bied vir bruin ouers wat Engels as die taal van aspirasie beskou, veel meer keuses as hulle op 'n skool vir hul kinders in 'n oorwegend Afrikaanse provinsie en gebied besluit. In Gauteng en elders is Engelse openbare skole oorwegend van vrot gehalte. Desondanks moet ons doen vir Afrikaans wat ons kan, ongeag wat ander mense besluite oor die taal.
Die sogenaamde ideologiese skeidslyn wat tussen die noorde en suide loop (oftewel aangeneem word), is desgelyks nie so eenvoudig nie. Daar is 'n dik streep verligtheid en behoudendheid in albei streke. Die Paarl met sy ou skole, Europese argitektuur en imposante kerke is 'n vergestalting van die konserwatisme wat vaardig is hier. Die sosiale en godsdienstige gesindhede onder alle bevolkingsgroepe in die Boland is by uitstek konserwatief en is soortgelyk aan, of selfs meer konserwatief as, enige ander noordelike plattelandse dorpe of selfs stedelike gebiede in Pretoria en Bloemfontein se sienswyses. Kaapstad, Durban en Johannesburg is feitlik ewe progressief. Die Wes-Kaap en selfs sy behoudende plekke laat wel na my mening veel meer ruimte toe vir indiwidualiteit en eksentriekheid – iets wat ek persoonlik hoog op prys stel.
Les bes moet daar iets oor rasseverhoudinge gesê word. Hier troef die suide die noorde by verre, ofskoon rassisme en skeiding maar oral voorkom tussen verskeie rassegroepe. Deur veral Afrikaans, waardes en 'n lang gedeelde geskiedenis word bruin en wit Afrikaanssprekendes verbind, terwyl Afrikaners in die noorde nie oor sulke bondgenote beskik nie. Hier gaan ons kinders saam skool toe en speel saam met en teen mekaar sport. Hulle word maats. Ons werk en bid saam en verstaan mekaar in ons alledaagse handel en wandel op 'n vlak wat nooit die geval met Afrikaners in die noorde en ander groepe aldaar sal wees nie. Hoewel heelwat swart mense in die Wes-Kaap (veral in Kaapstad) nie Afrikaans kan praat of verstaan nie, het veral diegene op die platteland besef dis aanpas of sterf wanneer dit kom by werk en sosiale aanvaarding en praat dus heel gangbare Afrikaans. Afrikaners gaan altyd 'n minderheid wees, maar ons swem myns insiens in 'n vriendeliker en meer Afrikaanse en samehorige see in die Wes-Kaap.
Ek mis wel my donderstorms en die reuk van reën in die somer. Huispryse (maar nie alles nie) is aansienlik duurder hier as in die noorde, afhangende van waar jy bly. Die winters se reën in die Boland en wind naby die kus is nie vir almal nie. Maar ek desnieteenstaande 'n keuse gemaak en om verskeie redes glo ek vandag dit was die regte een – nou en in die toekoms. Die asembenemende berge en landskappe, skoon lug, leefstyl, see, kultuur, mense en beter lewensomstandighede is maar enkeles wat vermelding verdien. Elkeen moet self besluit wat vir hulle werk.
Dr. Brink is 'n entrepreneur, sakekonsultant en ontleder van die Paarl.
Nog artikels deur Eugene Brink:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.









